Saturday, May 19, 2012

Die liefde is om anders te kyk, om raak te sien.


Simone Weil skryf in haar Waiting for God oor die liefde. Liefde is skeppende aandag. Deur bewus te raak van ander, skep ons, bring ons iets tot stand.

Sy verwys na ‘n ou Spaanse liedjie wat lui: as iemand onsigbaar wil wees, moet hy arm word. Daar is geen beter manier as om niks in die oë van ander te wees as om ongerekend en sonder enige aansprake te wees nie.

Kyk maar, vertel sy, na die Samaritaan. Hy het die gewonde man langs die pad raakgesien en hom toe gaan help. Die ander twee het hom heeltemal misgekyk.

Die liefde is om die onsigbare, die ongerekende, raak te sien.

God, skryf sy voorts, het gedink aan wat nie bestaan het nie en deur daaraan te dink het God dit geskep. Ons as mense bestaan elke oomblik van ons lewens net omdat God aan ons dink. God is gewillig en gereed om ons in gedagte te hou.

Wanneer God in ons woon, kyk ons ook anders na mense. Ons sien hulle raak, ons kyk na hulle op ‘n ander manier as wat ons na die gewone dinge kyk. Dan hoor ons hulle stem.

En as ons mense begin raaksien en hulle raak-hoor, word hulle bewus daarvan. Terwyl hulle sien hoedat ander eenvoudig verby hulle stap en leef, merk hulle op wanneer hulle raakgesien word.

Dit is liefde. Dit is ongewoon. Want ongewoon is dit om die ander raak te sien. Net soos dit vir die ander moeilik is om te dink dat hulle raakgesien word. En dit nogal in liefde ook.


Blog Archive