Saturday, July 22, 2006

Vreugde Weg van die Mallemeule van Verafgoding

Op hierdie hete somersdag (wat vanmiddag tot 'n oerske donderstorm aanleiding gegee het) was die laaste sokkerwedstryd van Dennis Bergkamp oral in die media nuus. Die Hollanders het 'n manier om mense wat gepresteer het, te vereer met afskeide en herdenkings. In die geval van Bergkamp, 37 jaar oud, verdien hy vir my 'n stylvolle verering al is dit omdat die man nie net as speler nie, maar ook as mens ´n unieke styl het.

Maar die verering is baie meer as 'n Hollandse storie. Bergkamp se roem loop wyd. Ook die BBC het ´n pragtige reeks foto´s en boeiende statistieke oor sy loopbaan op hul webwerf. Hy is duidelik in verskeie lande 'n lewende ikoon, bewonder vir sy andersheid, sy teruggetrokkenheid en die lae toon van sy lewensstyl.

Trouw praat van die mallemeule van verafgoding rondom hom in die uitgawe van 22 Julie 2006 (p.13). En 'n mens is inderdaad beindruk met die man se roem. Joekie vertel hy is 'n huishoudelike naam onder haar skoolkinders. In kaasland word hy beskou as een van die beste spelers wat Nederland ooit opgelewer het. Hy het elf seisoene vir die topklub Arsenal van London gespeel waar hy 120 doele in 423 wedstryde geskop het. Vanaand, met die opening van hul nuwe stadion, sal 66.000 toeskouers van hom afskeid neem. Daar speel hy sy "laaste" amptelike wedstryd. Die opening van Arsenal se Emirates Stadium word spesiaal uitgelig om hom hiervoor te vereer.

Die aandag vir die geleentheid is intens. Die NOS-nuusuitsending wys hom vanaand met sy pa en sy seuntjie op die veld. Net so spesiaal en lekker anders is dit as Johan Cruijff en Marco van Basten, self 'n sokkerlegende (en afrigter van die Nederlandse span vir die 2006 Wêreldbeker) die laaste tien minute ook deel neem aan die spel. Hy lewer 'n aandoenlike toespraak. Man en muis vereer hom.

Trouw praat in hul artikel vandag verder van die terugblik ("in melankolie") wat elkeen vanaand op sy "heldedade"sal hê. En dit is mos wat eintlik oral altyd gebeur, soos by begrafnisse. By sulke laaste oomblikke hou ons mos 'n hele lewe in herinnering (vandaar Covey wat nogal effektief en morbiederig in sy Seven Habits skryf - rig jou lewe maar in met die gedagte wat mense eendag op jou begrafnis oor jou gaan kwytraak!). By Bergkamp is daar veel om oor na te dink. In sy geval, skryf meer as een kommentator, het hy voetbal tot ´n kuns verhef. Dit gaan by hom nie om skurwe, dooie sokker-statistieke nie. Dit is die manier waarop hy sokker speel, die sierlikheid van sy onvergeetlike doele en dan nog soms op die mees kritieke oomblikke - onder andere toe hy in 2002 in die kwarteindronde van die wereldbeker teen Argentinie die beslissende doel geskop het.

Bergkamp self, skryf Trouw in hul berig, het nooit meegedoen aan die mallemeule van verafgoding nie. Trouens, "Bergkamp is het toonbeeld van die typische, haast calvinistische - maar vooral Nederlandse nuchterheid." Wat 'n lekker uitspraak en boeiend, hierdie "haas calvinistiese" nugterheid. En ek kan my, 'n produk van daardie calvinisme, inleef in so 'n opmerking.

So sê Bergkamp, duidelik nugter, in 2002 in 'n koerantonderhoud dat hy 'n gewone mens is (ik ben een gewone jongen"(!)) wat toevallig heel goed sokker kan speel. "Ek besef dat ek my talent as ´n gawe ontvang het."Direk hierop gaan die berig in Trouw veder op byna terloops trant: "En dan een religieuze overpeinzing" van Bergkamp tydens die onderhoud as hy opmerk dat vir God 'n speler vir Arsenal op die veld niks belangriker is as 'n arbeider op die pawiljoen nie.

So ken ek die dikwels (darem soms ook tereg) vermaledyde Calvinisme: God deel talente uit, alles kom van Bo, pure genade wat jou oorval. Daar sit inderdaad byna iets "toevalligs" (!) aan die gawe (Dordt!). Dit het nie na jou kant toe gekom omdat jy dit so mooi verdien het nie. Jy kon net sowel die arbeider op die pawiljoen gewees het. Dit maak van jou niks minder waardevol as beelddraer van God nie. Die punt is nie hoe talentvol jy is nie, maar wat jy in verantwoordelikheid en in erkentlikheid teenoor God met jou talente maak. Pure spiritualiteit. En waar dit teenwoordig is, sien jy die vrug selfs, indien nie veral nie, op die sokkerveld.

Soms ervaar ek met die lees van so 'n enkele sin in 'n nugtere Hollandse dagblad, 'n spesiale oomblik waarop ek verder opnuut besef hoe egte, nugtere godsdiens veredelend op mense kan inwerk. Dit is mos soos 'n koel bries na die tropiese somerdag - van 'n mens wat nugter, maar met gevoel sy eie plek in die groot heelal adellik inskat en rondom hom 'n liefdesruimte skep vir die menslikheid van almal wat die heelal met hom deel. Die arbeider is voor God so 'n belangrike mens soos ek.

Maar die "nugterheid" laat my gedagtes verder koers kry. Die koerantberig kom oor my pad juis terwyl ek die afgelope paar dae rondloop met broeiende gedagtes oor hoe die Hollanders se koppe werk en oor die aantreklike kante van Nederlandse denkkultuur. Dit tref my gereeld in my lees van koerante en uit ons kyk na die nuus op verskeie stasies hier (by die huis op kanaal 91 met sy NOS-nuus), watter "ander" en onafhanklike weergawe van die nuus ons meestal aangebied word. Daar is 'n volwassenheid, byna 'n afgemeetheid, 'n distansie tot wat vertel word. Trouw het byvoorbeeld verlede week (bv. 15 Julie 2006) terughoudende geskryf oor die moeilike tema van Chinese wat organe van Falung-Gong aanhangers sou geroof het. By die koerant, skryf hulle, het hulle al verskeie maande gerugte daaroor verneem. Eers na berigte oor wetenskaplike studies wat onlangs gedoen is, het hulle gevoel dat hulle met groter gerustheid en verantwoordelikheid daaroor kan skryf. En dit was vir my anekdoties 'n aanduiding van die nugterheid wat ek dikwels hier raakloop. Natuurlik merk 'n mens ook die passie van voorkeure, vooroordele en agterdog, maar dit is vir my asof dit 'n ingeligte en daarom meer beleefde passie is, eerder as blinde, gedrewe drifte.

Sulke "nugterheid" is verfrissend, want dit laat 'n mens besef jy voel tuis in 'n samelewing waar rasionaliteit, ingeligtheid en afweeg van informasie 'n groot rol speel. Jy kom agter hoe dit prakties aan jou 'n stuk lewenskwaliteit gee. Met die berig oor Bergkamp het die woord "nugterheid" my getref juis ook as dalk die beste tipering van die algemene denkkultuur, behalwe vir die feit dat dit duidelik goed op hom as persoonlike kwaliteit pas. 'n Man wat die vlietendheid en veral die relatiwiteit van sokkerroem kan insien, wat die volle prentjie kan teken, is inderdaad 'n toonbeeld van nugterheid. En hy reflekteer tog inderdaad daarin ´n Calvinistiese, selfs Hollandse manier van dink en doen. (Doe toch niet te vernaam, jonge.)

Bergkamp het met sy vrou en drie kinders in London eenkant gewoon, sku vir publisiteit, byna asof hy ´n skaam mens was. Hy het ook sy duistere kante gehad, skryf Trouw in ´n ander berig op 17 Mei 2006 byna verskonend. Hoe kan dit tog anders? Hy bly mos iewers 'n sokker perfeksionis wat ten alle koste wil wen. En hy is 37 miljoen pond sterk - iets wat nederigheid seker makliker maak? Dalk wel, behalwe as 'n mens die uitstallerige lewensstyl van die diamantdraende Beckhams begin bekyk of voorbladberigte lees oor vroue van sokkerspelers wat tydens die wereldbeker in een oggend tonne geld in uitgesoekte winkels gespandeer het. Die waardes skuif tog mos met hierdie nugterheid: Sonder ´n teken van afgestomptheid en met emosie voor 66.000 toeskouers en ´n groterige televisie-gehoor kom hierdie nugtere Hollander saam met sy pa en seun op die veld vir sy laaste optrede (sien die BBC foto hierbo) en bedank hy sy gesin en ouers vir hul ondersteuning deur die jare.

'n Taai sportman met harde ywer vir wen, maar ook iemand wat met gevoel dinge eenvoudig net netjies in perspektief kan stel. Dit sê vir my op ´n nugtere, doodgewone manier meer van God en geloof as horde preke.

Dit het my iewers weer teruggeneem na wat Thomas a Kempis in sy "Navolging van Christus skryf oor die korrupte leiers in die kerk wat een of ander tyd, te laat, agterkom, dat grootheid nie in die magspel te vinde is nie. Soos die jare aanstap en mense gelykmaak, moet ´n mens maar net besef dat dit wat jou regtig groot maak, egte geluk, te vind is in die liefde. En van al die liefde is die erkentlike, vererende liefde vir God, die Een wat ons eerste liefgehad het en gewys het hoe om lief te hê, dit wat nie net onsself veredel nie, maar ook vir 'n hele samelewing 'n erfenis kan agterlaat.

Thursday, July 20, 2006

Musiek en geluk

Die Concertgebouw in die hart van Amsterdam se hoofsaal het van daardie stoeltjies wat ons jare gelede in die Alhambra in die Kaap gehad het: koningsrooi, kiertsregop opklapsitplekkies in sulke regop boksvormpies. Tot hulle verlede jaar gerestoreer is as nuwe stoeltjies, replika's van die oorspronklikes, was hulle maar sukkelrig en selfs wankelrig. Gisteraand sit ons weer op hierdie sitplekke, nou lekker gemaklik. Ons hoogs musikale gasvrou en binne-kenner van die Concertgebouw se ryke musikale tradisies en kultuur, koop elke jaar vir ons 'n reeks kaartjies vir die Robeco Zomer Concerten. Robeco borg die reeks waaraan voorste kunstenaars en orkeste deelneem. Vanaand pak die lekkerbek en uitsoekerige Hollanders in hulle massas die saal tjok en blok, van hoek tot kant, selfs tot op die verhoogstoele langs die imposante orrel agter die orkes. Die musiek is gewild, die orkes befaamd: Die Wit-Russiese Simfonieorkes gee 'n uitvoering van Beethoven se Trippelkonsert vir klavier, viool en tjello, Tchaikowsky se Kroningsmars en sy Pathetique Simfonie.

Die akoestiek van die saal is volmaak, die konsertgangers informeel en waarderend, die orkes groot en duidelik goed. In 'n plek met volmaakte ambience, gretige luisteraars begin die musiek skielik met 'n oorvloedige rykheid. Dit is boonop Tchaikowski se Kroningsmars met sy vol, sterk beginklanke. Jy kry mos soms so 'n gevoel, diep binne-in jou, hier stol die lewe tot 'n oomblik van waansinnige heerlikheid. Laat my tog net eendag met so 'n gevoel doodgaan.
Ek ken nie die Trippelkonsert nie en is dus afwagtend. Die dirigent is Lev Liakh met 'n ordentlike bos grys hare, duidelik 'n man van jare se status. Die drie soliste is jonk, maar al drie pryswenners van faam. Die konsert het Beethoven in 1807 gekomponeer en daarin kamermusiek-instrumente vir die eerste keer as solo-instrumente gebruik. My oog vang die program-nota oor die konsert: "Soms lijkt het wel een stuk kamermuziek, zo intiem gaan de drie instrumenten met elkaar om." Ek bekyk die reuse orkes en wonder wat hier wag.
Hier sit ons in ry 4, stoele 19 en 20, reg voor, skaars vyf meter van die drie soliste wat reg voor die massiewe orkes sit. Die pianis is die aantreklike Tatiana Maschmann wat as sewejarige in Minsk gedebuteer het en verskeie toekennings verwerf het, met net langs haar Leonard Elschenbroich, tjellospeler, wat al van die ouderdom van tien jaar musiek bestudeer. Sy C.V. is net so indrukwekkend soos hare. En langs hom sit Erik Shumann, violis, wat onder andere klas loop by die vermaarde Shlomo Mintz wat ons voorverlede jaar self in die Concertgebouw in 'n merkwaardige konsert kon hoor.

Hier waar ons so naby aan die drie sit, sien 'n mens uit hulle strak lywe met die buigslag aan die begin, dat die nerwe skaaf. Die postuur is styf, die kakebene bietjie klem-in-die-kakerig en die gesigsuitdrukking strak. Die konsert se eerste deel, die allegro, word deur Elschenbroich begin. Hy is seker nog nie dertig jaar oud nie, die saal is stampvol, die Concertgebouw is een van die mees gerekende konsertsale op die aardbol en die Hollanders het hulle skouer-kepies. Arme kind wat nou as te ware noot moet insit.

Met sy eerste note is hy nie meer in Amsterdam nie. Hy is waarskynlik ook nie op die verhoog nie. Hy is in die musiek. Ons wat voor sit, kan sien sy oë is meestal toe. Af en toe loer-kyk hy vir 'n oomblik na plekke wat net hy van weet, wat net hy kan sien. En as sy weergawe van die melodie klaar is, draai hy sy oë vluggies regs na die vioolspeler en gee dit vir hom met sy blik aan sodat die viool, fyner, skrynender daarmee kan voortborduur - gedurig met die tjello en klavier as terughoudende, grouer begeleier en ondersteuner. In 'n samespel gee die viool die melodie aan die klavier aan totdat dit weer beurt word vir die tjello om oor te neem, om te anker. Die strakke lywe is weg, die nerwe vergete. Die liggame beweeg in stil ritme. En al die tyd is Elschenbroich vasgehou in sy woonplek van klanke, sy mistieke bestaan, 'n intieme deelwees met klanke uit sy Matteo Goffriler tjello van 1693. Hy maak nie musiek nie, maar is musiek.

Die allegro, die vinnige, opwindende eerste deel is inderdaad soos kamermusiek, "zo intiem gaan de drie instrumenten met elkaar om." Maar as 'n mens soos 'n voyeur in die eerste deel gevoel het, was dit met die largo dat ek besef het hoe intens intimiteit werklik kan wees. Die draende klanke van die tjello, die helder stem van die vleuelklavier (Steinway) en die meesleurende, hartverskeurende spel op die Pietro Guarneri-viool uit 1710, brand diep klankprente in jou herinneringe en maak innige, verborge, passievolle liefde. As Elschenbroich in sy eie wereld van musiek ingetrek het om van daaruit elke keer die melodie te deel met die ander twee deur die draai van sy kop, gebeur daar met die Largo iets anders. Terwyl hy speel, elke noot bedink, die klank tegnies perfek vorm, kyk hy in hierdie gedeelte vir die eerste keer op, boontoe, asof hy met God 'n psalm praat en deur die liriese sweef van sy musiek laat weet: dit maak ek net vir U, dit gee ek aan U, dit pas by U.

Ek het gedink die Tchaikovsky Pathetique kan as bekende, gewilde musiek net 'n anti-klimaks wees na hierdie musiek. Maar die interessante program-nota's het my geboei. Pathetique is in die negentiende eeu gebruik vir sterk emosionele musiekwerke. Tchaikovsky se Pathetique is "een klinkend bewijs van zijn obsessie met het noodlot." Hy dirigeer op 29 Oktober 1893 die werk voordat hy nege dae later aan cholera sterf. Die programnota's sluit af dat die stuk as te ware sy afskeidsbrief was. "En dan vooral het slotdeel, Adagio, met sy neerwaartse zuigkracht, waarin alles wat nog een beetje leven wil, wordt verzwolgen als door een moeras."

Die konteks is inderdaad 'n hermeneutiese sleutel, al sou 'n fyn-luister van die musiek jou ook al 'n groot deel van die verhaal vertel. Die somberheid, die harde, koue doodsklanke wat soms in die stuk uitslaan, wil-wil 'n donkerte om jou hart vou. Dis die musiek van iemand wat worstel en stoei, wat vrees en wat angstig is. Dit is musiek wat vreemd ook van liefde praat en van seer kry sonder einde omdat dit 'n liefde is wat by al die drif daarvan, ook 'n lewensmoegheid aangewakker het. Dit is suiwer emosie wat iewers volmaak by die Beethoven konsert hoort.

Stil-stil huis toe gestap na die tyd met 'n vol binneste. Amsterdam beleef 'n hittegolf en almal is lomerig van die somerwarmte. Ek loop met my somerloom-hart in die groot gragte-stad - 'n tram ratel ingetoë verby ons, 'n fiets of twee met laataand-kaaslywe op hulle, zoem-zoem bedeesd die fietspad af, so asof hulle nie ons vrede en ons dobberende harte wil versteur en omkeer nie. Die somernag-stadsklanke koester die geboue, gaan rus op die gragwater, kom in my en snuffel 'n plekkie vir hulle uit langs die goue, klare konsertnote. 'n Deinende rustigheid oorval my. Ek is gelukkig. In my dra ek wêrelde van belewenisse, het ek anders geword deur die seisoene van emosies wat vanaand my deel geword het. Ek het skoonheid, pyn, pyn-in-skoonheid beleef - suiwer vertel in die liefdestaal van die hart.

Wednesday, July 19, 2006

Kase en geluk


As taal in jou bloed is, mis jy nie dit nie. Al die p's is al 'n fees....

Monday, July 17, 2006

'n Mezzuzah, herinnering en geluk

Ek was een keer in Israel waar ek 'n mezzuzah in 'n kunswinkeltjie raakgeloop het. Dit is 'n gebedshouertjie wat jy aan jou deurkosyn vassit. Op die rugkant in 'n holte is daar 'n perkamentrolletjie waarop Deuteronomium 6:4-9 en 11:13-21 geskryf is. Aan die voorkant is daar dikwels 'n illustrasie.

In Deuteronomium word die Israeliete opdrag gegee dat hulle die gebooie op die deurkosyne van hul huis moes vasssit. Vanaf ongeveer die vierde eeu v.C. het dit 'n algemene gebruik onder Joodse gelowiges geword. Ek het hier onder geskryf oor daardie oomblik van toe-eiening wat somtyds oor jou pad kom waarin jy iets wat belangrik is, deel van jou bestaan maak. Dit dring deur tot jou binneste diepte en gaan lê daar as deel van die sentrum van jou bestaan, wat jou lewe stuur en rig. In spiritualiteit word gepraat van dit wat in jou hoof is wat tot in jou hart insak. Soms gebeur dit onverwags en onberekend. Soms moet jy bewustelik rituele soek sodat die geestelike dinge in jou hart kan afsak. Eredienste en sakramente is bekende rituele. Maar ons het duisend ander alledaagse gewone roetines wat die mag van rituele angeneem het: ek het "my" stoel waar ek gemaklik voel. As ek daarin wegsak, sak die vrede oor my toe. 'n Sjef-vriend van ons vertel hy moet altyd eers stort voordat hy rustig kan gaan sit en sy ontbyt eet anders is sy hele dag ontwrig. Die punt is dat jy jou instel op iets deur rituele - as dit ontbreek, haper iets by jou.

Die gedagte met 'n mezzuzah is dat jy daaraan raak as teken dat jy die Sjema-gebed bid elke keer as jy die huis ingaan (Deut.6:4-9):
Luister, Israel, die Here is ons God, die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op jou pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.
Die Sjema is die hartaar van die Joodse gelowige se identiteit. Daarmee bely sy of hy 'n ekskulsiewe verbintenis met die een God wat alles tot stand gebring het en aan God se wil wat oor soveel eeue heen in die woorde van die profete aan ons deurgegee is. Jesus het hierdie gebed ook gebid. As 'n mens die mezuzzah op jou voordeur aanraak elke keer as jy jou huis ingaan, wy 'n mens daarmee biddend die huis as mees intieme lewenssfeer tot 'n lewensruimte waarin God die enigste Here is en waar God se krag die verskil moet maak. Dit is 'n appel dat 'n mens se lewe geinspireer sal word deur God se unieke liefde as voorbeeld vir hoe 'n mens self wil lewe.

Om daaraan te raak, is een manier om konkreet 'n mens se gedagtes op God in te stel. Die mezzuzah is vas op jou deurkosyn, die drumpel van jou voordeur, die toegang tot die hart van jou bestaan en lewe. Die ritueel van 'n aanraking van die mezzuzah soos jy by jou huis ingaan, kan 'n 'n geseende herinneringsteken word. Ons knoop daardeur onsself weer aan ons geskiedenis met sy argetipes en dieptestrukture, aan God en God se wil vir ons lewe, maar veral ook aan die vreugde dat ons geloof prakties en sigbaar 'n verskil kan maak aan so iets gewoons as die plek waar 'n dak oor ons koppe is. (Wat doen jy as jy nou net aan die mezzuzah geraak het en jy stap in jou huis waar jou vrou moeilik is en jou kinders stout?)

Die mezzuzah wat ek in Jerusalem gekoop het, is deur 'n Israeliese kunstenaar as 'n klein keramiekplaatjie gebak en in olyfhout geraam. Die tekening is 'n blik op Jerusalem, die stad waar die Here geleer het en self die Sjema gebid het. Die kleure daarop is 'n betowerende ligblou en groen. Vir my herinner die mezzuzah aan Jesus wat in Jerusalem op 'n radikale nuwe manier deur sy lewe van opoffering aan die eeueoue geloof van sy voorouers nuwe krag gegee het en dat daardie krag vir my beskikbaar is.

Die blote aanraking van die mezzuzah soos jy oor die drumpel van jou huis loop, is 'n gebed om die teenwoordigheid van die God van Israel wat getrou (op een keer al 40 jaar lank!) met die volk van God wandel. As iets haper in 'n mens se huis, het jy dalk nodig om weer aan die mezzuzah te gaan raak en na te dink oor wat God se wil vir jou en jou mense is. Dit is deel van die wandel met God dat jou gedurig weer kan konnekteer met en herinner aan dit wat jou inspireer en jou lewe verryk. Dan word dit 'n ritueel wat iewers mistieke krag het.

'n Mens kom soms op 'n plek waar mense iets hiervan begryp deur die bekende uitbeelding: "Die Here is die hoof van hierdie huis." Baie keer lyk dit nie juis of die Here as hoof van die huis enige sê het in wat daar aangaan nie. En 'n mezzuzah op die drumpel gaan nie noodwendig 'n ander stukkie muti wees wat 'n mens kan uitprobeer vir 'n gelukkige gesinslewe nie. Die intieme huislewe is 'n harde werklikheid, vol spanning, twis, seermaak, seerkry, ontrouheid, feilbaarheid. Die geskiedenis van God se volk, God se kinders, is juis tog die spieelbeeld hiervan. Mense, uitverkies bo vele ander, maar tog bedroewend en klaaglik in hul ongehoorsaamheid en mislukkings.

Op die boekrak van ons belese gasvrou in Amsterdam staan Anselm Grun se boek oor rituele: Een veilige schuilplaats. Meer levensvreugde door Rituelen. (Lannoo/Kok, 2002). Dit is 'n spesiale boek, wat my onder andere herinner aan die onvoltooide gedagtes wat ek hierbo geskryf het. Grün herinner my daaraan dat dit in rituele nie om leë handelinge gaan nie. In my storie is die punt nie eintlik die mezzuzah nie, dat ek dit aanraak nie, dat ek vroomweg die kwaad kan wegtower nie. 'n Ritueel vra volgens hom iewers 'n stuk goeie dissipline (50), wat niks met dwang te doen het nie: "Dissipline is volgens 'n Amerikaanse sielkundige die kuns om die verdriet wat die lewe jou bring, te verminder." 'n Ritueel wil juis vrome ontvlugting or persoonlike onverantwoordelikheid voorkom. Ons godsdiens is nie 'n doepa nie, 'n muti nie, iets wat dinge vir my moet "laat werk"nie. Dit betrek ons eerder aktief by die uitlewing daarvan. Dit gaan hier om spiritualiteit in sy mees wesenlike vorm. Spiritualiteit as die wandel met God, leef konkreet uit en ervaar prakties die krag wat God beskikbaar stel aan God se vriende. Die probleem is dalk dat ons te min mezzuzah's het en nie genoeg vir ons herinner aan die krag wat in God beskikbaar is om die verdriet te besweer nie.

Die herinnering aan wat God doen, bring egte geluk, hartsgeluk en inspireer 'n mens tot vreugde. Juis vanweë ons verdriet, moet ons ingestel wees op die krag wat ons daarteen nodig het. En om 'n mens in te stel, om elke keer nie die huis in te storm nie, maar doelbewus vir 'n oomblik stil te staan en te kies om jou vinger op God se hartklop te lê, vra dissipline. Dis 'n dissipline wat vryheid bring, maar veral "meer lewensvreugde." Die appel op God se mag moet so deel word van 'n mens se stap oor jou huis se drumpel, dat 'n mens onveilig moet voel as jy selfs maar net 'n keertjie vergeet of te haastig is daarvoor.

Sunday, July 16, 2006

Die Westerkerk, Rembrandt en Geluk


Ons is nou elke Julie "anonieme" lidmate van die Westerkerk - al van die begin van ons huis-uitruiltyd. Ons het sin in die grootste Protestantse kerkgebou in Nederland wat vanjaar 375 jaar gelede ingewy is (1631, toe Jan van Riebeeck nog nie eers planne vir die kolonie gehad het nie), met sy oop ruimtes en interieur van eenvoud. Miskien die meeste oor die manjifieke Barentz-orrel en die ongelooflike klanke wat dit optower. Reeds na buite is die gebou imposant, met sy "Westertoren," deur Vondel al as 'n teenwoordigheid besing. Die toring, wat as die wind waai, drie sentimeter heen en weer swaai, is nog in restorasie, maar sy goudblink kroon rys deesdae spoggerig bo die stad uit. Langsaan die kerk is aan die een kant die Anne Frank-huis, waar, lyk my, al wat 'n toeris is wat Amsterdam ooit binnekom, aandoen en wat dalk vandag een van die sterkste simbole van verset teen onreg geword het. Die toue is enorm lank van mense wat die piepkluin-huisie wil bekyk. Aan die ander kant is die petite beeldjie van Anne Frank waarvan hordes foto's geneem word en wat as totale understatement die geweldige trefkrag van haar herinneringe net verder verbysterend maak. Die blote ambience is reg en tel al baie.

Maar ek dink daar is ander dinge wat ook verder tel. Ek het veel plesier gehad aan Nico ter Linden, wat daar predikant was, se Kostgangers, 'n boek vol vertellinge wat die uitdagings van eerlike omgang en konfrontasie met die evangelie illustreer. Maar op die ou end is dit veral die Sondagse diens self wat die groot aantrekkingskrag op my het. Die eerste jaar, die eerste preek wat ons daar gehoor het, was van die gemeente se vroue-dominee, Fokkelien Oosterwijk - 'n indrukwekkende preek oor Maria en Martha (die voet-sitter en die kombuis-werskaffer). En elke keer het ons preke van kwaliteit gehoor. Maar die diens bestaan, gelukkig, uit veel meer as intellektuele behendighede. Soos ons vanoggend weer besef. Op 'n sielsalige somer sondagoggend, is ons weer kerk toe. En weer eens word ek geestelik en fisiek ingetrek in egte ritueel, 'n ontmoeting met God in 'n spesiale, afgesonderde ruimte saam met ander wat 'n sin vir die dieper dinge deel.

Soos gewoonlik is die musiek verstommend. Jos van der Kooy, die internasionaal bekroonde orrelis speel as vaste orrelis vanoggend die orrel. Voor die tyd improviseer hy met vreemde, vloeiende, boeiende klanke en na die diens is, hoogs tradisioneel Bach se Toccata F aan die beurt. Al die moontlikhede van hierdie beroemde orrel word sonder uitstallerigheid, maar met bedrewenheid ontgin. Die musiek is uitbundig. 'n Mens raak verlore in die betowering van tegniek en klank, maar ook bewus van iets sterkers wat in jou houvas gekry het.

Die predikant is besoekend. Hy is so maer soos 'n plank en het 'n snor soos 'n besemkop. Sy preek is oor Matteus 14:22-33. Hy maak veel van Matteus 14:22 - Jesus se alleen stilte in die nag voor die stilmaak van die storm op die boot. Ek word ook aangespreek deur sy klem op die gebed van aanbidding aan die einde van die stormstilmaak. "In de boot bogen de anderen zich voor hom neer en zeiden: 'U bent werkelijk Gods Zoon," lui die vers simpelweg op syn Hollands. Die gebed is die manier, die lig-manier, sê hy (dink ek) waarop ons die donker kante in ons lewe ervaar en deurworstel. Sy uitgangspunt is die herdenking van Rembrandt se dood 400 jaar gelede en die feit dat die hart van sy skilderkuns gesoek kan word in die manier waarop Rembrand lig en donker uitgebeeld het.

My hart en my gedagtes loop wye draaie saam met die preek. Die kerk, baie meer nog as Schiphol, breek my geslotenheid in myself oop na buite. Dit het ruim vensters, oop na die hemel, pleinweg net met wit glas daarin. Bondels sagte somerlig stroom die kerk met sy gestroopte interieur binne. Die groot, oorweldigende replika's van die oorspronklike goue kandelare weerkaats die instromende ligbondels die kerk in. Koper en lig, lig en koper speel saam 'n duet van subtiliteit. As ek dikwels in die moederkerk op Stellenbosch verlore raak in die Theron-vensters se ryk kleure, is dit hier heel anders. Die witkleurige vensters laat my dink aan die Psalms se "In u lig, sien ek die lig" en ek wonder oor die spel met die fisieke en geestelike wat daarmee uitgewys word.

In die vleuel van die kerk is 'n gedenksteen vir Rembrand opgerig. Dit is 'n weergawe van die plaak wat hy in sy beroemde Nagwag op die agtergrond geskilder het. Hoe fyn kyk mense tog nie! Iewers het iemand besluit daardie obskure (?) motief moet uitgelig word om toekomstige geslagte tot herdenking te bind. Die blomme-mal Hollanders het 'n smaakvolle blomme-krans (foto) onder die skild gehang. Dit is in ryk, amper Rembrandtse kleure gevleg. Toe ek na die tyd gaan kyk, is dit van plein jakobregoppe. Vir 'n oomblik flits by my beelde uit ons Bellvillese pastorie-tuin op: ma se tuin waarin sy af en toe skurwe jakobregoppe met hul steekharige blare geplant het. In die kerk hier in Amsterdam is ek weer tuis in Afrika, kleinkind wat nuuskierig sien wat plant die blommemal ma in God se akker aan, steekhare en al...

Maar my hart vind vanoggend by die noem van Rembrandt se geboorte 400 jaar terug, dadelik veral rus in my herinneringe aan die vertaling van Henri Nouwen se Gelykenis van die Verlore Seun wat ek drie weke gelede afgehandel het. Daarin voer Nouwen gesprek met die gelykenis en met Rembrandt se skildery (vandag in St Pietersburg) daaroor. Ek het die boek tien jaar gelede (juis toe ek begin spiritualiteit doseer het) as geskenk ontvang. Die goeie hermeneutiek, intellektuele integriteit, estetiese insig, maar veral ervaarde geloof daarin het vir my gewerk. Ek herinner my nog goed aan die oomblik waarop ek deur die lees daarvan met spiritualiteit as bewuste nuwe beweging gekonnekteer het: op 'n sekere punt in die boek bespreek Nouwen die tuiskoms van die verlore seun en merk dan op hoe, veral in die lig van die skildery van Rembrandt, die vader die seun omhels (hy het hom baie soene gegee - in die Griekse oorspronklike) om dan in sy oor te fluister: "Jy is my geliefde seun, in jou het ek 'n welbehae." Hierdie knap intertekstuele verbintenis het my meer laat begryp van die gelykenis self. Die pa kon nie, voel ek, vir sy seun iets troosrykers as juis dit gegee het nie. Maar eensklaps, en eintlik vir die eerste keer, kon ek deur die gelykenis my inleef in Jesus se Jordaan-ervaring. Teen die tyd dat Johannes hom gedoop het, het hy begryp watter lewenskoers hy moes inslaan en sekerlik daarmee ook besef watter donker pad dit ingehou het. Sou hy baie aande met sy dissipels gepraat het, langs die stil, blou meer oor visbraai, na 'n dag van praat en waarsku en heelmaak, oor daardie mistieke oomblik toe hy God se stem vaderlik beleef het in en vir sy stryd om God se wil vir sy lewe van self-opgee toe te eien? Dit moes so wees, want hoe anders sou hulle hierdie tradisie so versigtig behou het?

Miskien is hierdie oomblik van herkenning en toeéiening wat ek tydens die Nouwen-boek beleef het, die rede waarom ek vier jaar later, toe ek self 'n oggend in die Ermitage in St Pietersburg by die skildery kon deurbring, veral aangetrokke gevoel het tot die uitgeflenterde gesig van die seun. Toe ek die boek die eerste keer gelees het, was ek vasgevang in 'n konteks van vernieling. Anders as Nouwen, was dit daarom nie eintlik die Vader se hande wat vir my in die sentrum van die skildery was nie, maar die seun se gesig - half verborge, skeef geleun teen die bors van sy pa. En vir my voel dit in lyn met wat Rembrandt wou doen. Hy wou duidelik dat sy kykers die gesig raaksien, daarom draai hy dit na die kyker toe. Dikwels dink ons mos dat dit wat die meeste lig ontvang, die meeste fokus het. Maar die skildery wys dit hoef nie so direk te gebeur nie. Die seun se gesig, deel van die helder ligkring om die Vader, is eerder uitgedruk in sagter, bleker lig, maar dit maak dat dit nie minder in fokus is nie. (Wie sou nou dink dat die agtergrondsmotief in Die Nagwag opsigtelik genoeg word vir 'n gedenkplaak in die Westerkerk? Vir iemand wórd dit iewers 'n fokuspunt in daardie mistieke interaksie tussen teks en gehoor). Soek ons nie dikwels, soos ek in hierdie diens, na die klompste verrykings nie en vind ons dit nie dikwels op die onverwagste, normaalweg ongefokuse plekke as hoogs gefokusde elemente nie? Die uitdrukking op die gesig van die seun wat met sy rug na die kyker staan, is van 'n mens wat nie meer verder kan nie, van iemand wat ander kant pyn en verlange heen in totale vernielwees beland het. Dit is iemand wat verslaan is deur die lewe en uitroep om maar net fisiek vasgehou te word en die enkele, bevestigende liefdeswoord te hoor. Moenie my net vashou nie, praat jou liefde ook met my, al is dit sagkens, sagkens met 'n enkele woord!

Nouwen, praat ook, soos die kaasdominee vanoggend, van die spel van lig en donker in die skildery van die verlore seun. Ek sien dit raak. En dit is inderdaad 'n komplekse spel, van hiernatoe en daarnatoe. Hier meer lig en daar minder donker. In sy boek self doen hy presies dieselfde deur op verskeie maniere 'n web van betekenisse te weef. Hy praat oor die gelykenis van die verlore seun, maar hy doen dit deur elkeen van die karakters, pa, ouer en jonger seun, in die teks uit te lig en tot lewe te bring as mense van vlees en bloed. Maar in Nouwen se boek praat die veel later skildery van Rembrandt oor die Verlore Seun saam. En daarmee saam ook Rembrandt se eie lewe. Die donkerte van Rembrandt se arrogansie, gevoelloosheid, vleeslikheid en materialisme, teenoor die lig van sy self-ondersoek, sy humaniteit, sy keuse van modelle, sy skrynende geloofstryd - en miskien veral - sy uiteindelike vernieldheid (as lig!). Laag van interpretasie word deur Nouwen op hierdie manier dus op laag van interpretasie gestapel. Ons sien selfs die agtergrondsmotiewe deur sy oog raak en hoe hulle in die konfigurasie van die totale skildery iewers as klein motiewe tog ook betekenis ontsluit. Dit word inderdaad 'n spel, 'n kreatiewe proses van immer nuut ontsluitbare betekenis.

Hierin volg Nouwen iets wat Rembrandt juis so groot maak. Rembrandt se grootheid is te vind in sy ongelooflike tegniek. Ons weet mos die medium maak die boodskap. Hoe hy lig en donker bewerk, is eintlik die verhaal. In die Joodse Bruid wat hy 'n jaar of drie voor sy dood skilder, gebruik hy dikke stapels verf om sekere dele daarvan donkerder of ligter te maak. Dit is soos in egte digkuns wat oor meer as net mooi woorde gaan, d.w.s. oor die hoe van woorde. En dit, besef ek, is waarom ek vervullend in die Westerkerk sit. Oor die hoe. Nie dat 'n mens lig en donker beleef nie, maar hoe jy dit beleef tel en dan veral, hoe jy jou belewing vergestalt. Jy besweer ook deur hier ondergedompel te word aan die mistieke oomblikke in die dieper tye, die donker, die geraas, die treitering, die lyding met die lig, gevorm deur die regte woord, laag op laag saamgesmee. Ons moet dit so doen, want duisternis bly by ons as 'n immer vindingryke vyand. Dit wil ons tot niet maak deur ons woorde uit te wis, ons stukrag te verkrag.

Dit alles hou my tydens die preek besig. Sy preek, besef ek in nadenke oor die Westerkerk, is opnuut weer 'n worsteling met die groot woorde, die tydlose narratiewe, die steeds sprekende simbole. Dit is 'n dialoog, 'n poging om met eie woord 'n ou woord op te stapel tot 'n doek waarna ander kan kyk en rus kan vind. Maar dit is deel van 'n groter geheel. Skilders, orreliste, argitekte wat die hoe ken, wat weet dat die menslike gees nie maklik verkwik word nie. Dit kom deur bloedsweet, deur die intense gesprek met die ander wat ook bloedsweet.

Voor my gaap en kriewel 'n kerkganger. Hy het die preek verloor. In Amsterdam krioel dit van toeriste. In die parke bak duisende jonges in die son die vorige nag se jolyt uit hul lywe. Maar ek, in die belewenis in hierdie ruimte, is tevrede. Ek besoek maar net hier, onbewus van alle kerklike magsstryde, onenighede, menslike dwarstrekkery wat in elke plek, in elke gemeente, van Europa tot doer in Afrika die kerk 'n lelike gesig gee en sy getuienis kragteloos maak. Gelukkig is ek anoniem vanoggend in hierdie lig-kerk. Ek besoek hierdie plek konteksloos en, dankie tog, ek kan die donker kettings van menslikheid daarmee deurbreek. En daarmee word dit vir my hier 'n plek van gewydheid. Ek is in gesprek met mense van die eeue, in sang, gebed, prediking. En dit maak my gelukkig. Makarios!

Huis van Wely, 'n appelgebakje en geluk


Voor ek by die beloofde artikels kom, moet ek eers die kronologiese orde eerbiedig: Vanaf Luton vlieg ons 'n skrale 40 minute Amsterdam toe. Op syn Engels skaars 'n hop en 'n jump, veral nadat ons in Ely om 5 vm opgestaan het en tot 9 vm op die lughawe moes wag vir ons vlug.

Ons land op Schiphol en stap deur breë gange in 'n gebou wat my altyd oor sy oop argitektuur fassineer. Ons is op ons jaarlikse huis-uitruil, Julie-maandse besoek aan Amsterdam. Maar dit is nie net die afgelope 5 jaar se besoeke wat die plek onder my vel laat inkruip nie. Iets meers, 'n dieperstruktuur, byna argetipies al, kwalifiseer ons gevoel vir die plek. Voel vir my my Franse voorouers het lank genoeg hier deurgebring voordat hulle skipgevat het, in 1689, Suid-Afrika toe, dat die plek verdere houvas op my kry. Kaasland het my tweede huis geword, al maak die Hollanders my soms mal.

As jy in Amsterdam aankom, is daar sommige dinge wat jy dadelik doen. Die onttrekkingsstuipe moet so gou as moontlik na 12 maande besweer word: Van Schiphol af, aangekom by die eerste stasie, Amsterdam Zuid WTC, is dit vir ons 'n paar minute om straat af Stadionkade te bereik en af te pak. En toe inkopies by Albert Heijn, maar eintlik maar net om op pad terug by Huis van Wely aan te doen.

In ons lekkerbek-familie het Huis van Wely in Beethovenstraat 'n simbool van perfeksie en salige genot geword. Dit is 'n op syn Hollands 'n "banketbakkery," in 'n onlangse koerantartikel beskryf as 'n "gerenommeerde Amsterdamse firma voor het hogere snoepgoed." Seer hogere, wat ons betref. In die tempel van hogere kulinariteit is koekies, sjokolade, en roomys (patisserie, chocolaterie en glacerie) by dosyne, by dosyne, handgemaak, uitgestal in 'n fyn fees van totaal suiwere meesterskap. En soos die grootbaas-eienaar dit formuleer, dit gaan om "product, entourage en verpakking." Die koekies is van faam, bekroond en bekend op afstande. Sjokolade word deesdae volgens eie huisresep gemaak. Vir van die roomys word egte vanielje gebruik, wat tot die grootbaas se ontsteltenis oor die Hollandse gebrekkige waardering vir "het hogere snoepgoed" hulle aanvanklik laat dink het dit is grond wat in die roomys beland het. Elke koek is 'n kunswerk en lyk daarna.

Niemand mag sterwe voordat hy 'n besoek gebring het aan http://www.huizevanwely.nl nie.

Maar Huis van Wely is peperduur vir lekkerbekke uit 'n land wat 'n agtergeblewe wisselkoers het. Toe ek dus Saterdagoggend, 'n halfuur nadat ons in Stadionkade ingetrek het, by die banketbakkery instap, moes ek 'n yslike R29 opdok vir 'n klein appeltertjie wat so groot soos my hand se palm is. Ons wil gereeld ietsie gaan afhaal, maar ons gereeld is nie so oordadig soos ons dit sou wou gehad het nie. Maar ons probeer ons bes om by te bly by die betekenis daarvan.

Die tertjie is darem groot genoeg dat ons twee dadelik elkeen die een helfte met ons tee kon eet en die middag die ander helfte met ons koffie. Die grootbaas vertel dat 'n mens 'n stukkie van hulle sjokolade eers op die punt van jou tong moet sit en dan moet proe watter geure daar loskom. Dit moet jy maar ook met hulle appel-tertjies doen, seg. 'n Onverwagte amandelgeur neem beheer van jou sinne oor en jy sit in 'n salige sielerus die banketbakkerskuns en prys. Voor ons die tertjie sny, eers 'n foto neem vir die kinders. Hulle kom almal oor 'n week kuier en moet net per e-pos met 'n digitale foto herinner word hoeveel hulle het om na uit te sien.

Wat my laat dink aan die koerantartikel wat ek gister lees waarin 'n nuwe Hollandse groep bymekaar kom om 'n "stadige" lewenspas te bevorder. Ons jaag alles af en geniet niks nie, glo hulle. En daarom is ons ongelukkig. Ek sit en proe aan my Van Wely apperltertjie en bedink stadig die totale ervaring. "De ware vakman onderscheidt zich door een product te maken, dat op eenzame hoogte staat," sê hulle webblad. Dis mooi, hierdie eensame hoogte. Wat dit natuurlik ook eensamer maak is dat die produk so verganklik is, so tragies eenmalig soos 'n musiek-uitvoering. En tog, terselfdertyd so verruklik, 'n visuele sensasie, dat dit inbrand op jou kollektiewe lewenservaring en ewigheid erf: Soms vorm mense groepies om jou te herinner om stadig te geniet.(Die voorgeslagte het dit wyslik, maar ongewaardeerd, geweet: ""maar ek kou mos my kos ordentlik, ma"). Maar soms beland jy in 'n situasie dat jy nie besluit om stadig te eet en te geniet nie. Die besluit word vir jou geneem. En Huis van Wely neem sulke besluite vir jou. Jy is 'n slagoffer van hul estetiese toorkrag, van hulle kulinere meesterskap. En dan proe jy en jy proe en jy weet: die lewe is soos 'n Huis van Wely appelgebakje: pure genot - as jy maar die regte geselskap het.

Friday, July 14, 2006

Ingeland, geluk en spiritualiteit

Saterdag 8 Julie 2006 land ons 06h40 op Heathrow, 'n seepgladde, rustige vlug van die moederstand agter die rug en Ingeland nog diep vervalle in die naweekroes. Die vrindelike allogtone Asier agter die inligting-toonbank beduie ons heel simpatiek hoe om by Ely uit te kom sonder om die volgende ses maande van my inkomste aan 'n kaartjie af te staan. Ek wou nog op King's Cross 'n ordentlike bagel koop. (My lus is intens: In die hoogburg van fynproewersland, die S., is bagels mos witbrooddeeg wat jy in 'n bagelgrote rol saambol en 'n halwe gat daarin probeer druk). Maar ons trein vertrek binne minute en ek moet teensinnig en met die smaak van die vliegtuig se brekfis-plastiekeier vasbyt en die Drakensberg oor.

Alles back "Home" is nog in plek, ontdek ons gou-gou. Die somer is volstoom aan die gang. Die sokkerwonde van die WB word nog rouer gelek. En ek koop Ingelse koerante. My oupa, volgens die familie se meester-narratief, wat op sy dae met die vryheidsoorlog so goed as 'n onverskrokke rebel in die kolonie was, het altyd vertel dat die enigste ding wat "die Engelse" goed gedoen het, was Austin karretjies. Maar ek dink hulle koerante verdien deesdae ook 'n ereplekkie. Dis altyd my plesier om te kan kies tussen die Guardian, Times, Independent, Daily Telegraph - een elke dag om die beurt. Sondag is dit die Independent se beurt - en hierdie blog is gebore uit die kopie van 8 Julie wat ek aangeskaf het: Die rede vir my keuse is die voorblad-berig met die opskrif, "Happiness lessons for all. Schoolchildren (sic) will take self-esteem classes to raise standards and cut crime. US guru called in to pioneer radical scheme that could enter the school curriculum." Dit is 'n nuwe program vir elfjariges om depressie, selfvernietiging en anti-sosiale gedrag onder jongmense te bestry. In die program word onder leiding van Prof. Martin Seligmann van die Universiteit van Pennsylvania, "one of the most influential psychologists of his generation," 2000 onderwysers vir die klasse in geluk opgelei. 'n Gevoel van selfwaarde word gestimuleer en tegnieke om negatiewe gedagtes te bedwing, aangeleer. Die program het blykbaar in die V.S.A. tot beter skolastiese prestasies gelei. Die program is gebore uit 'n krisis-situasie: Drie uit elke klas van 30 kinders wys simptome van ernstige depressie, met selfmoordgedagtes, diepe wanhoopsgevoelens en daaglikse neigings om in trane uit te bars. Terwyl sommige mense 'n kwarteeu gelede eers op die gemiddelde ouderdom van 30 jaar aan depressie gelei het, is die gemiddelde ouderdom tans 14 jaar. Dit is, kortom, 'n program wat gerig is op die emosionele toerusting van kinders - en die gedagte is om alle kinders so te begelei, nie net stoute kinders nie. Trouens, die gevoel is dat onderwysers te veel aandag gee aan probleem-kinders en in die proses nie die emosionele nood van die "ordentlike" kinders raaksien nie.


Waarom interesseer die berig my so? Uiteraard die ervarings wat ek die afgelope paar jaar met diep ongelukkige en depressiewe studente (en mense) meegemaak het wat nie weet waarnatoe om met hulle lewens te gaan nie. Maar daar is ook 'n meer formele rede: Ek het die afgelope tien jaar 'n redelik skerp skuif in my teologiese denke gemaak en het al hoe meer oortuig geraak dat ons met ons fokus op die rasionele en verstandelike 'n godsdienstige woestyn begin ingaan het. Dit was reg en goed dat die teologie (dikwels baie dapper) bygelowe en kerklike wanpraktyke van die verlede probeer besweer het. Ons het 'n ver ent gevorder om te verstaan wat godsdiens nie behoort te wees nie en ook bloot net om die Bybel op 'n bevrydende manier te lees. Dit is nie altyd so maklik om 'n teologiese pad te loop nie, maar dit kan wonderlike bevrydend werk. Maar al die tekens is daar dat dinge nou draai.

My skuif na spiritualiteit het te doen met my "gevoel" dat die volgende groot fase in die godsdienstige denke op die mens se geloofservaring sal fokus en dat die emosionele in hierdie fase 'n kerntema sal wees. Op belangrike plekke in die teologiese wereld is godsdienstige "ervaring" toenemend onder die loep. Hierdie verskuiwing hang vir my saam met 'n baie basiese vraag: watter verskil maak my godsdiens? Dit gaan naamlik nie net om die ervaring nie, maar veral om transformatiwe ervaring.

Natuurlik het spiritualiteit met veel meer as die emosionele te doen. Die woord ervaring hou dit al in. Ek glo byvoorbeeld dat die estetiese 'n ander brandpunt in godsdienstige besinning en spesifiek in spiritualiteit sal wees: hoe gebruik ons musiek, die visuele, die kuns, om ons godsdiens te beleef as 'n transformatiewe stukrag? (Dink maar Gibson se Passion of the Christ). Maar die emosionele bly 'n kernsaak.

Onthou ons nie almal die (destydse goedbedoelde en tog geldige) waarskuwings: die prediker loop met jou emosies op tou en more sit jy met die kater en die ontnugtering. Of: die destydse kerklike suiwering van die Halleluja-bundel. Dit was die soort van opmerkings wat, saam met ons "objektiewe" ondersoek van die Bybel, emosies verdag gemaak het.

Interessant genoeg vind die herwaardering van die gevoelslewe nie net op godsdienstige vlak inslag nie. Onlangs het ek Goleman se twee trefferboeke oor Emosionele Intelligensie gelees. Dit was belangrike leesstof wat vir my 'n lekker raamwerk vir die Independent se artikel gebied het, maar wat my betrokkenheid by spiritualiteit ook gevoed het. Goleman spreek vir my dieper dimensies van ons bestaan aan. Ons emosionele lewe, ons ervaringswereld is fundamenteel vir wat en hoe ons dink.

Op my lessenaar het ek 'n spreuk uitgedruk en vasgeplak: "Ons leer net van mense vir wie ons lief is" - wat vir my iets verbeeld van hierdie waarheid. Met ander woorde, ons ervarings en ons emosies stuur in baie opsigte ons denke. Ons verwerp dikwels die meer logiese en rasionele omdat die een wat so logies en rasioneel probeer om ons te oortuig, ons "afsit." Ek weet dit is nie heeltemal so maklik soos dat emosies rasionaliteit bepaal nie. Die program in Engeland gaan byvoorbeeld werk met die belangrike kognitiewe gedragsterapie, wat dus rasionaliteit en emosionaliteit paar. Hierdie "rasionele" kognitiwiteit se fokus bly die affektiewe, die emosionele. Dit is dus nie dinge wat teenoor mekaar staan nie, maar wat mekaar aanvul en in 'n onlosmaaklike verband met mekaar staan (soos teologie en spiritualiteit).

Hieroor wil ek in die volgende paar dae meer skryf: oor die klomp boeke wat in 'n ander koerant-artikel geresenseer is wat almal oor geluk handel. Oor 'n koerant-artikel wat skryf dat kinders wel vandag in 'n baie meer kindervriendelik omgewing word (die eeu van die kind), maar dat asosiale gedrag nie noodwendig daarmee afneem nie en dat hulle al hoe meer depressief raak. En so bietjie meer oor spiritualiteit in 'n poging om die baie voorlopige gedagtes hierbo verder te neem. En oor die groot vraag: is dit goed om geluk te jaag? Is geluk die hoogste goed? Laat ons sien...

'n Totsiens-paragraaf: die naweek het ek toe elke dag my bagels ge-eet, gekoop by Tesco's. Dit het my salig gelukkig gemaak. Maandagoggend het Elsje ons 5h30 Luton toe geneem en op die lughawe vertel die vrou agter die inweegtoonbank vir al ons vreemde gesigte in die ry hoogs gelukkig en opgewonde: Nadal het blykbaar kort tevore by dieselfde toonbank ingeweeg en loop glo iewers op die lughawe rond. Sy was in die wolke. Ek het gekyk of ek hom sien want ek het gedink dalk kan ons 'n bietjie squash gesels en miskien sy wedstryd teen Federer saam ontleed. Maar hy was skoonveld. Het hy my gedagtes gelees en hom uit die voete gemaak? Wat ek net glad nie kan dink nie is dat hy Easyjet gevlieg het? Puzzle.

Cherete - geluk toegewens! (soos ons Griekse voorouers dit al uitgedruk het....)

Blog Archive