Sunday, July 16, 2006
Die Westerkerk, Rembrandt en Geluk
Ons is nou elke Julie "anonieme" lidmate van die Westerkerk - al van die begin van ons huis-uitruiltyd. Ons het sin in die grootste Protestantse kerkgebou in Nederland wat vanjaar 375 jaar gelede ingewy is (1631, toe Jan van Riebeeck nog nie eers planne vir die kolonie gehad het nie), met sy oop ruimtes en interieur van eenvoud. Miskien die meeste oor die manjifieke Barentz-orrel en die ongelooflike klanke wat dit optower. Reeds na buite is die gebou imposant, met sy "Westertoren," deur Vondel al as 'n teenwoordigheid besing. Die toring, wat as die wind waai, drie sentimeter heen en weer swaai, is nog in restorasie, maar sy goudblink kroon rys deesdae spoggerig bo die stad uit. Langsaan die kerk is aan die een kant die Anne Frank-huis, waar, lyk my, al wat 'n toeris is wat Amsterdam ooit binnekom, aandoen en wat dalk vandag een van die sterkste simbole van verset teen onreg geword het. Die toue is enorm lank van mense wat die piepkluin-huisie wil bekyk. Aan die ander kant is die petite beeldjie van Anne Frank waarvan hordes foto's geneem word en wat as totale understatement die geweldige trefkrag van haar herinneringe net verder verbysterend maak. Die blote ambience is reg en tel al baie.
Maar ek dink daar is ander dinge wat ook verder tel. Ek het veel plesier gehad aan Nico ter Linden, wat daar predikant was, se Kostgangers, 'n boek vol vertellinge wat die uitdagings van eerlike omgang en konfrontasie met die evangelie illustreer. Maar op die ou end is dit veral die Sondagse diens self wat die groot aantrekkingskrag op my het. Die eerste jaar, die eerste preek wat ons daar gehoor het, was van die gemeente se vroue-dominee, Fokkelien Oosterwijk - 'n indrukwekkende preek oor Maria en Martha (die voet-sitter en die kombuis-werskaffer). En elke keer het ons preke van kwaliteit gehoor. Maar die diens bestaan, gelukkig, uit veel meer as intellektuele behendighede. Soos ons vanoggend weer besef. Op 'n sielsalige somer sondagoggend, is ons weer kerk toe. En weer eens word ek geestelik en fisiek ingetrek in egte ritueel, 'n ontmoeting met God in 'n spesiale, afgesonderde ruimte saam met ander wat 'n sin vir die dieper dinge deel.
Soos gewoonlik is die musiek verstommend. Jos van der Kooy, die internasionaal bekroonde orrelis speel as vaste orrelis vanoggend die orrel. Voor die tyd improviseer hy met vreemde, vloeiende, boeiende klanke en na die diens is, hoogs tradisioneel Bach se Toccata F aan die beurt. Al die moontlikhede van hierdie beroemde orrel word sonder uitstallerigheid, maar met bedrewenheid ontgin. Die musiek is uitbundig. 'n Mens raak verlore in die betowering van tegniek en klank, maar ook bewus van iets sterkers wat in jou houvas gekry het.
Die predikant is besoekend. Hy is so maer soos 'n plank en het 'n snor soos 'n besemkop. Sy preek is oor Matteus 14:22-33. Hy maak veel van Matteus 14:22 - Jesus se alleen stilte in die nag voor die stilmaak van die storm op die boot. Ek word ook aangespreek deur sy klem op die gebed van aanbidding aan die einde van die stormstilmaak. "In de boot bogen de anderen zich voor hom neer en zeiden: 'U bent werkelijk Gods Zoon," lui die vers simpelweg op syn Hollands. Die gebed is die manier, die lig-manier, sê hy (dink ek) waarop ons die donker kante in ons lewe ervaar en deurworstel. Sy uitgangspunt is die herdenking van Rembrandt se dood 400 jaar gelede en die feit dat die hart van sy skilderkuns gesoek kan word in die manier waarop Rembrand lig en donker uitgebeeld het.
My hart en my gedagtes loop wye draaie saam met die preek. Die kerk, baie meer nog as Schiphol, breek my geslotenheid in myself oop na buite. Dit het ruim vensters, oop na die hemel, pleinweg net met wit glas daarin. Bondels sagte somerlig stroom die kerk met sy gestroopte interieur binne. Die groot, oorweldigende replika's van die oorspronklike goue kandelare weerkaats die instromende ligbondels die kerk in. Koper en lig, lig en koper speel saam 'n duet van subtiliteit. As ek dikwels in die moederkerk op Stellenbosch verlore raak in die Theron-vensters se ryk kleure, is dit hier heel anders. Die witkleurige vensters laat my dink aan die Psalms se "In u lig, sien ek die lig" en ek wonder oor die spel met die fisieke en geestelike wat daarmee uitgewys word.
In die vleuel van die kerk is 'n gedenksteen vir Rembrand opgerig. Dit is 'n weergawe van die plaak wat hy in sy beroemde Nagwag op die agtergrond geskilder het. Hoe fyn kyk mense tog nie! Iewers het iemand besluit daardie obskure (?) motief moet uitgelig word om toekomstige geslagte tot herdenking te bind. Die blomme-mal Hollanders het 'n smaakvolle blomme-krans (foto) onder die skild gehang. Dit is in ryk, amper Rembrandtse kleure gevleg. Toe ek na die tyd gaan kyk, is dit van plein jakobregoppe. Vir 'n oomblik flits by my beelde uit ons Bellvillese pastorie-tuin op: ma se tuin waarin sy af en toe skurwe jakobregoppe met hul steekharige blare geplant het. In die kerk hier in Amsterdam is ek weer tuis in Afrika, kleinkind wat nuuskierig sien wat plant die blommemal ma in God se akker aan, steekhare en al...
Maar my hart vind vanoggend by die noem van Rembrandt se geboorte 400 jaar terug, dadelik veral rus in my herinneringe aan die vertaling van Henri Nouwen se Gelykenis van die Verlore Seun wat ek drie weke gelede afgehandel het. Daarin voer Nouwen gesprek met die gelykenis en met Rembrandt se skildery (vandag in St Pietersburg) daaroor. Ek het die boek tien jaar gelede (juis toe ek begin spiritualiteit doseer het) as geskenk ontvang. Die goeie hermeneutiek, intellektuele integriteit, estetiese insig, maar veral ervaarde geloof daarin het vir my gewerk. Ek herinner my nog goed aan die oomblik waarop ek deur die lees daarvan met spiritualiteit as bewuste nuwe beweging gekonnekteer het: op 'n sekere punt in die boek bespreek Nouwen die tuiskoms van die verlore seun en merk dan op hoe, veral in die lig van die skildery van Rembrandt, die vader die seun omhels (hy het hom baie soene gegee - in die Griekse oorspronklike) om dan in sy oor te fluister: "Jy is my geliefde seun, in jou het ek 'n welbehae." Hierdie knap intertekstuele verbintenis het my meer laat begryp van die gelykenis self. Die pa kon nie, voel ek, vir sy seun iets troosrykers as juis dit gegee het nie. Maar eensklaps, en eintlik vir die eerste keer, kon ek deur die gelykenis my inleef in Jesus se Jordaan-ervaring. Teen die tyd dat Johannes hom gedoop het, het hy begryp watter lewenskoers hy moes inslaan en sekerlik daarmee ook besef watter donker pad dit ingehou het. Sou hy baie aande met sy dissipels gepraat het, langs die stil, blou meer oor visbraai, na 'n dag van praat en waarsku en heelmaak, oor daardie mistieke oomblik toe hy God se stem vaderlik beleef het in en vir sy stryd om God se wil vir sy lewe van self-opgee toe te eien? Dit moes so wees, want hoe anders sou hulle hierdie tradisie so versigtig behou het?
Miskien is hierdie oomblik van herkenning en toeéiening wat ek tydens die Nouwen-boek beleef het, die rede waarom ek vier jaar later, toe ek self 'n oggend in die Ermitage in St Pietersburg by die skildery kon deurbring, veral aangetrokke gevoel het tot die uitgeflenterde gesig van die seun. Toe ek die boek die eerste keer gelees het, was ek vasgevang in 'n konteks van vernieling. Anders as Nouwen, was dit daarom nie eintlik die Vader se hande wat vir my in die sentrum van die skildery was nie, maar die seun se gesig - half verborge, skeef geleun teen die bors van sy pa. En vir my voel dit in lyn met wat Rembrandt wou doen. Hy wou duidelik dat sy kykers die gesig raaksien, daarom draai hy dit na die kyker toe. Dikwels dink ons mos dat dit wat die meeste lig ontvang, die meeste fokus het. Maar die skildery wys dit hoef nie so direk te gebeur nie. Die seun se gesig, deel van die helder ligkring om die Vader, is eerder uitgedruk in sagter, bleker lig, maar dit maak dat dit nie minder in fokus is nie. (Wie sou nou dink dat die agtergrondsmotief in Die Nagwag opsigtelik genoeg word vir 'n gedenkplaak in die Westerkerk? Vir iemand wórd dit iewers 'n fokuspunt in daardie mistieke interaksie tussen teks en gehoor). Soek ons nie dikwels, soos ek in hierdie diens, na die klompste verrykings nie en vind ons dit nie dikwels op die onverwagste, normaalweg ongefokuse plekke as hoogs gefokusde elemente nie? Die uitdrukking op die gesig van die seun wat met sy rug na die kyker staan, is van 'n mens wat nie meer verder kan nie, van iemand wat ander kant pyn en verlange heen in totale vernielwees beland het. Dit is iemand wat verslaan is deur die lewe en uitroep om maar net fisiek vasgehou te word en die enkele, bevestigende liefdeswoord te hoor. Moenie my net vashou nie, praat jou liefde ook met my, al is dit sagkens, sagkens met 'n enkele woord!
Nouwen, praat ook, soos die kaasdominee vanoggend, van die spel van lig en donker in die skildery van die verlore seun. Ek sien dit raak. En dit is inderdaad 'n komplekse spel, van hiernatoe en daarnatoe. Hier meer lig en daar minder donker. In sy boek self doen hy presies dieselfde deur op verskeie maniere 'n web van betekenisse te weef. Hy praat oor die gelykenis van die verlore seun, maar hy doen dit deur elkeen van die karakters, pa, ouer en jonger seun, in die teks uit te lig en tot lewe te bring as mense van vlees en bloed. Maar in Nouwen se boek praat die veel later skildery van Rembrandt oor die Verlore Seun saam. En daarmee saam ook Rembrandt se eie lewe. Die donkerte van Rembrandt se arrogansie, gevoelloosheid, vleeslikheid en materialisme, teenoor die lig van sy self-ondersoek, sy humaniteit, sy keuse van modelle, sy skrynende geloofstryd - en miskien veral - sy uiteindelike vernieldheid (as lig!). Laag van interpretasie word deur Nouwen op hierdie manier dus op laag van interpretasie gestapel. Ons sien selfs die agtergrondsmotiewe deur sy oog raak en hoe hulle in die konfigurasie van die totale skildery iewers as klein motiewe tog ook betekenis ontsluit. Dit word inderdaad 'n spel, 'n kreatiewe proses van immer nuut ontsluitbare betekenis.
Hierin volg Nouwen iets wat Rembrandt juis so groot maak. Rembrandt se grootheid is te vind in sy ongelooflike tegniek. Ons weet mos die medium maak die boodskap. Hoe hy lig en donker bewerk, is eintlik die verhaal. In die Joodse Bruid wat hy 'n jaar of drie voor sy dood skilder, gebruik hy dikke stapels verf om sekere dele daarvan donkerder of ligter te maak. Dit is soos in egte digkuns wat oor meer as net mooi woorde gaan, d.w.s. oor die hoe van woorde. En dit, besef ek, is waarom ek vervullend in die Westerkerk sit. Oor die hoe. Nie dat 'n mens lig en donker beleef nie, maar hoe jy dit beleef tel en dan veral, hoe jy jou belewing vergestalt. Jy besweer ook deur hier ondergedompel te word aan die mistieke oomblikke in die dieper tye, die donker, die geraas, die treitering, die lyding met die lig, gevorm deur die regte woord, laag op laag saamgesmee. Ons moet dit so doen, want duisternis bly by ons as 'n immer vindingryke vyand. Dit wil ons tot niet maak deur ons woorde uit te wis, ons stukrag te verkrag.
Dit alles hou my tydens die preek besig. Sy preek, besef ek in nadenke oor die Westerkerk, is opnuut weer 'n worsteling met die groot woorde, die tydlose narratiewe, die steeds sprekende simbole. Dit is 'n dialoog, 'n poging om met eie woord 'n ou woord op te stapel tot 'n doek waarna ander kan kyk en rus kan vind. Maar dit is deel van 'n groter geheel. Skilders, orreliste, argitekte wat die hoe ken, wat weet dat die menslike gees nie maklik verkwik word nie. Dit kom deur bloedsweet, deur die intense gesprek met die ander wat ook bloedsweet.
Voor my gaap en kriewel 'n kerkganger. Hy het die preek verloor. In Amsterdam krioel dit van toeriste. In die parke bak duisende jonges in die son die vorige nag se jolyt uit hul lywe. Maar ek, in die belewenis in hierdie ruimte, is tevrede. Ek besoek maar net hier, onbewus van alle kerklike magsstryde, onenighede, menslike dwarstrekkery wat in elke plek, in elke gemeente, van Europa tot doer in Afrika die kerk 'n lelike gesig gee en sy getuienis kragteloos maak. Gelukkig is ek anoniem vanoggend in hierdie lig-kerk. Ek besoek hierdie plek konteksloos en, dankie tog, ek kan die donker kettings van menslikheid daarmee deurbreek. En daarmee word dit vir my hier 'n plek van gewydheid. Ek is in gesprek met mense van die eeue, in sang, gebed, prediking. En dit maak my gelukkig. Makarios!
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Ek is tans aan die lees oor die verlore seun in die konteks van 'n hoofstuk oor verleiding wat ek aan die skryf is in 'n boek wat handel met dooie kind. Interessant is die skildery gedoen in dieselfde tydvak as die sterfte van Titus.
ReplyDeleteEk het ook Nouwen se boek gelees, nog destyds voor jou vertaling daarvan. By die weer lees oor wat Nouwen te sê het oor die skildery, tref dieselfde probleem my as destyds - dat die randkarakters - die sittende man en die direk starende gesig, nie voldoende behandel word nie. Want ek het geen twyfel dat hulle, soos elders by Rembrandt, bydra tot die omvang en dimensie van die skildery nie. Maar hoe? Dalk is die sittende man die dienskneg wat netnou die opdrag vir die slag van die gemeste kalf gaan kry (maar watter bydrae maak hy tot die skildery? Is hy die begriplose een wat mens so dikwels by Rembrandt sien?); en dalk is die gesig soortgelyk aan die ander ontliggaamde gesigte by Rembrandt (dink maar aan die Nagwag se opkykende, grynsende gesig reg in die middel van die skildery, net bo Banning Cocq se hoed en die selfs meer enigmatiese oog 'n entjie links daarvan), maar wat beteken dit, weereens? Vir my dui die starende gesig in die rigting van 'n uitdaging, baie soos wat mens by sekere van die selfportrette kyk - en dink byvoorbeeld aan Van Wyk Louw se gedig daaroor, hoewel die sentiment daar nie inpas by die konteks van die skildery nie.
En as mens die Freudiane/Jungiane oor die skildery lees (sien bv.http://www.geocities.com/psychohistory2001/rembrandtenglish.html) dan verdiep die misterie - en vra myns insiens om 'n wyer (en dalk dieper?) dink as wat Nouwen gedoen het, veral as mens Aquinas ernstig neem oor die verband tussen God en die mens se verhoudings, want hoe dan kan die skildery en die verhaal anders verstaan word as dat dit beide dimensies insluit?