Op hierdie hete somersdag (wat vanmiddag tot 'n oerske donderstorm aanleiding gegee het) was die laaste sokkerwedstryd van Dennis Bergkamp oral in die media nuus. Die Hollanders het 'n manier om mense wat gepresteer het, te vereer met afskeide en herdenkings. In die geval van Bergkamp, 37 jaar oud, verdien hy vir my 'n stylvolle verering al is dit omdat die man nie net as speler nie, maar ook as mens ´n unieke styl het.
Maar die verering is baie meer as 'n Hollandse storie. Bergkamp se roem loop wyd. Ook die BBC het ´n pragtige reeks foto´s en boeiende statistieke oor sy loopbaan op hul webwerf. Hy is duidelik in verskeie lande 'n lewende ikoon, bewonder vir sy andersheid, sy teruggetrokkenheid en die lae toon van sy lewensstyl.
Trouw praat van die mallemeule van verafgoding rondom hom in die uitgawe van 22 Julie 2006 (p.13). En 'n mens is inderdaad beindruk met die man se roem. Joekie vertel hy is 'n huishoudelike naam onder haar skoolkinders. In kaasland word hy beskou as een van die beste spelers wat Nederland ooit opgelewer het. Hy het elf seisoene vir die topklub Arsenal van London gespeel waar hy 120 doele in 423 wedstryde geskop het. Vanaand, met die opening van hul nuwe stadion, sal 66.000 toeskouers van hom afskeid neem. Daar speel hy sy "laaste" amptelike wedstryd. Die opening van Arsenal se Emirates Stadium word spesiaal uitgelig om hom hiervoor te vereer.
Die aandag vir die geleentheid is intens. Die NOS-nuusuitsending wys hom vanaand met sy pa en sy seuntjie op die veld. Net so spesiaal en lekker anders is dit as Johan Cruijff en Marco van Basten, self 'n sokkerlegende (en afrigter van die Nederlandse span vir die 2006 Wêreldbeker) die laaste tien minute ook deel neem aan die spel. Hy lewer 'n aandoenlike toespraak. Man en muis vereer hom.
Trouw praat in hul artikel vandag verder van die terugblik ("in melankolie") wat elkeen vanaand op sy "heldedade"sal hê. En dit is mos wat eintlik oral altyd gebeur, soos by begrafnisse. By sulke laaste oomblikke hou ons mos 'n hele lewe in herinnering (vandaar Covey wat nogal effektief en morbiederig in sy Seven Habits skryf - rig jou lewe maar in met die gedagte wat mense eendag op jou begrafnis oor jou gaan kwytraak!). By Bergkamp is daar veel om oor na te dink. In sy geval, skryf meer as een kommentator, het hy voetbal tot ´n kuns verhef. Dit gaan by hom nie om skurwe, dooie sokker-statistieke nie. Dit is die manier waarop hy sokker speel, die sierlikheid van sy onvergeetlike doele en dan nog soms op die mees kritieke oomblikke - onder andere toe hy in 2002 in die kwarteindronde van die wereldbeker teen Argentinie die beslissende doel geskop het.
Bergkamp self, skryf Trouw in hul berig, het nooit meegedoen aan die mallemeule van verafgoding nie. Trouens, "Bergkamp is het toonbeeld van die typische, haast calvinistische - maar vooral Nederlandse nuchterheid." Wat 'n lekker uitspraak en boeiend, hierdie "haas calvinistiese" nugterheid. En ek kan my, 'n produk van daardie calvinisme, inleef in so 'n opmerking.
So sê Bergkamp, duidelik nugter, in 2002 in 'n koerantonderhoud dat hy 'n gewone mens is (ik ben een gewone jongen"(!)) wat toevallig heel goed sokker kan speel. "Ek besef dat ek my talent as ´n gawe ontvang het."Direk hierop gaan die berig in Trouw veder op byna terloops trant: "En dan een religieuze overpeinzing" van Bergkamp tydens die onderhoud as hy opmerk dat vir God 'n speler vir Arsenal op die veld niks belangriker is as 'n arbeider op die pawiljoen nie.
So ken ek die dikwels (darem soms ook tereg) vermaledyde Calvinisme: God deel talente uit, alles kom van Bo, pure genade wat jou oorval. Daar sit inderdaad byna iets "toevalligs" (!) aan die gawe (Dordt!). Dit het nie na jou kant toe gekom omdat jy dit so mooi verdien het nie. Jy kon net sowel die arbeider op die pawiljoen gewees het. Dit maak van jou niks minder waardevol as beelddraer van God nie. Die punt is nie hoe talentvol jy is nie, maar wat jy in verantwoordelikheid en in erkentlikheid teenoor God met jou talente maak. Pure spiritualiteit. En waar dit teenwoordig is, sien jy die vrug selfs, indien nie veral nie, op die sokkerveld.
Soms ervaar ek met die lees van so 'n enkele sin in 'n nugtere Hollandse dagblad, 'n spesiale oomblik waarop ek verder opnuut besef hoe egte, nugtere godsdiens veredelend op mense kan inwerk. Dit is mos soos 'n koel bries na die tropiese somerdag - van 'n mens wat nugter, maar met gevoel sy eie plek in die groot heelal adellik inskat en rondom hom 'n liefdesruimte skep vir die menslikheid van almal wat die heelal met hom deel. Die arbeider is voor God so 'n belangrike mens soos ek.
Maar die "nugterheid" laat my gedagtes verder koers kry. Die koerantberig kom oor my pad juis terwyl ek die afgelope paar dae rondloop met broeiende gedagtes oor hoe die Hollanders se koppe werk en oor die aantreklike kante van Nederlandse denkkultuur. Dit tref my gereeld in my lees van koerante en uit ons kyk na die nuus op verskeie stasies hier (by die huis op kanaal 91 met sy NOS-nuus), watter "ander" en onafhanklike weergawe van die nuus ons meestal aangebied word. Daar is 'n volwassenheid, byna 'n afgemeetheid, 'n distansie tot wat vertel word. Trouw het byvoorbeeld verlede week (bv. 15 Julie 2006) terughoudende geskryf oor die moeilike tema van Chinese wat organe van Falung-Gong aanhangers sou geroof het. By die koerant, skryf hulle, het hulle al verskeie maande gerugte daaroor verneem. Eers na berigte oor wetenskaplike studies wat onlangs gedoen is, het hulle gevoel dat hulle met groter gerustheid en verantwoordelikheid daaroor kan skryf. En dit was vir my anekdoties 'n aanduiding van die nugterheid wat ek dikwels hier raakloop. Natuurlik merk 'n mens ook die passie van voorkeure, vooroordele en agterdog, maar dit is vir my asof dit 'n ingeligte en daarom meer beleefde passie is, eerder as blinde, gedrewe drifte.
Sulke "nugterheid" is verfrissend, want dit laat 'n mens besef jy voel tuis in 'n samelewing waar rasionaliteit, ingeligtheid en afweeg van informasie 'n groot rol speel. Jy kom agter hoe dit prakties aan jou 'n stuk lewenskwaliteit gee. Met die berig oor Bergkamp het die woord "nugterheid" my getref juis ook as dalk die beste tipering van die algemene denkkultuur, behalwe vir die feit dat dit duidelik goed op hom as persoonlike kwaliteit pas. 'n Man wat die vlietendheid en veral die relatiwiteit van sokkerroem kan insien, wat die volle prentjie kan teken, is inderdaad 'n toonbeeld van nugterheid. En hy reflekteer tog inderdaad daarin ´n Calvinistiese, selfs Hollandse manier van dink en doen. (Doe toch niet te vernaam, jonge.)
Bergkamp het met sy vrou en drie kinders in London eenkant gewoon, sku vir publisiteit, byna asof hy ´n skaam mens was. Hy het ook sy duistere kante gehad, skryf Trouw in ´n ander berig op 17 Mei 2006 byna verskonend. Hoe kan dit tog anders? Hy bly mos iewers 'n sokker perfeksionis wat ten alle koste wil wen. En hy is 37 miljoen pond sterk - iets wat nederigheid seker makliker maak? Dalk wel, behalwe as 'n mens die uitstallerige lewensstyl van die diamantdraende Beckhams begin bekyk of voorbladberigte lees oor vroue van sokkerspelers wat tydens die wereldbeker in een oggend tonne geld in uitgesoekte winkels gespandeer het. Die waardes skuif tog mos met hierdie nugterheid: Sonder ´n teken van afgestomptheid en met emosie voor 66.000 toeskouers en ´n groterige televisie-gehoor kom hierdie nugtere Hollander saam met sy pa en seun op die veld vir sy laaste optrede (sien die BBC foto hierbo) en bedank hy sy gesin en ouers vir hul ondersteuning deur die jare.
'n Taai sportman met harde ywer vir wen, maar ook iemand wat met gevoel dinge eenvoudig net netjies in perspektief kan stel. Dit sê vir my op ´n nugtere, doodgewone manier meer van God en geloof as horde preke.
Dit het my iewers weer teruggeneem na wat Thomas a Kempis in sy "Navolging van Christus skryf oor die korrupte leiers in die kerk wat een of ander tyd, te laat, agterkom, dat grootheid nie in die magspel te vinde is nie. Soos die jare aanstap en mense gelykmaak, moet ´n mens maar net besef dat dit wat jou regtig groot maak, egte geluk, te vind is in die liefde. En van al die liefde is die erkentlike, vererende liefde vir God, die Een wat ons eerste liefgehad het en gewys het hoe om lief te hê, dit wat nie net onsself veredel nie, maar ook vir 'n hele samelewing 'n erfenis kan agterlaat.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.