Monday, December 15, 2008

Die gevaar van die mistiek. Wanneer die lig die duisternis bedreig.

Ek dink die afgelope tyd dikwels na oor die kerlike onverdraagsaamheid teenoor mistici. Daar is baie, baie voorbeelde. In die twintigste eeu is De Chardin, ‘n godsdienstig bewoë mens, se geskrifte deur sy owerste in die orde verbied. Hy is uiteindelik oorgeplaas uit Parys waarvoor hy so lief was, na ‘n afgesonderde wêrelddeel om uit die pad te kom. Hy het geweet dit is omdat hy as ‘n ketter beskou is. Na sy dood is sy werke egter wyd gelees en is hy as een van die bekendste denkers in die twintigste eeu beskou.

Die ander mooi verhaal, vertel deur Otger Steggink in sy hoofstuk oor Antimistieke Stromingen in Encyclopedie der Mystiek (803), is oor die Duitse mistikus Böhme wat deur sy tiranagtige opponent, Georg Richter, met ‘n skoen teen die kop gegoois is toe hy aan die verduidelik was wat hy onder mistiek verstaan het. Net daar tel Böhme die skoen op en trek dit vir die woedende Richter aan.

Steggink praat in hierdie hoofstuk van die “integriteit” waarmee hierdie mistici op die somtyds fel verwerping en vervolging gereageer het. Die mistiek maak van iemand ‘n integere persoon – ‘n heel, gesonde, geïntegreerde mens wat verby die woedebuie, die onbegrip, die hatigheid en die verwerping ‘n pad van eenvoud en waarheid kan loop. Einlik moet ‘n mens nie verbaas wees dat die mistici vervolg is nie. Die duisternis kon nog nooit die lig verdra nie.

Thursday, December 11, 2008

Meister Eckhart: as mistikus. Oor die Verborge God.

Die Duitse Dominikaan, Meister Eckhart (1260-1328), speel ‘n belangrike rol in die geskiedenis van die mistiek. Hy was ‘n geleerde, presiese denker – hy word nie verniet “Meister” (“professor”) genoem nie. Hy het onder andere in die universiteit by Parys by die fakulteit van lettere klas gegee en sy werke wys hoe versigtig en presies hy gedink het. Hy het ‘n groot invloed selfs in die filosofie uitgeoefen. Hy het ‘n goeie reputasie gehad, onder andere in ‘n opsienersfunksie oor verskeie kloosters. Dit was egter veral in sy mistiek dat hy die denke van vele later mistici sou stuur.

Eckhart is die man van paradokse – hy gebruik dikwels teenoorgestelde stellings om helderheid oor ‘n saak te bring. Dit werk dikwels op ‘n heel eenvoudige vlak (hy het 'n punt gemaak om met "gewone" nie-akademiese mense oor sy gedagtes te praat), soos wanneer hy byvoorbeeld oor die mens se tranformasie die volgend skryf: As ‘n mens gehoorsaam is en jou eie wil verloën, skep dit die ruimte vir God om in jou te kom. As ek niks vir myself wil nie, sal God se wil in my werk. Hoe sterker ‘n mens na God dors, hoe sterker is God in jou teenwoordig (dit is my gunsteling insig vir hierdie dag!). Hoe meer ‘n mens na God se wil lewer, hoe meer outentiek en eg is jou wil. Hoe meer ‘n mens jou in jouself afsluit, hoe meer sluit ‘n mens God uit. Hoe meer ‘n mens jouself aan God oorgee, des te meer gee God Godself aan jou. Die groot geheim bly dit: God werk in die mens. Die volle lewe kom alleen maar deur ‘n mens oop te stel vir hierdie goddelike werking en omvorming.

Meer kompleks is Eckhart se siening van God wat latere denkers sterk beïnvloed het. In hierdie siening is Ekhart byvoorbeeld onder andere beïnvloed deur Thomas van Aquinas se siening van die analoë verhouding tussen God en mens. Tussen God en mens is daar ‘n ooreenstemmende manier van bestaan. Die werklikheid soos ons dit ken, is verganklik en eindig, maar is afhanklik van en “lyk” iewers “soos” die onverganklike en oneindige. Eckhart het hierdie siening egter in ‘n sekere sin op sy kop gekeer. Hy is veral bekend oor die paradoksale manier waarop hy oor God gepraat het. Aan die een kant was daar vir hom ‘n onoorbrugbare afgrond tussen mens en God. Selfs wanneer ons oor God praat, moet ons besef dat ons eintlik nie regtig oor God kan praat nie. Dit is nie meer moontlik om vas te hou aan die tradisionele opvatting dat die mens iewers kennis van God se bestaan het nie. God is té en totaal anders en alles wat ons oor God wil sê is futiele pogings om die Ondeurgrondelike en die Onuitsegbare in woorde vas te lê. Ons moet alles was ons van God verstaan ontken en verwerp sodat ons by God self kan uitkom. Omdat God so ánders is, kan ons God na God se wese en bestaan nie ken nie. Ons moet dus bewus wees van God wat “bestaan” agter alles wat vir ons God is.

Aan die ander kant beklemtoon Eckhart weer op ‘n merkwaardige manier ‘n intieme verhouding tussen God en mens. Sommige mense dink Eckhart se idee van God is té koud en onpersoonlik. In werklikheid straal daar ‘n warmte en egtheid uit in die manier waarop Eckhart praat oor God se teenwoordigheid in mense se lewens. In ons godsdienstige ervaring ontmoet ons God op hierdie besondere manier. Dit is wel waar dat God totaal anders as die mens is, maar tog is God teenwoordig in die mens. ‘n Mens op sy eie is niks. ‘n Mens deel egter aan God se bestaan omdat God in die mens as skepsel teenwoordig is. God as die oneindige is anders as die mens wat eindig is, maar God deel God se oneindige bestaan met die mens – alleen maar met die verskil dat God wesenlik oneindig is teenoor die mens wat net eindig is. Wat saak maak vir mense is om God te sien, skryf hy. Om God te kan sien, moet ‘n mens van niks afhankliks wees nie – niks wat eindig is nie. Ons lyk dus nie van nature soos God nie. Ons raak God se beeld alleen maar wanneer ons ons oopstel vir God. En ons leef altyd met hierdie wete: ons staan voor ‘n oneindige God, onbegryplik, totaal anders. Dit maak die feit dat God in my wil woon en my wil omvorm na God se beeltnis, soveel meer merkwaardig. Ek – eindige, beperkte mens is ‘n ruimte waar God teenwoordig is!


As ons betrokke raak by al die tydelike, voorlopige dinge, staan dit in ons pad om by God te wees. Wat saak maak is ook om in verwondering by God te wees, in eerbied voor die groot Verborgene wat in koesterende liefde onder ons woon – altyd reg om ons te ontmoet, al is ons dikwels nie vir God gereed nie. Wat so aangrypend is van Eckhart is dat hy sê ons kan God ontmoet wanneer ons in stilte wag op God, maar ook wanneer ons in barmhartigheid uitreik na ander. Underhill skryf in haar boek The Mystics of the Church (p.135) ‘n aanhaling uit sy werk: “Sou ‘n mens soos Paulus in ‘n staat van verrukking verkeer en ‘n siek mens roep om hulp, sou dit beter wees om uit die verrukking te breek en liefde te wys aan hom wat dit nodig het.” Pragtig, ne? En dan dink sommige mense nog die mistiek is wêreld-ontvlugtend en selfsugtig op ‘n mens se eie geestelike genoegdoening ingestel!

Eckhart is een van die mistici wat ‘n teosentriese mistiek het. Sy mistiek word gedra deur sy nadenke oor God. Maar dit is ook ‘n liefdesetiek, wat ‘n mens vervul met die verwondering oor geskenkte, goddelike liefde. En dit is ‘n liefdesetiek wat ‘n mens met passie uitdryf na ander wat om liefde roep.

Vir my is die aantreklikste aspek van Eckhart se mistiek egter op hierdie oomblik dat dit my weereens bewus maak van God se ondeurgrondelikheid – die mysterium tremendum et fascinosum. So word Jesus byvoorbeeld in Markus Evangelie uitgebeeld: die Verborgene op wie ons nooit ‘n houvas kry nie – Hy is te groot vir ons. En tog maak hy die storm om ons stil, wys hy ons hoe om rustig te slaap as die golwe oor die skip slaan. (Sien Luke Johnson se analise in sy Inleiding tot die Nuwe Testament). As ek kyk hoe God gekommodifiseer word en as handlanger uitgebeeld word van mense wat God afpers om vir hulle rykdom en voorspoed te gee, dank ek die mistiek vir die ánder, egter perspektief wat ek in Eckhart leer ken. Die miljoene en die gelaaide feestafels sal nie my honger hart kan stilmaak nie. Net die liefde wat van Bo kom en wat deur my na ander spoel sal my lewe ‘n ewigheidskwaliteit gee.

Wednesday, December 10, 2008

Underhill en die Mistiek

Ek lees op die oomblik Evelyn Underhill (1875-1941) se gewilde boek oor die mistiek, The Mystics of the Church – geskryf reeds in 1925. Sy was ‘n bekende Britse Anglikaan wat die eerste vrou was om ‘n teologiese lesing by Oxford te kon gee (1921). Die boek lees heerlik en is ‘n maklike inleiding in die mistiek. Ek kan dit nie neersit nie. Dit is gevul met inligting, maar is ook meesleurend geskryf in ‘n gees van sensitiwiteit en meelewendheid. Sy begin by mistiek in die Bybel en loop dan deur daarmee vanaf die vroeë kerk, die vroeë Middel-eeue, die Franciskaanse mistiek, die Engelse Middeleeuse mistiek, die Duitse en Vlaamse mistiek, die twee Katarinas, die Spaanse mistiek, Franse sewentiende eeuse mistiek, sommige Protestantse mistici en dan ‘n paar moderne mistici.

Ek het die boek verlede week tussen my boeke op Gourits raakgeloop, verras om iets van Underhill daar te ontdek. Ek het haar eers verlede jaar leer ken as ‘n wydgelese en gerekende skrywer oor die mistiek. Die boek wat ek op by boekrak ontdek, en wat nou al 83 jaar oud is, is al krakerig van ouderdom en soms is ek versigtig om om te blaai sodat die bladsye nie onder my hande verkrummel nie!

Ek is die eerste een wat hierdie eksemplaar op my boekrak lees, kom ek met ‘n skok agter. En ek het self al die boek seker vir 'n dekade of twee op my boekrak. Elke dertig bladsye of so moet ek van die bladsye deursny. ‘n Mens kry nog somtyds mos boeke wat vroeër op die mark gekom het waarvan al die bladsye nie deurgesny is nie.

Om te dink: 83 jaar lank het die boek gestaan en wag om gelees te word – my voorganger van wie ek dit oorgeneem het, het dit ook maar op die rak laat staan en van almal wat al voor my boekrak gestaan het, was daar niemand wat die begeerte gehad het om dit oop te slaan nie. En so het dit oud geword. En so het die wêrelde van mense wat die nabyheid van God smagtend gesoek het wat sy in haar boek beskryf, ongemerkd en ongelees op ‘n rak bly staan. En dit terwyl ek oor soveel jare al die teologiese uppity-stuff deurgewerk het.

Maar miskien is daar kompensasie in die feit dat toe ek die boek sien en dit herken, ek dit blitsvinnig opgeraap het en net daar staande begin lees het.

Dis asof my hart stik soos dit hom versluk aan die koel waters van eeue se Godsverlange.

Dit is boeiend om te sien hoe iemand wat duidelik deur die mistiek aangegryp is, met liefde en empatie van een groot mistikus na die ander beweeg en helder, betrokke oor hulle skryf. Al die grotes is daar: Paulus, Augustinus, Dionusios die Areopagiet, Eckhart, Ruusbroec, Jan van die Kruis – ‘n skatkis van geskiedenis en mistiek. En sy haal die pragtigste gedeeltes uit hulle geskrifte aan. Van haar leer ek veral dat mistici ‘n godgesentreerdheid of ‘n Christusgesentreerdheid in hul mistieke belewing toon. Sy vertel die aangrypende verhaal van Henry Martyn (1781-1812) wat uit ‘n Wesleyaanse agtergrond gekom het en in Cambridge tot bekering gekom het. Hy was briljant (met ‘n “exquisite and critical mind”) en het voor ‘n belowende akademiese loopbaan gestaan, maar hy was ook terselfdertyd ‘n kinderlike, nederige en verwonderende (“adoring”) mens. Mettertyd het hy begin om ‘n lewe van totale eenvoud te leef. In 1805 (24 jaar oud), op pad na Indië om daar sendingwerk te doen, skryf hy:

My verbeelding kry vlerke en vlieg na ‘n plek van afsondering waar ek in alleenheid met God kan gesels... Wat is die wêreld, wat is godsdienstige geselskap tog sonder God? Dit word ‘n gejaag en ‘n menigte wanneer God uit my gesigsveld verdwyn. Die mees verlate woestyn sal soos die Paradys lyk met net ‘n bietjie van God se teenwoordigheid... Ek het so ‘n behoefte om alleen met God te wees... Dit is soms verstommend dat mense met gevoelens en liggame soos ek, en in alle ander opsigte dieselfde, niks weet van daardie vervullende en verbasende Wese in Wie ek totale geluk vind (Underhill 234-5).

Die boek verwys dikwels na mistici wat hul spesiale mistieke ervaringe vir hulself hou, jare daaroor nadink, hul lewens getransformeer tot eenvoud, met harte wat uitgaan na ‘n wêreld wat sonder die nabyheid van God wil leef. Sy wys nuanses aan, byvoorbeeld deur van al Martyn se harde en geleerde vertalingswerk te vertel, deur Franciskus van Assisi se beeld as iemand wat alles opgeoffer het vir die armes, te verdiep. Ja, skryf sy, Franciskus was wel die ryke wat sy besittings prysgegee het. Maar moenie hom net oordeel aan sy uiterlike optrede en daarvoor bewonder nie. Belangrik is om te onthou dat Franciskus homself en sy volgelinge as die berouvolles van Assissi beskryf het. Wat vir hom getel het was onafgewaterde sagmoedigheid en onbegrensde liefde. Sy lewe staan, voeg sy by, in die teken van verborgenheid, van ‘n onophoudelike verlange na die Oneindige - 'n verlange wat agter sy sagtheid en ontferming verhuld, maar gedurig teenwoordig was. Vir hom, soos vir Martyn, was die wêreld, die eindige, vaal in vergelyking met wat werklik saak gemaak het: om ontslae te raak van uiterlike dinge, in volslae armoede te wees, beteken bevryding van alle hindernisse wat die siel vasbind. Wegkom van hulle, beteken om vry te word vir die eenheid met die Ewige God (Underhill 89-90).

Die mistiek besef ek weer, maar nou nog meer konkreet is daardie deel word van God, die ervaring van eenheid met God, waarvan net die kortste van oomblikke, net 'n breukdeel van 'n sekonde, genoeg is om jou vir ewig te bind aan die Een wat egte volheid gee.

In my agterkop bly hierdie voorstelling van die eerste kante van die mistiek hang: mistiek vertel van daardie intieme verlange na God. Maar juis in hierdie verlange is God teenwoordig (sien elders op hierdie blog).

Ek skryf hierdie woorde tydens een van die grootste finansiële krisisse in die wêreldgeskiedenis. Die nuus is gelaai met berigte oor vallende aandeelmarkte, oor ‘n ineengestorte huismark, oor skelm direkteure en bestuurders van maatskappye. ‘n Angstigheid hang soos ‘n rook van besoedeling oor ons gekontamineerde wêreld.

Ek smag, soos Martyn: “Die mees verlate woestyn sal soos die Paradys lyk met net ‘n bietjie van God se teenwoordigheid.” Dit is goed as ons gestroop word, in die woestyn beland. Maar dit is alleen goed as ons die woestyn binnegaan – verlangend en biddend tot God.

Blog Archive