Saturday, March 31, 2012

Die vier gesigte van die liefde.


Richard van St Victor, gebore in Skotland, is een van die bekendste Franse mistieke skrywers uit die middeleeue wat in Parys sy opleiding ontvang en daar die hoof word van die beroemde abdy van Sint Victor tot met sy dood in 1173. Hy was nog jonk toe hy gesterf het.

Hy is so bekend en invloedryk dat hy soms die tweede Augustinus genoem word. Sy werk het byvoorbeeld vir Dante beslissend beïnvloed.

Onder sy tydgenote was hy bekend as iemand wat op ‘n diepsinnige manier oor geloof nagedink het, veral in terme van die liefde.

Een van die mees opvallende aspekte van sy werk is die klem wat hy, soos sy leermeester en grondlegger van die Viktoryne, Hugh, lê op teologie as die liefderike bestudering van die Bybel. ‘n Mens lees die Bybel veral om die verborge betekenis daarvan te ontdek sodat ‘n mens gebalanseerd en volwasse kan word. Slegs dan kan ‘n mens verwonderd in die teenwoordigheid van God te staan kom in ‘n diepe, suiwer aanskouing van die wonders van die goddelike wysheid.

Vir Richard is God liefde. Daar is niks selfsugtigs aan God se liefde nie. Dit weet ‘n mens veral wanneer ‘n mens die triniteit in ag neem. Die goddelike liefde kom immers na vore in die liefdesverhouding tussen God die Vader en die Seun, maar daar is ook ‘n liefdesverhouding met God die Heilige Gees. Hierdie trinitariese verhouding is deurdring met vreugde en blydskap. God, skryf Richard, kan ‘n mens bedink in terme van ‘n rivier wat by die Vader begin, wat in die Seun vloei en met vreugde deur die Heilige Gees versprei. Hulle leef met mekaar, vir mekaar en in mekaar. Wie die liefde sien, is in die teenwoordigheid van die trinitariese God.

Richard beskryf vier fase’s in God se liefde. Die eerste fase is die reinigende liefde van God wat die mens laat ontwaak uit vergetelheid en wat die mens bewus maak van God. Liefde raak ‘n mens aan en dan word ‘n mens se gedagtes opgetel na God soos wat rook van die offerande opstyg tot God. Wanneer die mens nadink en mediteer, raak die mens bewus van God wat iewers teenwoordig is in sy/haar lewe. Dit is dan dat daar iets in jou bestaan ontvlam.

Die tweede fase is wanneer die liefde ‘n mens aan God bind. Hier begin die verwondering: dit is soos wanneer sonlig en water bymekaar kom. Die goddelike lig skyn so sterk op die mens dat ‘n mens die liefde van God nie meer kan vergeet nie.

In die derde fase word die mens deur die liefde met die wil van God verenig. Dit is ‘n fase van uitbundige, ekstatiese vreugde. Die mens is nie meer op hom/haarself ingestel nie, maar vervul met die heerlikheid van God.  Die mens is nou soos gesmelte metaal wat gevorm deur die vorm waarin dit gegiet word.

In die vierde fase kom die volmaakte eenheid met God en die mens deur die liefde tot stand. Dit is hier dat God die mens aanraak, dat mens bo alle verstand bewus raak van God se heerlike teenwoordigheid. Hierdie liefde maak ‘n mens gelykvormig aan Christus. Hier neem ‘n mens die nederigheid van Christus oor, ontledig jouself en gaan in die wêreld in om mens te inspireer om met ontferming teenoor mekaar op te tree.

Vier gesigte van die liefde. So maklik praat ons altyd oor liefde, maar te min bedink ons dat die liefde vele kante het. En eers wanneer ons dit bedink raak ons meer en meer bewus van hoe dinamies, sterk en ryk die liefde is.

Friday, March 30, 2012

Verslaafd aan jou foon?

Oral merk ek dit op: hier by ons, maar ook in ander lande - vanaf Europa tot in verre Indië. Mense, veral die jonges, wat elke oomblik van die dag vasgenael voor hul selfone sit.

Lankal weet ons dit - soos die artikel hier onder vertel - dat dit na verslawing lyk.

Maar wat nou verfrissend omtrent die artikel hieroor in vandag se Trouw is, is dat daar ook 'n ander kant aan die saak is.

Hier is die artikel:

Het zal je maar gebeuren: je wordt wakker, grijpt je iPhone om een fris potje DrawSomething te starten en je vrienden goedemorgen te whats-appen. Dan ineens roept je moeder: je moet douchen. Potverdorie, was je dat toch wéér bijna vergeten. Wat nu? Conversatie én spel bruut afbreken, net nu beide zo spannend zijn? Niet nodig. Sinds een tijdje is er namelijk een oplossing voor zulke dilemma's op de markt: een waterdicht smartphonehoesje waarmee douchen zónder telefoon voorgoed verleden tijd is.


Kinderen kunnen hun mobiel nauwelijks nog laten liggen. Afgelopen dinsdag schreef Trouw over het onderzoek 'Hey, what's app' van Mijn Kind Online en Digivaardig & Digiveilig, waaruit blijkt dat de helft van de telefoonbezitters tussen de acht en achttien jaar niet meer zonder telefoon kan. Althans, dat zeggen de ondervraagden, die voor het overgrote deel weinig kwaad zien in hun 'telefoonverslaving'.

Remco Pijpers, directeur van Mijn Kind Online, is het met hen eens. "Verslaafd zijn betekent in dit geval niet dat er lichamelijke ontwenningsverschijnselen optreden als ze even niet bij hun telefoon in de buurt zijn." Ik denk dat hij gelijk heeft.

Mijn vrienden en ik laten onze mobiel nauwelijks nog liggen. Als we opstaan, whatsappen we op weg naar ons werk over het irritante gedrag van medereizigers. Tussen het harde werken door checken mijn collega's af en toe hun Twitter en doen ze aan DrawSomething, de immens populaire app-variant van Pictionary. Vorige week nog mompelde een vriendin dat ze verslaafd was aan haar smartphone en soms wel eens terugverlangde naar die tijd zonder schermverslaving. Ik stelde haar gerust door te zeggen dat ze het ding enkel voor haar plezier heeft en dat niemand haar vraagt die iPhone de hele dag te omarmen.

Nogal veel mensen zijn vergroeid met hun mobiel. Kinderen, jongeren én volwassenen. Ik vind het uitstekend dat Mijn Kind Online het telefoongebruik onder kinderen uitgebreid heeft onderzocht. Dat is ten slotte de taak van de stichting. Ik heb mijn vermoedens bevestigd gekregen: géén telefoon hebben vanaf je twaalfde is anno 2012 bijna bijzonder.

Niet alleen kinderen en jongeren, ook de generatie daarboven en zelfs veel van hun ouders zijn verslingerd aan hun mobiele telefoon. Geen wonder dus dat kinderen ook eerder geneigd zijn zich op het ding te storten. Het is volkomen normaal geworden.

Moet je die onafscheidelijke band tussen mens en smartphone zien als een zorgwekkende verslaving of als een liefhebberij? Ik denk het laatste, zij het voor sommige enthousiastelingen een behoorlijk arbeidsintensieve. Maar wat de kinderen hoofdzakelijk doen, is spelen en communiceren met hun vrienden en familie. Twee dingen die me vrij gezond in de oren klinken.

Het eerste kind dat stopt met paardrijden of korfbal omdat het al z'n vrije tijd stopt in de smartphone, mag zich bij mij melden voor een exclusief interview in Kidsweek. Dat zou namelijk best groot nieuws zijn.

Bewegingstekort door overmatig telefoongebruik? Raad zoon- of dochterlief een van de duizenden sportapps aan, voor één keer te downloaden op uw kosten. Ze zijn er in alle soorten en maten: van een app met mountainbikeroutes op alle continenten tot een yogahulpje en een danscoach, en allemaal geven ze via dat minischermpje hun instructies.

Willen uw kinderen best een rondje rennen, maar niet zonder telefoon? Geen nood. Sportarmbanden voor de smartphone te over. Niemand hoeft zijn telefoon overal mee naartoe te nemen. Maar het kán wel.

Thursday, March 29, 2012

Om die lydenstyd met vreugde te vier


Die lydenstyd is die tyd van self-ondersoek. Dit is ‘n sober tyd waarin ‘n mens na binne kyk en soek om ‘n lewe te lei wat nie besmet is met onreinheid nie. Dit is die tyd waarin ‘n mens soek om al die bande wat ‘n mens verkneg, te breek.

In baie kerklike tradisies is dit ook ‘n tyd waarin ‘n mens jou onthou van oordadigheid, van plesier, van alkohol, vermaak en waarin ‘n mens vas.

Soms kan ‘n mens hierdie tyd van reiniging swaar maak. Die lydenstyd word dan ‘n swaarmoedige, depressiewe fase in ons lewe.

Dit is nie die gesindheid waarmee die vroegste Christene dit gevier het nie.

Basilius die Grote het sy gedagtes oor die lydenstyd as volg uitgedruk:  “Laat ons so vas dat dit vir die Heer aanvaarbaar is en vir Hom vreugde bring. Egte vas is om van die bose vervreem te word, om ‘n mens se taal te matig, om weg te bly van woede, om ‘n mens se begeertes te beheer, om op te hou met laster, leuens en meineed. Om van hierdie dinge weg te bly, is om op ‘n egte manier te vas.”

In die stryd teen kwaad, begeer Basilius die “egte” vas wat vir die Here “vreugde” bring. In die lydenstyd, dus, ontdek ‘n mens bly wat werklik in die lewe saak maak. Maar kyk net hoe vind ‘n mens die vreugde: deur te leef op ‘n manier wat vir die Here aanvaarbaar is. Die vreugde is te vind in die bevryding van dinge wat ons verhouding met die Here belas en die ervaring van die goddelike teenwoordigheid verduister.

Johannes Chrysostomus skryf byvoorbeeld oor die lydenstyd as ‘n tyd van reiniging met dieselfde blye toon:

“Kom, laat ons met vreugde begin om te vas. Kom laat ons ons geestelik inspan. Laat ons ons innerlike reinig, ons liggaam skoonmaak. Laat ons van ons begeertes vas soos ons van voedsel vas.”

Dit is die proses van self-ondersoek wat hier plaasvind. Deur die proses stel die mens hom/haar in om van alles wat negatief in sy/haar lewe werk, ontslae te raak.

Maar boeiend is dat hy hierdie proses van reiniging as iets positiefs en vreugdevol ervaar. Die tyd van inspanning, van reiniging moet “met vreugde” aangepak word. Chrysostomus skryf na die opmerking hierbo verder:

“Laat ons vreugde vind in die goeie werke van die Gees en hulle in liefde doen sodat ons almal waardig sal wees om die lyding van Christus, onse God en sy heilige pasga te sien terwyl ons met geestelike vreugde bly is.

Egte, ingetoë vreugde is ‘n vaste deel van die lydenstyd se onthouding. Twee keer praat Chrysostomus oor blydskap. Opmerklik is die liefdevolle toewyding waarmee ‘n gelowige mens volgens hom die goeie werke van die Gees soek. Ook hier kom die vreugde op uit die wete dat ‘n mens skoongemaak word van dinge wat afbreek en in die pad staan vir die werking van die Gees in jou lewe.

Die vroeg-Christelike viering van die lydenstyd vind weerklank in die nagmaalsformulier. In die formulier is daar ‘n gedeelte wat my altyd geraak het. “Hoewel ons die nagmaal met gewyde erns vier, is dit tog ‘n vreugdefees, waar die Heiland op ‘n besondere manier die vrugte van sy lyding, sterwe en opstanding uitdeel. Die nagmaal bied ‘n voorsmaak van die ewige vreugde wat vir ons wag by die bruilofsmaaltyd van die Lam.”

Ook in tye van soberheid, in tye van lyding kan ‘n mens reken op die Here wat teenwoordig is.



Wednesday, March 28, 2012

Slim verdedig ons God teen God se vyande.


Die gesprekke in sekere boeke, koerante, tydskrifte en webblaaie oor godsdienstige sake kan ‘n mens verslae laat.

Hoe is dit moontlik, dink ‘n mens as jy na die kommentare kyk, dat mense wat gelowig is, mekaar so heftig kan aanvat, veroordeel en uitkryt?

Op allerhande punte van geloof sien jy hare na alle kante toe vlieg. Aan weerskante word die opponent na die diepste kamers van die hel verban. Die twis oor allerhande teologiese punte is hewig.

Verskeie dinge val my op:

Die eerste is dat mense so seker is omtrent wat hulle skryf. “Hulle” Bybel het die “regte” boodskap. “Hulle” verstaan is die “regte” verstaan. Die Bybelversies reën soos koeëls op mekaar neer: hulle is die “feite” waarmee die argumente oor God teen die ander bewys word.

So praat ons “oor”God. En “verdedig” God teen God se “vyande”.

Dit is min dat iemand terug sal staan en sal toegee dat die Bybel soms oor sekere dinge niks sê nie. Of dat uitsprake in die Bybel op meer as een manier verstaan kan word nie. Of dat ons soms sekere dinge in die Bybel met die allergrootste sekerheid aanhang en ander dinge weer skromelik ignoreer. Sommige Christelike kerke (Sewendagse Adventiste) vier op grond van die Bybel Saterdag as sewende, heilige dag. Die meeste hou aan Sondag as opstandingsdag vas. Maar sulke verskille ontgaan ons aandag en laat die skille nie van ons oë afval nie.

Die tweede opvallende saak is hoe min mense na binne kyk of die hand in eie boesem steek. Dit is asof Christus nooit gepraat het van die splinter en die balk nie. Of: dit is asof die Johannese verhaal van die sondares nie bestaan nie: laat die een sonder sonde die eerste klip gooi… Of: oordeel maar nie te gou nie, want wie oordeel sal geoordeel word. 

Dat ons almal soekers is, dat ons almal maar ten dele weet, dat ons almal op ons manier probeer sin maak van die lewe en dit maar al te sukkelend doen, is min ter sprake. Hierteenoor staan die wat met soveel sekerheid weet wat die waarheid is, wat alles volledig weet – soveel so dat hulle God se oordeel nou al ken en namens God oor die ketters kan uitspreek.

Nederigheid is dikwels ‘n ondergewaardeerde deug in die arsenaal van wapens van die wat trots is op hul Christenskap en wat almal wat nie soos hulle dink nie, met kartetse van oordeel uitmekaar skiet.

Maar tog is dit nie die belangrikste nie. Daar is een groot saak wat ek die meeste mis in ons gesprekke oor geloof. En dit het te doen met verwondering. Watter gesprekke oor godsdiens inspireer ‘n mens nog om op jou knieë te gaan? Watter debatte laat jou aangetrokke voel tot die God waaroor mens met mekaar praat?  Watter artikels bring ‘n verdieping in ‘n mens se geloofslewe? Watter boeke verander ons lewens? Watter onderwerpe laat ‘n mens lus voel om jou Bybel oop te slaan en te lees? Watter woorde van mense oor godsdiens laat jou voel daar is iets in hul verhouding met God wat jy beny en vir jou eie lewe soek? Hoeveel keer het ‘n preek jou verwonderd gelaat oor die gawe van geloof en oor die teenwoordigheid van God in jou lewe?

‘n Mens kan alles weet oor God, oor die Vader. Jy kan deel van die huisgesin van liefde wees, en tog kan dit jou koud laat en kan jy jou buite, in die donker, al bakleiende en grimmig, buite hierdie liefdeskring bevind.

En, verder nog: hoe kan ‘n mens kom tot die punt dat jy nie net weet hoe groot en wonderlik God is nie, maar dit ook beleef? Wanneer skok dit jou tot stilstand dat God se weë nie die mens se weë is nie, dat God dikwels werk op ‘n totale ander manier as wat mense dit doen? Want God is die Verborge God, die Een wat die kruisweg uitwys eerder as die pad van mag en geweld. God is die Onpeilbare, wat die sondaars lief het en die vromes met ‘n sweep uit die tempel verdryf. Ons kan God nie beheer nie. Ons kan God nie ken nie – al dink ons, die wetgeleerder, die voorste sitters in die kring van die vromes, soveel van ons kennis.

Verwonderd voor God sal ons die pad van die liefde loop en ons vingerswaaiende handjie en gebalde vuiste laat sak voor die groter mag van omgee, aanvaarding, vergifnis, ontferming en ondersteuning.

Daarom, wanneer ons ‘n boek, tydskrif, artikel of webblad oopmaak en lees, is die belangrike vraag nie: teen watter ketterye moet ek God nou verdedig nie.

Steeds weer is die soekende vraag van hulle wat oor God praat: Is ek hier, in hierdie arena van gesprekke, in die teenwoordigheid van die Verborge, Onuitspreeklike God?

Paulus, wat nie onbekend is vir sy liefde vir die waarheid nie, is juis die een wat geskryf het: die gawe van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik (1 Kor. 13:8-9). Groter as die kennis, is die liefde. Al besit ‘n mens al die kennis, en, selfs as ken ‘n mens al die geheimenisse, is ‘n mens niks sonder die liefde nie (1 Kor.13:2). Daarom is die toetsteen vir alle spreke oor God, die liefde. Debatte oor God in boeke, tydskrifte, artikels en webblaaie sonder die liefde is daarom niks. Niks.





Tuesday, March 27, 2012

Nederigheid


Johannes Klimakos (7e eeu) skryf in sy Die Leer van die goddelike hemelvaart die volgende opmerking:

Wees toegewyd in jou binneste, sonder om dit op enige manier uit te wil stal – nie op ‘n sigbare manier nie, nie deur ‘n enkele woord nie, of deur die geringste van tekens nie.

Die sin klink bekend. ‘n Mens herken daaragter Jesus se opmerking dat ‘n mens se vroomheid ‘n binnekamer vroomheid is en nie iets wat jy op die straathoeke uitstal om te beïndruk nie.

Egte vroomheid het nie plek vir ‘n groot ego nie.

Dan kom daar ‘n unieke en indrukwekkende wending wanneer Johannes byvoeg:

En jy sal dit net kan doen wanneer jy ophou om op jou buurman neer te sien.”

Iemand wat mense om hom hoog ag en vir hulle as gelyke behandel, wat hom/haarself nie reken nie, veral sy/haar toewyding, is by uitstek die een wat vroom is en in wie se lewe God direk teenwoordig is. . 


Monday, March 26, 2012

Eko-mistiek


Een van my goeie ervarings in die gemeente was toe ons by ‘n baie bekwame boer op ‘n Sondag gaan kuier het. Na middagete het hy ons uitgeneem op sy plaas. Dit was ‘n goedversorgde boerdery. In baie moeilike omstandighede, dikwels in uiterste droogte, het hierdie wyse boer versigtig met sy grond omgegaan. Hy het damme gebou, sy plaas omhein, goed vir sy werkers gesorg, sy implemente versigtig gebruik en nagesien en sy plaas versigtig laat bewei.

Op ‘n stadium, onthou ek goed, het ons by die grensdraad van sy plaas gekom.

Kyk, het hy vir my vertel, aan die een kant van die draad is die veld groen, die gras welig en die struike heup-hoogte. Aan die ander kant, sy buurman se kant, was daar min struike en net polle vaal gras.

Ek het die twee kante bekyk. En wat my bygebly het was die byna ontsagwekkende gevoel wat ek gekry het toe ek die goedversorgde veld bekyk het. Dit was asof ‘n mens die skeppingsverhaal weer beleef het, ironies: Aan die een kant die woes en leeg-wees, met, aan die ander kant, die malse, groen skoonheid van ‘n aarde wat goed en mooi was. Hoe goed kan die natuur tog wees as daar iemand is wat liefdevol daarvoor omgee en sorg dat dit goed daarmee gaan.

Ek het aangetrokke tot die natuur gevoel. Daar was in my ‘n spontane, goeie gevoel van vergenoegdheid teenoor die goeie veld wat vir my soveel vreugde op daardie Sondagmiddag verskaf het. En ek het nuwe bewondering gekry vir die boer wat met soveel liefde sy veld versorg het en wat met soveel trots uitgewys het hoe mooi kan die natuur word as jy maar net daarvoor omgee.

Maar daar was ook die “ander kant”. Die kant van die vernielde veld.

Wanneer mense aan die paradys-verhaal dink, staan die bevel aan die mensdom dikwels uit: “Onderwerp die aarde en heers daaroor”.

Heerskappy van die mens oor die aarde is vir vele mense ‘n belangrike tema. Dit behels dat ‘n mens die aarde moet tem, dit voluit moet benut en tot voordeel van die mens as die “kroon” van die skepping moet gebruik.

Dikwels is die ondertoon van hierdie houding dat die mens die aarde besit en dit voluit moet gebruik.

Al hoe meer is daar ‘n verset aan die opbou. Die Genesis-verhaal beskryf die mens as die beeld van God. Wanneer die mens dus met die natuur in ‘n verhouding tree, moet daardie verhouding in die teken staan van God se troue sorg en heerskappy. Die koning was immers in antieke tye die figuur wat verantwoordelikheid vir die welsyn van sy volgelinge geneem het.

Reeds hierdie insig bepaal hoe ‘n mens nadink oor die mens se “heers” oor die aarde.

Die mensdom “heers” oor die aarde soos ‘n koning wat sorg dat dit goed gaan met alle mense wat aan sy sorg toevertrou is.

Dit is ‘n omgee-houding, ‘n verhouding van bedagsaamheid en sorg.

Die mens is nie die baas van die plaas nie, die een wat die natuur “besit” nie. Die mens, besef jy, is maar net ‘n voogd, wat namens God liefdevol moet instaan dat wat God begin het, goed volgehou moet word. Die mense word ‘n vennoot van God, ‘n beeld van God, verteenwoordiger van God op die skepping.

Meer vertroue kan niemand geniet nie: Om ‘n medewerker van God te wees, God se regent in hierdie wêreld wat moet toesien dat die wêreld sy skeppingsdoel moet bly beleef. Vandaar dat die gelowige dubbeld toegewyd aan die skepping is.

Ten nouste hang hiermee saam dat die mens, saam met die natuur, deur God “geskep” is. Mens, dier en natuur is saam in een groot skeppingsgeheel die voorwerp van God se liefdevollge skeppingswerk. Daar is dus ‘n intieme, onlosmaaklike verband tussen die mens en die natuur. ‘n Mens gee nie net om vir die aarde omdat ‘n mens God se liefde verteenwoordig nie, maar ‘n mens gee om vir die aarde omdat ‘n mens wesenlik daaraan verbind is.

Die mensdom staan nie los van die natuur nie, maar is juis saam met die natuur tot een groot skeppingsgeheel gevorm.

Eintlik vertel die lotgevalle van die mensdom duidelik en helder hiervan: wanneer dit met die natuur goed gaan floreer die mens. En wanneer die mens eenvoudig die natuur hiet en gebied en misbruik, ly nie net die natuur daaronder nie, maar die mens self. Dit laat ‘n mens amper aan Paulus se beeld van die liggaam dink: as die een deel ly, ly die hele deel.

Die skepping is dus nie ‘n stuk besitting nie. Dit is ‘n organisme, waaraan die mens ook deel het.

Daar is iets mistieks omtrent hierdie dinge: daar is ‘n noue, lewegewende verhouding tussen mens en natuur. Op die Sondagmiddag in die oopte van die veld, die skepping van God, het ek ‘n feitlik sakramentele ervaring gehad. Alles wat ek die oggend in die erediens ervaar het, die teenwoordigheid van God in die midde van hulle wat gelowig bymekaar is, is daardie middag vir my onderstreep: hier, in die natuur, is dieselfde gebeurtenis te ervaar. Hier ook, kan ek my verwonder, is God teenwoordig. Hier sien ek lewe, sien ek hoe liefde transformeer, hoe omgee God se skepping tot nuwe groei kan bring. Hier is ‘n proses van die lewe aan die gang.

In die reuk van die veld, die kleure van die mild-groen gras, in die klanke van ‘n lui Sondagmiddag in die oop natuur, in die wete dat die ruimtes van die skepping ook ‘n mens bly maak, het ek die aanraking van God ervaar. So, het ek gedink, moes dit in die begin gewees het: elke keer weer het God se hart bly gebons by die aanblik van hoe mooi die skepping is. Dit was goed gewees. 

En, saam hiermee, het ek, soos ons vriende, die boer en sy familie, ervaar hoe diep verbonde ek aan die natuur is en hoe sterk die natuur se bande met my is. 'n Wedersydse verhouding, het ek besef, verbind ons aan mekaar en vorm die ruimte waarin God woon.







Sunday, March 25, 2012

Onbegrensde liefde.


Daar kom tye in ‘n mens se lewe, skryf Rahner, dat jou ervaring van liefde skielik omvorm word. As jy liefgehad het, was dit ‘n soort van algemene liefde, byna ‘n rasionele egoïsme. Jy weet jy gee om omdat dit redelik lyk, normaal is en gedoen behoort te word. Jy het lief omdat jy iets wen daardeur. Jy het lief omdat dit sin maak.

Maar dan, op 'n keer, ontdek jy egte godsdiens.

Dan tref iets anders jou op ‘n dag, soms uit die bloute.

Dan het jy lief sonder dat jy daarvoor iets terug ontvang.

Dit is dan dat jy vertrou sonder enige waarborg dat ander jou vertroue waardig is.

Dit is dan dat jy waag waar dit lyk asof dit waansinnig is.

Daar kom dae, ook in jou lyding, dat verlange ‘n pynlike werklikheid word. Jou verlange om vir altyd in God se liefde te kan leef, vreet aan jou. Jou bestaan word deurtrek met die lyding onder God se afwesigheid.

Dit kan so erg word, dat dit voel of jou lewe uitmekaar val. Dit bring fisieke pyn oor jou.

Maar dan kom daar ‘n dag waarop ‘n dieper wete in jou lewe inkom. Dit is die dag dat jy God in ‘n verborge, mistieke liefde leer liefkry: Jy ervaar: Jou pyn is ‘n boodskap van My. As jy uitroep: O God!, dan roep Ek: “Hier is ek!” As die verlange na My jou uitmekaar skeur, is dit ‘n teken dat Ek jou nader aan My trek. Die liefdesangs wat jy beleef is My ontferming oor jou.

Wanneer ‘n mens in Godverlatenheid, in die donker na God uitgeroep het, is dit ook die tyd om stilweg te kan bid: Vader, Vader, in U hande, in U troue hande, vertrou ek myself toe.

Liefde sonder beloning. Liefde in volledige oorgawe. Die lig van die liefde wat in die donkerste tye bly skyn.

Saturday, March 24, 2012

Seëninge maak die hart voller as sonde.... Oor ons ingesteldheid




Dit bly opmerkilik dat die Kort Begrip en die Heidelbergse Kategismus, soos vele Protestantse dokumente en geskrifte lief is om te fokus op die trits: sonde, verlossing en dankbaarheid.

Die beginpunt is sonde: ‘n Mens moet weet hoe groot jou sonde is, vertel die Kort Begrip. Dan begryp ‘n mens soveel meer van verlossing en van dankbaarheid.

Maar klop dit werklik?

Dit is tog nie waar die Bybel begin nie.

Ons dink aan die sondeval en die slang as die groot boodskap van die Paradysverhaal. 

Maar ‘n mens kan dit ook heel anders bedink. Die Paradys-verhaal is nou verbind met die skepping. God het die aarde tot stand gebring en van die vroegste tye, vertel die Genesis-verhaal, is die aarde die plek waar die paradys te vind is. En, selfs al verloor die mens die paradys, verdwyn die paradys nie van die toneel nie. Trouens, alles in die wêreldgeskiedenis is ingestel op die terugkeer van die paradys.

God se goeie skepping, die Paradys van vrede en volmaaktheid is die beginpunt. 

Alles begin by wat goed is, wat seëninge bring. 

Soelle skryf hieroor: die mistieke reis gaan om eenwording met God. Die mens kan uiteindelik die pad terugvind na die Vaderhart. Na die donker, lang reis word mens weer met God verenig. Dit oorheers alles - die liefdevolle eenheid met God. 

Dit is nie sonde wat eerste kom nie, maar seëninge.

Van die begin af skenk God aan die mens en skepping met oorvloedige goedheid en seëninge. En God wil, wanneer dit verlore gaan, die mens en skepping weer terugbring na hierdie oorspronklike situasie.

Wat beteken dit nou? Dit beteken dat ons soos God na die mens en die wêreld moet kyk. Dit is nie in die eerste plek ‘n ellendige ruimte vol sonde en slegtheid nie, soos ons, maar te menslik, altyd swartgallig wil dink nie. God maak alles en sien dit is goed (Gen.1: 4, 12, 18).

Wanneer God die mens aanraak en inspireer om terug te kom, om die pad na die huis van Liefde te loop, is dit ‘n reis gelaai met verwondering oor die goeie, die seëninge. Die reis na die Here is ‘n pad wat vol wonders is.

Dus, terwyl ‘n goeie sondebesef belangrik is, mag die mistieke reis nooit in sonde-beheptheid ontaard nie. Altyd weer is eerbiedige verwondering die ondertoon van die mens wat God se verhouding koester. Dit is die begin en die einde van ons reis met en na God.

Friday, March 23, 2012

Gebed in onsekere tyd


Ek lees vanaand ‘n gebed wat my raak. Dit gaan oor die moeilike tye wat ‘n mens soms so onverwags oorval. Hier is my verwerking daarvan:

Ek is, Here, bang by hierdie onverwagte draai in die pad. Ek vrees voor die onbekende, die onveilige, voor dit wat skielik so dreigend lyk. Hoe gaan ek hierdie pad loop? Hoe kan ek anderkant uitkom?  

Gee my vrede. Laat my, o God, in hierdie harde tye vashou aan die diepere, groter dinge, aan dit wat bly, aan dit wat my dra bo alle teenspoed en ellende heen.

As ek die pad loop, laat my nooit die mooi dinge miskyk nie. Maak my bewus van skoonheid wat nog steeds in u wêreld gesien sal kan word, al maak my angs my oë dof.

Wanneer ek die geraas van my eie twyfel en skrik hoor dreun, bid ek vir die sagte klank van U vrede. Open my ore vir soet klanke wat die wilde klop van my angstige hart sal verdryf.

Wanneer ek wonder wie my sal dra, bid ek dat ek hulle sal herken wat daar is om my te dra. Laat my hart oopgaan vir die liefde van almal wat altyd nog daar was, wat my steeds weer verdra en verduur het.

Wanneer ek raadop is, soek na wysheid, rondtas om te verstaan, bid ek dat U my die dieper wete sal laat ervaar. Laat my gedagtes tot rus kom in die besef dat daar soveel kennis is, soveel insigte wat my stryd-tye, die sinkplaat-tye, wat my reis, die reis in die donker nag, sal verlig en ligter sal maak.

Ek bid dat ek steeds weer ‘n oop hemel sal kan raaksien. Meer nog, Vader, gee dat ek nie in my eie dinge, my eie pyn verstrik sal word nie. Laat my bewus bly van hulle wat ook ly, wat ook in die donker tye moet reis. Laat my hulle nie vergeet nie. Gee dat ek nog steeds die stemme hoor van hulle wat desperaat roep om hulp.  Vul my met ontferming, God.

Laat my dan ook nooit tot niet gaan nie, Here. Herinner my altyd weer dat ek ook ‘n plek het om vol te staan, dat ek ook saak maak, dat ek ook bemin word. Laat my die vryheid wat U my skenk, met my hele hart herdenk en vier. Maak daarom my hart vol van ontferming. Laat my onsekerhede verdwyn. Smee hulle om in dade van goedheid en meelewling.

Laat my wys lewe. Iemand wat op reis na dit wat sin maak, wat ‘n lewe vol bevrediging, vreugde en vrede bleef.

Bly by my God. Laat ek altyd weet: U is naby. U is by my.

Wednesday, March 21, 2012

Deur askese vrygemaak tot die liefde

Askese is 'n groot woord in Spiritualiteit.

Die askeet het byvoorbeeld in die vroegste tye hom/haar onttrek aan die samelewing en in die woestyn gaan bly, weg van die beskawing, los van alle geriewe en net met die noodsaaklikste lewensmiddele.

Dit was die meer radikale oomblikke van askese in die geskiedenis van Spiritualiteit.

Maar daar is die kleiner, stille oomblikke: in die protestantse Spiritualiteit, veral onder gereformeerdes, word van "stiltetyd" gepraat. Dit is wanneer 'n mens jou onttrek van jou besige dagtaak. 'n Mens beweeg verby al die besige dinge: wat saak maak is nie meer wat jy werk nie, wat jy eet nie, wat jy aantrek nie.

Jy gee jouself prys. Alles wat 'n mens normaalweg wil doen, word nou opgeoffer en agtergelaat. 

Jy soek nie meer jou eie wil nie. Jy wil juis jou eie wil prysgee.

Dus sonder jy jouself af. Jy word 'n "askeet", 'n mens wat stil word.

En altyd weer is dit nie die stilte wat tel nie. Of die afsondering nie. Of die alleen wees nie.

Wat regtig tel is waarheen die stilte jou lei. Jy sonder jou af juis om nie meer alleen te wees nie.  Deur allerhande aksies word 'n mens ingestel op die groot doel: om in die teenwoordigheid van God te kan wees. Dit is waarom jy as 'n vaste deel van afsondering, stiltetyd, die Bybel optel en internaliseer. Dit is waarom 'n mens bid en dit is ook die rede waarom 'n mens dikwels vas. Al hierdie rituele bring jou uit by iets groters en belangrikers as jou eie wil, jou eie lewe - hoe vol, gejaagd en besig dit ook al is.

Jy word vry. En deur jouself prys te gee, deur te jaag na die dinge wat saak maak, deur uit te strek na die dinge van God, ontdek 'n mens skoonheid. Dit bring vreugde. Jy word 'n dankbare mens. Jy word vry van woede, angstigheid, self-ingekeerdheid, van jou laste, om tot rus te kom in God en toe te laat dat God in rus in jou kom woon.

Askese is nie belangrik nie. Rituele is nie belangrik nie. Wat tel is of askese 'n mens by die Liefde uitbring.

Tuesday, March 20, 2012

Laat ons maar nie te gou en te dapper wil ly nie


Bonhoeffer skryf oor Christus se keuse om lyding op hom te neem. Hy besin deur hierdie woorde oor ‘n messiaanse gevoel wat ons kan beetpak. Laat ons, sê sy woorde vir my, maar ons plek ken: Christus, skryf hy, het volgens die Bybel die lyding van die hele mensdom vrywillig op hom geneem en aan sy eie lyf gevoel. 

Voorheen het Christus nie die pad van lyding geloop nie. Maar toe lyding wel oor Christus se pad gekom het, het hy nie daarvan weggeskram nie. Hy het dit as ‘n vry mens aangevat, gekies om die lydenspad te loop en dielyding oorwin. 

Laat niemand dus te gou lyding omhels nie.

Ons is nie Christus nie, voeg Bonhoeffer by. Ons word nie geroep om die wêreld deur ons eie dade en lyding te red nie. Ons moenie eers probeer om so ‘n onmoontlike las op ons skouer te neem nie. Ons is nie helde nie, nie die dapper magstryders nie.

Ons plek is veel meer beskeie: Ons is alleen maar instrumente in die hande van die Here van die geskiedenis. Ons kan slegs op ‘n baie beperkte manier in die lyding van ander mense deel. Ons is nie Christus nie.

As ons Christene wil wees, moet ons God se groothartigheid deel: dan moet ons met verantwoordelikheidsin en in vryheid handel wanneer ons met gevaar te doen kry. Ons  moet egte ontferming toon, nie uit vrees nie, maar vanuit die bevrydende en reddende liefde van Christus vir almal wat ly.

Om maar net te wag en te kyk is nie Christelike optrede nie. Christene word tot ontferming en optrede geroep. Nie deur hulle eie lyding nie, maar deur die lyding van hulle broers en susters.

Niemand moet lyding omhels nie. Niemand moet te messiaans oor sy eie lydensweg dink nie. Niemand moet te godsdienstig wees oor sy of haar eie lydensweg nie. 

Altyd weer sien ‘n mens, met jou blik op Christus se lydenspad, hoe God die een is wat vrymaak en verlos. En met ‘n hart wat net so ontfermend soos God s’n wil klop, sien ‘n mens raak hoe mense swaarkry en ly. Wat met ander gebeur, hul ellende, bring ons tot ontferming en tot verset teen lyding.

Daarom herinner die lydenstyd ons om boontoe te kyk: na die pad wat God loop om lyding te verlig en te beëindig. Maar die lydenstyd maak ons oë oop vir die lyding van mense om ons.

Altyd weer is dit die perspektief : nie hoe dapper en mooi godsdienstig ons is nie. Maar steeds weer hoe God ons deel maak van die groot verset teen seerkry wat ons wêreld stukkend ruk. 

Wat tel is nie of ons lyding aanpak nie, of ons so godsdienstig is nie. Wat tel is of ons God se liefde vir hulle wat ly aktief deel en dien. 

Monday, March 19, 2012

Om die wêreld te sien is die lewensavontuur.

Ek gaan kyk verlede week na Paul Emslie se retrospektiewe uitstalling in die Sasol-Kunsmuseum. 


Ek volg sy werk al lank, maar het in onlangse tye nie iets resents van hom gesien nie. Dus is ek nuuskierig.

Dit word toe vir my ‘n heel spesiale ervaring. 'n Mens soek na woorde om te kan vertel oor wat jy beleef. Niks kan werklik goed weergee wat 'n mens ervaar wanneer jy voor die  reuse-doeke staan  nie.

Dit besef ek toe ek weer daarna foto’s van die doeke in die katalogus bekyk. 

'n Foto kan nie reg laat geskied aan die ryk, swartdonker agtergrond, die subtiele ligspel, die allerfynste detail wat hy, met die vinger nogal, op elke doek bewerk. 

Ek spandeer tye en tye voor die doeke, ook om te probeer verstaan hoe kry hy dit reg, maar ingetrek in die skoonheid van wat hy uitbeeld.

As jy die foto's van die doeke sien, sou 'n mens dit nie sê nie. Die uitstalling is op die oog af maklik op die oog. Emslie werk in die tradisie van realistiese kuns.

En tog: hy is sekerlik nie ‘n maker van prentjies nie. Sy kuns het diep wortels, onder andere in algemene spiritualiteit. “Ek is eintlik ‘n spirituele mens”, sê hy. “Ek het agtergekom ek leef in ‘n abstrakte wêreld. Alles wat ek teken sê iets oor hierdie ander, weggesteekte wêreld.”

Emslie skilder nie sommer nie. Hy let fyn op die vorme van alles wat hy op doek verewig. Dit maak my opgewonde, want die sonde van ons tyd is dat ons nie sien nie. Ons kyk oppervlakkig, ons lees maklik, ons is haastig om tot konklusies te spring. Ons bedink nie, bekyk nie, sien nie regtig raak nie. 

En dan ontglip ons wêreld ons, mis ons die avontuur in die ontdekking van ons wêreld.

Emslie kry dit reg om raak te sien. Daarom skryf hy byvoorbeeld dat diere eintlik heel vreemde wesens is, as ‘n mens eers net fyn kyk. Jy verwonder jou aan hulle, hoe hulle lyk, watter beeld en vorm hulle het. 


Hy is byvoorbeeld bekend vir sy studies van diere, maar in onlangse tye, skryf hy, teken hy veral blomme in wit en swart kleure. En sy tegniek is om met die vinger in verpoeierde kryt sy prente te teken. Dit is al ‘n ervaring net om te kyk hoe hy teken, afgesien nog van wat hy teken en wat hy bereik daarmee.

Blomme, vertel hy, boei hom want hulle het uiters komplekse en moeilike vorme. Elke vorm is uniek, maar het ook ‘n stilte daaraan. Dit beteken, en dit sê Emslie nie, dat dit moeilik is om hulle te teken. Jy moet goed kyk en fyn raaksien. 





Wat hy dan doen is om te kyk hoe lig en skaduwee’s oor die vorms wat hy skilder, val. Daarvoor balanseer hy verskillende skakerings van kleur. Dit is juis deur die lig en skaduwee’s dat die voorwerpe wat hy teken hul gewoonheid verloor en ‘n geestelike dimensie, ‘n mistieke betekenis verkry. Want, verduidelik hy, al hierdie baie vorme deel dieselfde ding: Lig en skaduwee val op dieselfde manier oor hulle.

Daar is iets onveranderliks, ewigs, verborge in die manier waarop vorm en lig/skaduwee, die tydelike en die selfde mekaar ontmoet. Daardie aanraking wat van buite kom en die verskil maak – suiwer mistiek.

Lig en donkerte beweeg oor alle dinge in die heelal. Steeds weer en altyd val hulle daaroor. En elke keer weer transformeer hierdie lig en donkerte die voorwerp.

Hy gaan selfs verder: daar is eintlik niks wat dinge in die wêreld van mekaar skei nie. Hulle vorm ‘n ineengestrengelde geheel. Mense, diere, dinge verskil van mekaar net maar in die digtheid van hul materie. Van al hierdie dinge is die vorm van alle dinge die boeiendste, veral wanneer lig en donker op hulle skyn.

Dit hou ‘n mens vasgevang: die vorm, die Gelaat, en die beweging van die ewige daaroor. Dan, in hierdie samekoms, ontstaan die misterie, ontmoet ‘n mens die Verborgene.

Hy teken dus nie maar net ‘n renoster of ‘n blom nie. Hy laat jou deel in ‘n ervaring van ‘n ligspel waarin die renoster of die blom meer as net ‘n dier of ‘n plant word. Hulle word ‘n ervaring van skoonheid. ‘n Mens herken in hom dieselfde ligspel soos in die werk van ‘n geniale Rembrandt of Velasquez. Daar is iets goddeliks in die lig/skaduwee’s wat die vorme afets en omring met geheimenis.

Emslie skryf: “Ek wil die voorwerp wat ek teken transformeer (!) van die sfeer van die gewone na die sfeer van die buitengewone. Deur hierdie transformasie word die beeld opgeneem in ‘n mens se verbeelding.” Jy reis daarmee verder. Dit word ‘n gespreksgenoot, ‘n vriend, ‘n minnaar wat jou gedagtes vul. Jy appropieer dit. Dit word deel van jou lewe. Jy neem nie maar net kennis nie. Dit doen iets aan jou.

Moet dus nie te maklik dink Emslie teken maar net ‘n blom of ‘n renoster of ‘n protret van Mandela nie. Hy teken gedigte. Hy vertel in sy skilderye van lewensavonture.

En as jy dit bekyk en daaroor nadink, kom die dieper denke. Want Emslie skryf dan hierdie veelseggende ding: “Die klem op die lig en skaduwee vul ons gedagtes met skrynende treurigheid oor die kort tydjie wat ons hier is, maar ook met die onbeantwoordbare vrae oor ons herkoms en waaroor ons hier is – dit grootste misterie van ons lewens.”

Ek lees die inligting nadat ek die uitstalling besoek en verstaan waarom die uitstalling my so raak en in my resoneer. Ek kyk weer ‘n paar keer na Amanda Botha, die ervare en bedrewe kurator van die uitstalling se nota’s oor Emslie, maar ook die skrywer se webwerf en dan wat ander mense se reaksies op sy werk is.

Ek besef: Die blomme wat hy teken hou jou blik gevange. Die absolute vaardigheid waarmee Emslie teken laat jou verstom. Wat hy raaksien, tog. Hoe is dit moontlik dat iemand in blote swart en wit soveel skoonheid op ‘n leë doek kan neerpen? 

Meer nog: watter skoonheid kan ‘n mens nie teken wanneer ‘n mens deur die dieper dinge aangeraak en gedryf word nie. 

Iewers, deur die eeue, begin mense teken omdat hulle iets spesiaals ervaar. Later sal ander die werk voortsit en sal hulle ook opnuut weer dinge maak wat ons ryker laat, wat ons verander en wat van ons mense maak wat die lewe lief het. 

Al hierdie Groter dinge praat met ons, is ons intertekstuele Ankers, bring ons nader aan die Verborge Een en maak ons deel van die lewensAvontuur. So staan Emslie dankbaar in die ry van mense voor hom, en put ons weer, ook ry-staners, van sy meesterskap.

Die lewe is ‘n avontuur. Dit is die vreugdesreis saam met die Verborgene.

Hier is sy studie van Mandela:



Sunday, March 18, 2012

Verwonderd oor die reënboog. Oor slimmigheid en wysheid.




Keats het ‘n allerberoemde gedig, Lamia, in 1819, twee jaar voor sy dood geskryf.

Ek word aan die gedig herinner deur ‘n werkstuk van Brenda. Die werkstuk gaan oor die filosofie en die teologie wat by vele denkers hul oorspronklike karakter van lewenswysheid verloor het.

Teologie en filosofie is volgeprop met allerhande bespiegelinge oor die mees obskure dinge. Dit is lank nie meer die lewenswysheid wat so belangrik was dat Sokrates daarvoor met sy lewe betaal het nie. En teologie verval dikwels by skrywers in skolastieke haarklowery wat nie veel transformatiewe krag het nie. Dikwels het die vak niks meer as slimmerige dispute oor obskuriteite geword.

Vandaar dat Spiritualiteit na vore kom, want in Spiritualiteit wil die veranderingskrag, die transformatiewe uitwerking van ‘n teks ervaar word. Spiritualiteit wil afskeid neem van koue afstandelikheid. Ook in filosofie is daar 'n terugkeer na spiritualiteit - soos Solomon se boek bewys (Spirituality for the Skeptic: The Thoughtful Love of Life. Oxford, 2002).

In die verband is dit interessant om na te dink oor hoe ons brein, so noodsaaklik om ons van alle stommiteite en bygelowe te bewaar, ons tog ook van kosbare dinge kan beroof. Keats, die romantiese digter van die 19e eeu, het die onderstaande gedig geskryf in verset teen die kille rasionaliteit van filosofie en wetenskaplike verklaring wat skoonheid tot niet maak, wat verbeelding vernietig en wat waarheid in gedistansieerde betragting vind. Die gedig is 'n protes teen slimheid en 'n pleitdooi vir wysheid.

Die aanhaling is deel van ‘n gedig waarin Lykios deur sy ou streng filosoof-leermeester van liefde beroof word omdat hy nie  verborge skoonheid herken nie. Daarom is filosofie “koud” – dit beroof van die warmte van liefde.

In die gedig word die “aweful” (eintlik awesome/boeiende). reënboog deur koue rasionalisering gelyk  gestel aan sonstrale wat deur vele vogdruppels ‘n klomp kleure in die lug laat skyn.  Die lugkastele, die betowering van die reënboog wat ‘n mens verstom met sy skoonheid, die wêreld van verbeelding, die droom-dinge word nou deur wetenskaplike kennis onluister tot iets wat net so gewoon is soos ‘n item in ‘n handelskatologus.

Do not all charms fly
At the mere touch of cold philosophy?
There was an awful rainbow once in heaven:
We know her woof, her texture; she is given
In the dull catalogue of common things.
Philosophy will clip an Angel’s wings,
Conquer all mysteries by rule and line,
Empty the haunted air, and gnomed mine –
Unweave a rainbow … 

 Hier is my vertaling:

Verdwyn dan nie alle betowering
Sommer by kil filosofie se eerste aanraking?
Eens staan ons voor ‘n reënboog, verstom:
Oor sy weefwerk, sy fyn tekstuur; hy kom
Ru in die vaal katalogus van gewone dinge ingeperk.
Filosofie versnipper ‘n Engel se vlerk,
Onluister die verborgene deur reëls en redenasies,
Sloop die droom-kastele en verpand kabouter-plasies –
Pluk ‘n reënboog uitmekaar….

Wanneer woorde jou in die steek laat...








Die busramp in Switzerland waarin 'n twintigtal Belgiese leerlinge en hul onderwysers tragies gesterf het, het België tot stilstand gebring. 

Op een van ons gunsteling-kanale (431) is die nuus oorheers deur die ramp en die baie roubetuigings waarmee die land hierop gereageer het. 

In skole, fabrieke, treine, die parlement, op straat en oral het mense Vrydag om 11 vm vir 'n minuut stilgeword. Kamera's op baie plekke wys hoedat mense en masse ophou werk, reis en loop om hul eerbied en meelewing te betoon.

Aangrypende tonele van ingehoue verdriet speel hom voor ons oë af. 

In onderhoude wat gebeeldsend word, vertel mense ingetoë van hulle skok en hoe tragies hulle dit vind dat sulke jong lewens so vroeg tot 'n einde gekom het. Telkens, as 'n steeds wederkerende refrein word die kinders se jeugdigheid uitgewys.

Wat my veral opval is die privaatheid wat aan die familie en die skool gegun word om op hul eie en sonder lastige opdringerigheid te kan afskeid neem en te kan rou.

Die media word nie naby die families toegelaat as hulle Switzerland toe geneem word en in die vliegtuie/busse inklim vir die reis nie. Die bus se gordyne is dig toegetrek sodat die families heeltemal afgesonderd is. 

Die besoek van die families aan die ramp-plek in die Switserse tonnel is ook ontoeganklik vir die publiek en die media. Die ouers en familie is alleen by die plek waar hul kinders se lewe so brutaal tot 'n einde gekom het.

Daar is 'n woedende reaksie onder mense as foto's van die kinders se gesigte en hul name in koerante gepubliseer word. Mense raas daaroor. Hulle dink dit is hoogs onvanpas en disrespekvol teenoor die families. Die mense naby aan die kinders het niks nodig om hul rou swaarder te maak nie, roep hulle verontwaardig in intense oomblikke uit. 

Ek staan verwonderd oor die bedagsaamheid wat uit hierdie beskerming van die ouers in hul tyd van verlies en verdriet uitstraal. En ook oor die ongekende meelewing wat 'n ieder en 'n elk betoon deur hul kommentaar, hul deelname aan die minuut van stilte en deur die blomme/kerse wat oral neergelê word. 

Hoe waardig kan 'n hele gemeenskap rou. 

Kyk maar net na die foto hierbo: die ruiker wit blomme, langs die kers in 'n glashouer by die register waar mense hul boodskappe kan gaan neerskryf. 

Woorde soos innigheid, beheersd, intens, smaakvol, waardig, beskaafd, bedagsaam, meelewend en beskermend kom telkens by my op as ek sien hoe 'n hele volk die ramp beleef.

Maar uiteindelik bly iets anders my die meeste by: in 'n onderhoud merk iemand op dat 'n mens by die verlies van 'n kind die swaarste van alle vuishoue toegedien kry. Selfs taal vertel hoe mens se woorde soos mis voor die son verdwyn voor  so 'n verskriklike ervaring. Sy verduidelik: as 'n mens jou man verloor, sê taal, meelewend, dat jy 'n weduwee is. As jy jou vrou verloor, is jy 'n wewenaar. As jy jou ouers verloor, is jy 'n weeskind.

Maar as jy jou kind verloor, vertel sy, is daar nie taal om dit te beskryf nie. 


Blog Archive