Showing posts with label Liefde. Show all posts
Showing posts with label Liefde. Show all posts

Tuesday, January 07, 2014

Die verskil tussen jou en die: Liefde is om blydskap te stig.

Ek loop die volgende uitspraak van Swedenborg dikwels raak. Dit sit mense aan die dink.

Hy skryf:

Liefde is 'n verlange om dit wat jou eie is, vir iemand anders te gee en om dan die persoon se vreugde daaroor as jou eie te ervaar.

Daar is 'n volrondheid aan hierdie uitspraak met sy twee gedagtes. 

Die eerste deel van die uitspraak lyk bietjie afgerem. Baie mense beklemtoon tog die opofferende kant van liefde. Heel tereg. Inderdaad is daar 'n onselfsugtigheid aan die liefde. Liefde is immers om te gee - eerder as om te ontvang. 

Maar dit is die tweede deel van die uitspraak wat die oog vang. Wat 'n mens weggee, kom, boemerangsgewys, in 'n sekere sin terug na 'n mens toe. Wat 'n mens weggee, bring soveel terug. Wat 'n mens weggee, bewerk blydskap by ander. 

Die ervaring van vreugde oor vreugde, gee 'n dieper kwaliteit aan liefde. Liefde transendeer dwang, verpligting en verantwoordelikheid. Dit sê dat 'n mens nie lief het met 'n gevoel van moet-doen nie. Iewers loop dit uit op goedheid, op die opbeurende, op verrukking selfs.

Wanneer 'n mens afstaan wat jou eie is, het 'n mens genot aan die blydskap van die ander persoon wat die geskenk geniet.

Daar is nie noodwendig 'n stuk meriete in die uitspraak asof 'n mens weggee sodat jy vreugde kan ervaar oor wat jy gedoen het nie. 

Immers, Swedenborg sê: 'n mens ervaar vreugde oor die ander een wat die geskenk geniet. Nie noodwendig "die geskenk van jou" nie. 

Liefde is om blydskap te stig...


  

Saturday, March 31, 2012

Die vier gesigte van die liefde.


Richard van St Victor, gebore in Skotland, is een van die bekendste Franse mistieke skrywers uit die middeleeue wat in Parys sy opleiding ontvang en daar die hoof word van die beroemde abdy van Sint Victor tot met sy dood in 1173. Hy was nog jonk toe hy gesterf het.

Hy is so bekend en invloedryk dat hy soms die tweede Augustinus genoem word. Sy werk het byvoorbeeld vir Dante beslissend beïnvloed.

Onder sy tydgenote was hy bekend as iemand wat op ‘n diepsinnige manier oor geloof nagedink het, veral in terme van die liefde.

Een van die mees opvallende aspekte van sy werk is die klem wat hy, soos sy leermeester en grondlegger van die Viktoryne, Hugh, lê op teologie as die liefderike bestudering van die Bybel. ‘n Mens lees die Bybel veral om die verborge betekenis daarvan te ontdek sodat ‘n mens gebalanseerd en volwasse kan word. Slegs dan kan ‘n mens verwonderd in die teenwoordigheid van God te staan kom in ‘n diepe, suiwer aanskouing van die wonders van die goddelike wysheid.

Vir Richard is God liefde. Daar is niks selfsugtigs aan God se liefde nie. Dit weet ‘n mens veral wanneer ‘n mens die triniteit in ag neem. Die goddelike liefde kom immers na vore in die liefdesverhouding tussen God die Vader en die Seun, maar daar is ook ‘n liefdesverhouding met God die Heilige Gees. Hierdie trinitariese verhouding is deurdring met vreugde en blydskap. God, skryf Richard, kan ‘n mens bedink in terme van ‘n rivier wat by die Vader begin, wat in die Seun vloei en met vreugde deur die Heilige Gees versprei. Hulle leef met mekaar, vir mekaar en in mekaar. Wie die liefde sien, is in die teenwoordigheid van die trinitariese God.

Richard beskryf vier fase’s in God se liefde. Die eerste fase is die reinigende liefde van God wat die mens laat ontwaak uit vergetelheid en wat die mens bewus maak van God. Liefde raak ‘n mens aan en dan word ‘n mens se gedagtes opgetel na God soos wat rook van die offerande opstyg tot God. Wanneer die mens nadink en mediteer, raak die mens bewus van God wat iewers teenwoordig is in sy/haar lewe. Dit is dan dat daar iets in jou bestaan ontvlam.

Die tweede fase is wanneer die liefde ‘n mens aan God bind. Hier begin die verwondering: dit is soos wanneer sonlig en water bymekaar kom. Die goddelike lig skyn so sterk op die mens dat ‘n mens die liefde van God nie meer kan vergeet nie.

In die derde fase word die mens deur die liefde met die wil van God verenig. Dit is ‘n fase van uitbundige, ekstatiese vreugde. Die mens is nie meer op hom/haarself ingestel nie, maar vervul met die heerlikheid van God.  Die mens is nou soos gesmelte metaal wat gevorm deur die vorm waarin dit gegiet word.

In die vierde fase kom die volmaakte eenheid met God en die mens deur die liefde tot stand. Dit is hier dat God die mens aanraak, dat mens bo alle verstand bewus raak van God se heerlike teenwoordigheid. Hierdie liefde maak ‘n mens gelykvormig aan Christus. Hier neem ‘n mens die nederigheid van Christus oor, ontledig jouself en gaan in die wêreld in om mens te inspireer om met ontferming teenoor mekaar op te tree.

Vier gesigte van die liefde. So maklik praat ons altyd oor liefde, maar te min bedink ons dat die liefde vele kante het. En eers wanneer ons dit bedink raak ons meer en meer bewus van hoe dinamies, sterk en ryk die liefde is.

Friday, March 09, 2012

Uiteindelik verby alle angs: om toe te laat dat God jou meer en meer iiefhet.


Wanneer die liefde van God jou een keer aangeraak het, hoe stil, hoe eenvoudig, hoe intens ook al, skryf Jan van die Kruis, staan ‘n mens voor ‘n wonder wat jy nie genoeg in woorde kan uitdruk nie. Jou lewe word gevul met ‘n nuwe, ander realiteit wat jou lewe vir altyd aanraak en wat van buite in jou ou, bekende wêreld inkom. Dit is so uniek dat ‘n mens soek na woorde om hierdie liefdesaanraking te beskryf.  

Jan van die Kruis het die liefde van God op die manier ervaar. Hy is oorweldig deur die manier waarop God hom eerste liefgehad het, voordat die mens nog ‘n vinger verroer het.

Die mens wat so onverdiend en totaal God se gawe van liefde ervaar, begin met nuwe oë na sy geestelike reis met God kyk. Die lewensreis word van sy laste en sy onsekerhede bevry. Die dae dat ‘n mens onder druk gevoel het om volgens God se “voorskrifte” te leef, is verby. Die tyd dat ‘n mens jou met vele pogings ingespan het om aan God se eise vir jou lewe te voldoen, is oor.

Iets anders gebeur na die ontmoeting met die goddelike liefdeswonder wat jou van jou klein, swoegende, worstelende, vroom lewe losmaak:

Jy is nou, skryf Jan van die Kruis, op jou reis met God die een wat eenvoudig net toelaat dat God jou meer en meer liefhet.

Die mens sug en verlang om steeds weer met die liefdesgawe beskenk te word.

Wanneer ‘n mens oop is dat God se liefde al hoe dieper in jou lewe inkom en jou hele bestaan vul, is dit omdat jy weet dat God se liefde onvoorwaardelik is. Niemand hoef angstig te wonder of jy vir God aanvaarbaar is nie. Nou laat ‘n mens toe dat die lig van die liefde in jou lewe skyn. En, vanuit die donker van jou eie klein, geslote bestaan, reis ‘n mens nou agter die lig aan. In hierdie goddelike lig sien ‘n mens die Lig.

Daar is iets diep verborge aan God se liefde, die Lig wat ‘n mens kom omstraal, omdat dit so totaal anders is as alles waaraan ‘n mens gewoond is, skryf Jan van die Kruis. Ons taal en ons woorde wat gebore word uit ons menslike ervaringe, skiet tekort om oor die Liefde te praat. Ons taal is te menslik, te vasgebind aan ons self dat dit reg kan laat geskied aan die Liefde wat van buite ons kom.

Op ‘n dag gebeur dit dat ons besef ons word opgeneem in iets wat groter as alles is. Dit is soos ‘n bootjie wat, mensgemaak, meedryf in die totaal ander, dieper, groter, magtige, dinamiese rivierstroom. Lig, dobberende, rustig, vervuld dryf ons mee met die gang van die liefde wat van buite ons kom. Dit gaan alle verstand te bowe, roep die mistici uit. Wat kan ons tog daarmee vergelyk? God se liefde, wat ons nou dofweg deur ‘n spieël bekyk, is mooier as enige iets wat ‘n mens kan bedink, ervaar of uitspel.

Ons hoef nie daaroor te praat nie. Ons kan maar net daarin bly. In die teenwoordigheid, in die aangesig van die die Liefde.

Tuesday, February 14, 2012

Vry in Christus, maar 'n slaaf van die liefde


In Galasiërs 5:13 skryf Paulus: “Julle is geroep tot vryheid; maar gebruik nie julle vryheid as ‘n geleentheid vir die vlees nie, maar deur liefde moet julle mekaar dien.” 

Só vertaal die meeste Bybels die vers.

Tog is dit nie heeltemal reg nie. Om mekaar te dien is ‘n bietjie van ‘n vaal vertaling as ‘n mens dit vergelyk met wat werklik in die oorspronklike Grieks staan. Eintlik is Paulus se woorde sterker: hy vra dat gelowiges deur liefde slawe van mekaar sal wees.   

Paulus gebruik juis nie die werkwoord om “te dien” nie, maar eerder die woord “om as slaaf te dien”.

Dit is ‘n bietjie van ‘n skok dat Paulus gelowige mense as slawe kan beskryf: Galasiërs is die boek van vryheid. Gedurig beklemtoon Paulus dat  gelowiges ‘n spesiale status het. Hy skryf in 4:7 juis dat ‘n gelowige nie ‘n slaaf is nie, maar ‘n kind van God. Slegs in die ou bedeling voor Christus, was mense slawe wat aan die magte gebind was (4:1-3).

Maar as dit by die liefde kom, is die gelowige mens van vooraf 'n slaaf!

Vir Paulus is die vryheid van gelowiges dus ingeperk en onderworpe aan die mag van die liefde. Ten opsigte van die liefde is niemand vry nie.

Dit word so bietjie meer van ‘n paradoks as ‘n mens kyk hoe Paulus die liefde verstaan. Hier is die liefde duidelik wedersyds: om mekaar lief te hê is ‘n teken dat mense aan Christus gebonde is en soos Christus liefhet (Galasiërs 2:20).  Eintlik dus, is ‘n mens onder die mag van die ander. As iemand wat die liefde ken, onthou jy nie die liefde van ander nie.Jy moet liefde kan gee. Die ander is daarop geregtig.

Eintlik skryf Paulus hier: maak dit ‘n lewenswyse om deur liefde slawe vir mekaar te wees. Dit is ‘n hele proses om lief te hê.  Hy druk daarom sy opdrag uit in die teenwoordige tyd. Elke dag van ‘n mens se bestaan is ‘n mens die ander een se slaaf deur die liefde. Vir Paulus hou dit nie op nie: ‘n mens maak daarvan ‘n gewoonte! 

Elke dag, gedurig, sonder ophou word die mens 'n slaaf.

Friday, January 27, 2012

Die liefde is hartsake.





“Die Prinsie” (The Little Prince)  is ‘n merkwaardige boek wat deur die Franse skrywer en vlieënier, Antoine de Saint-Exupery geskryf is en wat een van die mees-gelese boeke van die twintigste eeu geword het.

Dit vertel die verhaal van ‘n seuntjie wat in die woestyn saam met ‘n vlieënier beland en vir hom leer om die sin van die lewe te ontdek.

Die seuntjie is die voorbeeld par excellence van iemand wat goed weet dat ‘n mens alleen die sin van die lewe ontdek as hy of sy al die harde skille van sy of haar skeefgetrekte waardes en vooroordele van sy of haar oë laat val en na die lewe so eenvoudig en oop soos ‘n kindjie kyk.

Die seuntjie onthul dus aan die leser van die boek waar ‘n mens in die lewe liefde ontdek.

Die liefde is nie te vind in al die plekke waar mense normaalweg graag daarna gaan soek nie.

Hy weet te goed: Die liefde is iets wat ‘n mens ook nie netjies kan analiseer en peil nie. Dit is ook nie iets wat net wag om raakgesien te word nie.

Liefde, leer die merkwaardige boekie sy lesers, is iets verborge, weggesteek en iets besonder intiems. Jy sal dit op die mees onverwagte plek moet gaan soek.

Neem maar ‘n praktiese voorbeeld uit die gewone lewe om hierdie les van die verborge liefde te kan verstaan: ‘n normale pa en ‘n doodgewone seun deel ‘n spesiale ouer-kind liefde vir mekaar. Niemand kan daardie liefde tussen die twee verklaar nie. Daar is immers baie pa’s met seuns en seuns met pa’s in die wêreld, maar hierdie spesifieke pa en hierdie spesifieke seun is lief net vir mekaar. Hulle het nie ‘n saak met ander pa’s of seuns nie. En so gaan dit gewoonlik met die liefde: daar is baie moontlike mense om lief te hê, maar egte liefde vind ‘n mens op ‘n vreemde manier in ‘n spesifieke verhouding tussen twee mense. En dikwels weet hulle nie eers waarom hulle mekaar lief het nie. Die boekie wil dit verduidelik:

Die pa en seun gee om vir mekaar omdat hulle vir baie jare hulle lewe met mekaar gedeel het. Hulle het soms woorde gehad. Partykeer het hulle met mekaar baklei. Ander kere het hulle mekaar vermy. Saam is hulle deur tye van swaarkry en saam het hulle oor en aan baie dinge gesukkel. Hulle het, soos die spreukwoord lui, ‘n reuse sak sout saam opgeëet. Omdat hulle so baie dinge vir mekaar gegee het en soveel tyd saam bestee het, het daar deur die jare ‘n verborge, spesiale en intieme verhouding tussen hulle gegroei. Soos aan niemand anders nie, het hulle aan mekaar gewoond geraak, mekaar se foute verdra en selfs begin lief kry, mekaar versorg, mekaar ondersteun en trou by en aan mekaar gebly.

Hulle gedeelde, saam beleefde lewe het die verhouding tussen hulle spesiaal en liefderyk gemaak.

Hulle liefde vir mekaar het dus oor die jare heen baie gevolge gehad. Hulle het hierdie gevolge op baie vlakke en in vele opsigte gedra en dit het hulle aan mekaar laat vasgroei soos aan min ander mense.

Niemand kan dit verklaar nie: hoe kan twee mense wat soveel saam deurgemaak het so na aanmekaar groei en leef? Twee doodgewone mense, ‘n pa soos baie pa’s en ‘n seun soos baie seuns, het mekaar lief en vir hulle bestaan daar daarom net een pa onder al die pa’s en net een seun onder al die seuns.

Dit alles word dus heel eenvoudig en heel duidelik in die Prinsie van Saint-Exupery verduidelik.

Die boek is ‘n verhaal oor ‘n prinsie wat op die planeet waarvandaan hy gekom het, ‘n roos gehad het. Hy het op die aarde beland waar hy op sy reise onder andere by ‘n bos rose beland. Hy bekyk die rose. Hy dink die rose is mooi, maar tog, vertel hy, is hulle “leeg”. Hulle doen nie aan hom wat sy eie roos aan hom doen nie.

Die prinsie praat mooi met die rose: “Iemand wat hier verby loop sal dink julle is mooi en lyk net soos my roos op my planeet. Maar julle doen niks aan my nie. Julle kom nie naasteby so naby aan my soos my eie roos nie. Sy behoort aan my. Sy is vir my baie meer werd as al julle baie rose. Ek het haar versorg, water op haar worteltjies gegooi, vir haar in die skaduwee gesit as dit te warm geword het, die wurms wat haar wou vervreet doodgemaak. Ek het na haar geluister – die kere toe sy gekla het, of die kere dat sy gespog het, en selfs die kere dat sy niks gesê het nie. Sy was my roos, myne.”

Nadat die prinsie op die manier met die rose gepraat het, raak hy ook aan die gesels met die jakkals ‘n ander karakter in hierdie hoogs simboliese “kinderboekie”. Die prinsie maak dan een van die mees beroemde uitsprake in hierdie boek – ‘n uitspraak wat vandag baie aangehaal word:

“’n Mens kan net met die hart goed sien. Dit wat regtig saak maak, is onsigbaar vir die oog.”

En dan kom daar sy verdere opmerking, vir my amper nog mooier as die vorige een: “Dit is die tyd wat jy aan jou roos spandeer het wat jou roos o spesiaal maak.” Hy het soveel belê in sy eie roos dat die roos vir hom kosbaarder as enige ander roos geword het.  

En dan, in ‘n derde sin, word die verhaal nog dieper geskryf en die aard van die liefde nog duideliker gemaak as die prinsie byvoeg: “As ‘n mens vir iets omgee, vir iets sorg, al jou tyd aan iemand spandeer, word jy daarvoor verantwoordelik.”

Drie dinge dan:

1.    Liefde kan nie met die blote oog gesien of verklaar word nie. Dit is iets wat verborge wag om raakgesien te word. Dit kom na hulle wat dieper kyk, wat met die hart verstaan. Liefde is hartsake. Jy kan dit nie altyd kop nie. Daarom is die liefde nie oppervlakkig nie.
2.    Liefde gaan om wat jy gee, om hoe jy jouself aan die ander een toevertrou en uitverkoop. En hoe meer jy omgee, hoe dieper wortel die liefde en hoe ryker vul dit jou lewe. Hoe groter die liefde, hoe groter die offer wat jy daarvoor gemaak het. Wanneer jy die liefde ontdek het, steek dit ‘n vlam in jou aan wat jou verteer en jou hele wese in beslag neem – om die liefde verder te laat ontvlam en te laat groei.
3.   Liefde is nie ‘n romantiese ding wat jou oorval nie. Liefde het te doen met die verantwoordelikheid waarmee jy jou aan die ander gee. ‘n Mens sit nie en wag dat iemand jou lief het nie. Jy het lief en in die liefde is die vreugde te vind.

Tuesday, January 10, 2012

Voos, maar bemind...




Die lawwe foto, vrot van humor, het my laat lag, maar ook ‘n klomp los gedagtes in my losgeskrop.

Lieflingsokkies, vrot gedra, waarvan ‘n mens nie afskeid wil neem nie.

Ek het ook al sulkes gehad. Hulle was naderhand voos. Maar hulle is deel van jou lewe. En hoe voser hulle raak, hoe groter deel het hulle aan jou lewe.

Jy weet hulle moes al lankal gesmyt geraak het. Maar hulle is soos jou ou hond in jou huis. Hoe ouer, hoe liewer.

Dan kom daar ‘n dag dat jy weet dit is nou die tyd. Dit kan nie anders nie. Hulle moet gaan.

Maar voor jy hulle laat gaan, neem jy eers jou foto.

Want jy het byna ‘n leeftyd met hulle deurgebring. Hulle het diep spore saam met jou in jou lewe getrap.

Jou foto is ‘n afskeid. Jy weet die einde is daar. Dit is amper soos 'n grafsteen....

Jou foto is ‘n blyk van waardering. Ek kan julle nie laat gaan sonder om julle te wil onthou nie.

Jou foto is vol verwondering: hoe naby kom 'n paar loopgoed aan jou hart en hoe bly jy tog vasgebind aan die bekende. 

Dus, ‘n mens kyk met gemengde liefdesgevoelens na dinge waarvoor ander mense sal gril omdat dit so naby aan jou is.

Die huismense juig. Die skande is vort. Hulle hoef nie meer te vrees as pa, na 'n hartaanval, dalk in die hospitaal beland en die verpleegsters moet daardie tekkies uittrek nie. 

Maar jy gaan daardie twee liewe lappe mis.

Ek het ook ander gedagtes: soms in ‘n mens se lewe voel jy ook so voos.

Daar is tye dat jy weggegooi voel. Vol gate deur die lewe getrap.

Maar ons het die wonderlike wete: die Een wat die pad met ons gestap het, kyk met veel liefde na ons – met ander oë as hulle wat vir die voosgeid gril.

En die Een weet dat wanneer ons so voel, dit tyd is om rus te skenk. Soms vind ons die rus hier en nou. Maar op ‘n keer sal daardie Een kom en vir ons die ewige rus skenk.

Altyd weer wys die Beminde hoe groot die liefde is, hoe ver verby alle voosheid, dit strek.

O, om vir ewig in daardie Liefde wat so onverdiend, ook aan die vertraptes gegee word, in te woon…

Monday, January 09, 2012

God woon nie in uiterlikhede nie. Oor ons lewe in die liefde (3)


In Lukas 17:21 sê Jesus vir die Fariseërs op hulle vraag na voortekens vir die koms van God se koninkryk dat niemand die koms sal kan bereken nie. Die rede is dat die koninkryk van God “binne-in julle is”.

In die Nuwe Vertaling word die frase vertaal met : “Die Koninkryk van God is by julle.”

In ‘n fyn beredeneerde artikel (Journal of Syriac Studies van 2009) het die knap Italiaanse deskundige, Ilaria Ramelli, vele argumente aangevoer waarom die vertaling “by julle” onmoontlik is. Sy beklemtoon dat die frase beteken dat die Koninkryk van God "binne-in julle is." Die Ou Vertaling was dus meer korrek.

Sy toon aan dat Lukas hier, en ook elders in sy evangelie, eintlik praat van ‘n spanning tussen die Koninkryk van God en hierdie wêreld. Die Koninkryk van God is deel van die geestelike lewe van die mens. Die Koninkryk word gevind in die armes, die wat honger ly, wat vervolg word en in die geestelike kinders (Lk.4:6). Dit word nie in “hierdie wêreld” gevind nie – daarom moet dissipels ook nie die dinge van hierdie wêreld jaag of Mammon, die god van rykdom, dien nie (Lk.5:13; 6:20). In daardie dingen van die dag sal God nie teenwoordig wees nie. 

Eendag, lees ‘n mens verder in Lukas 13:28, sal die Koninkryk dan ook ten volle ‘n werklikheid word – maar weer eens nie in die huidige wêreld nie. As ‘n mens ooit die Koninkryk van God nou reeds wil vind, skryf Lukas, sal ‘n mens dit in die mens se geestelike bestaan kry.  

Vir Lukas is die ruimte van die mens se huidige bestaanswêreld eerder korrup, sonder God en ‘n verleiding. Soek ‘n mens God, moet ‘n mens eerder binne-in jouself kyk. 

God woon in die hart van die mens. Intiemer kan dit nie. 

Dit is gedagtes wat 'n mens elders in die Nuwe Testament ook kry. In Matteus 23:26 vermaan Jesus die Fariseërs daarom om eers die innerlike skoon te maak. Dit is die binnekant van die beker wat rein moet wees.

Jesus het dus enige gedagte van uiterlikheid, van afwyserigheid, van oppervlakkigheid, afgewys. Mens soek nie na God in die pleeg van formaliteite nie. Die begeerte van die siel is nie na menslike erkenning en glorie nie. God is op 'n heel ander plek te vind - in innerlikheid, geestelikheid, in armoede aan aardse dinge: 

In jou binneste, daar soek die mens om by God te wees. Dit is dus, anders as wat die hartjie hierbo uitdruk, nie net dat God die mens lief het nie, maar meer nog: dat die Liefde in die mens woon en deel van die menselike bestaanskern is. 

Maar wat beteken hierdie kernvers in Lukas se Evangelie vir spiritualiteit? Hieroor volgende keer meer.






Thursday, August 25, 2011

Die liefde kom tot hulle wat dit deel....


As ‘n mens al die gewilde liedjies, die vele liefdesgedigte en die baie romans glo, is die wêreld vol van mense met pyn oor onvervulde liefde, oor liefdesteleurstellings of liefdesverlange. Die sangers, digters en skrywers beeld die gewone mens se greep na die liefde op baie maniere uit.

Hoe meer mense probeer om naby aan hul geliefdes te leef, hoe meer ervaar hulle egter ‘n onvermoë daartoe. Hoe meer mense oor die verlange na die liefde sing, skryf en praat, hoe minder ervaar hulle die bevrediging van lief-wees vir die ander.  Hoe dieper die verlange na nabyheid, omgee en die liefde, hoe meer lyk dit buite bereik te wees.

Mense kan selfs op ‘n baie intieme vlak met mekaar saam leef, dieselfde huis deel, selfs dieselfde bed deel – en tog volkome vreemdelinge vir mekaar wees.  Selfs in die allernaaste omstandighede kan ‘n mens met desperaatheid voel asof jy myle ver is van hom of haar langs jou om die tafel, by jou in die huis, saam met jou in die bed.

Dit gebeur hoewel mense tog inniglik begeer om in liefde met mekaar te lewe.

Dit is asof hulle net nie kan uitkom by wat hulle in hul harte begeer nie.  Hoe krampagtiger die uitreik na die ander, hoe leër die innerlike gevoel.

Hoe word die verlange na die liefde ‘n werklikheid in ‘n mens se lewe?

Hierop sou ‘n mens baie antwoorde kan gee: Wees bedagsaam, wees minder selfsugtig. Gee meer tyd vir mekaar. Sê vir die ander dat jy hom of haar lief het. Dink positief oor die ander en moenie hom of haar afbreek nie.

Allerhande wenke word kwistig uitgedeel om mense te help om tot die liefde te kom.

Tog lê die beginpunt van die liefde juis buite onsself, buite die mens se kragte en vermoëns. ‘n Mens ontdek die liefde slegs deur die werking van die Heilige Gees. Die Gees van God lei die mens in die liefde in. ‘n Geestelike mens se lewe word gevul deur die liefde waarmee God hom of haar aanraak en tot nuwe lewe bring.  ‘n Mens, het Jesus wyslik gesê, gee baie liefde omdat ‘n mens veel liefde ontvang het.

Daar is talle voorbeelde van mense wat God ontmoet het en daardeur in ‘n lewe van die liefde ingetrek is. Waar God ‘n mens aanraak, soek ‘n mens nie meer krampagtig na liefde nie. Op ‘n verborge manier word ‘n mens ingetrek in die goddelike sfeer van die liefde. Waar God se Gees ‘n mens aanraak, gaan ‘n mens die woning van liefde binne.

En wie in die goddelike liefdeswoning leef, sal leer om eg lief te hê.  Dit sal nie anders kan nie. Wie God se waters van liefde drink, strome van liefde sal uit sy binneste vloei. Immers, in die deel van liefde, is die mens die ewebeeld van die God wat liefde is.

En, as ‘n mens dan begin nadink oor hoe hierdie inwoning by God in liefde werk, kom ‘n mens met verrassing agter dat die liefde kom tot hulle wat nie daarvoor vra of daarna verlang nie of dit wil afdwing nie, maar dit vloei in strome na hulle wat liefde graag gee en kwistig deel.

Dit is mos juis ‘n beeld van hoe God is – die Een wat die mens eerste liefgehad het.

Blog Archive