Friday, January 27, 2012

Die liefde is hartsake.





“Die Prinsie” (The Little Prince)  is ‘n merkwaardige boek wat deur die Franse skrywer en vlieënier, Antoine de Saint-Exupery geskryf is en wat een van die mees-gelese boeke van die twintigste eeu geword het.

Dit vertel die verhaal van ‘n seuntjie wat in die woestyn saam met ‘n vlieënier beland en vir hom leer om die sin van die lewe te ontdek.

Die seuntjie is die voorbeeld par excellence van iemand wat goed weet dat ‘n mens alleen die sin van die lewe ontdek as hy of sy al die harde skille van sy of haar skeefgetrekte waardes en vooroordele van sy of haar oë laat val en na die lewe so eenvoudig en oop soos ‘n kindjie kyk.

Die seuntjie onthul dus aan die leser van die boek waar ‘n mens in die lewe liefde ontdek.

Die liefde is nie te vind in al die plekke waar mense normaalweg graag daarna gaan soek nie.

Hy weet te goed: Die liefde is iets wat ‘n mens ook nie netjies kan analiseer en peil nie. Dit is ook nie iets wat net wag om raakgesien te word nie.

Liefde, leer die merkwaardige boekie sy lesers, is iets verborge, weggesteek en iets besonder intiems. Jy sal dit op die mees onverwagte plek moet gaan soek.

Neem maar ‘n praktiese voorbeeld uit die gewone lewe om hierdie les van die verborge liefde te kan verstaan: ‘n normale pa en ‘n doodgewone seun deel ‘n spesiale ouer-kind liefde vir mekaar. Niemand kan daardie liefde tussen die twee verklaar nie. Daar is immers baie pa’s met seuns en seuns met pa’s in die wêreld, maar hierdie spesifieke pa en hierdie spesifieke seun is lief net vir mekaar. Hulle het nie ‘n saak met ander pa’s of seuns nie. En so gaan dit gewoonlik met die liefde: daar is baie moontlike mense om lief te hê, maar egte liefde vind ‘n mens op ‘n vreemde manier in ‘n spesifieke verhouding tussen twee mense. En dikwels weet hulle nie eers waarom hulle mekaar lief het nie. Die boekie wil dit verduidelik:

Die pa en seun gee om vir mekaar omdat hulle vir baie jare hulle lewe met mekaar gedeel het. Hulle het soms woorde gehad. Partykeer het hulle met mekaar baklei. Ander kere het hulle mekaar vermy. Saam is hulle deur tye van swaarkry en saam het hulle oor en aan baie dinge gesukkel. Hulle het, soos die spreukwoord lui, ‘n reuse sak sout saam opgeëet. Omdat hulle so baie dinge vir mekaar gegee het en soveel tyd saam bestee het, het daar deur die jare ‘n verborge, spesiale en intieme verhouding tussen hulle gegroei. Soos aan niemand anders nie, het hulle aan mekaar gewoond geraak, mekaar se foute verdra en selfs begin lief kry, mekaar versorg, mekaar ondersteun en trou by en aan mekaar gebly.

Hulle gedeelde, saam beleefde lewe het die verhouding tussen hulle spesiaal en liefderyk gemaak.

Hulle liefde vir mekaar het dus oor die jare heen baie gevolge gehad. Hulle het hierdie gevolge op baie vlakke en in vele opsigte gedra en dit het hulle aan mekaar laat vasgroei soos aan min ander mense.

Niemand kan dit verklaar nie: hoe kan twee mense wat soveel saam deurgemaak het so na aanmekaar groei en leef? Twee doodgewone mense, ‘n pa soos baie pa’s en ‘n seun soos baie seuns, het mekaar lief en vir hulle bestaan daar daarom net een pa onder al die pa’s en net een seun onder al die seuns.

Dit alles word dus heel eenvoudig en heel duidelik in die Prinsie van Saint-Exupery verduidelik.

Die boek is ‘n verhaal oor ‘n prinsie wat op die planeet waarvandaan hy gekom het, ‘n roos gehad het. Hy het op die aarde beland waar hy op sy reise onder andere by ‘n bos rose beland. Hy bekyk die rose. Hy dink die rose is mooi, maar tog, vertel hy, is hulle “leeg”. Hulle doen nie aan hom wat sy eie roos aan hom doen nie.

Die prinsie praat mooi met die rose: “Iemand wat hier verby loop sal dink julle is mooi en lyk net soos my roos op my planeet. Maar julle doen niks aan my nie. Julle kom nie naasteby so naby aan my soos my eie roos nie. Sy behoort aan my. Sy is vir my baie meer werd as al julle baie rose. Ek het haar versorg, water op haar worteltjies gegooi, vir haar in die skaduwee gesit as dit te warm geword het, die wurms wat haar wou vervreet doodgemaak. Ek het na haar geluister – die kere toe sy gekla het, of die kere dat sy gespog het, en selfs die kere dat sy niks gesê het nie. Sy was my roos, myne.”

Nadat die prinsie op die manier met die rose gepraat het, raak hy ook aan die gesels met die jakkals ‘n ander karakter in hierdie hoogs simboliese “kinderboekie”. Die prinsie maak dan een van die mees beroemde uitsprake in hierdie boek – ‘n uitspraak wat vandag baie aangehaal word:

“’n Mens kan net met die hart goed sien. Dit wat regtig saak maak, is onsigbaar vir die oog.”

En dan kom daar sy verdere opmerking, vir my amper nog mooier as die vorige een: “Dit is die tyd wat jy aan jou roos spandeer het wat jou roos o spesiaal maak.” Hy het soveel belê in sy eie roos dat die roos vir hom kosbaarder as enige ander roos geword het.  

En dan, in ‘n derde sin, word die verhaal nog dieper geskryf en die aard van die liefde nog duideliker gemaak as die prinsie byvoeg: “As ‘n mens vir iets omgee, vir iets sorg, al jou tyd aan iemand spandeer, word jy daarvoor verantwoordelik.”

Drie dinge dan:

1.    Liefde kan nie met die blote oog gesien of verklaar word nie. Dit is iets wat verborge wag om raakgesien te word. Dit kom na hulle wat dieper kyk, wat met die hart verstaan. Liefde is hartsake. Jy kan dit nie altyd kop nie. Daarom is die liefde nie oppervlakkig nie.
2.    Liefde gaan om wat jy gee, om hoe jy jouself aan die ander een toevertrou en uitverkoop. En hoe meer jy omgee, hoe dieper wortel die liefde en hoe ryker vul dit jou lewe. Hoe groter die liefde, hoe groter die offer wat jy daarvoor gemaak het. Wanneer jy die liefde ontdek het, steek dit ‘n vlam in jou aan wat jou verteer en jou hele wese in beslag neem – om die liefde verder te laat ontvlam en te laat groei.
3.   Liefde is nie ‘n romantiese ding wat jou oorval nie. Liefde het te doen met die verantwoordelikheid waarmee jy jou aan die ander gee. ‘n Mens sit nie en wag dat iemand jou lief het nie. Jy het lief en in die liefde is die vreugde te vind.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive