Thursday, January 12, 2012

Oor 'n merkwaardige argitek en wonderskone kerke.



Ons ry soms deur Ladismith net om na Carl Otto Hager se kerk te gaan kyk. Ek neem hiertoe foto in November 2011. Die spel van blou, helder, helderblou lig met die blou jakarandas wat die wit, haelwit wolke en die wit kerk met sy wit muur omring gee vir mens so 'n gevoel van die geestelike ervaring wat 'n besoek aan die kerk by 'n mens opwek.

Binne-in die kerk is die preekstoel verwyder. Net die houtlys bly oor. Hager was ook bekend vir die wondermooie preekstoele in sy kerke. Sy ander beroemde kerk is die N.G. Moederkerk op Stellenbosch. Maar hiertoe Ladismith kerk is vir my mooier. Hager moes die vergroting van die moederkerk in 1860 beplan en het iets pragtigs daarvan gemaak.  Hier, in Ladismith, kon hy egter sonder beperkings, vanuit niks, die kerk ontwerp. Die neo-Gotiese styl is oorrompelend mooi en verklaar waarom hy so 'n reputatie gekry het.

Natuurlik sy pragstuk, seker een van die mooiste geboue in ons land, is die Ou Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch. Elke keer as ek verby die Ou Hoofgebou loop, kyk ek met dankbaarheid en verwondering daarna. Skeppende talent van 'n kunstenaar kan so spesiaal wees dat 'n mens dit maar net as Godgegewe kan beskou. En, nog lekkerder, is die gedagtes wat ek koester as ek die Ou Hoofgebou sien: hier het ek Hebreeus by die unieke Prof Fensham gedoen, Grieks by die vertalingsmeester, Prof. JPJ van Rensburg, en Latyn by die bewaringsbewuste Prof. Frans Smuts en ook die wyse Prof. Andre Hugo, aan wie ek later my Jabes roep tot God opgedra het. Lekker dat die skoonheid van die gebou saamsmelt met die skoonheid van 'n spesiale opleiding.

Die ander pragstuk op Stellenbosch was Hager se herontwerp van die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch tot 'n sierlike dubbelverdieping-gebou. Min woorde kan reg laat geskied aan hierdie spesiale gebou en sy boeiende voorkoms. Ek het hier my teologiese opleiding gehad, onder leermeesters oor wie se politiekery en kerkelike magspeletjies ek lank gelede reeds skaam gekry het. Juis daarom hou 'n mens maar sterker vas aan die gebou self as aan hulle wat vir soveel jare daardie gebou beset het en 'n hele apartheidsera gevoed het.

Hager was op 'n tyd so arm dat hy skaars aan die lewe kon bly. Later het hy roem verwerf. Maar sy eenvoudige, neo-Gotiese en neo-klassieke boustyl het vir ons as 'n kosbare nalatenskap agtergelaat. Ons kan hom nie genoeg eer daarvoor nie.

Des te meer is dit hartverskeurend om te hoor by die vlytige toesighouer by die Hager-kerk op Ladismith hoe hulle sukkel om die onderhoud van die kerk, wat op 'n stadium as 'n bergplek gebruik is en toe 'n aaklige sementvloer gekry het, te finansier. Een van die groot argitektoniese skatte in ons land, 'n gebou wat 'n besoek aan Ladismith alleen die moeite werd maak, word op die wyse skromelik bedreig.

Wanneer gaan ons in ons land al die miljoene wat in borgskappe vir rugby, krieket en sport ingaan, ook kanaliseer om die wonderskone skatte van ons land en van ons begaafde argitekte te bewaar. Wat sê dit van ons dat 'n kerk met soveel prag die lot ervaar?

Hier is 'n berig uit Die Burger oor Hager:


Kerk-argitek Carl Otto Hager,verryker van ons kultuur

DIE veelsydige Carl Otto Hager was ongetwyfeld een van Suid- Afrika se knapste, maar tot dusver sekerlik onbekendste, negentiende-eeuse argitekte. Hager het hom veral toegespits op die Neo-Gotiese kerkboukuns, maar het ook as skilder en fotograaf naam gemaak.

Die feit dat agt van Hager se argitektoniese skeppings al tot nasionale gedenkwaardighede verklaar is, is bevestiging van sy besonderse talente.

Otto Hager is in 1813 in Dresden gebore en het in 1838 na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het in Duitsland opleiding in argitektuur en die skilderkuns ontvang en het aanvanklik in Kaapstad as 'n skilder 'n bestaan probeer maak. Hager was in hierdie tyd mede- verantwoordelik vir die ontwerp van die planne vir die St. Mary-katedraal in Roelandstraat. Dit was die jong argitek se eerste werk in die Neo-Gotiese boustyl.

Ná skaars twee jaar in Kaapstad het Carl Otto Hager hom op Stellenbosch gaan vestig. Volgens sy memoires, wat 'n interessante mengsel van Nederlands en Duits is, het dié dorp hom herinner aan sy ``. . . vaterland en een gevoel van voorspelling zegde my dat dit een plaats van rust op de aarde voor my wezen zou''. Hy sou dan ook tot sy dood hier woon.

Kort nadat hy hom op Stellenbosch gevestig het, is Otto met Cornelia Janssen, 'n musiekonderwyseres, getroud. Minstens twintig jaar van hul getroude lewe moes hulle 'n sukkelbestaan voer waarin Hager soms portretskilder, dan weer snuifmaker, dan kersemaker en uiteindelik fotograaf was.

Nog voor sy troue het hy portrette op Worcester geskilder en daarna op Swellendam en Fort Beaufort. Later moes hy te perd reis na plekke soos die Paarl, Malmesbury en Riebeek-Kasteel, waar hy selfs landskappe teen die mure van private huise geskilder het. Hy was ook lief daarvoor om te skets en heelwat van sy sketse het gelukkig behoue gebly.

In hierdie tydperk het Otto Hager as lid van die Evangelies-Lutherse Kerk op Stellenbosch 'n plan vir 'n nuwe kerkgebou in Dorpstraat opgetrek. Hiervoor het hy 'n bedrag van ú5 ontvang. Hy was tóé ook verantwoordelik vir die ontwerp van die bekende dorpsplan van Stellenbosch (1859) en vir opmeetwerk aan die Meulsloot.

Toe sy geldelike nood feitlik op sy hoogste was, het die keerpunt in Carl Otto Hager se lewe gekom. Dit was in 1863, toe hy gevra is om die vergroting en verbouing van die 1814-kerk op Stellenbosch te onderneem. Hierdie opdrag om die bestaande kerk om te bou tot wat vandag as die Stellenbosse Moederkerk bekend staan, was 'n groot uitdaging.

Hager het geen moeite ontsien om aan die hoë verwagtinge te voldoen nie en het selfs 'n model vir dié doel gebou. Die 1863-kerk het nie net ten opsigte van grootte van die oue verskil nie. Die plank-plafonne is onder meer verwyder en die sierlike boë en rysige pilare het eenvormigheid van styl en 'n stille waardigheid verseker. Sinodegangers wat uit Kaapstad die inwydingsplegtigheid van die Hager-kerk bygewoon het, het gesorg dat dié argitek buite die grense van Stellenbosch bekend raak.

Hy het ook uit ander oorde groot lof vir hierdie moeilike projek ontvang en bestellings vir die ontwerp en oprigting van ander kerke het daarna ingestroom. Nadat Otto in 1863 gehelp het met die oprigting van 'n Neo-Gotiese kerkgebou op Clanwilliam (eintlik 'n ``korrespondensie''-gebou), het hy in die sestigerjare ook die kerk op Fraserburg ontwerp.

Hierbenewens het hy die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch in dié fase in 'n ``doepelde verdieping'' omgeskep. In die sewentigerjare, die vrugbaarste dekade van Otto Hager se lewe, het hy soveel opdragte ontvang dat 'n mens wonder hoe hy alles behartig het.

Hy het kerkgeboue op Heidelberg en Caledon ontwerp en gebou, die bestaande kerk op Somerset-Oos vergroot, die Neo-Gotiese kerke op Ceres, Tulbagh en Calitzdorp ontwerp en die Oudtshoornse klipkerk voltooi. Met die laasgenoemde projek in die Klein-Karoo het Hager al sy argitektoniese kennis en bedrewenheid nodig gehad. Om 'n ander argitek se half voltooide gebou, wat sowat agtien jaar tevore begin is, klaar te bou, was 'n groot uitdaging. Al was die ornamentele traseerwerk van die fyn Oudtshoornse klip reeds klaar, moes Otto Hager afsonderlike tekeninge vir die verskillende vensters maak. Die preekstoel, wat herinner aan dié van die Stellenbosse Moederkerk, het hy uit klip laat kap. (Sy ander preekstoele was almal van hout, met pragtige houtsnywerk in die Neo- Gotiese styl.) Rondom die Oudtshoornse preekstoel het Hager vyf engelbeelde gerangskik om as 't ware 'n kroon op sy veeleisende werk te plaas. Hy het 'n Oudtshoornse meisietjie as model gebruik en die tekeninge wat hy van haar gemaak het, na Engeland gestuur waar die vyf beelde uit klip gekap is.

In die tagtigerjare, toe hy sewentig was, wou Carl Otto Hager nie meer ver weg van Stellenbosch werk nie. Al groot kerk wat hy toe ontwerp het, was die een op Piketberg. Sy grootste triomf van dié jare, en miskien van sy hele argitekloopbaan, was die gebou wat vandag bekend staan as die Ou Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch. Met dié ontwerp het hy sy veelsydigheid bewys. Die gebou met sy indrukwekkende fasade is een van die waardigste voorbeelde van die Neo-Klassieke styl in Suid- Afrika.

Ander Neo-Gotiese kerke wat Hager in sy lang loopbaan as argitek ontwerp het, was die Nederduits Gereformeerde kerkgeboue op Ladismith, Piketberg, Vanrhynsdorp en Kroonstad. Hy meld in sy memoires dat hy verlof vergun is om verskeie ander Vrystaatse kerke te ontwerp. Ongelukkig noem Otto nie dié kerke by name nie. Omdat kerklike dokumente tydens die Tweede Vryheidsoorlog ook grotendeels vernietig is, bestaan daar geen getuienis oor watter geboue in die gedrang was nie. Daar word verneem dat Hager ook die vroeëre NG kerke op Porterville, Willowmore en Hopefield ontwerp het. Dit is ook bekend dat hy die planne vir die pastorie op Willowmore opgestel het en vir veranderings aan die dak van die gerestoureerde pastorie op Fraserburg verantwoordelik was.

Baie jare het verloop sedert Carl Otto Hager as argitek, skilder en fotograaf in Suid-Afrika werksaam was. Hoewel redelik baie oor sy argitektoniese werk bekend is, is daar min gegewens oor hom as skilder en fotograaf. Soos so baie van sy skildertydgenote het hy nie sy werk geteken of gedateer nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive