Sunday, January 01, 2012

Met die begin van 'n Nuwe Jaar




Die bekende Spaanse vroue-mistikus, Teresa van Avila, was vir jare lank ‘n gelowige vrou wat haar lewe in die diens van God gestel het. En tog: In hierdie eerste negentien jaar van haar toegewyde diens aan God het sy dikwels ‘n halfhartigheid, selfs ‘n dubbelhartigheid in haar omgedra. Sy het in sommige opsigte ‘n dubbele bestaan gevoer. En sy het die louheid van daardie dubbele bestaan in vele opsigte ervaar.

In 1554 lees sy vir die eerste keer Augustinus se Belydenisse toe dit in ‘n Spaanse vertaling verskyn het. Dit sou ‘n keerpunt in haar lewe bring. Sy praat van ‘n dramatiese bekering met besondere intieme ervaringe van God se nabyheid in die volgende twee jaar. In hierdie twee jaar sou sy die deeglike hervorming van haar kerklike orde aan die gang sit. Maar dit was nie bloot net ‘n Spaanse stukke geskiedenis wat in haar lewe ontvou het nie. Teresa van Avila is vandag een van die mees gelese mistici van alle tye.

Die dubbelhartige vrou is deur die intieme belydenis van ‘n biegende skrywer, duisend jaar voor haar tyd, tot ‘n vurige hervormer getransformeer.

Op hierdie nuwejaarsdag, aan die begin van ‘n jaar met nuwe dinge wat wag, dink ek aan haar om ‘n spesiale rede: die hervorming wat Teresa sou inisieer en wat deur die eeue enorme invloed op baie mense sou uitoefen, het vernuwing in die mees intense vorm meegebring.

Maar vernuwing val nie uit die lug nie. Teresa is radikaal beïnvloed deur Augustinus. Sy vertel in haar outobiografie (1565) hoe sy baie geheg geraak het aan Augustinus: die rede, skryf sy, is eenvoudig omdat hy ‘n sondaar was. “Ek het baie troos gevind by sondaars wat, nadat hulle lank gesondig het, deur die Here teruggebring is na Hom.” En, vervolg sy, “terwyl ek die Belydenisse gelees het, het ek myself in hulle herken.  Toe ek by die gedeelte in die Belydenisse kom waar Augustinus oor sy bekering skryf toe hy die stem in die tuin gehoor het, het dit vir my gelyk of dit wat ek in my hart daaroor voel, die Here was wat my geroep het.”

Teresa se hervorming en haar groot invloed kan dus in ‘n sekere sin teruggevoer word na die werk van Augustinus.

Die nuwe jaar met al sy uitdagings bring geleenthede wat ons aanpak omdat ons die stem van die Here hoor praat in die lewens en getuienis van die groot geloofshelde van die verlede. Wat ons in die nuwe jaar doen, wat ons vanuit die binnekamers van ons hart voor God bely, kan God gebruik om ons geloofskinders van die toekoms tot nuwe dinge aan te spoor.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive