Showing posts with label transformasie. Show all posts
Showing posts with label transformasie. Show all posts

Friday, February 15, 2013

Nederigheid.


Nederigheid is ‘n deug wat alle mens bewonder.

Daar is vele volkswyshede in omloop wat wys hoe hoog slaan mense nederigheid aan. “Moenie jou eie trompet blaas nie,” “hoogmoed kom tot ‘n val” en “eie roem stink” is voorbeelde van hoe ‘n gebrek aan nederigheid mense dwars in die krop steek.

Net soos hoogmoed ‘n gebrek aan nederigheid uitwys, net so kan ‘n mens nederigheid kontrasteer met ‘n verwerping van jouself.

Sommige persone dink regtig min van hulleself. Of hulle maak ‘n punt om hulle self af te takel.

Hulle kyk teen hulle foute vas. Dit kan so erg raak dat hulle hulself verag. In sekere situasies lei dit tot geestesafwykings waar mense hulself skend of akute minderwaardigheidskomplekse ontwikkel. In die ergste gevalle lei dit daartoe dat mense nie meer kans sien om te leef nie.

Ek is regtig ‘n slegte mens. Ek kan ander eintlik nie in die oë kyk nie. As mense maar net weet….  So voel mense soms oor hulleself.

Dit is nie nederigheid nie. Dit is ‘n self-vernietigende aftakeling.

Nederigheid het niks te doen met ‘n mens se innerlike aanvoeling oor jou eie meriete en goeie lewe nie. Dit het te doen met ‘n basiese lewenshouding wat in dankbaarheid teenoor God alles in jou lewe as ‘n seëning en ‘n genadegawe beskou.

In nederigheid besef jy dat wat ook al aan die goeie in jou lewe gebeur, aan jou geskenk word.

Maar nederigheid het met nog dieper dinge te doen.

‘n Nederige mens is iemand wat besef dat hy of sy kosbaar is: elke mens het die gawe van die lewe ontvang: elkeen is getransformeer in skepping. Dat ‘n mens die lewe as geskenk ontvang het, om te kan leef, is al ‘n onvoorstelbare seëning. ‘n Mens dink dus aan jouself as iemand wat kosbaar in God se oë is.

En as skepsel, iemand wat die gawe van die lewe ontvang het, bly ‘n mens verder voortdurend in God se gedagtes: transformasie in herskepping beteken dat die mens wat geval het, wat misluk het, wie se lewe vasloop, weer ‘n kans kry om op te staan en opnuut te begin. God se genade droog nie op nie. Moordenaars kry hierdie genade immers sonder ‘n enkele verdienste op hul sterfbeddens en aan kruise geskenk. Die mens is kosbaar in God se oë.

Dan weer, is daar die kans wat ‘n mens kry om ‘n lewe na aan God te hê deur naby aan Christus te leef. Die geskenk van intimiteit en nabyheid met God word uitgebeeld met die motief van konformiteit aan Christus. So hoog ag God mense dat God die ruimte skep vir mense om soos Christus te kan word. Die mens is kosbaar in God se oë.

Uiteindelik is daar die transformasie in die liefde en in heerlikheid. ‘n Mens word gemaak tot geliefde van God. “Geliefdes”, die ou aanspreekvorm van predikante uit vroeëre geslagte, vertel hiervan. Soos die Seun die Geliefde was, so is God se kinders geliefdes. En vir almal het God die heerlikheid bestem. Iewers, uiteindelik, omdat almal kosbaar in God se oë is, sal mense God aanskou. Trane sal weg wees. Honger en dors sal ophou. Ewig in God se arms sal mense wees.

Dit is wat God vir mense sê: hierdie vyfvoudige transformasie. Ek het jou geroep, ek het jou geskep. Jy is myne, kosbaar in my oë.

Dit is wat “God se woord”, die “evangelie”, die boodskap van Christus oor mense dink. Die onvoorstelbare goedheid van God, die oneindige ruimheid van die Liefde is die hart van die goeie boodskap.

En wie daaruit leef, kan met nederigheid die geestelike reis voorsit – met die volle wete dat hy of sy kosbaar in God se oë is. As God soveel omgee, as God ons huis toe bring uit die varkhokke, wie is ons om onsself as onwaardig te beskou? Wie afhanklik is van God, luister na die stem van die Liefde, ontvang genadiglik die feeskleed. Dit is genoeg. Dit stem tot dankbaarheid en bring ‘n mens steeds nader aan God. Sonder die Nabyheid, die Liefde is mens niks. In die liefde is ‘n mens God se gunsteling-kind.

Sunday, January 01, 2012

Met die begin van 'n Nuwe Jaar




Die bekende Spaanse vroue-mistikus, Teresa van Avila, was vir jare lank ‘n gelowige vrou wat haar lewe in die diens van God gestel het. En tog: In hierdie eerste negentien jaar van haar toegewyde diens aan God het sy dikwels ‘n halfhartigheid, selfs ‘n dubbelhartigheid in haar omgedra. Sy het in sommige opsigte ‘n dubbele bestaan gevoer. En sy het die louheid van daardie dubbele bestaan in vele opsigte ervaar.

In 1554 lees sy vir die eerste keer Augustinus se Belydenisse toe dit in ‘n Spaanse vertaling verskyn het. Dit sou ‘n keerpunt in haar lewe bring. Sy praat van ‘n dramatiese bekering met besondere intieme ervaringe van God se nabyheid in die volgende twee jaar. In hierdie twee jaar sou sy die deeglike hervorming van haar kerklike orde aan die gang sit. Maar dit was nie bloot net ‘n Spaanse stukke geskiedenis wat in haar lewe ontvou het nie. Teresa van Avila is vandag een van die mees gelese mistici van alle tye.

Die dubbelhartige vrou is deur die intieme belydenis van ‘n biegende skrywer, duisend jaar voor haar tyd, tot ‘n vurige hervormer getransformeer.

Op hierdie nuwejaarsdag, aan die begin van ‘n jaar met nuwe dinge wat wag, dink ek aan haar om ‘n spesiale rede: die hervorming wat Teresa sou inisieer en wat deur die eeue enorme invloed op baie mense sou uitoefen, het vernuwing in die mees intense vorm meegebring.

Maar vernuwing val nie uit die lug nie. Teresa is radikaal beïnvloed deur Augustinus. Sy vertel in haar outobiografie (1565) hoe sy baie geheg geraak het aan Augustinus: die rede, skryf sy, is eenvoudig omdat hy ‘n sondaar was. “Ek het baie troos gevind by sondaars wat, nadat hulle lank gesondig het, deur die Here teruggebring is na Hom.” En, vervolg sy, “terwyl ek die Belydenisse gelees het, het ek myself in hulle herken.  Toe ek by die gedeelte in die Belydenisse kom waar Augustinus oor sy bekering skryf toe hy die stem in die tuin gehoor het, het dit vir my gelyk of dit wat ek in my hart daaroor voel, die Here was wat my geroep het.”

Teresa se hervorming en haar groot invloed kan dus in ‘n sekere sin teruggevoer word na die werk van Augustinus.

Die nuwe jaar met al sy uitdagings bring geleenthede wat ons aanpak omdat ons die stem van die Here hoor praat in die lewens en getuienis van die groot geloofshelde van die verlede. Wat ons in die nuwe jaar doen, wat ons vanuit die binnekamers van ons hart voor God bely, kan God gebruik om ons geloofskinders van die toekoms tot nuwe dinge aan te spoor.

Saturday, December 26, 2009

Om bewus te bly van hoe God ons transformeer.

Negatiewe gevoelens oorheers soms mense se lewens, veral wanneer hulle hulself met ander mense vergelyk. Dit maak hulle morbied en depressief.

Aan die ander kant is sommige onder die indruk van hul eie prestasies en die moontlikhede wat hulle het om bo alle ander mense uit te styg.

In Spiritualiteit word beklemtoon dat die mens deur God in die skepping getransformeer word uit niks. Ons praat van die transformasie in die skepping. ‘n Mens is gevorm deur God na die Beeld van God. God is die pottebakker wat ‘n mens bedink, ontwerp, vorm en maak.

‘n Belangrike deel van die mistieke ervaring is die oomblik dat ‘n mens besef dat God die Een is aan wie jy jou bestaan te danke het. God as Skepper is die een wat jou geskep het, net soos wat God die wêreld gevorm het. Dit dring tot jou deur en word 'n fokuspunt van jou lewe en iets waaraan 'n mens vashou. Dit is iets wat ‘n mens gedurig bedink soos ‘n mens deur God meer en meer in heiligmaking gevorm word. En ‘n mens bly vashou aan die “wete” – aan daardie oomblik dat jy tot die besef gekom het van God se allesbepalende rol in jou lewe.

Hierdie proses van vormgewing gaan dus gedurig voort en ons oefen onsself om nie hierdie transformasie te “vergeet” nie. Ons word gedurig, ook in die proses van heiligmaking, opnuut weer deur God gevorm en herskep. En daardie een beslissende oomblik dat ons God in ons lewe ontdek het, word ‘n lewenslange ketting van oomblikke van herinneringe aan wat God in ons lewens is en doen.

Wanneer hierdie besef tot ons deurdring, ook by herhaling, ervaar ons in ons innerlike dat ons eintlik niks sonder God is nie. Alles wat ons is, het ons aan God te danke. Die sentrum van ons bestaan skuif weg van ons na God.

Om te dink dat ons die beeld van God dra, nie maar net ‘n intellektuele insig nie. Dit is ‘n oorweldigende ervaring. Elke keer as ons dit bedink, raak ons bewus daarvan dat ons ‘n stuk ewigheid in ons omdra en dit doen iets aan ons. Die ontsaglike, oneindige God vorm ons om soos God te lyk. Daarom, ervaar ons verder, word ons uiteindelik ook in God se ewigheid opgeneem.

Wanneer ons besef dat ons niks is sonder God nie, dat ons totaal onbelangrik is, dat ons eintlik nikswerd is, gaan dit nie om ‘n afbrekende minderwaardigheidsgevoel nie.

En as ons so naby aan God leef met die wete dat ons niks sonder God is nie, is ons eie prestasies iets wat ons nie “bo ander” laat uitstyg nie. Dan is ons deur God geseënd met gawes wat ons gebruik om ander mense te dien, lief te hê en deel te maak van God se familie. Want hierdie gawes is God s’n en ons moet God se gawes gebruik soos God dit bedoel het – om te transformeer.

Die oomblik dat ons bewus raak van ons eie klein-heid in vergelyking met ons Skepper se grootheid, word ons bevry van grootheidswaan. Ons verstaan dat ons nie onsself geskep het nie, dat ons niks is sonder God nie. Maar die keersy hiervan is die onbegryplike, oorweldigende gevoel dat hierdie Skepper ons in die hand neem en ons ‘n goddelike beeld gee. Geborge in die liefdevolle omvorming van God kan ‘n mens nie minderwaardig wees nie. Wat saak maak is nie hoe ons presteer in ander se oë nie, maar om naby aan God se liefde te bly. Wanneer ‘n mens so naby aan God voel, word ons identiteit nie gevorm deur hoe ons met ander mense vergelyk of wat ander mense van ons dink nie.

Om na te dink hoe God ons transformeer in en deur skepping het ‘n verdere mistieke werking. Wat God aan ons doen, gebeur ook deur ons lewens. Soos God, is ons lewe ook transformatief in sy werking. Waar ons in menselewens teenwoordig is, word hulle deur God se teenwoordigheid in ons aangeraak en omvorm.

Thursday, November 05, 2009

Om Jesus te sien sonder om Hom te herken. Oor die leegheid van ons godsdiens.

Die verhaal van die Emmaus-gangers is in meer as een opsig pragtig. Luke as meester verteller het geweet hoe om sy teks goed te skryf. Deel van die teks se skoonheid is te vinde in die manier waarop Lukas die verskillende dele daarvan in ‘n balans met mekaar plaas. As ‘n mens dit versigtig lees, sien ‘n mens hoe netjies Lukas dit opgebou het:

Die storie begin en eindig met ‘n beskrywing van die twee dissipels op weg. In vers 13 word vertel hoe hulle op die opstandingsdag, laat middag, (“dieselfde dag”), na hulle dorp, 12 kilometer weg van Jerusalem reis terwyl hulle in ‘n diep gesprek met mekaar gewikkel is. Die gedeelte eindig terwyl hulle na Jerusalem terugkeer, maar dan praat hulle met die ander dissipels oor hul ontmoeting met Jesus (verse 33 tot 35). Hulle vertrek “van Jerusalem” en keer terug “na Jerusalem.” Lukas beklemtoon hierdie reis-motief baie versigtig en maak seker dat ons sien dat dit ‘n reis weg van Jerusalem en terug na Jerusalem is. Hy herhaal die motief in vers 32 waar die dissipels self vertel wat met hulle gebeur het “toe hulle op pad was.” En in vers 35 vertel hulle wat met hulle “op pad” gebeur het. Die verhaal van die twee dissipels is dus ‘n reisverhaal. En dit pas, weer eens, goed in in die geheel van Lukas se Evangelie en Handelinge. In die Evangelie reis Jesus byvoorbeeld van Lukas 9:51 na Jerusalem om “opgeneem” te word (in die hemel), wat dan ook uiteindelik aan die slot gebeur (Luk 24:50-53 – vergelyk vLuk 24:26 waar Jesus self praat oor sy “heerlikheid ingaan”). As ons dit onthou, word die Emmaus-episode nogal dramaties en veelseggend: Lukas omsluit die verhaal deur ‘n reis-raamwerk om daarmee eintlik te vertel dat hulle Jesus se reis na die hemel vanuit Jerusalem nie meer verwag het nie. Hulle geloof is dus tot niet. Hulle verlaat Jerusalem, die plek waar alles tot ‘n hoogtepunt sou kom. As ‘n mens vanuit Handelinge hierna kyk, het hulle amper nie gedeel in die groot getuienislewering tot aan die eindes van die aarde nie (Hand.1:6-8). In Handelinge reis mense die wêreld in, vanuit Jerusalem, om die groot vernuwing aan te kondig. Die klein reisverhaal van die Emmausgangers word nog meer dramaties as ons dit in die lig van die groot reisverhaal sien: hoe God Jerusalem gebruik as die knooppunt vir die groot dinge van die Here. En byna-byna is die Emmausgangers hul aandeel in hierdie dinamiese gebeure kwyt – was dit nie vir Jesus wat hulle gaan haal het nie. Ons herken dadelik hierin ‘n dieper element: hulle reis is ons geestelike reis. En ons geestelike reis het sy dieptes van moed en hoop opgee. Maar gelukkig is daar Een wat ons agterna sit en kom terughaal....

Maar dit is nog net die buitenste raamwerk van die verhaal. Daarin voeg Lukas nou ‘n verdere raam wat netjies gebalanseer is. In die nuwe deel, terwyl die twee op reis is, kom Jesus by en sluit by hulle aan (Hy reis steeds agter sondaars aan!). Maar hulle herken hom nie (soos altyd...; verse 15-16). Daar is hierdie merkwaardige opmerking: Hulle oë is weerhou, sodat hulle hom nie herken het nie. Lukas maak seker dat ons sien hoe geslote hulle is vir wat hulle voor hulle sien. Hierdie gedeelte word gebalanseer met verse 31-32. Wanneer Jesus die brood vir hulle breek, gaan hulle oë oop. Gebrek aan sig kontrasteer met die sien en herkenning van die goddelike.

Daar is dan nog ‘n derde raam wat binne in die tweede raam ingebou is: Op ‘n seker stadium van die reis nader Jesus hulle (al herken hulle Hom nie) en vra hulle uit oor hul gesprek. Hulle gaan dan met ‘n somber gesig staan (vers 17). Weer eens balanseer Lukas dit met ‘n gedeelte in verse 28-29. Hier nader die twee dissipels vir Jesus: hulle wil hê Hy moet by hulle bly. Hulle gaan sit aan tafel en Jesus breek brood vir hulle. Jesus sluit aan by hulle, wat kontrasteer met Jesus wat verder wil reis. Jesus praat met hulle, wat kontrasteer met hulle wat met Jesus praat en hom uitnooi om oor te bly.

In die middel van die storie is ‘n direkte gesprek wat uit twee dele bestaan – maar nou tussen die twee dissipels en Jesus. Dit is ‘n hoogs ironiese gesprek: hulle praat met Jesus oor die afwesige Jesus! Die leser is so bietjie verslae: hoe is dit moontlik dat hulle kan praat met Jesus sonder om hom te herken? En kyk net hoe bly hulle aanmekaar en praat met Jesus. Vanaf vers 19 tot 24 praat hulle – en nog meer ironies, die gesprek met Jesus is oor die leë graf. Kon hulle dan nie eers vir ‘n oomblik die kloutjie by die oor bring nie, veral omdat hulle van die leë graf geweet het? En selfs nog meer ironies eindig hulle gesprek: die ander dissipels in Jerusalem wat by die leë graf was, het Jesus nie “gesien” nie. Hulle sien Jesus, maar sien Hom ook nie. Hulle gepraat word dan gebalanseer met Jesus se antwoord as die tweede deel van die gesprek. En Jesus praat deur die Skrif, soos hy gedurig gedoen het toe hy nog met hulle was. Hy doen eksegese, hy verklaar die Bybel. Hy “mediteer” met hulle oor die betekenis van God se Woord.

Lukas vertel dus vir ons ‘n storie van twee dissipels wat wegloop van die plek waar Jesus die einde van sy aardse lewe verwag het en die begin van die nuwe dinge van God sou gebeur. Terwyl hulle al pratende reis, kom Jesus by – maar sonder dat hulle Hom herken. Hulle praat met Jesus. Hulle word deur Jesus gehelp met verduidelikings. En tog, ervaar hulle nie ‘n uitweg uit hul ellendige somberheid nie. En dan kry hulle ‘n laaste kans. Jesus toets hulle. Hy maak of hy wil verder reis, weg van hulle. Maar hulle nooi hom binne, teen skemeraand, as dit reeds op hul geestelike reis donker word. En Jesus deel hulle gasvryheid, terwyl Hy ook weer die een is wat die Gasheer word. Hy gee vir hulle ‘n teken: hulle kan die breek van die brood beleef. En dan val die skille van hul oë en is hulle weer terug op pad na Jerusalem om oor Jesus te getuig.

Deur die verhaal so te ontleed, daaroor te mediteer, die betekenis daarvan ook op formele vlak te ontrafel, ontdek ons meer van die doel daarvan. Voorheen het die twee dissipels gehoor van die leë graf. Maar die ervaring het nie die dissipels getransformeer nie, al het Jesus hulle jare daarop voorberei. Daardie episode eindig met die opmerking dat hulle Jesus nie “gesien” het nie (vers 24). Nou, met hierdie verhaal, word Jesus vir die eerste keer gesien. Maar selfs hierdie “sien,” vertel Lukas, is nog nie transformatief nie. Die egte verandering en omvorming kom eers wanneer hulle aan Jesus herberg gee, met hom aan tafel gaan, die brood gebreek word. Al hul gepraat, al Jesus se gepraat bring nie die omvorming nie, totdat die brood breek. Deur so na te dink besef ons ook meer van die antwoord op ons skokkende ervaring dat die Emmausgangers ‘n spieëlbeeld van ons eie geestelike reis is: ons hoor van wonderbare dinge oor Jesus, maar ons sien hom nie. Ons sien Jesus, ons praat met Jesus selfs, maar ons herken hom nie. Wat is die oplossing? Daar moet aan ons die verborge moment gegun word, die oomblik wanneer Jesus uit genade vir ons voed, dat ons tot herkenning kom en omkeer na waar God ons wil hê. Maar al kan ons dikwels nie die genade afdwing nie, kan ons bly soek daarna, vir Jesus bly uitnooi – al wil Hy skynbaar aanreis sonder ons.

Deur ons versigtige lees van die teks word ons gebring by die punt waar ons die kontemplatiewe kan kontempleer – hoe ons, op ons geestelike reis, die goddelike kan “aanskou,” hoe ons antwoorde kan vind op die skokkende ervaring dat ons, soos die Emmausgangers, naby aan Jesus kan wees sonder om dit te besef en sonder dat dit ‘n duit verskil aan ons lewens maak.

Sunday, October 11, 2009

Die kosmiese Christus. Oor spiritualiteit en geestelike krag.

Daar is allerhande "groot" debatte oor die historiese Jesus wat soms groot nuus is en baie opspraak verwek. Sommige Bybelwetenskaplikes ontleed die evangelies versigtig om allerhande vaste “feite” oor Jesus uit te sif.

Hulle ontwerp dan allerhande meer "betroubare" beelde van Jesus: Jesus was ‘n Jood wat in opstand teen die Romeinse oorheersers gekom het, of hy was veral ‘n wonderdoener, of hy was ‘n sosiale hervormer of ‘n rondreisende prediker.

Hierdie beelde maak van Jesus 'n meer "aanneemlike" godsdienstige figuur en gee vir baie mense 'n meer "redelike" of "realistiese" verklaring van hul tradisionele godsdiens.

Maar as ‘n mens die Nuwe Testament lees, ontdek ‘n mens daarin maar min belangstelling in allerhande "realistiese" verklarings van Jesus se lewe en boodskap. Die skrywers van die Nuwe Testament teken konsekwent ‘n boodskap oor ‘n Jesus wat mens en wêreld radikaal verander. Hulle sien Hom in die eerste plek as iemand wat radikale verandering bring. Hy is die goddelike, onpeilbare Een, wat deur sy mistieke teenwoordigheid kragte loslaat wat nie gestuit kan word nie. Jesus is juis nie maar net nog 'n redelike figuur uit die geskiedenis nie. Vir hulle gebeur daar deur Hom iets oorrompelends in hul lewe. Hulle spiritualiteit is 'n spirtualiteit van krag.

En hierdie krag stuit voor niks en niemand nie. Jesus is nie net die Een wat mense red nie, maar ook die wêreld. Jesus is die eersgeborene van die skepping in wie alles geskape is (Kol.1:15). Hy is die een voor wie elke knie in die wêreld sal buig (Fil.2).nD

Die Nuwe Testament brand onder die vuur van hierdie transformerende werking van God in Jesus. Jesus het kragte losgelaat wat oor alle grense heen losgelaat word.


Ek lees byvoorbeeld weer vandag met geboeidheid die eerste woorde van die skrywer van die Hebreerbrief: God het al baie in die verlede gepraat, maar nou praat God deur Jesus deur wie die aarde geskep is en wat erfgenaam van alles is. "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord tot stand" (Heb.1:1-3).


Om te dink: deur Jesus is die aarde geskep! Hoe kragtig werk die geloof in Christus nie.

Dit is hoe die eerste geloofsgetuies oor Jesus gevoel het. Hulle het nie in die slote van die geskiedenis gaan grawe na vondse wat dalk iets oor Jesus sou kon openbaar nie. Hulle het Hom ervaar op 'n oorweldigende manier as die groot Bron van energie in ons lewe.

Daar is vir hulle voorts ‘n spesiale band tussen Jesus en die skepping. Hulle het hom nie tot hulle "harte" ingeperk nie. Die man van Nasaret is ook die heerser oor die skepping. Die Jood in Palestina is ook Heer van die heelal. Om in Jesus te glo, beteken dat ‘n mens in Hom die skepping as sy plek en sy tuiste herken. Ons ontdek ‘n “heerlike” Christus, in wie God se heerlikheid woon (Heb.1:3). Deur Hom word ons aan alle volkere en aan die heelal verbind. Ons is saam met die heelal die voorwerpe van God se liefde in Christus.

Egte geloof word gedryf deur die begeerte dat God se heerlikheid en Christus se heerskappy oor die heelal sigbaar sal word. Dit soek daarna om die wêreld die plek te maak waar God in ontferming en liefde woon. Wie in Christus is, is onlosmaaklik verbind met hierdie wêreld en almal wat daarop woon.

Dit maak ons nou natuurlik verantwoordelik vir wat op die aarde gebeur. Ons kan nie onverskillig staan oor wat mense aan ons siek planeet doen nie. Ons kan ons nie terugtrek in ons veilige geloofshuisie asof die res van die wêreld niks met ons te doen het nie. In Christus soek ons ook die heling van die planeet en vrede onder alle nasies. Ons geloof kan nie selfsugtig net op onsself gerig wees nie. Ons geloof in Christus as die kosmiese Here dryf ons uit om ook hierdie aarde vir God op te eis.

Terwyl sommiges wil delf na allerhande “historiese” feite of kennis oor Jesus, is egte geloof op iets anders gerig. Dit leef vanuit die krag wat Jesus losgelaat het en dit wil in daardie krag van hierdie aarde God se woonplek maak. Jesus het nie 'n bankrot boedel agtergelaat nie.

Saturday, September 26, 2009

Sonder woorde, maar naby aan God. Oor die teenwoordigheid en afwesigheid van God in ons lewens (Markus 1).

Wanneer ‘n mens Markus Evangelie lees, staan ‘n mens voor die Verborge Teenwoordigheid van Christus: Hy is onder ons teenwoordig, die een wat gedoop word, versoek word en dissipels roep. Hy praat soos ons, eet, drink saam met ons en woon onder ons.

Maar hy is ook verborge, die Een wat sommer van die begin van die Evangelie af as “Seun van God” bekend word (Mk.1:1).

Die Seun, die Een wat soos ons is, 'n mens, maar terselfdertyd, anders, die Ander Een, “van God.” En daarin is Hy al die verborgene. In Hom, nietemin, en deur Hom , merk ons ‘n Oneindigheid, ‘n Andersheid wat ons nooit kan peil nie. Hy is so anders, so verskillend.

Reeds gou-gou ontmoet ons Jesus in die sinagoge. In Markus 1:21-22 lees ons hoe Jesus in hierdie ruimte van die gelowiges, die sinagoge, ook, soos ander voor hom bymekaar kom om oor die dieper dinge na te dink, om hul verantwoordelikheid teenoor God te weeg en uit te klaar. “En hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan”.

Maar, hierdie keer, is dit ook weer anders: Sy toehoorders is “verslae” oor wat hy vir hulle leer, “want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mk.1:26-27). Die verslaentheid wat hierna dikwels in die Evangelie met Jesus verbind sal word, is dus van die begin af daar. “Almal soek” Jesus (Mk.1:37), want hier, by hom, word hul menslike ervaring op ‘n spesiale manier verdiep. Waar Jesus kom, besef mense dat hulle met die Grotere, die Heilige gekonfronteer word. En hulle word oorweldig daardeur.

En dit sit hulle aan die dink. Watter besondere Een, hierdie Jesus! Daar is in hom baie meer as wat ons in ander mense raaksien of van ander mense hoor. Watter oorweldigende teenwoordigheid. Dit is of die goedheid in hom oorvloedig is, of daar net eindelose moontlikhede is. Dit raak ons lewe, maak 'n appel op ons en stuur ons in 'n koers. Ons kan nie maar net soos altyd aangaan nie.

Hier begin hulle lewens dus verander. As 'n mens van aangesig tot aangesig voor die Ander een staan, ontsnap jy nie die gevolge van daardie situasie nie.

Kyk na hierdie prentjie van die ontmoeting tussen die mense in die sinagoge. Hulle is in die teenwoordigheid van die Heilige. Hulle voel eintlik hoe hul lewens onder hulle uit verander word. Dit is amper te veel. Wie hier voor Hom staan en nie reg ingestel is nie, se kop ruk uit. Iemand in die sinagoge wat onrein is, skreeu daarom uit: “Hou op, Jesus Nasarener! Ek ken U, wie U is, die Heilige van God!” (Mk.1:24).

In Jesus is daar soveel oorweldigende goedheid, soveel skakering van reinheid, dat ‘n mens begryp jy is in die teenwoordigheid van die Heilige. Jesus praat nie self oor sy eie heiligheid nie. Maar mense herken Hom, benoem Hom en ervaar Hom só. En hulle het nie ‘n keuse nie. Voor hulle nog wou, het hulle dit ervaar. Waar 'n mens blootgestel staan voor die opregtheid van die ander Een, gebeur iets met jou wat jy nie kan beheer nie.

En sommige wil dit nie hê nie – hulle wys Hom af: “Gaan weg! Wat het ons met U te doen?” skreeu die onreine. Hy verset hom teen hierdie ervaring van God. Hy voel God in sy lewe, ervaar die heiligheid, dit oorweldig hom. Hy staan magteloos voor hierdie besef dat hy in die teenwoordigheid van die Grotere, die Andere is. God is so naby –te naby vir onreinheid en daarom die rou kreet: “Gaan weg...”

Hy verwerp die Ander een. Hy kies teen enige verhouding met die goeie. Hy loop sy eie pad, alleen.

Dit is sy soort wat Jesus sou kruisig, wat geweld in hul lewens verkies, wat die Ander een nie in die oë kan kyk nie. Dit is sulke mense wat nie van Gelaat tot Gelaat leef nie.

Maar, terwyl die onrein man Jesus herken as die Heilige, is die ander “verbaas” en vra “wat se leer is dit?” (Mk.1:27). Hier is nie kru afwysing nie. Hulle is geboeid deur Jesus, eintlik in verwondering, verslae.

En tog, al wil hulle graag reageer, is dit nie maklik nie. (Die proses...) Een oomblik herken ons God so duidelik – die mense, selfs die onreines, roep dit dan in die openbaar uit! Ons behoort dit te weet, al die netjiese antwoorde te kan gee. Maar dan weer, vra ons, verbaas, verwonderd, selfs raadop na wie God is. Dan weet ons nie meer so mooi nie. Dan laat ons woorde ons in die steek. God is te groot vir ons verstand. Ons sal moet oop bly dat God weer telkens nuut met ons sal praat, nuwe dinge van ons sal vra, anders as die Skrifgeleerdes met ons sal praat, met gesag op ons lewe 'n greep uitoefen en van ons verantwoordeliheid eis.

Let veral op: die onrein man wat besef dat hy in God se teenwoordigheid is, praat direk met Jesus. Hy het die Goddelike raakgesien en praat daaroor. Maar hy weier om hierdie verhouding in sy lewe te laat werk. Hy wys dit af.

En kyk na die ander wat daar was, maar wat nou verslae is. Hulle praat oor Jesus: “Wie is hy? Wat se nuwe leer is dit?” God het ‘n “spoor” in hulle lewe gelaat (Levinas). God was daar. Hulle weet dit. Maar dan is God ook nie meer daar nie. Hulle wonder. God het in hulle lewens ingegryp – die wonder. Maar hulle staan ook weer voor die ellende dat hulle nie verstaan nie. Dat hulle nie kan begryp nie, dat iets groter aan die gebeur is. Hulle het niks om te wys nie. Weer eens wys dit daarop: ons kan God nie in netjiese pakkies verpak en etikette omhang nie.

Niks is netjies in plek hier nie. Mense wat weier om op die heilige teenwoordigheid van God te reageer, wat weier om hierdie heiligheid te erken en te laat werk in hulle lewe, dra die gevolge en word aan lyding oorgegee. Maar selfs hulle wat aangetrokke voel en hulle harte oopmaak vir die Heilige, kan nie te gerus wees nie. Want selfs hulle wat Jesus naby wil hou, wat in God se teenwoordigheid wil bly, ontdek steeds weer – hulle woorde is swak, hulle verstaan is klein, hulle krag is min. Dit is nie maklik om die heilige God te aanbid nie. Die woorde ontbreek. Ons bly maar soekers. Ons sien net spore van God in ons lewe raak.

Juis daarom is dit nodig om na aan Jesus te bly... Om maar steeds weer by die Mens, die Goddelike mens, die Seun van God te gaan staan, Hom te hoor praat, Hom te sien doen.

Hy laat ons nuut dink, anders dink. Nie sonder trauma nie. Maar by Hom begin die nuwe lewe – as ons maar sy Gelaat bly aanskou.

Dankbaar lees ons, in hierdie boek oor die Seun, hoe God sy Gelaat telkens aan ons wys: Die spoor word darem 'n ry spore...

Markus 1:45:

Maar hy het uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak, sodat Hy nie meer openlik in ’n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom.

Blog Archive