Showing posts with label Ekologiese spiritualiteit. Show all posts
Showing posts with label Ekologiese spiritualiteit. Show all posts

Wednesday, October 01, 2014

Ons ontdek verwonderd die natuur. Oor ekologiese spiritualiteit (1)


Hier by ons riviertjie lê ‘n waentjie en ‘n swart sak nou al ‘n week in die water - deel van 'n erg besoedelde rivier. 

Vanoggend kom twee jongmans uit die plakkerskampie neffens ons, die pad af en gewaar die waentjie. Hulle is dadelik by om die waentjie uit te haal. Dit is ‘n duur ding, hierdie, sê een vir sy vriend terwyl hy dit teen die wal opsleep. Sy vriend is by die sak, maak dit oop en bekyk dit: dit is een of ander koffer wat iemand met die mandjie en al verloor het.

Daar is niks in die sak nie. Geen wins is daaruit te maak nie. 

Hy smyt dit net daar neer. En los dit daar, terwyl hy wegstap om saam met sy maat geld uit die waentjie te gaan maak. 

My hoop dat hulle darem die sak self ook sal saamdra en ‘n skoner rivier sal agterlaat, is diep beskaam.

Ek slaan my oë op na die hemel en sug desperaat.

David Martin skryf in sy boek oor die toekoms van die Christendom oor skeppingspiritualiteit. Dit is ‘n belangrike nuwe vorm van spiritualiteit, skryf hy.

Mense wat graag daaroor skryf, beklemtoon ‘n ommekeer in modern mense se houding teenoor die wêreld en die natuur. Hulle dink anders en nuut oor die aarde. Hulle praat van ekologiese spiritualiteit.    

Dit is ‘n spiritualiteit wat vertel hoe mense in eerbied voor die skepping staan.

Martin skryf dat veral mense met so bietjie lewenservaring en met ‘n middelklas-bestaan daarin belangstel. Jy sal nie so ‘n belangstelling onder werkers kry nie.

Wat hom egter opval, is dat mense wat in soveel eerbied van die natuur praat, nie meer veel oor het vir ou teologiese inhoude soos die sondeval of glo dat die geskiedenis ontvou in ‘n sinvolle reis na die einde nie. Mense soek na reinheid en na suiwerheid in die hier en nou. Hulle kry dit in die natuur. En ewe boeiend is dat hulle gevoelsmense is, wat min omgee vir allerhande koue verstandsdinge of teologiese debatte oor ons wêreld en die natuur.

Saam hiermee verander sulke mense se siening oor God: hulle dink nie meer aan God as ‘n persoon nie. Vir die kerk as organisasie voel hulle nie veel nie. Hulle beweeg ook weg van tradisionele patriargale rol-verdelings. Hulle keer hulle teen die vernietiging van die natuur en teen besoedeling van ons wêreld. Hulle is minder in die etiese geïnteresseerd en meer in die estetiese, skryf Martin. Hulle ervaar ‘n eenheidsgevoel met die mensdom en verlang om met ander, met die natuur en met die dierewêreld een te wees. Dit is ‘n soort persoonlike mistiek en wete.

Aldus die revolusie wat ons tyd beleef in ons houding teenoor die natuur.

Maar is dit regtig so dat ons nou eers die wonder van die natuur herken en vier? Meer hieroor môre. 

Sunday, February 12, 2012

God se plek.

'n Mens kan in verre lande allermooiste ruimtes besoek, om dan elke keer weer terug te kom na jou eie plek en opnuut weer verwonderd te staan voor die onoortreflikheid van groter skoonheid wat sommer hier by jou, in jou voorkamer, op jou voorstoep, in jou agterplaas, om die hoek te vinde is. 

Dit is te vinde in die bos blomme in 'n pot wat iemand sommer losweg gerangskik het - niks formeels, niks berekend nie. Bloot net blomme in die huis. Maar mooi bekyk word dit 'n pers partytjie met sy geel vrolikheidjies op 'n tapyt van groen weligheid. En die wegraak in hierdie oomblik neem jou terug, in 'n flits, as jy dit sien, na ouer, goeie tye: jy onthou hoe lief was sy vir haar blomme, hoe haar tuin altyd gebaai het in die kleure en geure van die natuur se mooiste gawes. En die skoonheid van die skepping paar in jou innerlike met die skoonheid van die liefde en van die naby-wees van hulle vir wie jy lief was. 




Of jy sien dit raak in die stilheid van 'n swewer teen die helderblou van Afrika se hemel. Eindeloos, oop, strek dit boontoe, in 'n helderheid wat nooit wil ophou nie. Hoe klein, hierdie spikkel, teen die infiniteit. En, as jy dit sien, vat dit jou, in 'n flits, weg na ou gedagtes: Jy onthou hoe die vrou in Antwerpen vertel het van die skoonheid van ons son en, vertel sy, verlangend, van daardie blou lug van ons wat, toe dit eers een keer in haar ingesak het, haar nooit weer losgelaat het nie.




Of, rustig op die pad huis toe na die naweek, sien jy hom sit. Daar op die kranse by Wemmershoek, sommer op jou drumpel, naby jou huis, in die wydheid en wydsheid van die oorrompelende omgewing. Jy hou gretig stil, want jy verstaan hoe hierdie oomblik jou gaan bybly en hoe jy sal wil sien om weer te kan ervaar. 


En foto na foto kom al nader aan die kolletje op die rotspunt van die krans; nader aan die ou wat daar op sy rots sit - die brandwag, die dophouer. Die ou kees. Die hoeder van sy kudde. Die ou bespieder. 


Daar sit hy tevrede met die lewe en met wat hy aan oorvloed het. Asof hy maar te goed weet hy is in die paradys: By die goddelike tonele van water, groen woude, kranse wat antwoord gee. In die wonderskone natuur. God se plek. 








Friday, November 18, 2011

Tant Alie in Manhattan?

Dit is 'n grou herfsdag hier in New York se Manhattan. Ek is op pad na Mommsa, maar moet van die moltrein die pad deur Central Park loop, al langs die boonste reservoir.

Vaal, alles is grys en vaal, soos my eerste foto wys.  Die takkies op die voorgrond wys hoe naby die winter is. Oral loop ons op 'n mat van afgevalde blare - d.w.s. die blare wat nie deur die skoonmaakspanne bymekaar gehark en weggery is nie.

Hier is die foto met die gebou van Manhattan agter die reservoir op die horison:



Maar, soos alles in die lewe, is daar ook die briljante kant aan hierdie grou dag. Hier en daar staan daar nog 'n boom in wonder-geel kleur getooi en ek het gelukkig my kamera byderhand om die indrukke vir altyd met my saam te neem.

Ek verwonder my oor die skoonheid van die natuur, oor die enkele boom wat gloei van kleur, lewe en warmte.

En die boom maak my terugdink aan tant Alie se Dagboek waarin sy vertel hoe sy op Nuwejaarsdag die oggend vroeg 'n spesiale gebedstydjie deurgebring het om haar in te stel op God se wil wat in daardie jaar in haar lewe soveel nuwe dinge sou bring. Sy is terneergedruk. Die Boere-oorlog en die neerdrukkende gang daarvan, maak haar angstig.

En daarna, nadat sy berusting in haar gebedstyd gevind het en haarself, "in die Vaderskoot" oorgegee het, staan tant Alie op, te midde van die grou herfstyd wat die oorlog oor haar en haar mense gebring het en - sy gaan op die plaas rondloop. Die rus wat sy in die gebedstyd gevind het, vind sy deur haar pragtige plek op die plaas bevestig. Die natuur onderstreep die nabyheid van God in die grou tye.

Dit gebeur nie sommer net dat grou tye vir 'n mens deur 'n tower-oomblik opgeklaar word nie. Maar vir hulle wat in die geloof leef, is daar om een of ander verborge rede, altyd weer 'n rede te vind, iewers, onverwags, onaangekondigd, eenvoudig, om tot vrede te kom.

Sommige slim mense wat baie oor die dinge lees, vertel dat dit veral sterk in gereformeerde spiritualiteit is: om een of ander rede sien mense van die hervorming God se hand meer in die skepping raak. Hulle skryf dat daar iets inherents ekologies aan gereformeerde spiritualiteit is.

Ek herkou nogal dikwels hieraan. Tant Alie was toe nie so uniek nie....


Sunday, October 11, 2009

Die kosmiese Christus. Oor spiritualiteit en geestelike krag.

Daar is allerhande "groot" debatte oor die historiese Jesus wat soms groot nuus is en baie opspraak verwek. Sommige Bybelwetenskaplikes ontleed die evangelies versigtig om allerhande vaste “feite” oor Jesus uit te sif.

Hulle ontwerp dan allerhande meer "betroubare" beelde van Jesus: Jesus was ‘n Jood wat in opstand teen die Romeinse oorheersers gekom het, of hy was veral ‘n wonderdoener, of hy was ‘n sosiale hervormer of ‘n rondreisende prediker.

Hierdie beelde maak van Jesus 'n meer "aanneemlike" godsdienstige figuur en gee vir baie mense 'n meer "redelike" of "realistiese" verklaring van hul tradisionele godsdiens.

Maar as ‘n mens die Nuwe Testament lees, ontdek ‘n mens daarin maar min belangstelling in allerhande "realistiese" verklarings van Jesus se lewe en boodskap. Die skrywers van die Nuwe Testament teken konsekwent ‘n boodskap oor ‘n Jesus wat mens en wêreld radikaal verander. Hulle sien Hom in die eerste plek as iemand wat radikale verandering bring. Hy is die goddelike, onpeilbare Een, wat deur sy mistieke teenwoordigheid kragte loslaat wat nie gestuit kan word nie. Jesus is juis nie maar net nog 'n redelike figuur uit die geskiedenis nie. Vir hulle gebeur daar deur Hom iets oorrompelends in hul lewe. Hulle spiritualiteit is 'n spirtualiteit van krag.

En hierdie krag stuit voor niks en niemand nie. Jesus is nie net die Een wat mense red nie, maar ook die wêreld. Jesus is die eersgeborene van die skepping in wie alles geskape is (Kol.1:15). Hy is die een voor wie elke knie in die wêreld sal buig (Fil.2).nD

Die Nuwe Testament brand onder die vuur van hierdie transformerende werking van God in Jesus. Jesus het kragte losgelaat wat oor alle grense heen losgelaat word.


Ek lees byvoorbeeld weer vandag met geboeidheid die eerste woorde van die skrywer van die Hebreerbrief: God het al baie in die verlede gepraat, maar nou praat God deur Jesus deur wie die aarde geskep is en wat erfgenaam van alles is. "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord tot stand" (Heb.1:1-3).


Om te dink: deur Jesus is die aarde geskep! Hoe kragtig werk die geloof in Christus nie.

Dit is hoe die eerste geloofsgetuies oor Jesus gevoel het. Hulle het nie in die slote van die geskiedenis gaan grawe na vondse wat dalk iets oor Jesus sou kon openbaar nie. Hulle het Hom ervaar op 'n oorweldigende manier as die groot Bron van energie in ons lewe.

Daar is vir hulle voorts ‘n spesiale band tussen Jesus en die skepping. Hulle het hom nie tot hulle "harte" ingeperk nie. Die man van Nasaret is ook die heerser oor die skepping. Die Jood in Palestina is ook Heer van die heelal. Om in Jesus te glo, beteken dat ‘n mens in Hom die skepping as sy plek en sy tuiste herken. Ons ontdek ‘n “heerlike” Christus, in wie God se heerlikheid woon (Heb.1:3). Deur Hom word ons aan alle volkere en aan die heelal verbind. Ons is saam met die heelal die voorwerpe van God se liefde in Christus.

Egte geloof word gedryf deur die begeerte dat God se heerlikheid en Christus se heerskappy oor die heelal sigbaar sal word. Dit soek daarna om die wêreld die plek te maak waar God in ontferming en liefde woon. Wie in Christus is, is onlosmaaklik verbind met hierdie wêreld en almal wat daarop woon.

Dit maak ons nou natuurlik verantwoordelik vir wat op die aarde gebeur. Ons kan nie onverskillig staan oor wat mense aan ons siek planeet doen nie. Ons kan ons nie terugtrek in ons veilige geloofshuisie asof die res van die wêreld niks met ons te doen het nie. In Christus soek ons ook die heling van die planeet en vrede onder alle nasies. Ons geloof kan nie selfsugtig net op onsself gerig wees nie. Ons geloof in Christus as die kosmiese Here dryf ons uit om ook hierdie aarde vir God op te eis.

Terwyl sommiges wil delf na allerhande “historiese” feite of kennis oor Jesus, is egte geloof op iets anders gerig. Dit leef vanuit die krag wat Jesus losgelaat het en dit wil in daardie krag van hierdie aarde God se woonplek maak. Jesus het nie 'n bankrot boedel agtergelaat nie.

Tuesday, September 29, 2009

Om vir die aarde om te gee op 'n klein manier. Oor ekologiese spiritualiteit

Sonder my... Die kaart wat dinge beheer



Selfs in die gang gebeur niks sommer net nie ....




Innsbruck is ‘n pragtige, ou stad tussen die berge met net 130 000 inwoners. Ons bly oorkant die teologiese fakulteit in die Grauer Bär Hotel, maar dit is net die plek waarop hierdie beer staan wat oud is. Niks uitspattig nie, maar duidelik gemaklik en eerste wêrelds is hierdie woonplek van ons vir die volgende paar dae.

Die konferensie self loop goed en dit is aanbiedinge uit die hoogste rak. Innoverend en slim is een referaat wat die Kodeks Sinaïticus en Kodeks Alexandrinus se Griekse manuskripte met mekaar vergelyk het om te kyk waar die oorskrywers van die manuskrip oral spasies ingesit het. Griekse manuskripte is mos nie in hoofstukke of sinne opgedeel nie, maar het eenvoudig aaneenlopend alle woorde aanmekaar geryg. Die leser van die manuskrip moes dus die woorde herken het en uitmekaar gehou het, laat staan nog die sinne en die hoofstukke. Deur die oorskrywers se indeling na te gaan, kan ‘n mens agterkom wat is vir die skrywers belangrike dele in die teks is en hoe hulle dit gelees het. Dus, besluit die referent, kan hy agterkom die oorskrywer van die Alexandrinus het die spiritualiteitsaspekte van die teks uitgelig.


Maar my aandag word ook gevang deur ‘n ander klein aspek: toe ons in ons hotelkamer intrek, kom ons geskok agter die elektrisiteit werk nie. Dus, dadelik af in die gang om te vra wat aangaan. Die vrou wat skoonmaak roep kort en kragtig uit: Karte einstecken! En by die deur is daar sowaar ‘n apparaat (sien aangeheg) waar jy jou deur-sleutel moet insit voor jou ligte aangaan. Dus as jy vir die dag uitgaan, kan jy nie ewe nalatig maar jou ligte laat brand nie. Jy moet jou kaart mos saamneem en daarmee spaar jy waarskynlik vir die hotel, die stad en die planeet ‘n hele boel krag. Briljant.

Laat-aand, toe ons terugkom, loop ons in die lang gang van ons verdieping af en sowaar, toe ons om die draai kom, gaan die eerste stel ligte aan. Die gang is in vyf seksies verdeel en as jy in die eerste kamers is, word net die eerste deel se ligte aangesit. As jy verder afstap, gaan die volgende deel se ligte aan.


Dalk ou nuus vir baie, maar vir my ‘n eerste ervaring. Ek kry nog meer hoop. Slim mense wat in professionele hoedanigheid sit en dink oor hoe ons ons planeet kan red. Kleinste detail. Iewers op ‘n aand in Innsbruck laat moet ons nie 40 liggies onnodig laat brand nie, nie eers vir 60 sekondes nie. Briljant. Dit is ‘n gesindheid van omgee, van besorgdheid.


Gaste wat hier deurkom, gaan dit nie almal miskyk nie. En hulle wat dit beleef, moet mos nadink. En mense wat nadink word handelende mense. Ons kan ook mos ons deeltjie doen. En op die manier dank ons God vir die mooi skepping deur ons omgee en daadwerklike optrede. Ekologiese spiritualiteit. Daardie Aleksandrynse oorskrywer het in ‘n tradisie geleef wat mense help om dieper na te dink oor die verantwoordelikhede en voorregte van ons daaglikse lewe.


Ekologiese spiritualiteit!

Blog Archive