Hier
by ons riviertjie lê ‘n waentjie en ‘n swart sak nou al ‘n week in die water - deel van 'n erg besoedelde rivier.
Vanoggend kom twee jongmans uit die plakkerskampie neffens ons, die pad af en
gewaar die waentjie. Hulle is dadelik by om die waentjie uit te haal. Dit is ‘n
duur ding, hierdie, sê een vir sy vriend terwyl hy dit teen die wal opsleep. Sy
vriend is by die sak, maak dit oop en bekyk dit: dit is een of ander koffer wat
iemand met die mandjie en al verloor het.
Daar is niks in die sak nie. Geen wins is daaruit te maak nie.
Hy smyt dit net daar neer. En los dit daar, terwyl hy wegstap om saam met sy maat geld uit die waentjie te gaan maak.
My
hoop dat hulle darem die sak self ook sal saamdra en ‘n skoner rivier sal
agterlaat, is diep beskaam.
Ek slaan my oë op na die hemel en sug desperaat.
David Martin skryf in sy boek oor die toekoms van die
Christendom oor skeppingspiritualiteit. Dit is ‘n belangrike nuwe vorm van
spiritualiteit, skryf hy.
Mense wat graag daaroor skryf, beklemtoon ‘n ommekeer in
modern mense se houding teenoor die wêreld en die natuur. Hulle dink anders en nuut oor die aarde. Hulle praat van ekologiese spiritualiteit.
Dit is ‘n spiritualiteit wat vertel hoe mense in eerbied voor
die skepping staan.
Martin skryf dat veral mense met so bietjie lewenservaring en
met ‘n middelklas-bestaan daarin belangstel. Jy sal nie so ‘n belangstelling
onder werkers kry nie.
Wat hom egter opval, is dat mense wat in soveel eerbied van die
natuur praat, nie meer veel oor het vir ou teologiese inhoude soos die sondeval
of glo dat die geskiedenis ontvou in ‘n sinvolle reis na die einde nie. Mense
soek na reinheid en na suiwerheid in die hier en nou. Hulle kry dit in die
natuur. En ewe boeiend is dat hulle gevoelsmense is, wat min omgee vir
allerhande koue verstandsdinge of teologiese debatte oor ons wêreld en die
natuur.
Saam hiermee verander sulke mense se siening oor God: hulle
dink nie meer aan God as ‘n persoon nie. Vir die kerk as organisasie voel hulle
nie veel nie. Hulle beweeg ook weg van tradisionele patriargale rol-verdelings.
Hulle keer hulle teen die vernietiging van die natuur en teen besoedeling van
ons wêreld. Hulle is minder in die etiese geïnteresseerd en meer in die
estetiese, skryf Martin. Hulle ervaar ‘n eenheidsgevoel met die mensdom en
verlang om met ander, met die natuur en met die dierewêreld een te wees. Dit is
‘n soort persoonlike mistiek en wete.
Aldus die revolusie wat ons tyd beleef in ons houding teenoor
die natuur.
Maar is dit regtig so dat ons nou eers die wonder van die natuur herken en vier? Meer hieroor môre.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.