Saturday, October 04, 2014

Ons kla, maar praat nie regtig nie. Oor 'n waardevolle nuwe boek

Ek het hierdie boek so terloops, saam met ander, ontvang om vir resensie te oorweeg (sien die skakel hier onder). 

Dit het 'n paar dae onder my hopie van kan-maar-nog-'n-rukkie-wag-werkies gelê. In 'n oop tydjie het ek daardeur geblaai, bietjie verveeld oor die eerste deel wat uitgebreid teoreties is en maar valerig lees. Dit gaan oor narratiewe terapie, wat in die teologie wyd bespreek word en wat vir my nie nuwe leeswerk is nie.

Toe kom ek op die tweede deel af en word weer omgekrap oor die onvoorstelbare verhale oor die grensoorlog wat uit ons verlede bly opduik. En oor die verskriklike gevolge van oorlog. 

Ek besef by die lees van 'n nuwe klomp verhale oor daardie oorlog opnuut weer hoeveel ons aan geweld uitgelewer is. Ek herken opnuut dinge in ons samelewing wat wortels in die verre verlede het en hom vandag nog op ons wreek.

Ek onthou byvoorbeeld onmiddellik die tragiese verhaal van 'n familie in die gemeente waar die man sy vrou stukkend geslaan en dikwels dronk-dronk aangerand het. Net om later te hoor hoe hy blootgestel was aan die grensoorlog, en stukkend daaruit gekom het. Lang tye moes ek by die gelowige familielede hul pyn beleef, maar ook hul vrees dat sy enige oomblik vernietig kon word. Eers toe ons hom sover kon kry om kliniese terapie te kry, kon dinge weer rustiger word.
 
Hoeveel van ons dink ooit daaraan dat 'n geslag van jongmense in daardie oorlog was en nog met onopgeloste kwessies saamleef - wat hulle lewens en die lewens van hulle families bly beïnvloed? 

Ons praat nie genoeg oor geweld nie. Ons kla wel baie daaroor. Maar waar geweld vandaan kom, hoe ons dit self bevorder (ook deur ons taal), wat die alternatiewe is (waarom is vredesbewegings onder ons so afwesig?) en hoe ons kan soek om geweld te bestry, is nie juis groot onderwerpe van bespreking nie.

In Amerika is die string films oor die Viëtnam-oorlog 'n teken van hoe hulle tot vandag toe worstel om met hul eie trauma oor oorlog tot vergelyk te kom.

En hulle het hul monumente, vredesbewegings, gespreksforums en ondersteuningsprogramme wat in die proses help reinig en herbou. Hulle werk daaraan, praat daaroor - en - raak in die proses al hoe lugtiger vir oorlog. 

Hulle wil nie meer maklik in ander lande gaan baklei nie.

By ons is dit 'n heel ander, tragieser storie: die oorlog is weens sy apartheidskonnotasie selfs dieper weggesteek as wat dit normaalweg sou wees. Ons trauma is dus nog moeiliker om te verwerk. 

Sommige van ons naaste mense gaan nooit die stukke van hul lewens bymekaar kan bring en nuut leef nie. En ons laat hulle in die steek. Ook van die preekstoel en in ons mistagogie omdat ons nie die kern van die probleem peil nie.

Juis die parallel tussen Amerika en ons oorloë moet egter benadruk word. Want uiteindelik gaan dit nie om 'n oorlog wat iewers in 'n land geveg word nie. Oor Viëtnam of Namibië nie. Dit gaan vir my veel dieper om die verskynsel van oorlog self.

En dan, as ons daaroor praat, moet ons nog dieper deurdring na die eintlike kwessie: waarvan is oorlog 'n teken? Hoe pas dit in in die groter prentjie van gewelddadigheid? Hoekom dink mense oorlog gebeur net wanneer 'n mens wapens op ander rig en hulle tot niet maak? Wat van die oorloë in die kerk, die skool en in families? En, miskien nog dieper: wat van die geweld wat in ons eie binneste woed? Die afbrekende, vernietigende begeertes, woorde en dade wat ons koester en vertroetel - ook en veral teenoor ons self? Die gebrek aan vrede, aan rustigheid, aan berusting, aan vertroue op ander en op die Ander?

Hier is die skakel:

http://www.litnet.co.za/Article/litnet-akademies-resensie-essay-weermagstories-deur-roelf-schoeman

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive