Monday, October 13, 2014

Ongeplukte vrugte. Oor meditasie


Psalm 119:15 word in die ou vertaling as volg weergegee: Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. 

Die 1983-vertaling lui as volg: 

U bevele bly my altyd by.  

'n Engelse vertaling is: 

"I will meditate in thy precepts."

Hieroor het Spurgeon 'n interessante stuk geskryf. Daar is tye, skryf hy, dat alleen-wees beter as kuier is, dat stilte wyser is as 'n gepraat. 

Mense sal verder op die geloofsreis vorder as deur meer dikwels afsondering op te soek, wanneer hulle op God wag en geestelike krag soek deur nadenke oor die Woord van God. 

Maar daarvoor moet 'n mens die woord kou, konstant in afsondering en stilte besig bly met die dinge van God, want dit is die manier om die werklike voedsel daarin te vind. 

Spurgeon gebruik raak beelde: wyn word gemaak deur die druiwe te pers, deur die sap uit die korrels te druk. Maar 'n mens moet ook versigtig met 'n druiwe tros werk wanneer jy dit pars. Dit kan gemors word en deur die haas geen nut hê nie. Op dieselfde manier moet 'n mens soek na die waarheid, met intensiteit, maar ook met versigtigheid. 

Of 'n ander beeld: 'n mens se liggaam word nie opgebou deur net kos te eet nie. Die kos moet verteer word en in die mens se liggaam opgeneem word. Die uiterlike, konkrete voedsel moet in 'n proses van vertering deel van die mens se energie en lewe word. 

Dit beteken 'n mens moet luister, hoor, oplet en leer sodat die geestelike dinge innerlik verteer word. 

Dit gebeur deur meditasie. 

Waarom, vra hy ten slotte, sukkel sommige gelowiges met hul geloofsake? 

Dit is omdat daar te min afsondering, nadenke, meditasie en ruminering is. Mense loop deur die koringlande, is in verwondering oor die prag daarvan. Hulle hou van die koring, maar bring dit nie in vir die oes nie. Mense is by die water, maar skep dit nie in om te drink nie. Vrugte is daar baie, maar min pluk en eet dit. 

Daarom skryf die Psalmis in die langste Psalm - te verveling, dink baie - ek sal U bevele oordink. 

En het hy dit nie gedoen nie!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive