Friday, October 10, 2014

Spiritualiteit en Lewenskuns

Ek het onderstaande artikel oor Prof. Albert Geyser met groot vreugde geskryf (sien die skakel hier onder).

Albert Geyser en ek was lank saam lede van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika. Hy was veel ouer as ek, 'n professor aan die Universiteit Pretoria, 'n internasionaal gerekende Nuwe-Testamentikus. Saam het ons as die twee leiers, die Agtergrond-Groep van die Werkgemeenskap georganiseer en het hy my, toe nog 'n bloedjong dosent aan die Universiteit Stellenbosch, as 'n kollega en 'n vriend aanvaar en behandel. 

As vakgenote in die Nuwe Testament het ons veel belangstellings gedeel, veral oor die konteks en agtergrond van die Bybel. Ons groep het een van die eerste bundels oor die peudepigrafiese boek van 1 Henog en die Nuwe Testament kon publiseer in 'n tyd dat min Afrikaanse mense die pseudepigrawe geken het, laat staan nog bestudeer het. Hierdie bundel is ook as 'n feesbundel aan hom oorhandig die jaar toe hy afgetree het.

Maar ons was meer as net vakgenote. Ons het albei belanggestel in, meegeleef met en ons verset teen die politieke en sosiale diskoers van die apartheidstyd. Geyser was die ervare, bekwame kerkman en teoloog wat in die kollig beweeg het en vreesloos sy opponente aangevat het oor die vernietiging van menselewens wat deur die apartheidsisteem veroorsaak was. Ek was toe nog net die jong teoloog by die Universiteit waar B.J. Vorster en P.W. Botha die kanselier was en waar die outoritêre magshebbers van die politiek, die kerk en die universiteit in 'n magsbolwerk 'n ystergreep oor ons uitgeoefen het. 

Min mense vandag kan peil watter slegte ding dit toe was om 'n jong, weerspannige Afrikaanse teoloog te wees aan die een Universiteit wat naaste aan die politieke maghebbers was. Enige twyfelaars is uitgerangeer en verdag gemaak - soos ook met Geyser gebeur het. In die tyd wat ons mekaar leer ken het, was hy in vele opsigte my mistagoog wat my lewe verryk het met sy wysheid. Ek het hom verstaan in die verwerping wat hy ervaar het, hom met jeugdige entoesiasme probeer ondersteun omdat ek besef het hoe die gemeenskap teen hom gekonkel het en van hom veel geleer oor die werklike kwessies wat ons land destyds die afgrond ingesleep het. Ons telefoongesprekke bly my nog tot vandag toe by as oase's in die destydse woestyn van manipulerende hegemonie en gloeiende nasionalisme.

Maar daar is iets heel besonders aan Geyser, wat min mense weet. Een van die heel spesiale dinge van Geyser is dat hy die eerste vertaling van Thomas A Kempis se Navolging van Christus in Afrikaans gedoen het. In die sin is daar 'n nog hegter band tussen hom en my met my belangstelling in spiritualiteit. Hy het my geleer dat spiritualiteit eintlik lewenskuns is - die woord wat hy in sy inleiding tot die boek daarvoor gebruik.

Hier is die artikel wat ek oor hom vir LitNet geskryf het nadat ek die eerste A.S. Geyser gedenklesing gaan bywoon het. 

http://www.litnet.co.za/Article/rsquon-afrikaanse-kerkman-wat-apartheidstrukture-laat-steier-het-word-weer-onthou

Ek dink dikwels aan die voorreg wat ek gehad het om hom van so naby te kon leer ken. 

Hoe oneindig ryk is ons lewens nie omdat ons sulke mense van naby kon ervaar en dat dit so Beskik is om met hulle daardie tyd te kon meemaak.

Juis daarom is dit 'n treurige verhaal dat hy, wat die nuus vir soveel jare oorheers het, nou 'n vergete figuur is. 

Dit is juis mense soos hy wat nie net vertel dat nie almal apartheidsondersteuners was nie, maar wat ook vertel hoedat die evangelie tog helder kan klink - selfs in donker, desperate tye.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive