Thursday, October 02, 2014

Wanneer 'n mens die kraan opdraai en daar is nie water nie. Oor ekologiese spiritualiteit (2)

My verhaal van gister was oor ekologiese spiritualiteit en hoe Martin dit beskryf as 'n nuwe tendens in ons tyd. Hierdie soort spiritualiteit van die skepping, of eko-spiritualiteit, word as nuut, anders en revolusionêr aangebied.

Maar is dit werklik so?

Martin skryf dat hy nogal eers verbaas was dat dit as so 'n nuwe ontwikkeling beskou word. 

Hy self kom uit die tyd net voor die tweede wêreldoorlog. En alles wat as nuut in ‘n spiritualiteit van die skepping aangebied word, klink vir hom bekend as iets wat hy toe al beleef het. 

Tóé al het mense vir diere omgegee, was hul in verwondering voor die natuur en het hulle al gesond geleef en vegetaries geëet.

Hy onthou uit daardie tyd die gewilde gesang: All things bright and beautiful waarin gesing is dat ‘n mens nêrens nader aan God is as in ‘n tuin nie. 

Hy onthou dat die belangstelling in kuns vir die natuur, begin het met Dürer, die Protestantse kunstenaar. 

Liefde vir die natuur as God se skepping is duidelik te lees in die literatuur van Browne, Milton, Marvell, Vaughan en Traherne. 

Selfs die Deïste uit die agtiende eeu wat God ver weg van die wêreld geplaas het, was in verwondering oor die majesteit en rykheid van die skepping. 

Dit is al duidelik 'n geestelike tradisie waarin verwondering, eerbied en omgee vir die skepping na vore gekom het. 

Die Christendom het lank al 'n liefdesverhouding met die natuur.

Skeppingspiritualiteit, skryf hy, sal ‘n mens egter nog verder kan terugvoer deur Franciskus van Assissi en die Keltiese heiliges na die motief van die paradys in Genesis se skeppingsverhaal. Genesis plaas immers die begin van alle dinge in 'n tuin waarin mens en God naby aan mekaar leef. 

Verwondering oor die werke van die Here, lees ‘n mens raak in hierdie skeppingsverhaal, maar ook in Psalm 104 en in die vredesryk van Jesaja en Job.

Ek bedink Martin se skrywe hieroor. 

Ekologiese spiritualiteit het diep wortels in tradisionele geloof en in die Skrifte. 

Ook in die droë tye van die ortodoksie in ons eie land, het liefde vir die natuur nooit verlore gegaan nie. 

Ek dink byvoorbeeld aan hoe graag mense die lied, "Hoe Groot is U", gesing het. Uit volle bors. Meegevoer. 

Ek onthou hoe die predikante hul gemeentelede gewaarsku het van die hoë preekstoel af: moenie wegbly uit die kerk omdat julle sê julle ontmoet God net so goed, indien nie beter, in die natuur op 'n sondagoggend as in die kerk. 

Die liefde vir die skepping, gepaard met verwondering, loop ver en diep.

En net so sou ‘n mens eindeloos vele voorbeelde kan opnoem van gelowiges se viering van die skepping.

Ons het 'n diepgewortelde liefde vir die skepping. 

Dit is 'n belangrike voedingsbodem vir ekologiese spiritualiteit.

Juis omdat mense so lief is vir die natuur, is die vernietiging daarvan in ons tyd so ontstellend. Soveel so dat mense besef dit word nou 'n saak wat spesiale gerigte aandag vra. Daarom word dit in 'n spiritualiteit van die skepping pertinent onder die soeklig geplas. 

Die mens wil hul verantwoordelikheid vir die skepping meer as ooit 'n saak van prioriteit maak. Dit verwond hulle dat die wêreld tot niet gemaak word. 

Juis omdat vele onverskilliges niks daarvan dink om hul gemors grootskaals te mors in ons riviere, wil mense hieroor praat, agiteer en optree. 

Dit is vir hulle lewensnoodsaaklik, veral noudat ons soms ons krane opdraai en met 'n skok agterkom watter rol water in ons lewens speel. 

Maar dit is ook geestelik noodsaaklik: wie kan vervuld lewe in 'n vuil, opgemorste wêreld? 

Immers, weet ons, 'n mens kan nie met die een hand God se wêreld vernietig en die ander hand in die lug opsteek om God te prys nie. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive