Mens kan jou hele lewe deur arm bly aan die rykste van gawes: om iemand anders raak te sien vir wie hy of sy as mens is.
Mense is arm, want as hulle na ander kyk sien hulle net 'n deeltjie van mense raak: jy sien die dokter raak vir sy voorskrif wat jou gesond maak. Die ryk man vir sy geld wat dalk na jou kant toe kan kom. Die slim mens vir raad. Die aantreklike vrou vir haar voorkoms. Die sportman vir sy blinkheid. Die kunstenaar vir sy roem.
Op die oomblik loop daar 'n brief in omloop wat mooi vra dat 'n mens ander as mense sal sien. Die vet vrou is iemand wat 'n akute gesondheidsprobleem het. Die skaam, verleë mens is wreed verkrag en bang vir mense. Die pieperige skoolseun word tuis deur sy pa aangerand. Die belangrike minister se vrou ly aan akute depressie.
Sodra 'n mens dit weet, verander jou houding dadelik.Jy sien daardie persoon in 'n ander lig. Jy wil uitreik, troos, bemoedig, ondersteun en bystaan. Jy herken in die persoon die lot van mense wat 'n lewensreis aflê wat nie maklik is nie. Jy herken jou eie swaarkry in wat hulle ervaar.
Spiritualiteit maak mens se oë oop vir ander mense. Teenoor 'n mens staan iemand wat volledig mens is, wat as mens goeie en slegte tye het. Iemand wat behoefte het aan vriende wat kan ondersteun, aan familie wat lief het.
Dit gaan nie om 'n ander se rykdom, roem, aantreklikheid of status nie, oor wat iemand anders jou kan bied nie. Spiritualiteit wil juis nie ander objektiveer nie. 'n Mens staan in 'n ek-jy verhouding, nie 'n ek-dit verhouding nie (Buber).
Dit kan nogal radikale implikasies hê. Vincent Oliphant het 'n besondere gedig, kort en kragtig, geskryf oor die polisieman wat bieg. Dit is 'n diep geestelike gedig wat vertel watter skuld 'n mens in sy of haar lewe indra wanneer 'n mens ander as jou vyand verdinglik en hulle mensheid uit die oog verloor. Hier is die gedig:
die hand wat ek vergruis het
het brood en liefde na ’n huis gebring
die tong wat ek uitgesny het
het die name van geliefdes laat sing
die knieë wat ek verbrysel het
was die sitplek van ’n opgewonde kind
die hand wat ek vergruis het
het brood en liefde na ’n huis gebring
die tong wat ek uitgesny het
het die name van geliefdes laat sing
die knieë wat ek verbrysel het
was die sitplek van ’n opgewonde kind
Hoe ryk is die mens wat die menslikheid van ander ontdek. Dié mens is ryk aan blydskap en mededoë. Meer nog, dit is 'n mens wat sonder skuld in opregtheid lewe.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.