Nederigheid
is ‘n deug wat alle mens bewonder.
Daar
is vele volkswyshede in omloop wat wys hoe hoog slaan mense nederigheid aan. “Moenie
jou eie trompet blaas nie,” “hoogmoed kom tot ‘n val” en “eie roem stink” is
voorbeelde van hoe ‘n gebrek aan nederigheid mense dwars in die krop steek.
Net
soos hoogmoed ‘n gebrek aan nederigheid uitwys, net so kan ‘n mens nederigheid
kontrasteer met ‘n verwerping van jouself.
Sommige
persone dink regtig min van hulleself. Of hulle maak ‘n punt om hulle self af
te takel.
Hulle
kyk teen hulle foute vas. Dit kan so erg raak dat hulle hulself verag. In
sekere situasies lei dit tot geestesafwykings waar mense hulself skend of akute
minderwaardigheidskomplekse ontwikkel. In die ergste gevalle lei dit daartoe
dat mense nie meer kans sien om te leef nie.
Ek
is regtig ‘n slegte mens. Ek kan ander eintlik nie in die oë kyk nie. As mense
maar net weet…. So voel mense soms oor
hulleself.
Dit
is nie nederigheid nie. Dit is ‘n self-vernietigende aftakeling.
Nederigheid
het niks te doen met ‘n mens se innerlike aanvoeling oor jou eie meriete en
goeie lewe nie. Dit het te doen met ‘n basiese lewenshouding wat in
dankbaarheid teenoor God alles in jou lewe as ‘n seëning en ‘n genadegawe
beskou.
In
nederigheid besef jy dat wat ook al aan die goeie in jou lewe gebeur, aan jou
geskenk word.
Maar
nederigheid het met nog dieper dinge te doen.
‘n
Nederige mens is iemand wat besef dat hy of sy kosbaar is: elke mens het die gawe
van die lewe ontvang: elkeen is getransformeer in skepping. Dat ‘n mens die
lewe as geskenk ontvang het, om te kan leef, is al ‘n onvoorstelbare seëning. ‘n
Mens dink dus aan jouself as iemand wat kosbaar in God se oë is.
En
as skepsel, iemand wat die gawe van die lewe ontvang het, bly ‘n mens verder
voortdurend in God se gedagtes: transformasie in herskepping beteken dat die
mens wat geval het, wat misluk het, wie se lewe vasloop, weer ‘n kans kry om op
te staan en opnuut te begin. God se genade droog nie op nie. Moordenaars kry hierdie
genade immers sonder ‘n enkele verdienste op hul sterfbeddens en aan kruise
geskenk. Die mens is kosbaar in God se oë.
Dan
weer, is daar die kans wat ‘n mens kry om ‘n lewe na aan God te hê deur naby
aan Christus te leef. Die geskenk van intimiteit en nabyheid met God word
uitgebeeld met die motief van konformiteit aan Christus. So hoog ag God mense
dat God die ruimte skep vir mense om soos Christus te kan word. Die mens is
kosbaar in God se oë.
Uiteindelik
is daar die transformasie in die liefde en in heerlikheid. ‘n Mens word gemaak
tot geliefde van God. “Geliefdes”, die ou aanspreekvorm van predikante uit
vroeëre geslagte, vertel hiervan. Soos die Seun die Geliefde was, so is God se
kinders geliefdes. En vir almal het God die heerlikheid bestem. Iewers,
uiteindelik, omdat almal kosbaar in God se oë is, sal mense God aanskou. Trane
sal weg wees. Honger en dors sal ophou. Ewig in God se arms sal mense wees.
Dit
is wat God vir mense sê: hierdie vyfvoudige transformasie. Ek het jou geroep,
ek het jou geskep. Jy is myne, kosbaar in my oë.
Dit
is wat “God se woord”, die “evangelie”, die boodskap van Christus oor mense
dink. Die onvoorstelbare goedheid van God, die oneindige ruimheid van die
Liefde is die hart van die goeie boodskap.
En
wie daaruit leef, kan met nederigheid die geestelike reis voorsit – met die
volle wete dat hy of sy kosbaar in God se oë is. As God soveel omgee, as God
ons huis toe bring uit die varkhokke, wie is ons om onsself as onwaardig te
beskou? Wie afhanklik is van God, luister na die stem van die Liefde, ontvang
genadiglik die feeskleed. Dit is genoeg. Dit stem tot dankbaarheid en bring ‘n
mens steeds nader aan God. Sonder die Nabyheid, die Liefde is mens niks. In die
liefde is ‘n mens God se gunsteling-kind.