Dikwels
hoor ‘n mens hoe dieselfde beswaar teen die mistiek herhaal word. Mense, veral
teoloë is vol argwaan teenoor die mistiek, want die mistiek het al te dikwels
‘n negatiewe betekenis: Hulle voel dit is ‘n beweging waarin die grense tussen
God en mens uitgewis word. Die mens word, so word gesê, opgeneem en eintlik
verswelg in ‘n mistieke eenheid met God.
Dit
is vir hulle ondenkbaar, omdat dit sou beteken dat die mens vergoddelik word.
In
hierdie dae lees ek Peter Schäfer se boek: The Origins of Jewish Mysticism.
Schäfer is een van die mees gerekende kenners van die vroeë Jodedom en veral
die mistieke tekste. Hy beklee ook een van die mees gerespekteerde leerstoele
aan Princeton Universiteit wat seker een van die belangrikste universiteit in
Amerika is (nie die veel kleiner en onbekender Princeton Theological Seminary
nie). ‘n Mens luister na hom. Hy weet waarvan hy praat.
Ek
lees dus met spesiale aandag wat hy skryf oor die aard van die mistiek in
Bybese tye en by latere Joodse groepe. Hy doen dit in ‘n afdeling met die titel
(unio mystica – die mistieke eenheid).
Dit
is gou duidelik dat die mistiek op meer as een manier benader en verstaan kan
word. Dit is een van daardie tema’s wat erg dubbelsinnig is.
‘n
Mens kan oor die mistiek praat soos ons dit vandag leer ken het met beroemde
figure soos Ruusbroec, Eckhart en vele ander. Dit is moderne vorme van mistiek
wat baie bekend is by kenners van Spiritualiteit en Mistiek.
Veel
aandag word deesdae egter bestee aan die mistiek in die latere Joodse tradisies
(soos die Hekhalot en veral die latere Joodse Kabbala). Maar daar is al hoe meer belangstelling in
mistiek in Bybelse tye. Bybelskrywers en figure soos Jesus en Paulus het
apokaliptiese boeke geken (soos 1 Henog, aangehaal in Judas se brief). Die
apokaliptiese boeke was mistieke tekste. Belangrike groepe soos die
Qumran-gemeenskap by die Dooie See het ook van die mistieke geskrifte gelees
(bv. Die Liedere van die Sabbat-Offers en die Lied van Self-Verheerliking).
Hedendaagse
Christene is dikwels onbewus van hierdie mistieke boeke. Sekere Joodse groepe
in die Bybel (voor en in die Nuwe-Tetamentiese tyd) het dus graag mistieke
tekste geskryf en gelees.
Die
groot spesialis en baanbreker in hierdie studie van Joodse mistieke tekste was
Gershem Scholem. Hy het in die eerste helfte van die twintigste eeu die oë van
die teologie oopgemaak vir die mistiek – iets wat voorheen nie soveel aandag
geniet het nie of wat geringgeskat is.
Tot
op daardie stadium is mistiek meestal in die algemeen verstaan as “eenheid met
God.”
Scholem
was beslis afwysend teenoor die mistiek as eenheid met God. Joodse tekste sal
nooit praat van ‘n “totale” eenheid van die mens met God nie want hulle hou vas
aan die kloof tussen God as Skepper en skepsels.
Deur
Scholem se invloed het vele kenners na hom geargumenteer dat daar nie regtig so
iets soos Joodse mistiek is nie want die kern van die mistiek as eenheid met
God kry ‘n mens nie in sulke tekste nie.
Een
so ‘n voorbeeld is die werk van Zaehner. Zaehner skryf in navolging van Scholem
dat daar nie sprake is van Joodse groepe wat sal beweer dat ‘n mens verenig
word met God as die oneindig Grotere Een. Hy gee egter toe: ‘n Mens sou wel kon
praat van “gemeenskap” met God, maar nooit nie van eenheid met God nie.
Schäfer
wys daar op dat die bekende en invloedryke Britse teoloog, Philip Alexander,
ook hierdie onderskeid oorgeneem het. Hy verwys na teïstiese tradisies wat ‘n
onoorbrugbare ontologiese kloof tussen die Skepper en skepsels onderstreep. By
hulle sal ‘n mens hoogstens die mistiek as gemeenskap met God raakloop. By
panteïstiese tradisies sal ‘n mens vind dat skrywers eenheid met God soek.
Sommige
kritici van Scholem se werk het egter van hom verskil en gedink dat die mistiek
as eenheid met God die belangrikste mistieke tradisie onder Jode was. ‘n Bekende
figuur in hierdie verband was Idel, wat twee rigtings in die Joodse mistiek
onderskei het. Aan die een kant, skryf hy, was daar die mitosentriese,
teosentriese oop mistiek wat nie in eenheid met God belanggestel het nie.
Idel
praat egter van ‘n ander tradisielyn in die Joodse mistiek wat volgens hom nie
deur Scholem ernstig opgeneem word nie. Die patroon is veel meer
antroposentries, esoteries, subtiel, individualisties en oop vir paranormale
ervarings. Hierdie tekste praat wel van ekstatiese belewinge en stel wel belang
in eenheid met God. Volgens Idel is
hierdie mistieke lyn die belangrikste van die twee.
Uit
hierdie bespreking, waaroor ek nog meer wil werk, blyk nou al dat daar wel
Joodse tekste is (wat ook op die Nuwe Testament invloed uitgeoefen het) wat ‘n
mens “mistiek” sou kon noem. Op sy minste gesê wil hierdie mistiek praat van ‘n
verlange en soeke na ‘n intieme gemeenskap met God. In sy mees ekstreme vorme
kry ‘n mens, as jy mense soos Idel volg, tekste waarin mense soek en verlang na
eenwording met God. Dit lyk goed om verder hieroor na te dink.