Wat hou die mens weg van daardie Lig wat aan jou lewe sin
gee? Dit is, daardie Lig wat ‘n mens nodig het om te kan oorleef en te kan leef?
Sonder die Lig is ‘n mens blind.
Die geestelike pelgrimsreis na die Lig beteken daarom in die eerste
plek dat ‘n mens van jou blindheid genees moet word.
Maar hoe kan ‘n mens van jou geestelike blindheid genees
word?
Die geestelike denkers was nog altyd hieroor redelik duidelik
en kom met ‘n paar verrassings na vore:
‘n Mens is, interessant genoeg, blind wanneer jy neersien op
ander se sienings. Blind is jy wanneer jy dink jy weet beter as ander en dat jy
dieper as “hulle” dink.
Tog kan ‘n mens vir veel meer as bloot net die sienings van ander
blind wees.
Bocken skryf hieroor in pragtige taal: Ons wêreld het ‘n
bepaalde orde en harmonie. Wat ook al in soveel verskillende plekke en op baie
maniere gebeur, is daar tog ‘n sekere, grotere samehang waarbinne ons onsself
bevind. Wie dit verstaan, weet: Iewers is daar dieper dinge in ons aardse
bestaan wat al die beperkthede van ons lewens verlig.
In die lig van hierdie grotere, verborge dinge, ontdek ‘n mens
dan, is baie dinge in ons eie lewe verganklik, tydelik en beperk.
As ons tog maar net kan gaan stilstaan, stil word en luister,
sal ons hierdie dieper dinge herken en beleef, sal ons uit die donker kan
ontsnap en word ons weg na die Lig oopgemaak.
Wie bereid is om te luister na hierdie diepere insigte,
ontdek spoedig Lig wat ‘n mens se lewe sinvol maak en wat die donker uitdryf.
In geloofstaal word hierdie Lig die Woord van God genoem. Dit
is ‘n goddelike stem wat lewe skep, wat die begin en die einde van alle dinge
is.
Mense ontdek soms met blydskap hierdie Waarheid, skryf Thomas
a Kempis byvoorbeeld. Nie alle mense word deur hierdie Waarheid aangeraak en
verander nie.
Mense is te trots op hul eie mening, hulle is tog so onder
die indruk van hoe belangrik hulle opinies is.
Maar wie die Waarheid ontdek, ontdek ook hoe hy of sy
vasgevang is in die kloue van sy of haar eie vooroordele en hoe hy of sy
afhanklik is van allerhande tydelike verganklikhede. Bocken praat in die
verband van die leë ydelhede wat ons blind maak vir die Lig wat aan ons lewe
sin en betekenis gee.
Om van ‘n mens se blindheid genees te word, moet ‘n mens
bevry word van menslike gedagtes en moet ‘n mens afleer om afhanklik te wees
van menslike oordele. Ons hoef nie te oordeel nie. Ons hoef nie te dink dat ons
beter weet nie. Ons moet vry word van die ydele manier waarop ons ons eie
gedagtes aanbid en hoog ag.
Wie ophou oordeel, leef ‘n lewe van vervulling. Bocken skryf
dat ‘n ver-Ligte mens nie meer onrustig in eie hart is nie. ‘n Mens leef nie
meer uit jaloesie en teensin teenoor ander en alles nie. So ‘n mens hoef nie
gedurig oor die skouer te loer om te sien of hy/sy op die voorpunt is en ander
mense oortref nie. ‘n Ver-Ligte mens hoef nie gewelddadig teenoor ander te word
waneer hy of sy bedreig in sy standpunte voel nie.
Steeds weer wil mense van die Lig in ooreenstemming leef met
wat God vra, eerder as wat hulle gedurig beter wil weet as ander mense.
Dit beteken dat ‘n mens eerder gedurig bewus bly van jou eie
eenvoud en van jou beperkte plek in die groter geheel van dinge. Jou eie
slimmigheid, die hoë kennis en die seker wete, kom sulke mense agter, bied geen
sekerheid en gaan vastrapplek in die geestelike reis nie.
Blindheid kan vir die moderne mens wat na die Spiritualiteitskrywers
se sienings luister, nogal vreemde vorme aanneem. Wie, sou ‘n mens kon sê, sou dan ooit kan dink dat jou tawwe kyk na
ander, jou harde woord, jou streng veroordeling, jou slim afmeet ‘n vorm van
blindheid is wat jou van die Lig weghou? Is dit dan nie ‘n teken van ‘n
kritiese sin, van ‘n goeie brein en van ‘n nugter mens nie?