Die tema van geweld roep altyd heftige reaksies op by persone in ‘n demokratiese, oop gemeenskap. Gewoonlik is hulle punt helder en eenvoudig: Onderhandelinge eerder as bomme, gesprekke eerder as aanvalle is ‘n belangrike waarde van moderne demokrasieë.
Daarom was mense verlig dat President Obama, ‘n heftige kritikus van sy voorganger, President Bush, nuwe beleid kon invoer. Bush, is geredeneer, is oorlogsugtig. Hy was die cowboy-president wat probleme met bomme wou oplos.
In vandag se NYT is daar ‘n bedeesde artikel oor Obama wat die verborge teleurstellings oor sy ampstermyn tot dusver goed illustreer. Die koerant is gewoonlik vierkantig in die Obama-stal en ‘n ondersteuner van die president. Om dus te lees dat die koerant dink Obama is nie veel anders as Bush nie, is veelseggend (http://www.nytimes.com/2013/02/10/world/obamas-turn-in-bushs-bind-with-defense-policies.html?pagewanted=2&_r=0&nl=todaysheadlines&emc=edit_th_20130210).
Dit wys hoe gekompliseerd en hoe moeilik die internasionale en Amerikaanse politiek is. Obama het nie ‘n kits-oplossing gebring nie. Dit is nie sommer in een persoon se hande om in ‘n nuwe rigting koers in te slaan nie. Harde realiteite suig jou in hul maalstroom in en neem jou waar jy nie wil wees nie. Dit lyk nou asof Obama nie eintlik veel van Bush te onderskei is nie.
So ‘n berig is van groot belang vir die teologie en kerk in die debat oor geweld: wat gebeur in die praktyk van die politieke lewe wanneer ‘n mens oor geweld praat? Hoe moet ‘n mens vanuit ‘n geestelike hoek en in terme van spirituele waardes dink oor geweld soos dit deur ingeligte, gevorderde en ontwikkelde state geakkommodeer word as ‘n vaste deel van staatsoptrede? Is daar regtig kits-oplossings? Kru gestel: Moet almal maar bekeerd raak en dan sal ons paradys op aarde hê?
Dit is duidelik dat ‘n mens nie naïef kan wees nie. Groot geeste en belangrike magshebbers met diep oortuigings oor vrede steier terug onder die aanslag van die harde werklikheid waarmee hulle gekonfronteer word. Wie hoop op vinnige antwoorde, tender vir ontnugtering.
Heelwat van my Amerikaanse kollega’s in die teologiese wêreld het dikwels met hewige kritiek en soms met groot venynigheid vir President Bush veroordeel. Hulle was verlig en bly toe Obama verkies is tot president. Mettertyd het hulle stiller en stiller oor Obama geraak. Onlangs nog het ek opgemerk hoe pynlik dit vir hulle is om oor President Obama te praat: sy termyn het vir hulle in meer as een opsig grootliks ontnugter.
Ek lees dus met aandag hierdie berig oor die noue ooreenkomste tussen die optrede van Bush en Obama. Daarin is, eerstens, ‘n interessante ontleding van President Bush self. Die berig vertel hoedat hy aan die einde van sy termyn die mees omstrede kante van sy kontra-terroriste program begin aanspreek het. Hy het die geheime tronke gesluit, die toestemming van die Kongres verkry vir ondersoeke wat sonder hofbevele gedoen is, ondersteuning vir sy militêre kommissies gesoek en ook begin om die berugte gevangenis in Guantánamo-baai in Kuba te sluit. Bush, dus, moet ‘n mens nie te gou met ‘n kategorie van ‘n oorlogsugtige bakleier benoem nie. Of, dalk, sou ‘n mens kon sê, Bush is gekonfronteer met werklikhede waarvoor hy maar min keuses gehad het.
Die beeld van President Bush as ‘n skoorsoekerige oorlogsugtige word dus hier genuanseer.
Uit kommentaar in die berig word boonop vorige amptenare van President Bush aangehaal. Een van hulle vertel dat President Obama die oorlogskwessies nie anders as Bush hanteer nie. Ook onder Bush was daar ongemak, sê hy, omdat hulle steeds weer die reg in ag moes neem en omdat die bedreiging van die land ook in ag geneem moes word. Bush, hoor ons dus, was gevoelig vir die regsorde, maar hy is deur “landsbelang” gedryf.
Maar, beweer ander opponente van Bush wat nie te veel oor hom wil toegee nie, ‘n mens kan Obama vertrou wanneer hy nie te veel van Bush se bedeling afwyk nie. Bush, sê ‘n professor van Duke-Universiteit, is nie soos Obama wat tawwe besluit neem om Amerika te beskerm nie. Hy het bose bedoelings gehad. Die professor sou dus nie probleme daarmee hê as Obama steeds nog onbemande vliegtuie uitstuur om vyande van Amerika dood te skiet nie. Ander van die gespreksgenote oor Obama se oorlogsaksies weer val terug op Obama se temperament: hy is veel versigtiger, terughoudend en sensitief vir individuele vryheid as wat Bush was. Boonop, voeg ander by, soek Obama veel meer as Bush om openbare steun vir sy besluite te kry. Daarom is hy duidelik ‘n beter opsie as Bush en kan hy met moeilike besluite vertrou word.
Dus: die aksies is dieselfde, maar die gesindheid verskil. Obama het goeie bedoelings, Bush het ‘n oorlogsmentaliteit. Die argument is duidelik nie vir almal aanvaarbaar nie. Die skrywer van die artikel krap dus verder: Aan die einde van die berig is daar ‘n veelseggende opmerking van ‘n vorige raadgewer van beide Bush en Obama: ‘n mens maak nie beleid wat afhang van die persoon wat in Washington die president is nie. “Ons maak beleid met die veronderstelling dat mense met mag dit kan misbruik. Om anders te dink, is dom.”
Dit lyk na ‘n goeie hermeneutiese beginsel: waar mag is, is daar kanse dat dit misbruik kan word.
Dit weet ons is die geval orals in die samelewing.
Elke dag sien ons dit in die media: die mag van geld, van wapens, van die politiek, van die kerk en die teologie is ‘n energie wat in staat is om ander te verwoes en te vernietig. Altyd is daar vir hierdie destruktiewe magsgrepe “goeie” argumente. Europa het die argumente in Libië gehad, Frankryk in Mali, Amerika in Vietnam en Irak, Brittanje in die Falkland-eilande (om maar een voorbeeld te noem). Eindeloos in die geskiedenis is voorbeelde van geweld wat “regverdig” verklaar word.
Die teologie het nie agtergebly nie. Ook in ons droewige midde het die hof-teoloë oorlog verheerlik en in die naam van God heilig verklaar. Die “regverdige” oorlog het ‘n kanon geword en lekker leef ons daaruit. Pouse het die Kruistogte as legitieme deel van die geestelike reis aangeprys: heilige mense sal nie daaruit kan wegbly nie. Bernard van Clairvaux met sy spiritualiteit van liefde het oor Europa heen soldate vir die stryd gaan werf. In Duitsland het die kerke die Nazi-ideologie aangeprys en Jesus netjies tot Ariese Super-mens verklaar. In ons eie land was die Bybel die boek wat vertel het nasies hoort apart en liefde wat nie deur ras bepaal word nie, is onchristelik – met al die strukturele en wetlike geweld wat daaruit gebore is.
Op die manier lyk die kerk nie veel anders as die wêreld nie. Gelowiges en ongelowiges trek in vele opsigte saam in een juk. Obama lyk al te veel na Bush. En die geweld in ons eie tyd met die eindelose magsmisbruik wat daaragter broei, is in vele opsigte heel, heel bekend uit ons ou tye.
Hoe meer tye verander, hoe meer bly hulle dieselfde.
Die antwoord is sekerlik nie om Obama ook te verketter nie, hoe nodig dit ook al is om ook sy gevangeneskap in geweldsdenke uit te wys. Dit help ook nie veel om van die kansel geweld te bly veroordeel nie asof die kerk aanmekaar net moet sê hoe sleg geweld is nie.
Almal weet dit. Niemand hou van geweld nie.
Wat is dan die antwoord?
Die antwoord is te vinde in die kontra-kulturele, radikale inhoud van die evangelie.
Dit beteken eerstens ‘n hermeneutiek van suspisie: “Waar mag is, is daar kanse dat dit misbruik kan word.” Valk-oë, vra die uitgangspunt van almal, veral van gelowiges. Dankbaar is ons dat media geweld uitwys, dat mense geweld besweer deur heling te bring, deur vrede te verkondig, deur mense met mekaar te versoen, deur verdeelde gemeenskappe met mekaar te verenig, deur twistende famlies geestelik te begelei.
Maar daar is ‘n tweede, hermeneutiese aksie tot konstruksie. Elke keer weer moet ons dieper as bloot kritiese denke oor vroom uitsprake delf: die reaksie-patroon moet omgekeer word. Pro-aktief moet mense bewus gemaak word van die groot Evangeliese, goddelike insig en lewenspatroon: wie sy lewe soek, sal dit verloor. Die kerk kan nie maak of die wangdraai-woorde van Jesus bloot simboliese spreke was nie. Die kruis vertel tog hoe laf so ‘n uitspraak sou wees.
Die kerk moet uit die kruis leef, uit self-opgawe, uit prysgawe van mag – meer nog vanuit die diens-motief.
Die geestelike houding in die omgee vir ander is belangrik: om die Ander te sien as Beeld van God, as mens, as individu wat op alle waardigheid aanspraak het. Die geestelike lewe ook: om jouself te gee vir die Ander, selfs jou magsposisie prys te gee. Magsverlies eerder as magsgrepe. Transformasionele aanpak, eerder as transaksionele benaderings. Kommunaliteit in plaas van agonisme. Vyandsliefde in plaas van hatigheid.
Meer nog: die kerk leef vanuit die radikale eis om vrede te soek, selfs in lewensgevaar. Dit bly dan die groot soektog wat, merkwaardig genoeg, veral sedert 11 September se aanvalle in die kerklike lewe verdwyn het. Dit is die soeke om vredeskerk te wees, om vredesteologie te beoefen. En daarmee is ‘n mens by Gandhi, Martin Luther King en Allan Boesak se bemoeienis om geweldloosheid.
Maar ‘n mens moet ook verby die punt kan beweeg: want nie-gewelddadigheid, op ‘n radikale en omvattende wyse toegepas, is een stap te min. Ons moet verder kan beweeg na vrede.
Paradys toe, immers. Dit is die begeleidende dimensie van die geestelike reis. Waarmee nie ‘n utopiese paradys bedoel word nie, maar eerder die paradys in die woestyn (Mk.1;12), paradys in die tuin van Getsemane (Lk.22:43) en in die tuin op ‘n Sondagmôre (Joh.20).
Ai, maar ai, die kerk wat so feilbaar is in die opsig, kan moeilik ‘n beeld van paradys wees. Wat nie beteken dat die kerk nie steeds weer moet probeer om dit te wees nie.