Nikolai
Ge is ‘n Russiese skilder uit die tweede helfte van die negentiende eeu, wat deur die jare al hoe meer bekend geraak het.
Uit
adellike familie afkomstig en boonop ‘n goeie vriend van die groot Russiese
skrywer Tolstoi, het hy kuns in St Pietersburg studeer, waar hy as ‘n
uitstekende student beskou is.
Daar
is iets aan sy skilderye wat dadelik met my resoneer. Toe ek dit sien, neem dit
my op ‘n speurtog om meer te wil weet.
Ek
herken die kunstenaarstemperament en –kundigheid. Maar daar is ook ander kante
van hom wat ‘n mens vertel van iemand wat fyn oplet: Hy is naamlik bekend as
iemand met ‘n sagte kant. Hy is sensitief vir die reaksies op sy werk. Hy is so
ontstel deur kritiek dat hy amper nie meer wou skilder nie. Sy sensitiwiteit
blyk ook daaruit dat hy min geld gevra het vir mense wat nie sy skilderye
eintlik kon bekostig nie.
Sy
skilderye was in daardie tyd omstrede. Sommige het gedink hy teken Christus en
ander Nuwe-Testamentiese tema’s te romanties. Ander het beweer die skilderye is
lasterlik omdat dit die lyding van Christus wreed uitgebeeld het, maar vele was
ook gaande oor sy werk.
Dit
is juis sy skildery van Christus en die dief aan die kruis wat my oog vang. Sy
skildery van Judas wat in die nag wegloop en van Jesus en die moordenaar aan
die kruis, bly ‘n mens die res van jou lewe bly.
Maar
dit is oor sy skildery van Pilatus wat aan Jesus vra wat waarheid is waaroor ek
wil skryf. Pilatus staan in volle lig, geklee in ‘n ryk, duur kleed. Hy kyk stip
na Jesus, sy hand is uitgesteek in ‘n vraende gebaar met ‘n oop palm en
uitgestrekte vingers.
Die
ryk, magtige Pilatus met al sy status, staan voor Christus. Hy wat kan besluit
om mense te laat kruisig, wil van Hom weet wat sin is. Hy is die soeker.
Een
kant teken Ge vir Jesus – die presiese teenbeeld van Pilatus: hy is eenvoudig
aangetrek in ‘n donkerrooi kleed. Stil, in die skaduwee, teruggetrokke, luisterend
staan hy voor Pilatus wat so vol deur helder lig omring word. Die blink een, die slim en sterk een, is
eintlik die leë mens, onseker. Die een in die skaduwee, wat stil, regop, sonder
gebaar, onopgetooi geteken word, moet die groot Vraag oor die waarheid
beantwoord.
Wat
is meer ironies: die regter wat vir die gevangene oor Waarheid uitvra.
Die
waarheid wat ons ontwyk, staan dikwels voor ons, eenvoudig, maar kragtiger as
die magtigste van mense en konings.
‘n
Sweedse ondersteuner het al Ge se skilderye geërf omdat sy hom deur sy lewe
versorg het. Na haar dood in 1952 was daar nie ‘n spoor van die skilderye te
vind nie. Uiteindelik het ‘n jong versamelaar ‘n klomp daarvan by ‘n Switserse
vlooimark opgespoor. ‘n Groot deel is
tans in Rusland, nadat dit as ‘n versameling deur ‘n Russiese galery gekoop is.
Ek
kyk met groot vreugde na verskillende van sy skilderye. En op ‘n stadium kom ek
af op ‘n brief wat hy oor Tolstoi geskryf het. Hy het Tolstoi in Moskou gaan
opsoek en oor ‘n lang tyd het hulle ‘n besondere vriendskap ontwikkel.
Tolstoi
het gedink Ge se skildery wys ware meesterskap. Oor en weer het hulle baie van
mekaar gedink.
Wat
my bybly in hierdie soeke na meer inligting oor Ge is sy opmerkings oor
Tolstoi. Sy toegeneentheid tot Tolstoi het begin toe hy op ‘n dag in die
koerant ‘n uitspraak van Tolstoi lees. Tolstoi was op daardie stadium in die
stad op besoek aan verskeie kelders waar arme, ellendige mense geskuil het.
Waarop die koerant skryf dat Tolstoi gesê het:
Dit is ons gebrek aan
liefde vir die ellendigste mense wat die oorsaak van hulle verskriklike
toestand is.
Hierdie
woorde, skryf Ge, was soos ‘n vonk wat sy hart aan die brand gesteek het en wat
hom dadelik Moskou toe laat reis het om vir Tolstoi te ontmoet.
Groot
is mense, skrywers en skilders wat deur liefde gedryf word…
Ook
die teendeel is waar: Ellendig is mense wat onder ‘n gebrekkige liefde ly.