Dit
is nie altyd maklik om te verduidelik wat mistiek is nie. Tog kan ‘n mens in
sekere opsigte sê wat dit nie is nie.
So
verstaan ek Peter Schäfer se werk oor die oorsprong van die Joods mistiek. Hy
wil verstaan hoe mense in Bybelse tye oor die mistiek gedink het. Hy kyk veral
na baie bekende apokaliptiese boeke soos 1 Henog, 4 Esra, Jubeljare, 2 Barug,
maar ook na Qumran-tekse en die latere Hekhalot-geskrifte. Dit is baie bekende boeke waarvan sommige vandag nog in sekere Bybels as die apokriewe boeke opgeneem is.
Daar
is, skryf Schäfer, ‘n nuttige bespreking van Elliot Wolfson, waarin hy oor die
tekste skrywe. Wolfson praat oor hoe ons moderne verstaan van die mistiek deur die Griekse
filosoof, Plato, ingrypend beïnvloed is. Plato met sy siening dat die wêreld
soos ons dit sien en bekyk, nie die hoogste werklikheid is nie, het ‘n
“ideë-ryk” as die eintlike werklikheid ten grondslag van ons wêreld beskou. Die
mistiek sou dan beteken dat ons met God, die hoogste Idee, verenig word.
Dit
het vele mense in die Christendom se siening van die mistiek beïnvloed. Christene dink dikwels dat
kontemplasie van God te doen het met ‘n vorm van eenheid waardeur die siel van
die liggaam afskei en na God as die bron van alle dinge terugkeer. Dit siel van
die mens word op ‘n mistieke manier een met die goddelike siel. Dit is ‘n
eenheid met God wat groter is as die verstand en alles wat bestaan. Die mens word vergoddelik.
Hierdie
neo-Platoniese manier van dink kry ‘n mens nie in die Bybel nie, skryf Wolfson. Geen Joodse
teks sal beweer dat die mens verenig word met die Siel van God nie.
In
Joodse tekste van Bybelse tye gebeur iets heeltemal anders. In hierdie tekste
word vertel hoe mense deel kry aan die hemelse sfeer en opstyg uit hul aardse bestaan. In ‘n sekere sin sou ‘n
mens kan praat van die mens wat tot engel gemaak word. Die mens word bo tyd en
ruimte uitgetel en kom dan in die teenwoordigheid van God. Daarmee word mense
soos engele: hulle tree in voor die goddelike aangesig in die hemel. Maar nooit
sal ‘n mens dit kry dat die mens in die goddelike siel opgneem word en een
daarmee word nie. Die mens mag in sommige gevalle dus tot engele gemaak word, maar nooit word mense vergoddelik nie.
‘n
Mens moet dus genuanseerd oor die Joodse mistiek praat: In Joodse tekste is dit
beter om te verwys na ‘n hemelreis as na ‘n mistieke ervaring. Die mens word volgens
die Joodse tekste deur die hemelreis van die aarde opgeneem en deur hemelse
sfere geneem. (Dink maar aan Openbaring waar Johannes hemel toe geneem word in
Openbaring 4:1 en veral Openbaring 20:10 waar Johannes hemel toe geneem word en
vanuit ‘n hoë berg sekere openbarings ontvang).
Met
so ‘n beskrywing van ‘n hemelreis vermy ‘n mens volgens Wolfson die indruk dat
dit in die tekste gaan om ‘n mistieke eenheid. Mistieke eenwording is immers ‘n
moderne manier van praat oor die mistieke ervaring wat kan veroorsaak dat ‘n
mens tekste in Bybelse tye nie reg verstaan nie.
Daar
is in sekere Joodse tekste ‘n ander interessante verskynsel. In die
apokaliptiese boek met die naam 1 Henog, word vertel hoedat die Bybelse figuur
van Henog as mens omvorm is tot Metatron, die hoogste van alle engele.
Navorsers het baie oor die uitspraak gewerk, omdat dit daarop wys dat sommige
Jode in Bybelse tye geglo het dat mense in engele getransformeer kan word.
Wolfson
glo dat ‘n mens die volgende prentjie kan teken: die vroom mens word opgeneem
in die hemel en neem deel aan die hemelse liturgie. (Dit herinner ‘n mens aan
Johannes se visioen in Openbaring 4-5 waar hy die hemelse liturgie sien). Maar in
die latere, mistieke Hekhalot tekste word die beeld nog verder uitgewerk: die
mens word ook gekroon om langs God op die troon te gaan sit.
Al
hierdie vertellings is maniere van gelowiges uit die tyd van die Bybel om na te
dink oor hul verhouding met God. Uiteindelik kan ‘n mens nie die wêreld soos ‘n
mens dit elke dag ervaar, goed verstaan nie. Om gelowig te wees, beteken om te
ervaar hoedat ‘n mens die teenwoordigheid van God binnegaan, ver verby die beperking
van die wêreld waarin die mens bestaan. ‘n Mens moet dus die “hemel” herken wat
agter ons wêreld bestaan. Ons lewe draai dus nie om hierdie wêreld nie, maar om
God. Wat regtig saak maak, is om in die intieme verhouding met God voor God en
by God self te wees.
Hoe
dit ook al sy, as ‘n mens wil verstaan wat mistiek vir Bybelskrywers beteken,
moet jy versigtig wees om nie moderne begrippe te maklik daarvoor te gebruik
nie. Dit is eerder nodig om vas te stel hoe Bybelskrywers self daaroor gedink
het en watter taal hulle daarvoor gebruik het. En hieroor is daar geen twyfel
nie: die intieme verhouding met God is deur Joodse skrywers veral uitgebeeld
deur die metafoor van ‘n hemelreis.
As
‘n mens dit verstaan, word sekere Bybelgedeeltes baie interessant. Soos byvoorbeeld
Paulus se uitspraak in 2 Korintiërs 12:2!