Ek kyk vanaand, uiteindelik na ‘n
paar weke van rondhardloop, na ‘n video oor die lewe van Oscar Romero. Dit lê
al weke lank op my rak.
Die film maak hierdie dag vir
my baie spesiaal.
Toe Romero as aartsbiskop van
Salvador aangewys is, was die priesters ontsteld omdat hy toe nog ‘n
konserwatiewe reputasie gehad het. Dit was ‘n troostelose uitsig dat hy hul
leier sou word, want die tye was moeilik, met grootskaalse verdrukking van die
bevolking. Vele van die priesters was aan die kant van hierdie arm,
ongeletterde en uitgebuite armes. Hulle het verslae gehoor dat hulle nuwe geestelike
leier maar ‘n trae, behoudende man was.
Toe word hy, onverwags en
onvoorsiens, ‘n voorste stryder teen die gewetenlose militêre bewind waartydens
soveel mense vermoor is.
Die keerpunt in sy transformasie het gou gekom met die
sluipmoord op ‘n mede-priester en vriend van hom. In die ellende van sy tyd en omstandighede het God sy lewe aangeraak.
Ek lees na die fliek dat hy as een
van sy ideale steeds bly soek het na groter toewyding en heiligheid.
Nou weet ons van Spiritualiteit se
kant af: Heiligheid soek ‘n mens nie maar net nie. Dit word ook nie altyd wat jy dink in jou lewe moet gebeur nie. Dit word na jou
gestuur. Dit oorkom jou.
Dit gebeur so: met spiritualiteit as praktiese wysheid kan
dit nie anders nie.
Jy beland in die praktyk, in die
harde werklikheid van die lewe en jy ontdek dat God op vreemde en onverwagte
plekke vir jou ontmoet. Daar, in die hardheid van die werklikheid moet jy wys
word, moet jy onderskei wat God vra en moet jy maar toegee dat al jou vaste
vooringenome posisies buite God se wil
val en tot niet raak.
En die praktiese wysheid behels nuwe
dinge, nuwe groei en nuwe dimensies van heiligheid.
Dit sou ook met Romero gebeur: sy
geleefde vroomheid in die barheid van uiterste kwaad om hom het hom ‘n voorvegter vir sosiale geregtigheid gemaak.
By die armes, by lyke van mense wat
deur die magshebbers en hul meelopers vermoor is omdat hulle teenstanders was,
het Romero die pad van groter heiligmaking begin loop wat ingestel was op
verset teen sosiale onreg.
Die gesig van die maghebbers was
boos. Die film wys byvoorbeeld ‘n toneel van ‘n jong lidmaat van hom wat deur
‘n groep soldate na ‘n vullishoop geneem word. Die aanvoerder stuur haar
vooruit en bevel haar om te kniel. Maar sy draai om en kyk hom vol in die oë,
stukkend geslaan en vol bloed. Hy fel haar neer met ‘n enkele koeël.
Later vertel iemand dat sy deur die
groep verkrag is voordat hulle haar tong uitgesny het.
Die ander kant is ewe bleek: een van
die ryk vroue kom vra Romero om haar kind te doop. Sy wil nie in die gewone tou
inval waarin al die mense staan wat twee keer ‘n week hul kinders ten doop
bring nie. Sal hy dan nie vir haar ‘n spesiale, private doopplegtigheid toelaat
nie?
Hy, versigtig, vertel vir haar hy is
jammer. Dit kan nie.
Sy bars uit: “Jy verwag tot nie dat
ek saam met al die Indiane moet toestaan om my kind te laat doop nie?”
Uiteindelik is Romero op 24 Maart
1980 in ‘n kerk in ‘n dorpie doodgeskiet waar hy besig was om die nagmaal te
bedien. Terwyl hy die nagmaalsbeker opgetel het, het die moordenaar hom met een
koeël neergevel.
‘n Kwartmiljoen mense woon sy
begrafnis by in wat as een van die grootste protesbewegings ooit in
Suid-Amerika beskou word. Tydens die begrafnis skiet soldate wild tussen die
skares in en dood 50 mense. Na sy dood begin die guerilla-oorlog.
Ek kyk die film met ekstra weersin
in my gemoed. Die tirannie van ‘n militêre regering van ryk mense wat hulleself
bevoordeel en oor die lewens van ander trap, roep vele herinnering op.
Verskriklik is die beelde van mense wat afgemaai word omdat hulle in die pad
van die magshebbers staan. Slu en listig is die manipuleringspogings van en dreigemente teen die kerk.
Pouse en presidente besoek vandag sy
graf in die katedraal van Salvador. Obama was in 2011 daar. Oor die wêreld heen
word sy nagedagtenis geëer. Dit word ‘n heiligdom waarheen ‘n mens ‘n
pelgrimsreis onderneem.
Die wêreld, tans so agterdogtig oor
al die aansprake van die kerk, herken nietemin goedheid, weet om die heilige te
eer.
Maar vanaand bly iets anders die
meeste by my. Sy biograaf, Brockman, noem die volgende eienskappe van sy
geestelike pelgrimsreis op. Dit is die dinge wat Romero vir sy lewe gesoek het:
Liefde
vir die kerk,
Diepgaande
ondersoek van die gewete,
Beklemtoning
van opregte vroomheid,
Sterwe
aan jouself en berou,
Ingesteldheid
op jou reinheid,
Geestelike
vriendskap (mistagogie),
Eenheid
met Christus deur mense wat na vryheid smag,
Soeke
na kontemplatiewe gebed en om God in ander te vind,
Getrouheid
aan wat God vra.
‘n Paar oomblikke voor sy dood het
Romero die volgende gesê:
“Mag hierdie gebreekte Liggaam en
hierdie bloed, geoffer vir mense, ons ook voed sodat ons ons liggaam en bloed
vir lyding en pyn oorgee – soos Christus, nie vir onsself nie en om
geregtigheid en vrede vir ons mense te leer. Laat ons verenig word in die
intiemheid van geloof en hoop waneer ons bid vir Dona Sarita en vir onsself.”
Oomblikke later, terwyl hy die beker
omhoog gehou het, het hy gesterf.