Monday, February 11, 2013

Hoe naby is moord aan die hatige hart. Oor ons diepgesetelde vooroordele.



Die tragiese tonele van ‘n jong man wat verlede week in ‘n hof in ons land sit omdat gedink word dat hy bomme by ‘n politieke byeenkoms wou plant, het my ver laat dink.

Ons land ken die verskriklike tragedie van bom-ontploffings. Die laagtepunt, weet ons, was die ontploffing in die St. James Kerk op 25 Julie 1993 waar 11 mense gesterf het en 58 beseer is. 

Bloed vloei dikwels oor die wêreld heen wanneer haat mense lewens vul

Een van die beroemde voorbeelde kom uit die onlangse Amerikaanse geskiedenis. 

Die Baptiste Kerk in Birmingham, Alabama (VSA) was ‘n plek waar vele byeenkomste van die Amerikaanse burgerregte-beweging plaasgevind het. Onder die prominente leiers wat daar opgetree het, was Martin Luther King.

Dit was die tyd waarin Afro-Amerikaners massief en oor jare heen in opstand gekom het teen rasse-diskriminasie. In die kerk is dikwels byeenkomste gehou om die veldtog te ondersteun.

Gou het hierdie Baptiste Kerk van 16e Straat bekend en gehate geraak.

In daardie tyd was daar baie bomme wat in Birmingham ontplof waarin veral swart Amerikaners geteiken is. Nie een van daardie ontploffings het tot enige arrestasies gelei nie.

In September 1963, 50 jaar gelede, het vier lede van die Ku Klux Klan stilletjies 19 dinamietstukke teen die kelder van die kerk gaan plant.

Daardie oggend, net na die Sondagskool, was daar ‘n byeenkoms in die kerk van ‘n groep kinders wat die kerk se jeugdag wou organiseer.

Een van die kinders, ‘n 15 jarige meisie het na die kantoor gegaan om papiere te gaan haal. Sy het ‘n foon hoor lui en toe sy dit antwoord het ‘n stem gesê: “Nog drie minute” en die foon neergesit.

Toe het die bom afgegaan.

Vier meisies is in die ontploffing dood en 23 mense beseer. Drie van die meisies was 14 jaar en een was 11 jaar oud.

Die bom-planters het nie ontsien om kinders in ‘n kerk wreed om die lewe te bring nie.

Dit is wat haat aan mense doen. Haat vir ander mense, boonop. Dit sou veertien jaar duur voordat die eerste bomplanter skuldig bevind is. Die tweede een is eers 37 jaar later opgesluit. Die laaste bomplanter is eers in 2002 lewenslange gevangenisstraf opgelê.

Die skok en verontwaardiging het die stad en die land bymekaar gebring soos min ander gebeurtenisse. 

‘n Gemeente van 8000 het die begrafnisse bygewoon.

Oor die wêreld heen was daar meelewing met die kerk se verlies en skade. Onder die skade was die kerk se gebrandskilderde glasvensters.  Duisende kilometers weg, in Wallis, het ‘n Walliese kunstenaar besluit hy wil die kerk bystaan. Hy het skenkings van gewone nie-ryk Wallisers van nie meer as 25 sent per persoon gevra om 'n venster in die kerk te vervang. In ‘n merkwaardige veldtog is al die geld bymekaar gemaak en het John Petts die venster begin maak.

Sy inspirasie vir sy ontwerp het hy in Matteus 25:40 gekry: “Ek sê vir julle: wat julle aan die geringste van my familie gedoen het, doen julle aan my.”

“Julle doen dit aan my” word sy inspirasie. Dit staan ook groot aan die onderkant van die venster geskryf.

Hy teken ‘n swart figuur met uitgestrekte hande asof gekruisig. Die een hand druk haat en onreg weg, die linkerhand bied vergifnis aan. Om die hoof van die figuur is ‘n reënboog, 'n simbool van 'n verenigde mensdom.

Ondenkbaar was dit in daardie tyd dat Christus uitgebeeld is as ‘n swart man. 

Vir Petts en vir die gemeente was dit ‘n simbool van Christus se volkome eenwording met lydende gemeenskap in Birmingham. Die boodskap, het hulle besef, is: wanneer jy dit aan hierdie mense doen, vervolg jy Christus.

Ek lees verskeie stukke oor hierdie geskiedenis. Veral een kommentaar van ‘n vrou wat daardie tyd van naby beleef het, bly by my. Sy sê: “As jy die situasie beleef het, het dit vir jou gevoel of niemand omgee nie. Natuurlik wil ‘n mens dink dat God omgee en dat God ons lief het. Maar om te dink dat iewers in ‘n ver land wat ons nie eers geken het nie, mense vir ons omgegee het, het my diep geraak.”

 


 

Blog Archive