In
die vorige blog het ek bietjie geskryf oor die interessante opmerking van geestelike
skrywers soos Thomas a Kempis wat die oordeel oor ander sien as iets wat ‘n
mens in blindheid gevange hou.
Jy
maak aanspraak daarop dat jy die lig ontvang het en dat ander blind is.
Maar
eintlik is jy blind – juis deur hierdie aanspraak te maak.
Jy
kan dus ‘n gevangene van jou eie vernaamheid word – blind vir wat werklik Lig
in jou lewe kan bring.
Wanneer
‘n mens oor ander oordeel, is jy besig om jouself beter as hulle te beskou. Dan
is jy blind vir die groter Waarheid wat buite jouself te vind is en wat in vele
gedaantes tot jou kan kom.
Deur
oor ander te oordeel is ‘n mens eintlik besig om groot skade aan jouself aan te
rig.
Niemand
kan daarop aanspraak maak dat hy dinge ken soos hulle is nie. Net die Woord van
God, die goddelike stem, onthul aan ons waarom alles werklik gaan.
Wanneer
‘n mens na die Lig op reis is en jou lewe ingestel is op wat die diepste sin
van alles is, is ‘n mens nederig op soek na kennis oor jouself voor God. Die nederige
soeke is belangriker as om aanspraak daarop te maak dat jy alles ken, baie weet
en dat jou insigte betroubaar is.
Wat
saak maak en wat veel belangriker as jou vername oordeel is, is om te weet dat
‘n mens deur God se genade gedra word.
Hier
moet ‘n mens nou ‘n verdere stap in gedagte hou:
Dit
is nie sommer vanselfsprekend dat ‘n mens weet dat jy op reis is na die Lig
nie. Dikwels kan jy dink jy word deur God se genade gedra. Die werklikheid kan
heel anders lyk. Dan is dit jou eie siening waaarop jy bou en vertrou.
‘n
Mens weet nooit presies nie en jou insig is nooit suiwer nie. Ons insig en ons
wete is feilbaar en menslik.
Mense
kan byvoorbeeld dink dat hulle in die Lig lewe en regverdig teenoor ander
optree. Maar eintlik buit hulle ander mense uit. Of ‘n mens kan dink dat jy
iemand lief het terwyl jy in werklikheid gedryf word deur begeerte en pure
losbandigheid. ‘n Mens kan dink dat ‘n mens by die Woord van God hou, maar
eintlik is ‘n mens se lewe steeds nog in donkerte.
Die
menslike lewe is nooit puur nie. Mense leef in menslikheid waar goed en kwaad
vermengd bly.
Hoe
‘n mens ook al in die Lig wandel, ‘n mens behou donker kolle, skryf Bocken. Ons
bly gebind aan ons menslikheid, aan ons feilbare woorde. ‘n Mens dink na oor
die groot geheel, besef dat jy deel is van ‘n meerdere eenheid, en tog is jy
gebonde aan jou eie vooroordele en begeertes.
Juis
daarom, beklemtoon Bocken deur ‘n
aanhaling van Thomas uit te skryf, moet ‘n mens nie oor ander oordeel nie.
Jy
is gans te feilbaar.
Jy
kan nooit daarop aanspraak maak dat jy die hele prentjie voor jou het nie.
Jy
kan jou verstand nie vertrou nie.
‘n
Mens leef dus in die donker en is blind wanneer jy jou insigte as die groot,
finale woord beskou.
Wat
nou?
Wat
‘n mens wel kan doen is om te besef alles wat jy sê en dink, net ‘n eerste stap
is.
Jy
kan besef dat wat jy dink en sê maar net jou eie opinie is.
Jy
kan ook vir jouself herinner daaraan dat dit jou groot menings is wat jou blind
maak.
Maar
moet ‘n mens nou ophou oordeel? vra Bocken. Sekerlik nie. Alle mense is
gedurigdeur besig om op een of ander manier ‘n mening en oordeel uit te spreek.
Wat saak maak is hoe jy dit doen. Jy kan byvoorbeeld vroom vertel dat jy nie
oordeel nie. Wanneer iemand dit doen, is dit maar weer eens sy of haar opinie. Mense
dink net hulle oordeel nie. En dit is sekerlik ‘n illusie.
Mense
bly oordeel. Wat saak maak is hoe jy dit doen: Elke oomblik moet ‘n mens bewus
bly van die voorlopigheid van jou denke.
En
daaruit volg die verdere, groot en belangrike insig: Terwyl dit waar is dat
alle mense oordeel en ‘n mens die oordeel nie kan ontvlug nie, moet ‘n mens
leer om versigtig te wees. Wees terughoudend in jou oordeel. Dit beteken dat jy
steeds weer weet dat jou oordeel oor ander mense en dinge uit jou binneste
opkom en dat elke oordeel wat jy maak beoordeel kan word.
‘n
Mens moet terughoudend wees deur altyd ruimte te maak vir die oordeel en mening
van ander mense. Eerder as om jou oordeel belangriker as ander mense s’n te ag,
moet jy jou oordeel naas ander mense s’n plaas.
Ons
loop ons vas teen die klipharde harnas van menslike oordele en afhanklikhede. Die
lewe is een enorme kompleks van menslike menings en oordele. Dit staan soos ‘n
groot rots voor ons. Maar wanneer ‘n mens weet, heel bedeesd insien, dat alles
maar ons eie pogings is om te verstaan en dat dit deel is van die groot reis
van alle mense om dieper te kan begryp, skep ons ‘n ruimte waarin die Lig kan
begin skyn.
Dit
is dan, besef ek as ek Bocken klaar gelees het, dat ‘n mens nog verder vorder:
dit is nie maar net ‘n kwessie dat ‘n mens nie te gou ander se opinies as
minderwaardig moet afskryf nie. Of, bietjie beter, dat ‘n mens ander se menings
maar verdra nie omdat jy weet jou oordeel is ook iewers feilbaar. Dan groei ‘n
mens tot die punt dat jy weet jy het ander mense se menings nodig.
God
se stem, die goddelike fluistering, kom op baie – ook verskuilde – maniere tot ‘n
mens. Wie is die mens om te oordeel hoe dit sal gebeur? Te dikwels in die
geskiedenis het mense ‘n Emmaus-ervaring: jy sien jou “oningeligte” reisgenoot.
Jy hoor hom of haar praat. En dan, onverwags, kom jy agter: hier word die
Grotere onthul… Jy was die blinde – in die
donkerte, soekende, op reis.