In
‘n nuwe publikasie (van Tzamalikos, gepubliseer by Brill in Leiden) oor ‘n
sesde eeuse Griekse geestelike, Cassianus die Sabaïet, is daar ‘n brief wat hy
geskryf het aan Biskop Kastor oor die gebedsgewoontes van geestelikes in
Egipte.
Dit
is ‘n brief wat illustreer hoe gebed nie sommer gaan om wegval en woorde tot
God uiter nie.
Hier
is my weergawe van die Engelse vertaling van Tzamalikos:
Wanneer die gemeente
bymekaar kom en ‘n Psalm gelees het, skryf hy, is hulle nie haastig om te kniel
vir die gebed nie.
Hulle staan eers vir
‘n paar oomblikke en terwyl hulle so staan, bid hulle met uitgespreide hande.
Daarna kniel hulle uitgestrek
op die grond. Hulle bid dan vir ‘n tyd waarna hulle almal gelyk opstaan. Dan,
terwyl hulle weer hulle hande sprei, sluit hulle hul versoeke af – maar hierdie
keer doen hulle dit langer en meer intens. Die persoon wat voorgaan in gebed
word gevolg: as hy opstaan, staan hulle ook op; as hy kniel om te bid, kniel
hulle ook.
Wanneer hulle bymekaar
kom, is hulle so ingestel op stilte dat ‘n mens sou sweer daar is geen mens in
die omgewing nie, al is daar ‘n menigte mense in die vertrek.
Wanneer almal daar
bymekaar is en saambid, is daar nie een wat sal spoeg, of hoesgeluide maak nie,
of gaap nie. Niemand is verveeld met gebed nie. Jy sal nie ‘n oop mond of ‘n
slaperige mens sien nie. Nie ‘n enkele gekreun word gehoor nie. Want hulle sê
iemand wat met ‘n lui gemoed bid, sondig op twee maniere: eerstens bid hy
agtelosig. Tweedens, hamer hy met sy onbeleefde geraas op die ore en die
gedagtes van ander en dra aldus by tot aanvalle van die bose duiwels. Want as
die duiwels sien ons staan en bid, val hulle die siel aan met ongepaste
gedagtes en afgestomptheid vir gebed.
Om hierdie rede is
niemand haastig om raserig en vinnig die Psalm af te rammel nie. Dit is nie dat
hulle genot put uit die getal woorde nie. Dit is eerder om die woorde in hul
gedagtes te laat insink. Daarmee gee hulle gehoor aan die opmerking: “Ek sal
met die gees sing, ek sal ook met insig sing.” Hulle ag dit beter om tien
versies nadenkend te sing eerder as om ‘n hele Psalm met ‘n deurmekaar gemoed
af te rammel.
Ons
sal nou nie hierdie gedeelte hoef te gebruik wat die spoegery betref nie.
Maar
daar is eeu-oue wysheid in die brief te leer:
Dit
gaan om die instelling, om gerigtheid op wat ‘n mens doen, om worsteling, om
beleefde gebed. Insink, insink, dit is waarom dit gaan. Die woorde, Woorde wat
tot ‘n mens kom, moet deel word van ‘n mens se innerlike. Die insink kom wel
miskien “met insig”, met verstaan, met die brein. Maar dit kom ook “met die
gees” deur die uitsprei van die hande, deur die kniel op die grond, deur die
stilte: steeds weer afwagtend, afhanklik, ontvanklik, smekend, gereed vir die
Ontmoeting.