Saturday, September 26, 2009

Sonder woorde, maar naby aan God. Oor die teenwoordigheid en afwesigheid van God in ons lewens (Markus 1).

Wanneer ‘n mens Markus Evangelie lees, staan ‘n mens voor die Verborge Teenwoordigheid van Christus: Hy is onder ons teenwoordig, die een wat gedoop word, versoek word en dissipels roep. Hy praat soos ons, eet, drink saam met ons en woon onder ons.

Maar hy is ook verborge, die Een wat sommer van die begin van die Evangelie af as “Seun van God” bekend word (Mk.1:1).

Die Seun, die Een wat soos ons is, 'n mens, maar terselfdertyd, anders, die Ander Een, “van God.” En daarin is Hy al die verborgene. In Hom, nietemin, en deur Hom , merk ons ‘n Oneindigheid, ‘n Andersheid wat ons nooit kan peil nie. Hy is so anders, so verskillend.

Reeds gou-gou ontmoet ons Jesus in die sinagoge. In Markus 1:21-22 lees ons hoe Jesus in hierdie ruimte van die gelowiges, die sinagoge, ook, soos ander voor hom bymekaar kom om oor die dieper dinge na te dink, om hul verantwoordelikheid teenoor God te weeg en uit te klaar. “En hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan”.

Maar, hierdie keer, is dit ook weer anders: Sy toehoorders is “verslae” oor wat hy vir hulle leer, “want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mk.1:26-27). Die verslaentheid wat hierna dikwels in die Evangelie met Jesus verbind sal word, is dus van die begin af daar. “Almal soek” Jesus (Mk.1:37), want hier, by hom, word hul menslike ervaring op ‘n spesiale manier verdiep. Waar Jesus kom, besef mense dat hulle met die Grotere, die Heilige gekonfronteer word. En hulle word oorweldig daardeur.

En dit sit hulle aan die dink. Watter besondere Een, hierdie Jesus! Daar is in hom baie meer as wat ons in ander mense raaksien of van ander mense hoor. Watter oorweldigende teenwoordigheid. Dit is of die goedheid in hom oorvloedig is, of daar net eindelose moontlikhede is. Dit raak ons lewe, maak 'n appel op ons en stuur ons in 'n koers. Ons kan nie maar net soos altyd aangaan nie.

Hier begin hulle lewens dus verander. As 'n mens van aangesig tot aangesig voor die Ander een staan, ontsnap jy nie die gevolge van daardie situasie nie.

Kyk na hierdie prentjie van die ontmoeting tussen die mense in die sinagoge. Hulle is in die teenwoordigheid van die Heilige. Hulle voel eintlik hoe hul lewens onder hulle uit verander word. Dit is amper te veel. Wie hier voor Hom staan en nie reg ingestel is nie, se kop ruk uit. Iemand in die sinagoge wat onrein is, skreeu daarom uit: “Hou op, Jesus Nasarener! Ek ken U, wie U is, die Heilige van God!” (Mk.1:24).

In Jesus is daar soveel oorweldigende goedheid, soveel skakering van reinheid, dat ‘n mens begryp jy is in die teenwoordigheid van die Heilige. Jesus praat nie self oor sy eie heiligheid nie. Maar mense herken Hom, benoem Hom en ervaar Hom só. En hulle het nie ‘n keuse nie. Voor hulle nog wou, het hulle dit ervaar. Waar 'n mens blootgestel staan voor die opregtheid van die ander Een, gebeur iets met jou wat jy nie kan beheer nie.

En sommige wil dit nie hê nie – hulle wys Hom af: “Gaan weg! Wat het ons met U te doen?” skreeu die onreine. Hy verset hom teen hierdie ervaring van God. Hy voel God in sy lewe, ervaar die heiligheid, dit oorweldig hom. Hy staan magteloos voor hierdie besef dat hy in die teenwoordigheid van die Grotere, die Andere is. God is so naby –te naby vir onreinheid en daarom die rou kreet: “Gaan weg...”

Hy verwerp die Ander een. Hy kies teen enige verhouding met die goeie. Hy loop sy eie pad, alleen.

Dit is sy soort wat Jesus sou kruisig, wat geweld in hul lewens verkies, wat die Ander een nie in die oë kan kyk nie. Dit is sulke mense wat nie van Gelaat tot Gelaat leef nie.

Maar, terwyl die onrein man Jesus herken as die Heilige, is die ander “verbaas” en vra “wat se leer is dit?” (Mk.1:27). Hier is nie kru afwysing nie. Hulle is geboeid deur Jesus, eintlik in verwondering, verslae.

En tog, al wil hulle graag reageer, is dit nie maklik nie. (Die proses...) Een oomblik herken ons God so duidelik – die mense, selfs die onreines, roep dit dan in die openbaar uit! Ons behoort dit te weet, al die netjiese antwoorde te kan gee. Maar dan weer, vra ons, verbaas, verwonderd, selfs raadop na wie God is. Dan weet ons nie meer so mooi nie. Dan laat ons woorde ons in die steek. God is te groot vir ons verstand. Ons sal moet oop bly dat God weer telkens nuut met ons sal praat, nuwe dinge van ons sal vra, anders as die Skrifgeleerdes met ons sal praat, met gesag op ons lewe 'n greep uitoefen en van ons verantwoordeliheid eis.

Let veral op: die onrein man wat besef dat hy in God se teenwoordigheid is, praat direk met Jesus. Hy het die Goddelike raakgesien en praat daaroor. Maar hy weier om hierdie verhouding in sy lewe te laat werk. Hy wys dit af.

En kyk na die ander wat daar was, maar wat nou verslae is. Hulle praat oor Jesus: “Wie is hy? Wat se nuwe leer is dit?” God het ‘n “spoor” in hulle lewe gelaat (Levinas). God was daar. Hulle weet dit. Maar dan is God ook nie meer daar nie. Hulle wonder. God het in hulle lewens ingegryp – die wonder. Maar hulle staan ook weer voor die ellende dat hulle nie verstaan nie. Dat hulle nie kan begryp nie, dat iets groter aan die gebeur is. Hulle het niks om te wys nie. Weer eens wys dit daarop: ons kan God nie in netjiese pakkies verpak en etikette omhang nie.

Niks is netjies in plek hier nie. Mense wat weier om op die heilige teenwoordigheid van God te reageer, wat weier om hierdie heiligheid te erken en te laat werk in hulle lewe, dra die gevolge en word aan lyding oorgegee. Maar selfs hulle wat aangetrokke voel en hulle harte oopmaak vir die Heilige, kan nie te gerus wees nie. Want selfs hulle wat Jesus naby wil hou, wat in God se teenwoordigheid wil bly, ontdek steeds weer – hulle woorde is swak, hulle verstaan is klein, hulle krag is min. Dit is nie maklik om die heilige God te aanbid nie. Die woorde ontbreek. Ons bly maar soekers. Ons sien net spore van God in ons lewe raak.

Juis daarom is dit nodig om na aan Jesus te bly... Om maar steeds weer by die Mens, die Goddelike mens, die Seun van God te gaan staan, Hom te hoor praat, Hom te sien doen.

Hy laat ons nuut dink, anders dink. Nie sonder trauma nie. Maar by Hom begin die nuwe lewe – as ons maar sy Gelaat bly aanskou.

Dankbaar lees ons, in hierdie boek oor die Seun, hoe God sy Gelaat telkens aan ons wys: Die spoor word darem 'n ry spore...

Markus 1:45:

Maar hy het uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak, sodat Hy nie meer openlik in ’n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive