Sunday, September 06, 2009

By 'n berig... Oor die stil mense in jou lewe.

Ons hoor vandag van iemand na aan ons wat ons verloor het. Nog ‘n lewenshoofstuk in ons eie lewensverhaal wat deur hierdie verlies afgesluit word.

Ek dink aan die baie stil dae oor jare wat ons almal saam deurgebring het, al was dit maar min woorde wat ons met mekaar gewissel het.

Ek dink aan die gerusstelling en aan die konstante teenwoordigheid wat hierdie persoon aan ons geskenk het en wat soveel gerustheid en rustigheid vir ons meegebring het. In ons almal se vinnige leef was dit daardie teenwoordigheid wat, op die keper beskou, juis vir ons ook gehelp het om makliker te leef. Dit het op ‘n klein manier gehelp om alles moontlik en draaglik en goed te maak.

‘n Mens kry met sulke nuus dikwels hierdie gevoel: ek kon meer gedoen het, meer gesê het, meer opgevolg het, meer omgegee het. En tog, aan die ander kant, was daar darem altyd die wete dat die baie ander mense en dinge in jou lewe wat om aandag gevra het, nooit te veel was om te sorg dat daardie persoon ook veilig is en versorg word. Dae en dae se rondhardloop, agter afsprake aan, skrywery wat moet klaar kom, administrasie wat afgehandel moet word, verpligtinge wat om aandag gevra het het dalk nie altyd tyd gegee vir uitvra en gesels nie. Maar altyd was daar die wete, as die nood daar is, moet jy eerste daar wees om te sorg dat dinge regloop en niemand seerkry nie.

En jy weet, uiteindelik, daardie een het dit besef, het dit so ook verstaan en het dit goed gevind. Daardie een het besef hoe nodig dit is om ons in hierdie maalstroom te help, te ondersteun, maar kon ook soms heel direk en eenvoudigweg net vra vir hulp en ondersteunig.

In die wedersydse “daar-wees” was daar iets eg mensliks. 'n Mikro-verhaal, 'n petits-recit wat 'n hele diskoers van menslikheid aan die orde stel.

Die wete dat die wedersydse afhanklikheid ‘n band vorm wat veilige wêrelde tot stand bring, juis daardie wete maak so ‘n nuusberig van die finale weggaan en nooit-weer-sien afskeid ‘n stilword-ervaring.

Dus bly ons hier agter met die wete dit is nou finaal oor. Daar kan nie meer ‘n ontmoeting, ‘n woord te wissel, ‘n besoekie, ‘n geskenkie, ‘n briefie wees nie. En dan, die gevoel van verganklikheid wat deur die kort beriggie onvermydelik sy donker skaduwee agter hom aandra.

In die presiese lees van tekste het ek as eksegeet geleer dat die opvallende woord of gedagte in ‘n teks nie noodwendig die een is wat honderde kere daarin gebruik word nie. Juis die onverwagte alleen-woord, die een enkele keer wat dit voorkom, juis daardie woord val op, bly by jou agter en draal in jou gedagtes. Dit is die weggesteekte woord wat dikwels die opvallendste is. En wat jy onthou omdat dit juis in sy enkelvoudigheid so mooi is en diep weggebêre sal word.

Net so werk dit met mense. Sommige word nie dikwels in jou lewe genoem nie. Hulle staan nie prominent op jou agenda se afsprake-lys ingeskryf nie. En tog is jou lewe op ‘n sekere klein manier sonder hulle onleefbaar, moeiliker, armer. As hulle op 'n dag nie daar is nie, loop dinge nie reg nie. Hulle doen nie groot dinge in jou lewe nie. Hulle bring jou nie tot bekering nie. Hulle kan selfs baie, baie min voorkom. Hulle maak selfs dalk net ‘n motor so af en toe vir jou reg. Of sny jou hare een keer in ‘n paar weke. Of diagnoseer jou geduldig as jy siek is. Of groet jou as jy hulle by geleentheid gereeld iewers raakloop. Maar hulle is daar. En hulle maak jou lewe voller en ryker. Hulle wêreld, dikwels so totaal anders as joune, sny soms diep op jou wêreld in, maak jou bewus van groter dinge, van nood, van jou verpligtinge.

Dikwels, veral, in die groot fasade van mens-wees, in die groot brawade van ons jaag-kultuur, in die ontstellende leegheid van ons uitstal-maniere, is daar soms die een, eenvoudige mens wat in jou lewe leef met ‘n stille opregtheid, sonder om aansprake te maak, sonder om jou tyd op te eis, maar altyd weer dienende. Hulle gee vir jou die kleinste van dinge, die eenvoudigste van hulp. Hulle tel geduldig jou skoene op, spit swoegend in jou tuin. Hulle sit vriendelik of getrou jou telefoonoproepe na jou deur op kantoor. Hulle word dan deur hul stil mee-leef die vensters wat lig inlaat in die digte, selfs stikdigte lewensfasade, die wat eg menslik is in ‘n raas-lewe. Hulle is die rustige ankerplekke, sonder pretensies. Hulle is die tevredenes wat niks wil afwys of uitstal of opeis nie, want hulle is innerlik goed.

Waarom dink ek nou weer eens aan Saggeus – die een wat net een keer in die Bybel genoem word? Die een wat stilweg geleer het om weg te gee. En wat deur sy een-keer-plek in die Bybel iewers diep spore agterlaat. ‘n Mens hoef nie groot en vinnig te leef, om lank en dankbaar in herinnering gehou te word nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive