Monday, September 21, 2009

Die oorwinningstog van goedheid: oor geloof as inspirasie

Ek kom nie los van ons besoek in Leuven aan die kerk waar Damiaan begrawe is en die aangrypende geskiedenis van sy werk onder die melaatses nie (sien my blog hieronder oor “My melaatses”).

Hoe meer ek oor hom lees, hoe indrukwekkender word sy nalatenskap – hierdie priester wat in totale armoede en isolasie sterwende melaatses versorg het totdat hy self melaats geword het en ‘n aaklige dood aan melaatsheid gesterf het. (Wat my laat mymer oor die inkarnasie).

Hy het een van die groot godsdienstige figure in die negentiende/twintigste eeu geword. Hy word in een asem met Moeder Teresa genoem. Hy is deur die Belgiërs as die grootste Belg van alle tye gekies. ‘n Nederige, melaatse priester wat in ellende gesterf het en sy melaatses liefgehad het...

Hy het ook kunstenaars van formaat aangespoor om sy lewe in beeld vas te lê. In die kerk, met die uitstap, vang my oog ‘n besondere uitbeelding bokant die voordeur. Daar hang ‘n tapisserie, gemaak in 1937 deur een van die voorste ateljee’s in België aan die hand van ‘n ontwerp van Marcel Laforêt. Dit heet “Die triomf van Pater Damiaan.” Dit bevat grepe uit Damiaan se lewe wat op foto’s gebaseer is.

Die tapisserie is in sagte kleur gemaak, wonderlik lig op die oog. Jy kyk daarna as jy die kerk verlaat, na jou besoek, so onopvallend daar gehang. Dit is nie te groot nie, maar die pelgrim sal dit nie miskyk nie. En as ek nou aan my besoek terugdink, is dit ‘n wonderlike closure wat hierdie uitbeelding by my bring.

Kyk net die hele tapisserie:



Ek neem foto’s. As jy mooi kyk, is dit ‘n pragtige uitbeelding van sy aankoms op die eiland. Hy is die netjiese jong priester wat met die kruis en die bybel in die heiden-velde aankom. Maar in die sentrum van die tapisserie sit hy en hou ‘n kind vas, terwyl daar kindergesiggies om hom geskets is. Hy is in ‘n wit py aangetrek, wat die fokus op hom laat val. Hy is ‘n Pieta-figuur. ‘n Moderne mistikus.

Maar as jy nog nader kyk, sien jy in die misvormdheid van die gesigte:


Hierdie prentjie van Damiaan in die middel van die tapisserie het mense deur die jare so aangegryp dat hulle weer kunswerke daaroor geskep het. Daar is byvoorbeeld ‘n glasraam in de Damiaankapel in Ukkel wat daarop gegrond is. Die inspirasie inspireer!

Uit die melaatsheid en die dood van hierdie man van eenvoud, word skoonheid geskep en steeds weer herskep. In die stil tuin op die skone Sondagoggend, wandel die opgestane Christus, met die wonde van die kruis op sy lyf ingebrand.

Die hart van die mens herken goedheid en wil dit besing en bewonder. Ons hart roep om die dapper lewe van iemand wat alles prysgee, te verhef, aan te prys, in ons op te neem sodat daaruit goed kan kom. Maar steeds weer vra ons nuuskierig: hoe gebeur dit? Wat inspireer en dryf so iemand? En ons weet – dit kan alleen maar ‘n liefde wees wat van Bo kom.

Dit is tog wat die Evangelie eintlik regtig vir ons wil vertel: So lief het God die wêreld gehad... dat God die kosbaarste, die lewe prysgegee het. En daardeur nuwe lewe skep. En van toe af doen ons, konform aan Christus, geïnspireer deur heiligheid, dieselfde. Julle sal groter dinge doen...

Só werk God. Die kwaad kan nooit die laaste woord spreek nie. Trouens, die kwaad word omgebuig in goedheid, die dood in lewe.


Ten slotte, 'n ander uitbeelding van Sir Edward Clifford, wat Damiaan besoek het en hierdie skets gemaak het, en dit terwyl hy net die melaatse Damiaan geken het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive