Wednesday, September 23, 2009

Die derde lewe... Oor die einddoel en diepste moment van ons geestelike lewe.





Ek luister vanmiddag na Barack Obama se toespraak voor die Verenigde Volke en sy oproep dat lande nie net sal kerm oor alles wat verkeerd gaan nie, maar daadwerklik ‘n verskil sal maak. Terselfdertyd lees ek iewers wat Paus Benediktus gesê het hoe belangrik onderwys is, maar dat onderwys in ‘n wêreld wat sinies teenoor die lewe staan, vir kinders geen hoop sal bring nie. Hy praat ook oor hoe onderwys ruimte moet laat om vir kinders ook oor lyding te leer.

Alles praktiese dinge. Die groot oproep van mense met morele integriteit dat mense ‘n verskil moet maak.

En daar is niks wat meer waar is as dat mense ‘n verskil kan maak nie. Tereg maak die teologie dan ook baie daarvan. In ons tyd het kontekstuele teologieë op ‘n belangrike manier vir mense geleer dat geloof nie intolerante, diskriminerende strukture kan verdra nie, asof die kerk maar net vir mense van vroomheid moet vertel nie.

Ek het al voorheen (April) ‘n eerste blog geskryf oor Ruusbroec, die Vlaamse mistikus wat een van die bekendste mistici in die Christendom is. Hy het op 60 jaar hom op die kontemplatiewe lewe toegelê en is dus by uitstek ‘n mistikus wat die innerlike lewe in die oog het. Hy was onder andere ‘n geestelike vader van De Groote, vader van die Nuwe Toewyding en dus ook van Thomas a Kempis.

Die Nuwe Toewyding wat so ‘n praktiese, konkrete spiritualiteit gehad het, het ook ‘n innerlike kant gehad, wat in Thomas se Navolging na vore kom en vir sommige van sy lesers te individualisties is. Miskien kan die wortels hiervan teruggevoer word na Ruusbroec met sy kontemplatiewe spiritualiteit. ‘n Mens moet nie die baie sterk instelling op die innerlike lewe in Thomas se Navolging miskyk nie. Trouens, dit sal nogal ‘n uitdaging wees om te kyk hoe hy gedurig hierop terugkom.

En tog is Thomas se Navolging, in lyn met die Nuwe Devosie, eerder ‘n boek wat op die lewenskuns in die sin van die praktyk ingestel is.

Hoe moet ons interioriteit en eksterioriteit bedink? Ons dink altyd aan die deurwerking van die mistiek – hoe die mistieke eenwording met God vrug dra in die lewe van die mistikus en ‘n lewegewende praksis tot gevolg het.

In ons woelige tyd waar alles so ingerig is op die Christendom se vormende invloed op die samelewing, op ‘n aktivistiese geloofsbelewing, op bevrydingsteologie, is dit die moeite werd om die generator van sulke goeie bewegings weer te bedink. Interioriteit is dalk ‘n groter faktor as wat ons gewoonlik dink en nie so maklik af te kam as wat dikwels gebeur nie.

Wat my weer laat dink het aan Ruusbroec. Hy is veral bekend vir sy Geestelike Bruilof wat nadink oor die gelykenis in Matteus 25 en as vertrekpunt vers 6 neem: Kyk (1), die bruidegom kom! (2). Gaan uit (3) en ontmoet hom (4). Elkeen van hierdie aspekte werk hy op drie vlakke uit. Hierdie drie vlakke is:

Eerstens, verrassend: Ruusbroec, die groot mistikus van die kontemplasie, het ‘n fyn oog vir die lewenspraktyk. Hy begin sommer daarmee. Die aktiewe aspek beteken die mens groei in gelykenis aan God (die werkende lewe – of die via). Dit is hier waar ‘n mens, aangevuur deur die aanraking van God, ‘n lewe van toewyding najaag. Dit sluit ‘n worsteling teen sonde in. Dit is die fase waarin ‘n mens uitgaan om die bruidegom te ontmoet. Dit is ook die fase waarin ‘n mens jou geloofskennis voed, deur onder andere die twaalf artikels te bemeester. Hiernaas leer ‘n mens uit Jesus se lewe, uit die natuur en uit die skepping – alles wat ‘n mens se geloof kan baat.

Maar hierdie aspek is die begin van ‘n spiraal wat nuwe dimensies oopsluit, wat, tweedens, veral met die innerlike lewe te doen het. ‘n Mens groei in gelykenis aan God deur die innige, verlangende lewe (die via illuminativa) wat die vriendskap met God versorg. Hier is ‘n mens nie toegespits op allerhande geestelike oefeninge en aktiwiteit nie. Hoe goed en wonderlik die prediking, die sakramente en die lewe van toewyding is, dit is nie die diepste dinge nie. ‘n Mens moet daarby verby. Jy moet nou ingestel wees op nadenke oor die ewige liefde van God. Hier sien ‘n mens God met die siel.

Maar dan volg die besonder, dieper dimensie. Uiteindelik is daar die lewe van kontemplasie (via unitiva; of die derde lewe). ‘n Mens groei in gelykenis aan God wannneer ‘n mens deel word van God in ‘n lewe van liefde (die godskouende lewe, die kontemplatiewe lewe). Dit is veral die derde aspek wat in gedagte gehou moet word. Hier lê ‘n mens alle kennis af om totale suiwerheid en helderheid te ervaar. Jy sal egter met die beste werke en met die grootste geestelike toewyding nie daarby uitkom nie. Om dit te kan ervaar moet drie dinge gebeur: ‘n Mens moet deugsaam lewe. ‘n Mens moet God liefhê soos ‘n vuur wat nooit geblus word nie. En dan moet ‘n mens jouself verloor in die ruimte waar jy niks kan beheer en bepaal nie, waar alles wat vir jou normaalweg lig was, nie meer skyn nie. Dit is hier waar ‘n mens die Seun van God, die lig wat alle verstand te bowe gaan, ontmoet. Ons sien die ewige lewe hier, in hierdie onverkenbare ruimte raak. Hier sien ‘n mens God met die gees.

Dit is hier waar ‘n mens met God verenig word. En waar die eenheid plaasvind, oorweldig totale vreugde en vervulling jou. Dit is, ondenkbaar, bo alle verstand, om dan in die oseaan van God se wese te swem.

‘n Mens kan hieroor nogal baie praat. Vir sommige sal dit te veel wees. En Ruusbroec self het geskryf dat nie alle gelowiges hier tuis sal voel nie. Die Nuwe Toewyding, byvoorbeeld, wou doelbewus nie baie aandag aan die kontemplatiewe kant van Ruusbroec se mistiek gegee nie. Miskien oor die nood van hul tyd wat hard na hulle geroep het? Is die innerlike nood van ons tyd ‘n oproep om dalk weer aandag aan hierdie derde lewe te gee?

Maar hoe anders? Is spiritualiteit dan nie uiteindelik veral oor die verhouding tussen God en mens nie? ‘n Verhouding wat God inisieer en wat op die lewe by God uitloop nie? En is die liefdevolle verhouding tussen God en mens dan nie so transformatief dat die mens in God se beeld omvorm word, dat ‘n mens aan Christus, die Opgestane Verheerlikte konform word nie, met die Heilige Gees begiftig word nie? Is die toekomsverwagting van die Christendom, die hoogtepunt van Openbaring, dan nie juis dat God alles in almal sal wees nie, onder ons sal woon nie? En is Paulus se eskatologie dan nie gefokus op hierdie een finale punt dat ons “dan” vir altyd “saam met God” en Christus sal wees nie? Hoe sou ons dan ooit die derde lewe kon afmaak?

Ruusbroec is bekend vir sy woord dat wanneer ‘n mens in diepe kontemplasie is en ‘n arm mens vra vir water, moet ‘n mens alles los en liefdevol aan so ‘n persoon water gee. Daar is dus grense aan die spesiale, diepe vereniging met God wat ons in die kontemplatiewe lewe soek.

Maar steeds weer was vir hom die hoogste goed om na te dink oor die heerlikheid van die ewige lewe. En waarom sou ons die ewige lewe nie bedink nie? Dit is net die dwaas wat dink paradys kan op aarde bewerk word. Elkeen van ons moet ons hoof neerlê. En terwyl ons ons voorberei op die dag dat dit gebeur, kan ons nou al beleef wat ons dan sal beleef: die teenwoordigheid van goddelike liefde wat alle verstand, alle menslike grepe, alle gevoelens te bowe gaan. Die deel hê aan die lig wat alle begrip, menslike woorde en gedagtes transendeer.

Ruusbroec het iewers geskryf dat ‘n mens wat God lief het en in kontemplasie God se liefdevolle teenwoordigheid beleef, ‘n diepe honger na nog meer, na hierdie liefde ontwikkel. Hoe sal ons wêreld, hierdie stukkende plek, lyk as mense honger na die Liefde? En terwyl ek dit bedink, begin ek besef watter diepte daar in Totius se gedig is wat ek gister bespreek het. Toe reeds het dit my getref hoedat die gedeelte eindig met ‘n nuwe graad van intensiteit waarmee die mediterende gelowige na God se liefde verlang – die oomblik wanneer dit aan ‘n mens geskenk word. Terwyl Obama en die Pous die aktiewe lewe sinvol onder die aandag bring, moet ons van ons kant af dieper delf na dit wat die einddoel van alles is – om van aangesig tot aangesig voor die Liefde te staan.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive