Soms gaan jare in ons lewe rustig en ongestoord verby voordat ons op ‘n dag bewus raak dat iets besonders aan die gebeur is met ons lewens. Dit hoef nie ‘n drastiese bekering te wees nie. Ons hoef nie vreeslik goddeloos te geleef het nie. Ons kan ‘n heel ordentlike, selfs vervullende bestaan voer. Ons kan gelukkig getroud wees, wonderlike kinders hê, genoeg hê om van te lewe, lekker kuier met vriende, mooi dinge besit en sien. Ons kan ‘n normale godsdienstige lewe hê, bid tot God, leef vir God en gehoorsaam wees aan God se wil. Daar hoef nie groot fout met ons lewe te wees nie.
Maar dan kom daar ‘n dag dat ons wéét iets het met ons gebeur. Dit is asof daar ‘n vonk in ons lewens inskiet. Dan gebeur heelwat dinge met ons. ‘n Besondere ervaring het ons lewens binne-gevloei, of binne-geval. Self daardie besef hoef nie vreeslik opspraakwekkend te wees nie. Dit kan heel rustig in ‘n oomblik gebeur, of selfs stadig, oor ‘n tyd. Dit kan geleidelik tot ons deurdring.
Ons weet net op ‘n dag dat daar ‘n spesiale oomblik was en dat dit ‘n vloed van vervulling in ons losgemaak het. Ek hoor iemand iets oor God sê wat my bewus maak van hoe goed en groot God is. Ek lees iewers ‘n boek en ek word geraak en vir altyd verander deur iets spesiaal wat ek oor God hoor. Hoekom het ek dit nooit só raakgesien of gehoor nie? Hoekom brand dit iets in my los en wil my nie met rus laat nie? Hoekom is my lewe skielik so vasgemaak aan God?
Dit het niks te doen met ek wat nou so volwasse geword het in my denke en insig nie. Of dit gaan ook nie daaroor dat ek emosioneel hoog opgewerk raak nie.
Dit is ‘n liefde en ‘n aanraking wat van buite na my kom en my soos ‘n koue, fris stroom water in die gesig tref. Hier ervaar ek iets wat wêrelde vir my oopmaak.
Dan begin ek anders na myself kyk: ek sien nie meer die ou ek nie. Vanuit die liefde van God kyk ek na myself en ek dink: kan dit wees dat dit met my gebeur? Kan ek so wonderlike begenadig wees om hierdie spesiale ervaring te kan geniet? Hoekom nou eers? Hoekom soveel vreugde na al die jare van my gewone lewe, wat nou so saai vir my lyk.
Hoekom het ek nie reeds dertig jaar gelede dit geweet nie? Hoe sou dit nie my lewe verander het nie! Hoeveel anders sou ek nie gelewe het nie, hoeveel meer sou ek nie vir ander wou gedoen het nie, hoeveel meer liefde sou ek nie aan God wou gee nie?
Maar te midde van al die vrae en verwondering, het daar ook in my ‘n gees van rustigheid ingedaal. Dit is dan dat goddelike vrede in ons kom woon: ons is daar waar ons moet wees. In my is die een begeerte wat oorbly om om meer daarvan te kry.
Ek vra meer, meer van hierdie liefde, van hierdie teenwoordigheid van God by my. En dan is die smagtende verlange nie die beginpunt van my geestelike reis nie, maar ook die eindpunt daarvan. Dit is hierdie verlange wat so oorweldigend word in my geestelike reis. My wandel na God word ‘n smagtende uitsien na die volmaakte eenwees met God. Dit word ‘n begeerte na die einde van alle begeerte: om God tog te kan aanskou. Om in kontemplastie voor God te kan staan.
Dit is natuurlik suiwer genade wat my lewe ingekom het. God het my kom aanraak. Die genadige aankoms en inwoning het my lewe nuwe vorm gegee. En in my ‘n passie, ‘n doodgaan aan myself en ‘n smag na God wakker maak. Hoekom nou eers? Hoekom so laat? As dit tog net al lankal gebeur het.....
Die mistieke aanraking van God laat my uitroep: gee meer, kom Gees, maranata, kom gou, laat u vrede my lewe totaal vul. Laat dit gou gebeur.
Augustinus het lank terug só gebid:
Te laat het ek U leer liefkry. O skoonheid, so oud en tog ook weer so nuut. Te laat het ek U leer bemin! U het na my geroep, U het uitgeroep en my doofheid tot niet gemaak. U het lig laat uitstroom en in oorvloed oor my laat skyn en U het my blindheid op die vlug laat slaan! U het ‘n lieflike geur laat opstyg en ek het dit met diep teue ingeasem en na U gesmag. Ek het U geproe en ek honger en dors na U. U het my aangeraak en in my het dit gebrand om U vrede te ervaar.
Te laat het ek U leer liefkry... U het my aangeraak en in my het dit gebrand om U vrede te ervaar.
Saturday, September 12, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
September
(32)
- Tevrede met die lewe en met jouself... Oor spiritu...
- Minder liefde... Oor spesiale ervaringe in 'n spe...
- Om vir die aarde om te gee op 'n klein manier. Oor...
- Abraham en Isak. Om die mes te laat val... 'n Spir...
- Sonder woorde, maar naby aan God. Oor die teenwoor...
- Die dinge van God: Oor die onnaspeurbaarheid van G...
- Hoe kan ons in vrede by God wees as die kinders ly...
- Die derde lewe... Oor die einddoel en diepste mome...
- Stil-alleen op die son staan wag... Oor Totius se ...
- Die oorwinningstog van goedheid: oor geloof as ins...
- Spiritualiteit as uitdaging: oor Benediktynse spir...
- Vrees in die geestelike lewe. Die wyse maagde of d...
- 'n Morele dilemma: om te sit of nie te sit nie...
- Jy reis nooit alleen nie: oor die skepping en kultuur
- Wanneer 'n mens 'n stasie verpas. Oor die sokkersp...
- Oor die deurwerking van ons geloof
- Die wintertye in ons geestelike reis.
- Heiligheid en gebed
- Die geestelike lees van die Bybel: toewyding aan G...
- Die onverwagte aanraking
- "My" melaatses. Oor eindelose liefde.
- Die hart en die opstanding. Geleefde geloof in die...
- Saggeus
- Oor spiritualiteit as vriendelikheid en oor gewild...
- Die gesig van God by die kleinstes van kleines... ...
- By 'n berig... Oor die stil mense in jou lewe.
- "Oopgeskop": oor misrekende ontferming....
- God se waaghalsige genade. Oor Saggeus en spiritua...
- Vier keer, vier keer meer liefde.... Oor spiritual...
- Spiritualiteit, gevoel en ervaring
- Verlangend om God te sien. Saggéüs in Lukas 19:1-1...
- Verfrissende oomblikke van helderheid
-
▼
September
(32)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.