Tuesday, September 08, 2009

Oor spiritualiteit as vriendelikheid en oor gewildheid

Ons het ‘n bepaalde opvatting dat “spiritualiteit” as die lewenskuns van die liefde gaan om “vriendelikheid.” Paulus het nie verniet dit selfs nodig gevind om sy gemeentes te herinner dat hulle hul vriendelikheid aan almal bekend moet maak nie. As geestelike mense, dink ons daarom, moet ons eerder verdraagsaam as vingerwysend wees.

Daarom verdra ons alles, in Paulus se beroemde woorde. Daar is nie meer baie geestelike leiers wat met hul vuiste op die preekstoel slaan of wat die Mormone se Bybel op die preekstoel stukkend skeur nie. Gelowiges hou nie van harde woorde en skerp taal nie. Hulle kyk skeef op na kritikastery.

En dit is alles goed so. ‘n Spirituele mens sal inderdaad nie aanstoot gee nie. Vriendelikheid en goedheid is wonderlike deugde. Die ander persoon het ‘n verantwoording vir sy eie lewe en het nie ‘n nuuskierige neus in hulle sake nodig nie. Soos Jesus skep ons ruimte sodat selfs die mees verdorwe mens daartoe kan kom om ‘n sinvolle bestaan te ontdek en te kan voer. Iewers, glo ons, is daar ‘n “Saggeus” in elke mens wat net wag om uitgehaal te word.

Maar vriendelikheid kan ook ‘n donker kant hê. Dikwels is ons idee dat ‘n spirituele mens ‘n allemansvriend is. Dan word ons bang om te sê wat ons in ons hart voel, bang om uit te kom vir wat ons werklik dink, versigtig om te deel wat ons glo. Ons sal hoogstens nog agter die rug die woord van kritiek uiter. Vriendelikheid word dan ‘n instrument om ons eie gewildheid te bevorder. Wat saak maak, is wat ons bereik vir onsself deur goed en gaaf teenoor almal te wees.

Soms kan so ‘n vriendelikheid kwaad en onreg verswyg of miskyk.

Ons weet egter dat spiritualiteit nie beteken dat ons alles van almal moet verdra nie. Spiritualiteit is inderdaad meer as net die storie van vriendelikheid, ‘n geloof wat gedurig goedmoedig en vergewensgesind moet wees sonder dat ‘n mens eintlik ooit te kenne gee van die voorbehoude en sorge in jou eie hart. Ons omgee vir ander is meer as net om hulle in hul ellende te troos en by te staan, te omarm en moed te gee. Ons geloof kan beteken dat ons goedheid teenoor ander dikwels baie meer vra as hierdie verdraagsame vriendelikheid.

Die groot mistici in die verlede was, interessant genoeg, maar by tye kwaai kêrels en moeilike susters wat nie gehuiwer het om openlik hulle sê te sê oor wat hulle self voel oor sake van die dag nie. Trouens, die heel grotes, soos Katarina van Sienna het die magtiges van haar tyd goed vertel wat in haar gedagtes omgaan. En, vreemd genoeg, het hulle haar dikwels gaan raadpleeg. Hulle het geweet sy is meer as net ‘n moed-inprater, ‘n ja-suster, ‘n pleeg-moeder. Hulle wat naby aan God gebly het was nie bang om te praat as iets hulle gewete gepla het. Hulle was nooit bang om die kwaad openlik uit te daag nie – al het dit hulle ongewild gemaak en soms selfs hulle dood veroorsaak.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive