Friday, September 04, 2009

Vier keer, vier keer meer liefde.... Oor spiritualiteit en die uitwerking van geloof. Saggeus in Lukas 19:1-10 (2)

Saggeus se verhaal is eintlik verbysterend eenvoudig. Dit het geen groot bekeringsmomente nie. Saggeus het nie soos die Verlore Seun ‘n hele voorbereide belydenis om vir Jesus te gee nie en ook nie ‘n “ek het gesondig, wees my genadig” uitroep nie. Saggeus doen eenvoudig wat Jesus vir hom vra terwyl hy bo in die boom sit: “Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.” Dit is die moment van omkeer waneer God eenvoudigweg in sy lewe tuiskom.

Dat hy en Jesus saam in sy huis is, stuit die omstanders so teen die bors dat hulle diep vies en opgeruk daaroor is. Want in iemand se huis deel jy jouself met daardie persoon op ‘n intieme wyse – en kan ‘n boodskapper van God by so ‘n gehate uitbuiter kuier?

Dan, as die skare staan en grom, praat Saggeus vir die eerste keer in die verhaal. Hy, die ryk man gaan helfte van sy besittings prysgee. En hy gaan mense van wie hy afgepers het, vierdubbel vergoed.

Daarmee doen Saggeus drie dinge:

Hy wys eerstens dat hy daadwerklik volgens God se wil leef. Iets dramaties het in sy lewe verander. Dit is radikaal omvorm en getransformeer deur Jesus se besoek. Spontaan wys hy: In die sentrum van sy bestaan staan nou nie meer sy eie begeertes en gierigheid nie. Hy het die las van tydelike dinge afgegooi. God se wil het die middelpunt van sy lewe geword. En God se wil is duidelik: Eksodus 22 vra van iemand wat ‘n ander skade aangedoen het om daarvoor te vergoed. Noudat God in sy huis ‘n ereplek inneem, het sy rykdom, die verleentheid, vir hom ‘n geleentheid geword. Hy verander van iemand wat ander afpers vir hul geld, wat oor ander loop om homself te verryk, na iemand wat ter wille van God sy besittings uitdeel. En hoe dramaties dit is besef ‘n mens eers as jy sien hoe min mense so iets sal oorweeg. ‘n Mens sien op die agtergrond die verhaal van daardie ander ryk jongman wat uiteindelik nie sy rykdom kon opgee nie. Hier is Saggeus, die ryke, meer as net ‘n volgeling van Jesus. Hy, die slegte tollenaar, gee weg uit sy eie, sonder dat hy, soos daardie ryk jongman, gevra word. En daardie ryk jongman was baie voorbeeldig - Jesus was selfs oombliklike lief vir hom.

'n Mens wil amper dink: Saggeus word byna ‘n Christus-figuur. Hy verstaan God se wil vanuit sy intieme gemeenskap met die Here. Nie my wil nie... Julle sal groter dinge doen....

Tweedens wys Saggeus hoe oorvloedig sy transformasie is. Die Ou Testament vertel: Hoe erger die misdaad was waaraan ‘n mens skuldig is, hoe groter die vergoeding wat ‘n mens betaal. En Saggeus groei in hierdie geloofsinsig in. Hy, die verloopte Kind van Abraham, word nou gretig gehoorsaam aan die Verbondsgod se opdragte en hy kies om sy eie lewe so negatief as moontlike te beoordeel sodat hy soveel as moontlik moet vergoed en regmaak. Hy eien dit vir hom toe – sonder opdrag van Jesus. Laat ek anders wees, sommer baie anders as die hatige afperser wat ek al die jare was. Saggeus verstaan hoe aaklig sy lewe was. Hy het insig in en en intense bewuswording van sy verlede. In daardie kort tydjie wat hy by Jesus was, is die donkerte van sy donker hart tot sy skande voor hom oopgevlek – deur homself. Hy besef die erns van sy skuld en sy oortredinge. Net soos die Verlore Seun wat tussen die varkpeule tot homself gekom het. En Sagggeus wys hoedat hy begeer dat sy nuwe lewe totaal en oorvloediglik anders sal wees as wat dit was. Is dit iets van die transformasie in heerlikheid?

En derdens verstaan Saggeus die evangelie van Jesus – wat ‘n evangelie aan die armes is. Wie een oomblik by Jesus staan, word ingetrek in die groot diskoers van die Seun se uitreik na ander. Hy word die dienaar, die voetewasser soos sy Meester. Hy, die stinkryke, doen wat Jesus deur sy hele bediening altyd nog van sy dissipels gevra het. Hy wat die armes besteel het, reik nou na hulle uit soos wat Jesus sy hele lewe gedoen en gevra het. Dit is nou konformiteit in Christus: die vorm van sy nuwe lewe neem die vorm van Jesus se lewe aan. Sy ontmoeting – eers op ‘n afstand, maar toe, intiem, met Jesus by hom aan huis, lei tot Saggeus se ontferming vir ander. Die beeld van die Meester lê diep afgeëts op die gelaat van sy dissipel.

Hier kan ‘n mens in meditasie vele gedagtes oproep: die gedagtes wat in sy kop moes gemaal het terwyl hy by Jesus gesit het, in sy gesig gekyk het, met hom gepraat het, sy woorde gehoor het: “Het ek tog maar daardie keer teenoor die armes nie so wild te kere gegaan nie, nie hul laaste sent geroof nie, dieselfde ontferming getoon as wat ek vandag ontvang het. Kan ek maar soos hierdie Mens wees!” Die innerlike skaamte: “te kort, te kort ken ek U – hoe kan ek ooit ontdaan maak wat fout gegaan het...”

Om volgens God se wil te lewe, om heeltemal in God se wil bevind te word en om deur Christus gedryf te word om – soos Christus – vir die sagtes, die stiles, die weerloses, die uitgebuites, die platgelooptes te leef.

Uiteindelik dan die praksis, die uitwerking, die afronding, die closure: die mistieke verhaal van ‘n ryk, magtige man wat in ‘n boom klim om die rondreisende prediker te sien, onthul hoe word hy nou eensklaps die dissipel van Jesus wat op die strate gaan soek na almal wat hy kwaad aangedoen het. Saggeus se verhouding met Jesus kristalliseer in ‘n deurwerking na buite uit. Sy geloof in Jesus het praktiese gevolge. Transformasie eindig in deurwerking, uitwerking, uitleef van ‘n mens se lewe op ‘n gelowige manier.

In die kerklike tradisie het die beroemde kerkvader, Clemens van Alexandrië, geskryf dat Saggeus later Judas se plek as apostel ingeneem het en die naam Mattias gekry het. Of dit waar is, sal niemand ooit kan sê nie. Maar dit wys net hoe diep het hierdie verhaal van die ommekeer en dissipelskap van Saggeus ‘n indruk gemaak. En dalk, wie weet, het hierdie man, omdat hy in die gelaat van Jesus, reeds al bo uit die boom, die liefde herken het waarna hy so gesmag het, inderdaad oral rondgeloop en sy geld uitgedeel. Met sy skerp, soekende brein (ek klim selfs in ‘n boom om Hom te sien...) het hy hulle gesigte onthou, hulle gesoek en uitgedeel. Soveel so dat hy wat konform aan Christus wou leef, uiteindelik as die dertiende apostel gekies ie.

Hoe boeiend. Hierdie verhaal het geen eise van Jesus dat hy moet verander nie. Lukas moraliseer nie die God-mens verhouding en die transformasie wat daaruit voortvloei nie. Uit die goddelike ontferming vir en uit die tuiskoms van Jesus by Saggeus word nuwe ontferming gebore. Liefde lei tot oorvloedige, viervoudige liefde. Die bose sirkelgang van Saggeus se gierigheid is deur een enkele oomblik van ontferming gebreek – daardie dag in die woelige strate van Jerigo toe die man van die liefde gaan stil staan het en opgekyk het na hom. Soos Jesus se lewe word Saggeus se lewe nou ‘n lewe-gewende bron van uitreik, van regmaak van die verlede, van oormaat van ontferming, van insig in eie feilbaarheid.

Vier keer, vier keer meer wil ek vir Jesus doen as wat ek ooit vir myself gedoen het. Groter dinge as wat Ek....

Daar is nog so baie ander dinge wat 'n mens oor die wonderlike verhaal sou kon skryf. 'n Mens sou 'n hele reeks daaroor kan maak - die een preek na die ander. Die wildevyeboom, Jerigo, die tollenaar...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive