Sunday, September 27, 2009

Abraham en Isak. Om die mes te laat val... 'n Spiritualiteitsperspektief op Genesis 22.



Rembrandt se skildery van die offer van Isak (Gen.22).

Die dramatiese vertelling in Genesis 22 oor Abraham se offer van Isak word dikwels verstaan as ‘n illustrasie van Abraham se geloof. Dit is ‘n vreemde storie, gelaai met geweld. Hier is twee sake ter sprake: God beloof aan Abraham ‘n toekoms – ontelbare nageslagte (sien vers 22), maar die een deur wie dit moet gebeur, Isak, word prakties uitgeskakel. ‘n Mens kan jou indink wat in Abraham se gemoed omgegaan het. Hoe kan God ‘n belofte nakom as die persoon deur wie die belofte waar moet word, sterf?

Dit is ‘n eenvoudige storie, maar al die gewone detail maak dit byna ondraaglik intens. Abraham moet die hout gaan bymekaar maak, hy moet ‘n lang reis aflê, teen die berg op, met sy twee helpers. Hy moes vir Sara ‘n storie vertel het en hy skiet spek teenoor die helpers (ons gaan aanbid!) en teenoor Isak (God sal die offer voorsien). Dink net hoe het elke woord sy innerlike lewe uitmekaar geruk. Oor en oor beleef hy sy laaste oomblikke met sy geliefde seun op wie al sy toekomshoop en geluk gebou is. Liefdevol praat hulle met mekaar: “My seun...”, “my Vader...” En stel jou net voor, lewer Kierkegaard kommentaar oor hierdie meesterlike, maar ontstellende vertelling, sy intense emosies wanneer hy uiteindelik die mes uithaal, daarna kyk en besluit om dit in sy hand te neem. Dit is wat geloof dan vra? En selfs nog meer, die oomblik toe hy daardie mes neem en dit optel vir die slag-hou.

Vers 10 moet een van die mees dramatiese verse in die Bybel wees.

Dit is wat geloof is.

En tog, dit lyk te maklik. Is Abraham hier niks anders as ‘n masjien wat bevele uit die hemel uitvoer? Slag jou seun, moenie jou seun slag nie? Niks anders as ‘n marionet, wie se toutjies van bo-af getrek word? As die tweede bevel kom, sit hy maar gedwee die mes weg en is die verhaal oor wanneer die rammetjie geoffer word?

Is dit so maklik?

Vers 13 vertel dat Abraham “opgekyk” het toe die Engel van die Here vir hom sê om nie sy seun te slag nie.

Sy oë was op sy seun. Hy het “afgekyk” waar sy kind op die brandstapel vasgebind was. Voor hom was die slagoffer. Hy, die Vader, staan van aangesig tot aangesig voor sy Seun. En in daardie oomblik wat hy in sy seun se oë gekyk het, het hy geweet hy sou hom nie kon offer nie. Dit sou verkeerd wees. Niemand kan ‘n weerlose mens só ombring nie.

Waarom nie?

Die teks vertel dat ‘n engel van die Here met Abraham gepraat het en gesê het hy moenie Isak offer nie (vers 12). Abraham, die sterk man van die geloof, het geweet dit is die Engel wat met hom praat. Hy het nie vir ‘n oomblik getwyfel nie. Hy was gereed vir daardie woord. Was hy ‘n robot, sou niks hom van stryk gebring het nie. Want hoe kan God nou iets van hom vra en die volgende oomblik die teenoorgestelde eis? As hy, die man van geloof was, sou niks hom stuit van God se opdrag om sy seun te slag nie - niks of niemand nie.

Maar Abraham weet onmiddellik dis die Here wat met hom praat. Hy was ingestel om die stem te hoor. Toe hy in die oë van Isak gekyk het, het hy geweet God praat met hom en sê vir hom iets anders. Van gelaat tot gelaat.

Ons moet nie onderskat hoe verbasend dit is dat Abraham onmiddellik die stem herken het nie en reg was vir wat die stem gesê het nie. As ‘n mens doen wat reg is, as ‘n mens uitreik na die Ander, kwaad afwys en ontferming betoon, weet jy onmiddellik dit is wat God wil hê. Dit is die werklike dramatiese oomblik in hierdie verhaal. Die mistieke krag wat uitgaan van die slagoffer, die een wat pyn aangedoen word, maak in jou alles los wat jou voor God te staan bring. Dit laat jou die goddelike herken, soms selfs teen al die ou, tradisionele, geloofswaarhede. Om eties op te tree, om in liefde die gelaat van die weerlose te herken, is om die goddelike in jou lewe te herken.

Dit is inderdaad merkwaardig dat Abraham gelowig wou doen wat God ook al van hom wou vra. En dat hy die pyn van geloof, end-uit, berg-op gedra het – die donkerste nag van sy siel. Maar uiteindelik is hierdie verhaal nie oor Abraham nie. Dit is ‘n verhaal oor Isak, soos Levinas tereg opmerk. Dit is nie die verhaal van die Barmhartige Samaritaan nie, maar van die naaste wat 'n appel op die Samaritaan gemaak het. Die weerlose kyk net na ons en ons weet, hier is die Ander, God, wat van ons ontferming vra. Hoe kan ons ooit die weerlose verbrysel? Die geknakte riet verbrysel? Ons kan maar net die mes laat val en weet, diep in ons hart, dit is wat God vir ons vra: laat val die mes.

Geloof beteken uiteindelik om God te herken en te bemin waar jy voor die weerlose staan. Dit is om lewe te skenk waar dood en slagting die vanselfsprekende geword het.

Waar dit nie gebeur nie, waar ons nie die Weerlose in die oë kyk nie, kruisig ons die Lam van God.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive