Monday, January 23, 2012

Ontferming

Ons word op die voorlaaste aand van ons verblyf by die Universiteit uitgenooi na die finale jaar teologiese studente se afskeidsfunksie. Na 14 jaar (!) se studie, net voordat hulle op die ouderdom van gemiddeld 30 jaar in die bediening uitgeplaas word, neem hulle afskeid van hulle dosente en mekaar.

Ek kan dink dat dit 'n aand van nostalgie is. 

Ons woon net die laaste deel by, want die aand word in hul moedertaal gehou en daar is lang toesprake. Hulle lewer ook items, onder andere 'n dans met al die handgebare so reg uit 'n Bollywood film. Hulle geniet dit duidelik baie.

Dit is 'n afskeid soos alle ander afskeide. Voor my flits sulke geleenthede uit die verlede helder verby. Ek herken die jeugdige idealisme, die verwagtings vir wat wag, maar ek sien ook die heimwee raak.


Maar iets anders bly my na die tyd by. 

Teen die einde van die aand, toe ons al daar is en na die dans verby is, staan drie studente op en kom haal 'n baie ou 89-jarige man wat voor ons in die ry sit en neem hom na die verhoog. 

Liefderik ondersteun hulle hom. Hy beweeg swaar. Dit lyk asof hy nie goed kan sien nie. 


Hulle sit 'n papier voor hom neer en dan sing hulle saam met hom die lied op die papier. Een van hulle hou sy vinger op die lied om hom te help sien. Hy sing helder en flink saam, maar verloor plek-plek sy plek. Dan is die vinger daar om hom weer te help.


Na die lied wil hy 'n toespraak hou. Hy raak duidelik aangedaan terwyl hy praat. 

Een van hulle vat hom dan weer liefderik aan die mou en saam lei hulle hom na sy sitplek.


Na die tyd gaan 'n klomp van die studente om hom sit en praat laggend, vriendelik, duidelik met groot ontferming met hom. Ek verkyk my aan die toneel. Dit is asof die studente 'n baie afgeleefde eie vader versorg. 


My gasheer verduidelik dat hy 'n lid van hulle gemeenskap is, 'n mede-broeder en dat hy al die jare onder andere die pos versorg het. In sy toespraak het hy die studente bedank dat hulle so goed vir hom was. Sonder hulle het hy vertel, sou hy nie kon wees waar hy die aand was nie. En dit is toe dat sy gemoed so volgeskiet het.


Watter skoonheid is daar in ontferming. Des te meer as dit kom van die hulle wat jonk is....


Flink dans 'n deel van die klomp wat die dans opgevoer het:






Hier sit hulle met die mede-broeder in die middel agter. Die glimlaggende gesigte en die hand-om-die-skouers vertel die hele storie.





No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive