Saturday, January 07, 2012

Wanneer God eensaam is.






Die gedagte dat God ons “eerste” lief gehad het, kan ‘n mens se lewe verander. 1 Johannes 4:19 spel dit helder en onmiskenbaar uit.

Die liefde wat God vir ons gee voor ons nog ooit kan liefhê maak dat mens met nuwe oë na jouself kyk.

Wanneer ‘n mens daaraan dink dat God ‘n mens liefgehad het sonder dat daar enige rede daarvoor is, of sonder dat ‘n mens iets gedoen het wat gemaak het dat God ons lief het, neem negatiewe gevoelens in ons weg. Godsdiens kry ‘n ander kleur. Sekerlik weet ‘n mens:

‘n Mens hoef nie te presteer om God se liefde te ontvang nie.

‘n Mens hoef nie iemand anders te word as wat jy is nie.

Want God het die mens lief vir wie hy of sy is en nie oor alles waarin ‘n mens uitblink nie. God het ‘n mens lief omdat mense leef en bestaan. God bewonder mense liefderik omdat hulle is wat hulle is, nie omdat hulle op ‘n spesiale manier uitgestyg het nie.

Waarom leef mens dan nie gelukkig en bly in hierdie liefde van God nie?

Mense leef nie in God se liefde nie omdat hulle nie ingestel is daarop nie. God is eensaam in die liefde omdat mense daarvoor afgesluit is.

God dring nie deur die onverskilligheid, die kors van self-gerigtheid nie.

In Openbaring 3 word in ‘n metaforiese, bekende uitdrukking vertel dat God staan kloppend by die deur. Alleen wie God en die goddelike liefde binnelaat, sal in die vreugde van God se liefde kan woon. Die deur wat God en die liefde uit ons bestaan uitsluit, moet eers oopgemaak word.

Liefdevol wag God op die oomblik dat mense hulself oopmaak vir die liefde.
Die mens is afgesluit van die liefde omdat mense hulself toegesluit het in hul klein, self-gerigte lewe.

Dit is die opvallende: mense leef met die verborge geheim van God se liefde in die hart van hul lewens, maar is salig onbewus daarvan. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive