Showing posts with label Liefde.. Show all posts
Showing posts with label Liefde.. Show all posts

Saturday, March 10, 2012

Net die liefde keer ons om te vergeet


My oog vang ‘n opmerking van Bonhoeffer: “Net die liefde keer ons om te vergeet.” 

Dit bly knaag aan my.

Ek spoor die sinnetjie na en kom af op die gedeelte waarin hy dit geskryf het.

In die gedeelte dink hy na oor Psalm 119:16: “Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie.”

Bonhoeffer skryf dat ‘n mens telkens weer nuwe dinge in die Bybel ontdek. Dit is ‘n ryk boek wat vir ‘n mens elke keer weer nuwe moontlikhede ontsluit om sinvol te lewe.

Maar dit vra van ons om met die Bybel self besig te wees, om die nuwe dinge uit die mond van God self te hoor. Dit help nie ons lees oor die Bybel of dink ons “ken” die Bybel nie. Die geheim is in die lewende kontak met die Woord self. 

'n Mens kan Psalm 119 lees en dink dit is 'n dodelike, herhalende gerammel. Al swoegtende kan jy uit pligsbesef daardeur worstel.

Maar as jy tydsaam lees, stil nadink, bly mediteer met toewyding, word die Psalm jou skatkis, herken jy dit as die paradys-plek waar iemand God se werke in die wet uitbunding loof. 

Daar is belangrike redes waarom ons aan die Bybel verknog moet bly. Wie ons is, weet ons net omdat God deur die eeue heen steeds weer aan die werk was. God het besig met die mens gebly, lank voor ons bestaan het, gedurigdeur of ons nou bewus is daarvan of nie. Dit moet ons bly onthou. Ons kan dit nie vergeet nie. Wie ons is, word bepaal deur wat God gedoen het.

Daar is groot beloftes in die ontmoeting met die Bybel. Wanneer ons bly dink aan al God se werkinge, ontdek ons vir onsself ‘n nuwe toekoms. Die lewe hou die belofte van nuwe dinge in. God is besig om ook in ons lewe wonderbare dinge te doen.

Maar hoe bly ons dink oor God se werkinge? Hoe werk die ontmoeting?

Deur die Woord te bedink, deur dit te “lees”. “Al u bepalinge wil ek een vir een opnoem” (Ps. 119:13).

Wie ek is, dat ek ‘n vry mens is, dat ek in liefde kan leef, het ek te danke aan Christus. Christus maak my tot wie ek is. Elke keer weer as ek nadink oor wie Christus is en hoe Christus my vrygemaak het, elke oomblik wanneer ek in die Woord lees, daaroor nadink, dit hardop my eie maak, word ek ‘n geseënde mens. Dan gaan die lewe vir my oop, ontdek ek nuwe dinge.

As ek Christus vergeet, gaan my geloof tot niet. As ek nie meer liefhet nie, sal ek nie meer onthou nie.

So gou, wonder Bonhoeffer, dwaal ‘n mens se gedagtes van God se woord weg. ‘n Mens vergeet nooit om te eet of te drink of te slaap nie. Maar waarom vergeet ‘n mens dan die Woord van God? Omdat ‘n mens nie saam met die Psalmis kan sê: “Ek verlustig my in u voorskrifte” nie. ‘n Mens vergeet nie die dinge wat jou bly maak nie. Jou hart is nie daarin nie. Dit is nie jou liefde nie.

Hoe nou gemaak? Bonhoeffer sluit af: “Hoe meer ek begin om my in God se voorskrifte te verbly, hoe meer ek dit raaksien in die skepping en in die Bybel, hoe meer sal dit by my bly elke oomblik van my lewe. Net liefde kan keer dat ‘n mens vergeet.

Vandaar dat ‘n mens met jou hele self en met jou hele hart, nie net met jou verstand nie, moet liefhê. Slegs wanneer ‘n mens in ‘n lewende gemeenskap met Christus verenig word, sal ‘n mens liefhê, sal ‘n mens onthou, sal die Woord ons pad verlig.

Saturday, January 07, 2012

Wanneer God eensaam is.






Die gedagte dat God ons “eerste” lief gehad het, kan ‘n mens se lewe verander. 1 Johannes 4:19 spel dit helder en onmiskenbaar uit.

Die liefde wat God vir ons gee voor ons nog ooit kan liefhê maak dat mens met nuwe oë na jouself kyk.

Wanneer ‘n mens daaraan dink dat God ‘n mens liefgehad het sonder dat daar enige rede daarvoor is, of sonder dat ‘n mens iets gedoen het wat gemaak het dat God ons lief het, neem negatiewe gevoelens in ons weg. Godsdiens kry ‘n ander kleur. Sekerlik weet ‘n mens:

‘n Mens hoef nie te presteer om God se liefde te ontvang nie.

‘n Mens hoef nie iemand anders te word as wat jy is nie.

Want God het die mens lief vir wie hy of sy is en nie oor alles waarin ‘n mens uitblink nie. God het ‘n mens lief omdat mense leef en bestaan. God bewonder mense liefderik omdat hulle is wat hulle is, nie omdat hulle op ‘n spesiale manier uitgestyg het nie.

Waarom leef mens dan nie gelukkig en bly in hierdie liefde van God nie?

Mense leef nie in God se liefde nie omdat hulle nie ingestel is daarop nie. God is eensaam in die liefde omdat mense daarvoor afgesluit is.

God dring nie deur die onverskilligheid, die kors van self-gerigtheid nie.

In Openbaring 3 word in ‘n metaforiese, bekende uitdrukking vertel dat God staan kloppend by die deur. Alleen wie God en die goddelike liefde binnelaat, sal in die vreugde van God se liefde kan woon. Die deur wat God en die liefde uit ons bestaan uitsluit, moet eers oopgemaak word.

Liefdevol wag God op die oomblik dat mense hulself oopmaak vir die liefde.
Die mens is afgesluit van die liefde omdat mense hulself toegesluit het in hul klein, self-gerigte lewe.

Dit is die opvallende: mense leef met die verborge geheim van God se liefde in die hart van hul lewens, maar is salig onbewus daarvan. 

Friday, December 09, 2011

Liefdeswete as 'n onpeilbare geheim


Liefde bly merkwaardig, veral as ‘n mens daaraan dink hoe naby mense aan mekaar kan kom en hoe intens liefde tussen hulle kan raak en groei.

Die grootste geheim, skryf Bonhoeffer, is dat mense so na aan mekaar kan wees. 

Dit is asof daar altyd iets groters is as ons kennis van mekaar, iets diepers as ons wete van wie die ander is. ‘n Band tussen mense bly bestaan verby al die baie kennis wat ons van mekaar opdoen.

Liefde laat ‘n mens verwonderd – bloot al omdat die geheim daarvan so onpeilbaar is. Wie kan dit verstaan? Mense leef baie naby aan mekaar, en tog bly die liefde tussen hulle ‘n wonder.

Dae, maande en jare bring hulle bymekaar deur. Hulle leer ken mekaar van a tot z. Hulle weet alles van mekaar. Hulle kan mekaar onmiddellik opsom aan die gesigsuitdrukking, die manier van loop, die klere wat die ander aan het.

Hulle weet verskriklik veel van mekaar.

Waneer mense soveel van mekaar weet, maak dit die liefde wat hulle vir mekaar het, spesiaal. Daar is iets verborge aan mense se liefde vir mekaar. Hoe meer mense van mekaar weet, hoe groter is die geheim van hulle liefde.

Alles wat ‘n mens van mekaar weet, kan die liefde nie uitput nie. Steeds weer ontdek ‘n mens hoedat die liefde groter bly as kennis van mekaar.

Om meer en meer van mekaar te weet, maak die geheim van die liefde nog meer onpeilbaar.

‘n Mens sien dit elke dag: ouers wat jare lank saam met hul kinders ‘n lewenspad gereis het, wat die lewe van hul kinders soos die handpalm ken – en, wanneer hulle daaroor nadink, steeds weer weet hoe spesiaal dit is dat hulle hul kinders so naby aan hulle het.

‘n Seun wat van kleintyd af sy pa van naby meemaak. Seun weet alles van pa, van pa se voorliefdes, belangstellings, wyshede, raad, voorskrifte, geskiedenis. Hoe spesiaal is dit dan nie – hierdie nou band tussen pa en seun. Hoe meer die seun van die pa ken, hoe meer spesiaal word die liefdesband wat hulle aan mekaar bind. Aldus ook ma met dogter, seun met ma, ouma met skoonseun, oupa en kleinboet, vriend Jonathan met vriend Dawid. 

In al die nabye verhoudinge staan ‘n mens steeds weer terug, verras hoe nuut en hoe diep en hoe spesiaal die nabyheid vir ‘n mens bly.

Die grootste geheim van alles is dat daar in ‘n mens se lewe ‘n liefdesplek is, in die binnekamers van jou hart, vir mense vir wie jy hartgrondiglik lief is. 


Wednesday, December 22, 2010

Wat soos 'n rots vasstaan. Oor die liefde wat werklik saak maak.

Soms, nee, dikwels, wonder mense oor God…

Twyfel ‘n mens aan God…

Het ek God lief?, vra die soeker dan, al twyfelend.

Soms wil ‘n mens selfs nie eers die vraag vra nie, want die menslike hart is verduister deur die ondenkbare gedagte dat ons eintlik nie werklik erg het aan God nie. 

Soms wil ons hart nie regtig iets van God weet nie…

Of die teenoorgestelde is ook waar: Ons kan ook vir God met ‘n passie lief hê.

Maar wat bring ons eie liefde ons tog in die sak?  Maak dit saak?

Of ons min liefde vir God het, of oorloop van baie liefde vir God – watter verskil maak dit?

Wat tog veel meer werd is, waaraan ‘n mens nooit kan twyfel nie, wat soos ‘n rots vasstaan, is dat God óns lief het.

Dit sou ‘n ramp wees as ons op ons liefde vir God moet vertrou… 

Wie ontdek hoe onnaspeurlik en hoe onfeilbaar die goddelike liefde is, ontdek en leef in egte liefde. 

Wednesday, December 15, 2010

Die verborge God

Hierdie vers was 'n gunsteling van Pascal:


Waarlik, U is die God wat U verborge hou.


Jesaja 45:15


God, wat volgens die res van die vers die God van Israel, die Heiland is, is nie 'n opdringerige God nie. Alleen 'n God van liefde kan so verborge wees....

Thursday, October 28, 2010

Liefde skep liefde


Donald Miller skryf in sy topverkoper, Blue like Jazz, ‘n kort, maar heel kragtige inleiding tot sy boek wat op ‘n stadium op die New York Times se topverkoperlys was.

Hy gee aan sy boek die veelseggende subtitel: “Nonreligious thoughts on Christian Spirituality.”

In die boek blyk dit duidelik hoeveel argwaan hy het oor die tradisionele Christendom. As dit van die kerk van alle tye afhang, is daar nie veel kans dat hy gelowig sou wees en bly nie.

Maar skryf hy in sy inleiding, soms is daar mense wat vir jou wys wat liefde is. Hulle leef dit uit. Daar is mense wat God lief het en hulle wys vir jou die weg sodat jy ook vir God leer bemin.

Lyk my hy sê ‘n ou waarheid: liefde werk aansteeklik. Egte liefde wek liefde op. Die liefde is die grootste.

Sy voorbeeld om dit te illustreer is pragtig. Hy skryf dat hy nooit van jazz gehou het nie. Op ‘n dag het hy voor ‘n teater gaan staan en luister na iemand wat sy saksofoon gestaan en speel het. Vir vyftien minute lank het hy na die man gestaan en luister. En die hele tyd terwyl die man gestaan en speel het, het hy nooit sy oë oopgemaak nie. Die man was duidelik totaal verlief op jazz en heeltemal verlore in die musiek wat hy aan die speel was.

Van toe af, skryf Miller, het hy ook van jazz gehou!

Blog Archive