Friday, December 09, 2011

Liefdeswete as 'n onpeilbare geheim


Liefde bly merkwaardig, veral as ‘n mens daaraan dink hoe naby mense aan mekaar kan kom en hoe intens liefde tussen hulle kan raak en groei.

Die grootste geheim, skryf Bonhoeffer, is dat mense so na aan mekaar kan wees. 

Dit is asof daar altyd iets groters is as ons kennis van mekaar, iets diepers as ons wete van wie die ander is. ‘n Band tussen mense bly bestaan verby al die baie kennis wat ons van mekaar opdoen.

Liefde laat ‘n mens verwonderd – bloot al omdat die geheim daarvan so onpeilbaar is. Wie kan dit verstaan? Mense leef baie naby aan mekaar, en tog bly die liefde tussen hulle ‘n wonder.

Dae, maande en jare bring hulle bymekaar deur. Hulle leer ken mekaar van a tot z. Hulle weet alles van mekaar. Hulle kan mekaar onmiddellik opsom aan die gesigsuitdrukking, die manier van loop, die klere wat die ander aan het.

Hulle weet verskriklik veel van mekaar.

Waneer mense soveel van mekaar weet, maak dit die liefde wat hulle vir mekaar het, spesiaal. Daar is iets verborge aan mense se liefde vir mekaar. Hoe meer mense van mekaar weet, hoe groter is die geheim van hulle liefde.

Alles wat ‘n mens van mekaar weet, kan die liefde nie uitput nie. Steeds weer ontdek ‘n mens hoedat die liefde groter bly as kennis van mekaar.

Om meer en meer van mekaar te weet, maak die geheim van die liefde nog meer onpeilbaar.

‘n Mens sien dit elke dag: ouers wat jare lank saam met hul kinders ‘n lewenspad gereis het, wat die lewe van hul kinders soos die handpalm ken – en, wanneer hulle daaroor nadink, steeds weer weet hoe spesiaal dit is dat hulle hul kinders so naby aan hulle het.

‘n Seun wat van kleintyd af sy pa van naby meemaak. Seun weet alles van pa, van pa se voorliefdes, belangstellings, wyshede, raad, voorskrifte, geskiedenis. Hoe spesiaal is dit dan nie – hierdie nou band tussen pa en seun. Hoe meer die seun van die pa ken, hoe meer spesiaal word die liefdesband wat hulle aan mekaar bind. Aldus ook ma met dogter, seun met ma, ouma met skoonseun, oupa en kleinboet, vriend Jonathan met vriend Dawid. 

In al die nabye verhoudinge staan ‘n mens steeds weer terug, verras hoe nuut en hoe diep en hoe spesiaal die nabyheid vir ‘n mens bly.

Die grootste geheim van alles is dat daar in ‘n mens se lewe ‘n liefdesplek is, in die binnekamers van jou hart, vir mense vir wie jy hartgrondiglik lief is. 


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive