Tuesday, December 06, 2011

Die jongman met die Hemelse blou oë

In die Joodse Museum in Manhattan bring ek ‘n paar uur deur op ‘n koue wintersoggend. Dit is die eerste keer ooit dat ek hier kan besoek aflê en ek is nuuskierig.
 

Dit is nie ‘n groot museum nie, maar daar is ‘n pragtige werk van Chagall wat die geskiedenis van Israel onder die motto van “vryheid” uitbeeld. Dit maak die besoek aan hierdie plek reeds die moeite werd.

Ek kom, soos ek verder stap, by ‘n skildery uit wat dadelik my aandag trek. Dit is ‘n werk van Minkowsky, ‘n Oos-Europese Jood wat vroeg reeds sy gehoor verloor het. Behalwe vir die traumatiese persoonlike gebeurtenis het hy ook vroeg reeds op ‘n stadium moes ervaar hoe ‘n groep Jode uigewis is. Duidelik het sy geloofsweg deur diep driwwe geloop.
 

Ek het nog nie van Minkowsky gehoor nie. Maar die skildery hou my vasgevang.
 

Die skildery het die opskrif: "Hy het een kyk gee en mal geraak."
 

So lyk die skildery:
 



Dit is ‘n skildery waarin ‘n groep Jode besig is met die studie van die Mishnah. Sommige van hulle is verlore in die onderrig van hul geloof. Hulle dra tradisionele klere en hulle het nog baarde. Duidelik is hulle tuis in die gebaande weë. Hulle tradisies is vir hulle goud werd. Hulle aandag is volledig ingestel op wat hulle meer van hul godsdiens van alle tye kan leer.

Maar reg in die middel van die groep is daar ‘n groep van vier jong mans. Hul teenwoordigheid as groep val ‘n mens dadelik op. Hulle kry des te meer aandag omdat die Rabbi stip na hulle kyk en met sy hand na hulle kant toe beduie. 


Die uitbeelding van hierdie vier mans is ‘n intertekstuele verwysing na ‘n ou storie uit die Talmoed oor vier wyse manne in ‘n tuin. Die tuin is ‘n allegoriese verwysing na die Joodse mistiek. In die Talmoed-storie is een van die vier jongmanne met die naam Ben Zoma nie in staat om aan te gaan met sy studie van die rabbynse tekste nie. Duidelik bly hy nie by die gebaande weë nie. Sy godsdiens het vir hom nie meer sin nie.

Dit is ‘n interessante groep van vier: Drie van die vier lyk asof hulle ook in hul aandag vir die godsdienstige lering verlore is. En tog is alles ook nie so heeltemal pluis nie. Sommige van hulle het ook nie meer tradisionele baarde nie.

Maar een van hulle staan in die fokus van die skildery. Hy kyk met blou oë reguit na die kyker. Hy is die moderne “Ben Zoma” wat hom afkeer van die studie van die Jodedom en oop is vir die nuwe. Hy is nie, soos die ander, nog steeds vasgevang in die lering van die tradisies nie.

Ek neem 'n naby-foto van die groep van vier:






Hier skilder Minkowsky op beeldryke manier die spanning tussen die tradisionele, godsdienstige lewe van die gelowige mens teenoor die oper, meer gesekulariseerde lewenswyse. In die moderne tyd en soos die Jode ‘n bepaalde lewenservaring opdoen, is daar ‘n neiging om los te raak van tradisionele godsdienservaring.

Ek verwonder my aan die pragtige skildery. Minkowsky word nie altyd na waarde geskat nie, sien ek. Die rede is miskien dat hy duidelik te Joods is. Dit is jammer. Hierdie skildery is ‘n diepsinnige nadenke oor die manier waarop tradisionele vorme van geloof steeds weer nuut bedink moet word…

Lank nadat ek uit die Joodse Museum terugstap na my blyplek vir die aand, bly die skildery in my gedagtes hang.
 

Hoe fragiel is geloof nie: dit kan nie op bewyse terugval nie. Dit kan nie vashou aan empiriese, vaste sekerhede nie. Dit is maar net ‘n vertroue, ‘n wete van God se nabyheid.

En steeds weer moet geloof met die tyd aan beweeg. Sonder om die wese van geloof te vergeet, moet die gelowige steeds weer nadink oor hoe die Verborgene in nuwe tye op nuwe maniere bekend word.

Soekend, nadenkend, onseker, vraend, tastend kan ‘n mens meer alleen rondom jou kyk na die nuwe omgewing waarin jy leef en waar alles so anders lyk as wat die tradisionele dinge wil voorgee. Dit is die egte gelowige wat dan verlang om in nuwe tye die Evangelie op nuwe maniere te beleef – anders as die verstoktheid van hulle wat fariseërs en skrifgeleerdes is.

Die meeste van alles verwonder ek my aan die helderblou oë van die jongman wat so, met sy hand op die rug van die stoel, weg van die tradisie kyk – reguit na hulle wat buite staan.

Sy oë is blou. Al die ander mans het bruin oë. Hy het die hemel in sy oë. Die blik na buite is die blik van die Alsiende.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive