Wednesday, December 28, 2011

Vreugde in die rou tye

Vreugde en die mistieke ervaring is ten nouste verbonde.

Om neerslagtig te wees, slegs die donker kante van die lewe raak te sien, bind 'n mens aan die negatiewe en staan in die pad van 'n mens se verhouding tot God.

Blydskap bring die mens nader aan God.

Vandaar dat Paulus in die tronk vreugdeliedere kon sing. En vandaar dat hy sy gemeentes herhaaldelik aangespoor het om bly te wees "in die Here".

Vreugde is daarom ten nouste verbind met 'n verhouding. Blydskap vloei voort uit wat 'n mens in God geskenk word.

Maar, terwyl ek dit vanaand bedink, op hierdie stil aand by ons uitspan-plekkie, by nog 'n verdere oomblik van afskeid neem, wonder ek hoe 'n mens in 'n tyd van rou bly kan wees.

Ek lees met verwondering, dus, wat skryf Soelle oor vreugde: Daar is tye van rou in 'n mens se lewe. Maar 'n mens kan ook sulke tye aanvaar as 'n realiteit op jou lewensweg wat nie vir 'n oomblik iets sal wegneem van 'n mens se geborgenheid in God nie.

Wat ook al oor 'n mens se pad kom, kan jy dit in die oog kyk met die seker wete dat die band met God onbreekbaar is. Dit is in so 'n tyd dat 'n mens vashou aan Paulus se uitroep dat niks 'n mens kan skei van die liefde van God nie.

Alles wat 'n mens verloor, almal vir wie jy lief is, boonop, weet jy, deel hierdie mistieke band met God. Dit is 'n verdere bonus, nog 'n seening op jou lewensweg.

Dus: 'n mens kan vreugde ervaar, nie net ten spyte van rou en swaarkry nie. Maar selfs in die rou tye kan 'n mens met blydskap weet dat die oomblikke van donkerte kan nie die ewige lig wegneem wat God helder laat skyn in die binnekamers van 'n mens se hart nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive