(Mondigliani: gekweldheid).
Te min gebeur dit dat ‘n mens in totale oorgawe aan die hede leef.
En te veel kere is ons lewe onvervuld, gejaag, ‘n dolle geskarrel agter die onsekerhede van die toekoms en ‘n geworstel met die laste van die verlede.
Gedurig, elke oomblik, is daar iets of iemand wat oor ons skouer loer. Ons onthou ‘n gebeurtenis van vroeër of dink aan iemand wat nie by ons is nie. Ons ervaar wroeging oor dinge wat ons verkeerd gedoen het, of verlang na wat verby is. Ons voel pyn oor iets wat met ons gebeur het. Ons hou vas aan wat verby is. Ons gedagtes flits terug en bly steek in die verlede.
Intussen, in ons onrustigheid, in ons verknegting aan die verlede, gaan die hede by ons verby.
Ons kan ook so maklik betower of gekwel word deur die toekoms. Ons wonder oor nuwe ervarings wat op ons wag. Ons is gepla oor al die laste wat op ons gaan druk en wat ons moeilik gou sal kan verwerk. Ons sien ongeduldig uit na ‘n herontmoeting, na ‘n verhuising, na iets anders en iets nuuts.
Intussen, in ons onrustigheid, in ons ingesteldheid op wat nog moet kom, vergeet ons van die hede en gaan die oomblik van die nou en die hier verby.
Intussen is daar iemand naby aan ons wat ons lewe kan volmaak. As ons maar net in sy of haar geselskap en nabyheid kan bly en geniet aan die oomblik van saam-wees. Onderwyl is daar om ons 'n dag om te kan leef, 'n plek om te kan verken, 'n ervaring om te kan beleef. Intussen is daar ‘n heerlike vakansie, in die somer-son, by die uitspan-plek waar ons ons kan oorgee aan die oomblik van lewe, van omgee, van oorgee en sommer net van geniet wat God aan ons skenk.
Wat kan groter wees as die ooomblik waarin ons ons bevind?
Hoe kosbaar die tye wat aan ons gegee word en hoe onnadenkend die argeloosheid waarmee ons dit verspil.
Ons is die slagoffers van ons eie gekweldheid.
Carpe diem.
Jesus het ons in die oomblik, in die hede, in die nou en die hier ingelei: kwel julle nie oor die dag van môre nie.
Daar is ‘n ewigheid in die oomblik. Dit kom nooit weer na ons terug nie.
Wie nie vir die oomblik kan leef nie, moet nog groei in die geloof. Want die vrede en die rustigheid kom tot hulle wat by God ‘n tuiste gevind het. Dit is oor ons klein geloof dat ons lewens so gejaag, onrustig en onvervuld is.
Daar is iets mistieks aan die vermoë wat ‘n mens kry om al die knellende bande van die verlede en toekoms af te skud en om die genadige gawe voluit te kan geniet – om voluit hier en nou te leef. Om te doen wat jou hand vind om te doen.
Kerstyd is by uitstek die tyd van vrede wanneer ons tot rus kom – oorgegee aan die vreugde van die oomblik. 'n Tyd om na te dink oor ons onverskilligheid teenoor die hede. En om dieper in te groei in die besluit om die tyd uit te koop. Elke oomblik, asof dit 'n stukkie kosbare goud is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.