Thursday, December 08, 2011

Die waardevolle van die Adventstyd





Groot en mooi en indrukwekkend is die kersbome wat veral in die ryk wêreldlande in die tyd opgerig word.

Die massiwiteit en die uithangerigheid pla my nie soveel nie. Dis mooi om te sien en daar is altyd iets vindingryks aan die nuwe maniere waarop mense elke keer weer opnuut die kersboom-idee wil uitbeeld.

En daar is ook iets moois aan hierdie tyd waarin mense graag ander gelukkig wil maak met mooi geskenke.

Dit is ook lekker dat die plek waar ‘n mens saam is, die plek word wat mooi gemaak word.

En tog moet ‘n mens toegee: eintlik is die kerstyd bietjie anders. Want dit is per slot van sake veral die tyd van stilte. Die baba, nog geen groot prediker nie. Alleen maar in ‘n krip, stilweg in doeke gewoel, bewonder deur die omstanders en ‘n bron van dankbaarheid vir sy ouers.

Bly loof Maria en die herders in die tyd van die stille geboorte, daar in die veraf plek, buite die groot stad, vir God vir die stil wonder wat hulle aanskou.

Dus is dit die tyd van stille gebed.

Wat my laat dink aan die wonder-woorde van die Abba Jesaja aan ‘n vrou oor haar geloofspad: “Moet niks besit wat waardevoller is as stilte, rustigheid en gebed nie. Want deur die dinge sal jy God sien."

Al daardie groot kersbome, die vele geskenke, hoe mooi en goed en hartverwarmend ook al, moet ‘n mens in die lig van die opmerking ook kan bedink. Want inderdaad: mooier as die blinkigheid is die vrede van die kerstyd, die stilte van die oop velde en die gebede wat tot God opgaan: alles omdat mense God kon sien.

Die prag en praal, hoe mooi ook al om te bekyk, is af te weeg teen die visio Dei. 

Ons seisoen is die kerstyd omdat dit die tyd is dat alles wat ons beleef ons inbring in die heilige vredesruimte waar ons by God kan wees en ons tot gebed stem. Vandaar die vrede wat ons vul, want, dit is die tyd om God te kan sien.
 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive