Wednesday, December 07, 2011

Belydenisskrifte kan seer maak, soos die waarheid.

Daar is 'n boeiende verhouding tussen spiritualiteit en dogma. In sekere tradisies, soos die een waarin ek groot geword het, het die intellektuele besinning op geloof en die intellektuele inhoude van geloof 'n baie groot rol gespeel.

Dit merk 'n mens op uit die geskiedenis waarin die belydenisskrifte 'n groot rol speel. Ek onthou uit my teologiese opleiding watter groot klem gelê is op die plek van die belydenisskrifte in die geloofslewe. Anders as in die Rooms-Katolieke tradisie, is ons geleer, behou die Protestantisme en dan veral die Gereformeerde vorm daarvan, alleen maar die Woord as die fondament vir die geloof. Daar is geen tradisie naas die Woord wat bindend is nie en ook seker geen pouslike amp wat onfeilbaar kan spreek nie. Alleen die Woord, Sola Sriptura, kenmerk die Gereformeerde Protestantisme.

Die belydenisskrifte, is darem bygevoeg, is uiters belangrik. Nie as "aparte" tradisie wat naas die Woord regulerend optree nie, maar as skrifte wat die Woord uitlê. As studente is ons deeglik ingelig oor die quia- en quatenus-binding.

Wat ook al die tegniese aspekte, in die praktyk het die tradisie van belydenisskrifte 'n groot rol in die kerk en in kerklike besluitneming gespeel.

Vandag gee groot klompe mense nie 'n duit om vir die belydenisskrifte nie. En nog minder vir allerhande dogmatiese strydgesprekke. Dit interesseer hulle nie. Terwyl 'n vorige geslag jongmense met die kort begrip darem 'n insig in die kerklik leer ontwikkel het, het dit seker in die meeste kategetiese onderrrig verdwyn of op die agtergrond geraak. Terwyl predikante nog ten minste 12 kategismuspreke per jaar moes lewer en aan die Ring daarvan verslag moes gee, wonder 'n mens waar dit nog gebeur.

Gelowiges ervaar die belydenisskrifte as oninteressant, oude doos, onbelangrik of ook as koeëls waarmee veglustige kerklikes mekaar meestal wild en bakleierig onder skoot gekry het. Die belydenisskrifte word gemanipuleer deur kerklikes wat mekaar wil bykom. Hulle word die slagoffers van politiekery.
 

Hoe anders was dit nie toe hierdie geskrifte geskryf is nie. Hulle het in tye van hoogspanning ontstaan. Ek weet nie eintlik van resente werke waarin op innoverende manier geskryf is oor die belydenisskrifte nie en waarin na vore kom watter lewensgevaarlike aksies dit was dat mense in hul tyd hierdie skrifte geskryf het en uiters moedig daardeur hulle geloof teenoor 'n vyandige wêreld bely het. Wat vir 'n huidige geslag valerig lyk, was in hul tyd vars, uitdagend, moedig en lewensbelangrik. Deur die belydenisskrifte het mense in vorige eeue hulleself verset teen vervalsing van die Evangelie soos dit na vore gekom het in praktyke wat die geloof ernstig bedreig het.
 

Simone Weil skryf iets wat my hieraan laat dink. Sy merk op: 'n dogma het geen doel op sy eie nie. Tog is 'n dogma onontbeerlik al is dit net om 'n mens te verset teen valse posisies.

In haar oë is dit nie die dogma wat tel nie. 'n Dogma kan immers met die tyd sneuwel. Baie dogma's lê in die afvoerslote van die kerklike wêreldstad. En, natuurlik ook, soos by ons, kan die Belydenisskrifte hul oorspronklike impak kwytraak en gebruik word op maniere wat hul oorspronklike skrywers sprakeloos sou laat.


In vele opsigte deel ek hierdie gevoel dat 'n mens geloof kan intellektualiseer, dit van sy transformatiewe krag kan beroof en dat geloof dan 'n intellektuele, haarklowerige speletjie oor allerhande inhoude word. 
 

Dit beteken egter nou nie dat geloof en insig, geloof en dogma noodwendig teenoor mekaar staan of mekaar bedreig nie. 

Soms is dit lewensbelangrik dat diep nagedink word oor wat 'n mens glo.

Wat saak maak in sulke tye en by sake soos 'n belydenisskrif is dat die kerk nee kan sê wanneer die evangelie op die spel is - en dat die kerk dit op 'n ingeligte, beredeneerde en gelowige manier moet kan doen. Hiervoor moet die kerk en geloof soms baie dapper en selfs onbevrees wees, want die donkerte staan dikwels gebaai in 'n kleed van helder, indrukwekkende lig. Dit is nie altyd so maklik om te probeer uitwys dat daar 'n wolf agter die skaapsklere is nie.
 

Juis daarom is spiritualiteit nie maar net 'n vae gevoel van vroomheid nie. Dit is nie 'n alles-kan-gaan selfhelp-poging nie. Spiritualiteit kan duidelik en onomwonde teen valsheid stelling inneem. Die spirituele, die geestelike staan immers teenoor die nie-spirituele, die vleeslike.

Daar kom tye van waarheid wanneer 'n mens in die geloof nee moet uitroep ten die kwaad. Die kerk moet ingelig kan besweer en ontmasker wanneer daar 'n proses van vernietiging dreig.

As 'n mens ooit hierdie punt netjies geïllustreer wil sien, moet 'n mens kyk na die Belhar-Belydenisskrif. Dit is 'n geskrif wat ten nouste met 'n oomblik van waarheid verbind is en wat gebore is uit gelowige harte se verset teen geestelike arrogansie en vernietiging.

Jare gelede, op 'n Sinode, toe ek opstaan en voorstel dat die kerk die belydenis moet aanvaar, spring 'n woedende ouderling op en beskuldig die linkses dat hulle stilletjies gevaarlike ideologieë in die kerk wil insmokkel.

 

Belydenisskrifte kan seer maak. Die waarheid maak immers seer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive