Wednesday, December 14, 2011

Hoe maklik om die ander uit te skuif....



Dit is verleidelik, en maklik, om te verval in die ons-hulle sindroom.

Ons leef met ‘n agonistiese instelling: dit beteken ons sien onsself dikwels “teenoor” of “in stryd met” die ander een of die ander groep.

Die instelling reflekteer ‘n lewe na die vlees. ‘n Lewe volgens ons natuurlike instinkte. Want hierin verskil mense oor die aardbol nie van mekaar nie.

Dikwels is ons, die “regtes”, die “opregtes” en die “ware” Christene, in die “goeie” kamp en mense met wie ons nie saamstem nie of wat ons nie kan verdra nie of van wie ons verskil aan die “vyand” se kant.

Net so opvallend is hoedat ons selfs hulle wat naby aan ons is in kampe kan verdeel. Hierdie “natuurlike” lewensstyl kom in die mees intieme van groepe voor. In gesinne is ons ook so agonisties ingestel. Ons sien hoe ‘n pa of ‘n ma ‘n “oogappel” onder hul kinders het. Of ons praat van ‘n gesinslid wat as “swartskaap” uitgerangeer word.

Maar dit kan soms selfs baie subtieler word. In dieselfde gemeente, in dieselfde kerk, onder die nabye geloofsgenote kan ons “sommige”, die “ander”, tot stilswye dryf. “Hulle” word (vriendelik) geïgnoreer of op ‘n fyn manier as struikelblokke in die lewe van die kerk gekarakteriseer. “Hulle” besorgdheid is “selfsugtig”, “kortsigtig” en “onBybels”. Op die manier versamel ons gelykgesindes om ons en raak ons ontslae van geloofsgenote wat nie in ons groep "inpas" nie. 

Dit is die natuurlike manier van leef. 


Onder alle groepe kom hierdie agonistiese denkwyse voor.

Maar die dieper waarheid is dat die Evangelie in sy hart so ‘n instelling grondiglik bevraagteken.

Is daar in die Jesus-verhaal iets wat ons hieroor meer vertel?

Dit is nie moeilik om ‘n antwoord te kry nie. Dikwels onderskat ons een van die mees kenmerkende eienskappe van Jesus se bediening: hy sluit nie mense uit nie, maar in. Inklusiwiteit eerder as eksklusiwiteit is sy lewensinstelling. Dit staan teenoor sy opponente, die Fariseërs wat mense op grond van hul godsdienstige en kultiese reinheid vermy en wegwys. 


Anders is dit by Jesus: Armes, vroue, kinders, prostitute, tollenaars, verraaiers en sondaar is welkom - in die binnekring, in die vreugdes van saam-wees en saam-vier.


Maar kyk net na Jesus se kring van dissipels self: in daardie groep is daar van alles en nog wat: die Petrusse, die sterkes en bakleiers, die rotse, maar ook die sagtes en die liefdevolles, die Johannesse. Die twyfelaars en sukkelaars, die Thomasse. Die verraaiers en booswigte, die Judasse. Alles en nog wat is versamel. 

Jesus neem gelowiges hierdeur weg van ‘n eksklusiwiteit na die groot ideaal van die mensdom as die familie van God, broers en susters. In Christus is daar nie meer man of vrou, slaaf of vryman, oud of jonk, Jood of Griek nie. Mense is almal een – skryf Paulus in Galasiërs 3:29.

Almal is een. Dit is wat God wil hê. Al die nasies van die wêreldstad stroom Jerusalem in (Open 21).

Dit is God se wil. So werk die Gees. Dit is die lewe na die Gees en dit staan diametraal teenoor wat ons wil.

Nou weet ons almal hoe moeilik dit is om ‘n mens se eie wil prys te gee. Dit is tog te duidelik uit die lewe van Jesus wat juis nie die lydenspad wou loop nie. Bloed het Hy gesweet om God se weg te moet kies.

Dit is nie maklik nie. Maar die moeilike weg bring die grootste verrassings. En dit bly merkwaardig hoedat mense van wie ons niks hou nie, radikaal mooi kan word as ons hulle bloot net toelaat om ons kring binne te kom. Telkemale het ek dit al ervaar: die donker vyandshart van die opponent kan warm begin klop as ‘n mens in liefde na hom of haar uitreik. Kyk net wat het met die einste Paulus gebeur toe die aanraking van God hom getransformeer het en hy vir vele Joodse gelowiges oor die aarde heen die rigtingwyser tot ‘n dieper geloof kon word.

Die lewe na die Gees vra inklusiwiteit, uitreiking, aanvaarding, openheid. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive