Nadia Simon: Iets Nuuts probeer.
Die Priester en die Leviet in die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan was gerekende mense. Hulle was godsdienstige leiers. Hulle was, het mense gedink, ingelig oor die wet as die wil van God.
Hulle het self ook so gedink. Noukeurig moes hulle let op wat God se wil vir hulle was, want as hulle die wet oortree het, kon hulle nie hul pligte in die tempel nakom nie. Daarom moes hulle, byvoorbeeld, al die reinheidswette onderhou. Aan niks wat hulle onrein kon maak, kon hulle raak nie. Niemand het dus ooit getwyfel oor wat God van hulle verlang nie. Die priesters en die Leviete was die tempeldienaars en hulle moes getrou aan diens wees sodat die volk hulle offers kon bring en sodat die tempeldiens ongestoord hulle gang kon gaan. In die tempel mag alleen maar Priesters en Leviete werk wat in alle opsigte rein was en wat die wil van God presies geleer ken het om rein te bly. Dit was nog afgesien van hulle alledaagse nakom van die wet van God wat vir alle Jode gegeld het.
En tog, in die oë van Jesus, was hierdie twee mense, die Piester en die Leviet wat sulke wye draaie om die aangerande man geloop het, ver buite die wil van God. In hul getrouheid aan die wet het hulle nooit gefaal nie. En tog het hulle die wet van God oortree – ‘n wet wat eintlik die belangrikste van alle wette was. Hulle was heeltemal onbewus van hul eie ongehoorsaamheid aan die liefdeswet wat vra dat ‘n mens uitreik na ander wat in nood is en wat stukkend langs die pad lê.
’n Mens kan, soos hierdie twee mense God goed ken en ‘n goeie lewe lei – en tog sonder God wees. Uit die Bybel en deur die leer van die kerk kan ‘n mens naby aan God kom. ‘n Mens kan tot in die allerheiligste van ruimtes ingaan, soos die hoëpriester een keer per jaar met die Groot Versoendag. God ken ‘n mens soos die magstrukture van jou tyd vir jou leer. ‘n Mens kan slim wees en selfs gedurig God se wil gehoorsaam, soos die Priester en Leviet.
Maar is dit werklik gehoorsaamheid aan die wil van God?
Die God van die Priester en die Leviet in Jerusalem, leer Jesus sy dissipels, is nie die God wat ‘n mens sal aantref op die pad tussen Jerusalem en Jerigo nie. Die God van die Barmhartige Samaritaan is ‘n barmhartige God, wat nood raaksien en wil omkeer.
Jesus, die radikele Een, die Een wat naby aan God leef en gereed was om die nuwe paaie te loop waarop God Hom gedien het.
Dit is ‘n ander God as die God wat sommige mense in die tempel wil gaan aanbid en dien.
Nooit moet ‘n mens te seker wees dat ‘n mens die wil van God ken nie. Daar is onbekende kante van God wat telkens weer in die geskiedenis nuut na vore kom. Die priester en die Leviet moes met skok agterkom dat hulle nie die God van die pad tussen Jerusalem en Jerigo ken nie. Hulle ken net een kant van God – die tempel-kant. Hulle het nie rekening gehou met God wat elke keer weer nuut word en op ‘n nuwe manier gedoen wil word nie.
Hulle moes dus van “God” – hulle idee en hulle kennis van God – afskeid neem om die ware God te ontmoet.
Dorothee Soelle herinner in haar uitleg van die gelykenis aan die beroemde opmerking van Meester Eckhart: “Ek het vir God gevra om my van God te bevry.” Die Priester en die Leviet moes besef het dat God hulle oë wil oopmaak vir die God wat so anders was as die God met wie hulle grootgemaak is, die God met die brandende hart vir die papgeslane man langs die pad. Hulle moes besef het dat die God van die tempel ook die God van die noodlydendes is, dat daar kante van God was wat ‘n mens nie van weet nie en waarvoor ‘n mens gedurige oop en ontvanklik moet wees.
Hierdie twee godsmanne was te geslote, te seker van hulle saak, te selftevrede oor die manier waarop hulle God geken en gedien het. In die proses het die twee vrome godsmanne die toonbeeld geword van mense wat God langs die pad verloor het, wat hulle eie weg agter hul idee van God geloop het, hulle eie kop oor wie God is, gevolg het.
Dus: ‘n mens kan op baie maniere dink dat jy baie naby aan God leef, maar sonder om werklik by God te wees. Die rede hieroor is merkwaardig: God maak alles nuut. God doen dinge wat ons verstand te bowe gaan. God werk op maniere wat ons nie eers vaagweg kan antisipeer nie. Daar is kante van God wat totaal aan ons verborge is. God is groter as al ons verstandelike konstruksies van God.
God is immers die lewende God.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.