Sunday, December 18, 2011

Ongeskonde te midde van die gruwelike geskendheid




Kersfees is ‘n tyd van aanbidding. Daarom woon mense graag kersdienste by. Dit is ‘n tyd waarin ‘n mens graag, saam met die engele, aan God die eer bring.

“Eer aan God” verbind ‘n mens, ook saam met die engele se aanbiddingslied, met “vrede” op aarde.

Dit is die natuurlike band: omdat dit ‘n tyd van stilte, uitspan, saam-wees met familie is, voel ‘n mens geneë tot God en is dit makliker om God te wil aanbid.

Daar is iets diepers omtrent die kersfeesvrede: dit is ‘n tyd waarin mense oor Jesus die kind sonder skuld, sonder sonde nadink. God, vertel die Christelike geloof, word mens – maar dan in die eerste instansie kind.

Dit is voorwaar ‘n wonder-gedagte: eer aan God in die hoogste hemele, omdat ‘n mens by die kindjie, die onskuldige, die hulpelose  kan kniel.

Om by ongeskondenheid te kan wees - dit is die verlange van ons almal met ons gruwelike geskendheid. 

Hoe onskuldig, nuut, ongeskonde, beminlik kan godsdiens wees en word. In ons vreugde gaan dit om die besef dat daar steeds weer iets spesiaals, iets onskuldigs te mdde van die kookpot van lelikheid is.

As alles vasgeval het, as dinge tot niet gaan, as lewens vasloop, begin God van voor. As alles deurtrek word met afval en boosheid, maak God nuut, skenk God weer onskuld, kom daar die spesiale oomblikke van nuutheid.

Dit is rede tot vreugde. En om God te aanbid.

Adventstyd, die blye tyd wanneer God die skuld in onskuld omvorm.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive