Die skeppingsverhaal vertel hoedat God die mens gemaak het en toe aan die mens mag gegee het om die aarde te bewerk.
Dit is ‘n verhaal wat besondere insig gee in wie God is, maar ook in wat mag is.
God wat dikwels as die “almagtige” beskryf word, deel en delegeer mag aan die mens. God word daardeur die voorbeeld van alle voorbeelde. Egte mag, soos God dit verstaan, is gedeelde mag.
Alles wat ‘n mens kan doen, alle mag waartoe ‘n mens in staat is, is slegs outentiek wanneer dit bedoel is om ander ook te bemagtig.
Dit beteken dat mag ‘n spesifieke karakter kry: mag moet energiek wees – dit moet iets wee swat ‘n mens in verhoudinge met ander deel. Wie mag het, gebruik dit sodat ander ook sterker kan word. Egte mag is dus mag wat uitstraal na ander en hulle lewens ook vul.
Dit is nogal veel gesê. Dit beteken dat mag nie ander mag vernietig nie. Mag kan nie ander seer maak of benadeel nie. Dit moet steeds weer energie in ander mense se lewens tot stand bring. Die mag wat in ‘n mens se lewe teenwoordig is, moet dus ook in ander kan invloei en vir hulle inspireer.
Toets dit nou aan die praktyk: mense het baie magsposisies. In sake, in politiek, in skole, in kerke, in families. Oral is daar iemand wat ‘n posisie het van waaruit hy of sy ander se lewens kan beïnvloed. Dit groot toets is of ‘n mens se lewe gevul is met energie wat na ander uitstraal en of ‘n mens soek na mag om ‘n eie posisie te beskerm.
In die kersfees tyd vind ‘n mens ‘n verdere dimensie van mag. Daar vind ‘n verdieping plaas van die begrip mag. Met die koms van Christus en met sy lewe en sy sterwe, vind ons dat mag nie net gedeel word nie, maar eintlik prysgegee word.
Christus, die onmagtige is die kindjie die gekruisigde. In sy woorde het Christus dit pertinent ter sprake gebring toe Hy vertel het van hoe nodig dit is dat ‘n mens alles moet prysgee – ook mag – om alles te wen.
Dit is ‘n grootse eis. Menige gelowige weet hoe waar dit is. Wanneer ‘n mens op jou weerloosste is, wanneer ‘n mens magposisies prysgee, word jy sterk in die liefde en nog sterker in die energie wat jy uitstraal.
En om mag op te gee, is eintlik, vanuit ‘n verborge hoek gesien, maklik. Immers, ‘n mens is maar die instrument van mag. Wat ‘n mens deurgee aan ander, die energie wat ‘n mens gee in ander se lewens, is iets wat ‘n mens ontvang het. En as dit weggegee word, gebeur dit in die wete dat die bron waarvandaan ‘n mens mag ontvang onuitputlik is.
‘n Mens sou beeldsprakig kon sê: hoe meer ‘n mens mag weggee, hoe skoner en oper bly ‘n mens as die kanaal waardeur God die energie van die lewe met die skepping deel.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.