Saturday, December 10, 2011

'n Blou Engel



In die Evangelies word die Jesus-verhaal heel sober vertel. Daar is byvoorbeeld nie baie engele nie. 

Hier en daar verskyn daar 'n engel of twee, na die toetsing in die woestyn en by die oop graf.

Behalwe in die geboorte-verhale. Daar wemel dit van die engele. 

Engele en kerstyd is onlosmaaklik verbind.

Engele verskyn in die geboorte-verhale omdat hulle die verhaal van Jesus omraam as 'n gebeurtenis waarby God betrokke is. Engele bring aan gelowiges helder verduidelikings van die betekenis van Christus se geboorte. Hulle vertel van 'n spesiale nuwe oomblik in die lewe van ons wêreld.

Marc Chagall het graag engele geskilder. As kind, deel van 'n hoogs gelowige familie, het hy 'n droom gehad van 'n engel wat in sagte blou lig aan hom verskyn.

Hy het na sy vrou se dood vir haar as 'n engel geskilder. 'n Blou engel. 

Maar dit was nie heeltemal so uniek nie. Hy het dikwels blou engele geskilder. 

Hoekom dan blou? Hoekom in daardie ryk, diep blou wat 'n mens dadelik aan Chagall herinner? 

Iemand het daaroor geskryf en opgemerk dat blou vir Chagal die kleur van die gees was, die verborgene.

In hierdie bekende "Blou Engel"  van Chagall, het die engel 'n ligte, swewende karakter. 

Chagall teken nie kers-engele nie. Maar die engele wat hy wel teken, laat 'n mens opnuut besin oor die rol van engele in die kerstyd. Wanneer Chagall sy vrou as 'n blou engel teken, is dit sy manier om sy liefde vir haar uit te druk. Heel spesiaal, engelagtig, was sy vir hom. In die "Blou Engel" is sy langs 'n rangskikking van rooi en wit blomme uitgebeeld. Die toneel laat 'n mens dink aan 'n tuin van vrede, 'n paradys. 

Daarmee wys Chagall watter spesiale gevoel engele by 'n mens wakker maak. Wanneer 'n mens oor engele droom, van engele praat of engele teken gaan dit om goeie tye, goeie dinge, spesiale oomblikke. 

Inderdaad. Engele in die adventstyd herinner 'n mens aan die liefde wat aan ons geskenk is - in die enigste Geliefde van die Ewige - in die Seun. Dit is 'n spesiale, mistieke gedagte, want dit kom so onverwags, onverdiend. 

Maar die engele herinner ons aan wie ons werklik is. Die engele vertel vir ons om te onthou dat ons eintlike tuiste die plek van vrede is. Wie in die vrede woon, leef in liefde. 





No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive